Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Data in die tyd van Covid-19: Ouderdom maak saak

Om beleidsbesluite oor die heropening van skole en universiteite te neem, moet ons die invloed van Covid-19 op verskillende ouderdomsgroepe ontleed, skryf Eugene Cloete en Kanshu Rajaratnam.

’n Ma kyk toe hoe haar dogter in Johannesburg deur ’n haarkapper onder hande geneem word. Foto: Reuters

Suid-Afrika se staat van inperking het van die strengste regulasies ter wêreld gehad.

Slegs diegene wat as noodsaaklike werkers beskou is, soos werknemers van hospitale en winkels, kon werk toe gaan. Skole en universiteite het toegemaak en daar is van leerlinge en studente verwag om by die huis te bly.

Dit het probleme geskep vir noodsaaklike werkers wat sorg vir hul kinders nodig gehad het. Onderrig aan skole en universiteite is aanlyn gedoen, maar dit was slegs moontlik waar daar internettoegang was en dit het ook van die gehalte van daardie toegang afgehang.

Internasionale data het aangedui dat kinders minder geneig is om ernstig deur Covid-19 geraak te word met laer koerse van hospitalisasie en laer sterftesyfers.

Daar is baie wat ons kan leer uit data wat plaaslik en oorsee in die openbaar beskikbaar is.

Met die verslapping van die inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika sal meer mense na verwagting terugkeer werk toe en gevolglik word die kwessie rondom die sluiting van skole meer problematies.

Dit kom neer op ’n kompromis tussen ’n risiko vir kinders se gesondheid, onderrig wat verlore gaan en ’n bedreiging vir die manier waarop gesinne ’n bestaan maak.

Kwessies van voedselsekerheid is ook by baie kinders in Suid-Afrika ter sprake omdat hulle hul enigste maaltyd van die dag by die skool kry.

Om beleidsbesluite oor die heropening van skole en universiteite te neem, moet ons die invloed van Covid-19 op verskillende ouderdomsgroepe ontleed.

Daar is baie wat ons kan leer uit data wat plaaslik en oorsee in die openbaar beskikbaar is.

Internasionale data

Internasionale data wys dat die invloed van Covid-19 minder erg op kinders is. Data in die stad New York dui op 11 bevestigde en drie sterftes in die ouderdomsgroep tussen 0-17 wat waarskynlik met Covid-19 verbind kan word.

Die getal gevalle, hospitalisering en sterftes in die ouderdomsgroep tussen 0-17 was onderskeidelik 327, 29, en 0.64 per 100 000 inwoners. Daarteenoor was daar in die ouderdomsgroep bo 75 altesame 4 389 gevalle per 100 000 inwoners, van wie 2 692 gehospitaliseer is en 1 530 gesterf het.

Op 7 Junie was die getal sterftes in Kanada wat met Covid-19 verbind word, altesaam 7 290 en nie een van die mense wat dood is, was jonger as 20 nie.

In Duitsland was drie sterftes in die ouderdomsgroep onder 20 uit ’n totaal van 8 608 sterfgevalle wat met Covid-19 verband hou.

Swede is ’n spesiale gevallestudie onder al die lande.

Die land het min inperkingsregulasies gehad en het eerder sy inwoners aangeraai om gesonde afstande te handhaaf as wat streng regulasies toegepas is om sy ekonomie in te perk.

Junior en middelbare skole in Swede is oopgehou.

Kinders is minder geneig om ’n fisieke afstand van mekaar te handhaaf, wat beteken dat hulle ’n netwerk vorm waarin daar ’n groter kans is om mekaar met die virus aan te steek.

Die getal positiewe gevalle in Swede was 45 722, van wie 4 717 mense teen 9 Junie dood is. Hoewel skole vir kinders onder die ouderdom van 16 jaar oopgebly het, was daar net een sterfgeval in Swede in dié ouderdomsgroep wat met Covid-19 verbind word.

Hoewel die sterftesyfer onder kinders van skoolgaande ouderdom in die land baie laer is as dié van mense ouer as 70, is daar nog vrae oor die geneigdheid van kinders om die siekte oor te dra.

Omdat Swede nie ’n staat van inperking gehad het nie en sy ekonomie oopgehou het, is daar sover ons weet nog geen studie in dié land gedoen oor die oordrag van die virus tussen kinders en van kinders na volwassenes, soos ouers en onderwysers, nie.

Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse regering en publiek het geworstel met die vraag of kinders na die skole teruggestuur moet word of nie.

Data van die Wes-Kaap wat in die openbaar beskikbaar is, verskaf ’n paar interessante insigte oor die invloed van die koronavirus op verskillende ouderdomsgroepe.

Die sterftesyfers is heeltemal skeefgetrek wat die ouer ouderdomsgroepe van die bevolking betref.

