Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Data in die tyd van Covid-19: Sterftesyfer steeds hoog

Gegewe die getal daaglikse sterftes, is dit te vroeg en ook onverantwoordelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die Covid-19-krisis in Suid-Afrika verby is, skryf Eugene Cloete en Kanshu Rajaratnam.

’n Vrywilliger word in ’n hospitaal buite Johannesburg ingespuit as deel van ’n proefneming om ’n entstof vir Covid-9 te ontwikkel. Dié foto is in Junie geneem. Foto: Reuters

Covid-19-verwante sterftes in Suid-Afrika het oor die laaste paar weke toegeneem.

Ondanks dié toename is die land op ’n positiewe trajek met ’n afname in nuwe infeksies, veral in die groter provinsies soos Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap. ’n Hoë persentasie van diegene wat geïnfekteer is, het ook herstel.

Die afname in infeksies dui daarop dat die land verby sy piek is en dat die president gevolglik die inperkingsmaatreëls tot vlak 2 verslap het.

Daar is egter steeds baie Covid-19-verwante risiko’s wat die land in die gesig staar.

Tendense van infeksie

Nuwe weeklikse infeksies in Suid-Afrika het die afgelope maand afgeneem.

Die Wes-Kaap het ’n langer piek en ’n langer afwaartse trajek van nuwe infeksies gehad. Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het oor die laaste paar weke hul piek bereik en die infeksies het drasties afgeneem.

Die verskil in die afwaartse trajek tussen die Wes-Kaap en ander provinsies kan dalk wees omdat die infeksies in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap later as in die Wes-Kaap ’n piek bereik het en gesondheidspraktisyns en epidemioloë toe al meer van die virus verstaan het as in die Wes-Kaap se langdurige piek.

Oor die algemeen is dié afwaartse tendens positief vir Suid-Afrika, hoewel dit verskillend in verskillende provinsies manifesteer.

Gauteng het sy piek op 11 Julie gehad en KwaZulu-Natal se piek was op 26 Julie. Die tendens dui egter daarop dat KwaZulu-Natal sedert sy piek ’n stadiger afname in nuwe infeksies as Gauteng gehad het. Dit dui daarop dat die pandemie langer in KwaZulu-Natal kan duur as wat die geval in Gauteng was.

Die afname in die getal nuwe infeksies in die land weerspieël die afwaartse tendens in die getal toetse wat oor die laaste paar weke gedoen is.

Dit is nie uit die data duidelik of daar minder toetse was as gevolg van minder infeksies nie en of minder infeksies geïdentifiseer is as gevolg van minder toetse nie.

Die grafika hier bo wys dat 26% van die toetse 29 weke ná die eerste infeksie positiewe gevalle opgelewer het.

Dit het egter teen week 33 tot 17% afgeneem. ’n Mens moet wel daarop let dat toetsstrategieë in provinsies verskil.

Dit is redelik om te aanvaar dat toetsstrategieë met verloop van tyd verbeter het, hoewel dit nie altyd die geval mag wees waar ’n tekort aan toetsapparaat was nie.

Sterftesyfer

Teen Woensdagmiddag was die sterftesyfer in Suid-Afrika 12 264. Die getal daaglikse sterftes het nie op soortgelyke wyse as die getal infeksies afgeneem nie.

Ons het al voorheen beklemtoon dat dit weens die verskillende toetsingsregimes onakkuraat sal wees om net op toetsdata te steun. Ons het ook vermoed dat die ware getal sterftes per dag die mees betroubare parameter is om te gebruik as jy die pandemie wil verstaan.

Die gemiddelde getal sterftes sedert die begin van Julie was 196 per dag en laer as die gemiddelde tydens die laaste tydperk van vier weke.

Gegrond op dié data, het ons gesê dat daar steeds beduidende risiko’s vir die bevolking is ondanks die afwaartse tendens van sterftes in die laaste tydperk van vier weke.

