Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Data in die tyd van Covid-19: Hou vas, die kruin is op pad

Die Wes-Kaap sal waarskynlik oor die volgende twee weke sy piek bereik, wanneer die getal infeksies en sterftes skerp kan styg. Gauteng is egter kort op sy hakke, skryf Eugene Cloete en Kanshu Rajaratnam.

Grafte staan gereed by die Durbanville-gedenkpark vir wanneer die Wes-Kaap sy piek bereik, wanneer die getal sterftes na verwagting skerp kan styg. Foto: Jaco Marais

Die Wes-Kaap is tot dusver die hardste getref deur die nuwe koronavirus, waar sowat 42% van al die infeksies in Suid-Afrika aangemeld is. Tot nou toe het dié provinsie se regering ywerig voorberei vir wanneer die getal nuwe infeksies hul piek bereik – wat na verwagting oor die volgende twee weke kan gebeur.

Dié kruin kom terwyl die land sy inperkingsregulasies verslap, en daar is dus baie onsekerhede oor wanneer presies ons dié toppunt sal bereik en hoe die syfers dan sal lyk. ’n Mens sal egter te wagte wees dat die getal infeksies en sterftes sal styg. Net so beleef heelwat ander lande ook ’n toename in die getal infeksies en sterftes, met ’n tweede vlaag infeksies wat nou deur party van dié lande spoel.

Vandeesweek analiseer ons sterftes, aktiewe gevalle en die getal pasiënte wat herstel het – en wat dit vir ons land beteken.

Só lyk die internasionale data

Die sterftesyfer wêreldwyd is tans in ’n afwaartse kurwe.

Grafika: Grafika24

Sterftekoerse (in blou op die grafiek), soos wat dit hier gedefinieer word, is die getal daaglikse sterftes as ’n persentasie van die kumulatiewe getal infeksies op ’n gegewe dag. Die werklike getal sterftes per dag word in oranje aangetoon. Data het aangetoon dat die wêreldsterftekoers sy piek bereik het teen ongeveer 0,6% op die 4de April en afgeneem het na 0,085% teen 20 Junie.

Die daaglikse sterftesyfer het sy piek bereik op 16 April en het sedertdien gefluktueer tussen 3 000 en 6 000 en toon nie die konstante afwaartse kurwe wat ons sien vir die wêreldwye sterftekoers nie.

Dit is te wyte aan heelwat faktore, onder meer die wisselende definisies wat gebruik word wanneer sterftes aan Covid-19 toegeskryf word, hoe lande verslag doen oor hul data en of dit oor ’n naweek is, wanneer dié verslaggewing skynbaar stadiger is.

Die daaglikse getal sterftes volg nie dieselfde patroon as die wêreldwye sterftekoers nie.

Só lyk die Suid-Afrikaanse data

Grafika: Grafika24

Die getal daaglikse sterftes in Suid-Afrika het min of meer stabiel gebly op 64 per dag in Junie, ongeag die rekord-getal nuwe positiewe gevalle wat per dag aangemeld is, en sonder ’n duidelike afwaartse of opwaartse kurwe. Dit het ook gegeld vir die Wes-Kaap, waar die getal daaglikse sterftes gefluktueer het rondom ’n gemiddelde van 45 per dag in dié maand.

'n Skerp toename in die sterftekoers sal wys dinge word erger en ’n afname sal toon dat Suid-Afrika op pad na genesing is.

Dit wys vir ons dat die pandemie nie beter word nie, maar gewis ook nie slegter nie, aangesien die sterftekoers (die getal sterftes as ’n persentasie van die getal positiewe toetse) landwyd konstant gebly het teen 1,8%. Dit is ’n daling vanaf 2% ’n paar weke gelede.

Die werklike sterftekoers is tans die belangrikste aanduiding van waarheen die pandemie op pad is. ’n Skerp toename in die sterftekoers sal wys dinge word erger en ’n afname sal toon dat Suid-Afrika op pad na genesing is.

Die herstelkoers is van groot waarde omdat dit ’n sekondêre aanwyser is of ’n spesifieke streek op die herstelpad verby die piek is.

Grafika: Grafika24

As ons in ag neem dat die virus reeds vir meer as drie maande in die land woed, het baie pasiënte wat positief getoets is reeds herstel. In die Wes-Kaap is sowat 70% reeds weer gesond. Dit kan misleidend wees, afhangende van die toets-strategie – byvoorbeeld waar slegs diegene ouer as 55 en net dié jonger as 55 met onderliggende siektes getoets word.

In Gauteng en in die res van die land is die herstelkoers op die oomblik onderskeidelik 24% en 42%, afhangende van die toets-strategie.

Ewe belangrik is die getal aktiewe gevalle – dit wil sê diegene wat besmet is en nog nie herstel het nie – aangesien dit ’n aanduiding is van die getal pasiënte wat ander kan aansteek.

Grafika: Grafika24

Die getal aktiewe gevalle in die Wes-Kaap (16 932) is nou laer as dié in Gauteng (29 923) en die nasionale gemiddelde (24 266). Die getal infeksies in Gauteng sal dus na verwagting oor die volgende paar weke vinnig styg. Dit kan waarskynlik lei tot ’n toename in die getal sterftes in die provinsie oor die volgende paar weke of maande. Dit is slegs beramings wat weer eens afhanklik is van hoe ons toets.

’n Opname om te toets vir teenliggaampies teen Covid-19 sal gedoen moet word sodat ons die ware getal infeksies oor die provinsie en in die land kan verstaan. Daar is waarskynlik ’n groot getal asimptomatiese (maar positiewe) mense wat nie getoets word nie en wat dus nie in die kumulatiewe data ingesluit word nie.

Prof. Eugene Cloete Foto: Leanne Stander
Prof. Kanshu Rajaratnam

Die piek is op pad

Aangesien die inperking tans verslap word, sal die Wes-Kaap moet sorg dat die goeie werk in die provinsie nie ongedaan gemaak word nie. Die piek sal na verwagting gou kom, met ’n toename in infeksies en sterftes.

Die getal infeksies in Gauteng sal waarskynlik vinnig styg oor die volgende paar weke as ’n mens die lae herstelkoers in ag neem wat tot dusver in die provinsie gesien is, sowel as die groot getal nuwe gevalle.

Alle Suid-Afrikaners sal moet voorsorg tref en sorg dat hulle getoets word indien hulle simptome het – veral as hulle ander onderliggende siektetoestande het.

*Prof. Cloete is viserektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch en prof. Rajaratnam is direkteur van die skool vir datawetenskap en berekeningsdenke aan dieselfde universiteit.

Meer oor:  Kanshu Rajaratnam  |  Eugene Cloete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.