Skoolgaande kinders val onder die ouderdomsgroep van 6-20 waar die koers van die gevallesterftesyfer 0,11% is (die gevallesterftesyfer is die verhouding tussen die sterftesyfer en die getal positief bevestigde infeksies). Die gemiddelde gevallesterftesyfer in die Wes-Kaap is 2,5%.

Ouderdom speel ’n rol in die beleid oor toetse wat tans deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid ingestel word. Ingevolge die nuwe beleid word inwoners van Kaapstad jonger as 55 nie getoets nie tensy hulle ander onderliggende gesondheidskwessies het.

Dit kan ’n aanduiding wees dat die departement glo die siekte is minder ernstig onder mense jonger as 55 en dat die herstelkoers hoër in dié groep is.

Aanduidings landwyd is dat die sterftesyfer onder kinders laag in vergelyking met dié onder volwassenes is.

Die mees algemene komorbiditeite in die provinsie wat tot sterftes lei, is diabetes, hipertensie en MIV by diegene tussen die ouderdomme van 20 tot 69, en hipertensie, diabetes en chroniese niersiektes by diegene wat ouer as 70 jaar is.

’n Hoë persentasie (65%) van mense wat in die Wes-Kaap sterf, het meer as een onderliggende gesondheidskwessie gehad.

Aanduidings landwyd is dat die sterftesyfer onder kinders laag is vergeleke met dié onder volwassenes. Ons beraam dat die gevalle-sterftesyfer onder die ouderdomsgroepe 0-9 en 10-19 onderskeidelik 0,23% en 0,14% is, terwyl die gemiddeld vir die land op 10 Junie 2,19% was.

Die bostaande grafika illustreer die ouderdomsverspreiding van Covid-19-sterfgevalle, positiewe gevalle en die bevolking.

Die grys strepies dui daarop dat meer as 82% van die sterfgevalle onder mense ouer as 50 voorgekom het, terwyl bykans die helfte van die infeksies (oranje strepies) in die ouderdomsgroep tussen 30 en 49 was.

Teen 9 Junie was daar twee en drie sterfgevalle in die ouderdomsgroepe van onderskeidelik 0-9 en 10-19 wat met Covid-19 verbind word.

Suid-Afrika het ’n jong demografiese voordeel met meer as 70% van die bevolking wat jonger as 40 jaar is.

Die ouderdomsverspreiding (blou strepies) van die Suid-Afrikaans bevolking is kwaai in die rigting van die jonger ouderdomsgroepe skeefgetrek.

Vergeleke met ander lande het Suid-Afrika ’n jong demografiese voordeel met meer as 70% van die bevolking wat jonger as 40 is.

Volgens prof. Haroon Saloojee, uitvoerende lid van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging, is kinders minder geneig as volwassenes om die virus op te doen, die kanse is meer waarskynlik dat hulle asimptomaties sal wees of dat hul virale las ligter sal wees en is dit ook onwaarskynlik dat hulle die virus sal versprei.

Meer data word benodig

’n Onderwyser toets die koors van kinders by ’n skool in Langa buite Kaapstad. Foto: Reuters

’n Belangrike onderwerp waarna ondersoek ingestel moet word, is die oordrag van kinders na volwassenes.

Dit is ’n bron van kommer vir ouers en onderwysers, veral waar kinders in die sorg van hul grootouers is.

Data is nodig vir ’n gefokusde studie in die oordrag van kind na volwassene as ons beleide met betrekking tot kinders, soos die oopmaak van skole, wil daarstel.

Dit is veral belangrik vir huishoudings met bejaarde ouers en grootouers, en huishoudings met individue wat gesondheidskwessies het.

Ons kan dalk ’n situasie kry waarin een beleid nie vir alle skoolgaande kinders geld nie.

Data van oor die land sowel as internasionale data dui op komorbiditeit as ’n belangrike faktor wat tot die dood lei.

Meer gedetailleerde data oor die verskillende ouderdomsgroepe, veral dié met onderliggende gesondheidskwessies, word benodig.

Ons kan dalk ’n situasie kry waarin een beleid nie vir alle skoolgaande kinders geld nie. Meer sorg en sosiale distansiëring kan byvoorbeeld straks nodig wees vir kinders met sekere komorbiditeitskwessies of dié wat saam met hul grootouers bly.

* Prof. Cloete is viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch en prof. Rajaratnam is direkteur van die skool vir datawetenskap en berekeningsdenke aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kanshu Rajaratnam  |  Eugene Cloete  |  Kanada  |  Suid-Afrika  |  Swede  |  Kaapstad  |  New York  |  Skole  |  Covid-19-Pandemie  |  Data  |  Koronavirus  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.