Ons het ongelukkig ook nie ’n drastiese afname in die getal daaglikse sterftes oor dié tydperk gesien nie.

Data dui ook op die veranderlikheid in die daaglikse sterftesyfer sedert die begin van Julie. Dit is egter ’n goeie teken dat ons nie ’n drastiese toename in daaglikse Covid-19-sterftes sedert die middel van Julie gesien het nie.

Dit dui daarop dat maatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp doeltreffend is.

Ons het ongelukkig ook nie ’n drastiese afname in die getal daaglikse sterftes oor dié tydperk gesien nie.

Daar is baie redes hiervoor. Een is dat die getal sterftes minder is as die infeksies en dat ons gevolglik te doen kry met sterftes onder pasiënte wat in voorafgaande weke geïnfekteer is. Daarom het die land oor die laaste paar weke ’n toename in sterftes gehad.

Die sterftekoers word gedefinieer as die getal daaglikse sterftes as ’n proporsie van die totale getal kumulatiewe infeksies seder die eerste infeksie in die land aangemeld is.

Die toename in die sterftekoers is die gevolg van twee redes. Eerstens is daar minder sterftes as infeksies. Tweedens neem die getal infeksies af terwyl die getal sterftes nie teen dieselfde koers afneem nie.

Van die 592 144 mense wat teen Woensdagmiddag al geïnfekteer is, het 485 468 herstel. Dit is ’n herstelkoers van 82%. Die sterftekoers was 2,07%.

Gevolglik bly bykans 16% van die algehele getal infeksies aktief (94 412 aktiewe gevalle). Kyk ’n mens na die afgehandelde gevalle (mense wat herstel of dood is), was die sterftekoers 2,46%.

Dit beteken dat ’n verdere 2 326 mense wat steeds onder die aktiewe gevalle tel moontlik kan sterf, en dit is glad nie ’n onbeduidende getal nie.

Daar sal uiteraard nuwe gevalle in die komende weke wees en dit sal lei tot ’n hoër sterftesyfer wat moeilik is om in dié stadium te voorspel.

Die Mediese Navorsingsraad het onlangs aangekondig dat daar tussen 6 Mei en 28 Julie meer as 28 000 oortollige sterftes in die land was. Daar is nie oorsake vir dié sterftes verskaf nie en dit kan wees dat Covid-19-verwante sterftes nie almal in berekening gebring is nie.

Meer mense in Suid-Afrika se dood kan dus Covid-19-verwant wees as die 2 326, ’n beraming wat op die huidige getal aktiewe gevalle gegrond is.

Daar sal uiteraard nuwe gevalle in die komende weke wees en dit sal lei tot ’n hoër sterftesyfer wat moeilik is om in dié stadium te voorspel.

Finale opmerkings

Gegewe die getal daaglikse sterftes, is dit te vroeg en ook onverantwoordelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die krisis in Suid-Afrika verby is.

Daar is in dié stadium geen duidelike afwaartse tendens in sterftes nie en dit is onwaarskynlik dat dié situasie in die volgende paar weke sal verander in die lig van die hoë getal aktiewe gevalle en nuwe gevalle wat sal volg.

Oorgerustheid sal lei tot ’n tweede vlaag van infeksies.

Daar moet ook gelet word op die feit dat baie lande oor die wêreld heen ’n tweede vlaag van infeksies ondervind. Weens die verslapping van die inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika van vlak 3 tot vlak 2, kan ons ’n tweede vlaag van infeksies hier sien.

Dit bly daarom belangrik dat ons aanhou om sosiale distansiëring te handhaaf, hande te was en maskers te dra.

Oorgerustheid sal lei tot ’n tweede vlaag van infeksies, iets wat ons kwalik in dié stadium in Suid-Afrika kan bekostig.

* Prof. Cloete is viserektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch en prof. Rajaratnam is direkteur van die skool vir datawetenskap en berekeningsdenke aan dieselfde universiteit.

* Besoek die skool se webwerf hier.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.