Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dat ons planne maak, is die belangrikste

In ons kringe glo ons Cheryl Carolus moet president word (en gou ook). Ons glo die emmerstelsel vir ons tuine gee hewige oortydwerk vir fisioterapeute. Ons is teen kernkrag gekant, ook teen hidrobreking – en sommige is baie ernstig oor aardverwarming en die gevolge daarvan.

Voorts glo ons min. Pravin Gordhan dat ons nie in ’n resessie is nie, al voel dit so.

En, waarom, o waarom is ’n besluit oor die Kersete so ’n groot pyn? Afgesien van tante dié wat nie met oom dáái wil praat nie, en die onthou watter presente vir wie paslik is, bly Kersfees ’n mynveld vir verkeerde besluite: koekstruif of roomys? Varkboud of kalkoen?

Op die ou end maak ons van alles te veel. En dan pla ons gewetes ook nog.

Maar ons kla nie net nie; ons maak planne.

Sy oefen al 30 jaar lank aan hierdie droom om van Robbeneiland Kaapstad toe te swem.

Een van ons gaan as haar verjaardagpresent ’n trippie in ’n syspan van ’n motorfiets om Chapmanspiek ry. Nog een sweer sy gaan die Epic doen (ha!) – maar sy óéfen! Ons bruggroep gaan ernstiger speel. Een grap sy gaan bungy jump sonder die tou.

Die nugteres wil ’n kombers brei, een wil ’n tuin omplant tot ’n vetplanttuin, ene soek nog ander om saam wiskunde-hulp in die gemeenskappe te gaan gee, twee het ’n ernstige plan om die Camino te gaan stap.

A, nou praat ons.

Pas het ek Pienkes du Plessis se Ons Camino gelees: soveel pret, soveel brandseervoete, soveel gewig dra, soveel insigte, soveel tevredenheid. Pienkes, in sy 80ste jaar, en sy vrou, ’n jaar jonger, altwee belydende ongelowiges, pak die 327 km oor 18 dae van León tot Santiago de Compostela aan.

Pienkes, op sy dag ’n indrukwekkende entrepreneur, ’n bedrewe jagter, ’n storieverteller van formaat, is ook ’n selferkende ongelowige. G’n sprake van ’n Damaskus-ervaring op die pad nie, maar ’n boek vol stories, ontmoetings met medestappers, oordele oor die soms oninspirerende wyn en kos, dan weer die wakkerlê oor snorkendes in die stapelbeddens by die oorslaapplekke.

Ook verwysings na die ontstaan van die beroemde Camino: die neem van die beendere van die dissipel Jakobus na hierdie plek in Spanje (die Spaans vir Jakobus is Iago, vandaar Santiago).

Du Plessis bly ongelowig, maar wel diep beïndruk deur die heilsaamheid van hierdie lang tog.

Ook onder die indruk van ’n 80-jarige se avontuurlus, vertel ’n kleindogter van ’n 89-jarige ouma se planne om van Robbeneiland Kaapstad toe te swem. Sy oefen al 30 jaar lank aan hierdie droom.

Die familie sê onder mekaar die voorneme is veel belangriker as die uitvoering. So swem haar kleinkinders lang ente saam met haar (in die swembad) net om die droom lewend te hou.

Dit is die lekker van planne maak.

Wat maak dit saak of dit ooit uitgevoer word?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.