Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ontwaking van die Afrikaner se morele gewete

Die Afrikaner het ’n sterk morele gewete, maar dit het in die dae van apartheid aan die slaap geraak, skryf Dawie de Villiers in dié geredigeerde uittreksel uit sy outobiografie.

Die voorblad van Dawie de Villiers se outobiografie.

Kort ná my dertigste verjaardag het ek my uittrede uit rugby aangekondig. Ek het egter nooit kon droom dat ek skaars agttien maande later voor ’n beslissende besluit in hierdie verband te staan sou kom nie.

In Augustus 1972 word ek gevra om in die historiese Old Bailey-hof in Londen te getuig in die hofsaak teen die anti-apartheidsaktivis Peter Hain, wat so ’n groot rol gespeel het om ons Springbokke se toer in 1969–70, asook die Wilf Isaacs-kriekettoer, te ontwrig. Die ontwrigtings het groot onkoste vir die Britse unies meegebring. Soos ek, is Wilf Isaacs ook opgeroep om in die hofsaak teen Hain te getuig.

Weens restourasiewerk aan die Old Bailey moes die verrigtinge plaasvind in die Royal Courts of Justice, ’n indrukwekkende Victoriaans-Gotiese gebou met imposante torings, lang gange, hoogdrawende prosedures en die bekende swart togas en wit pruike.

Een probleem was dat ek en Wilf slegs die betogersgebeure in die hof kon beskryf, maar Hain nie direk kon impliseer nie. Die saak het ’n maand lank gesloer voordat Hain skuldig bevind is op ’n aanklag dat hy ten tyde van ’n Davisbeker-toernooi in Bristol in ’n protesaksie op die tennisbaan gaan sit en die spel sodoende onderbreek het.

Dié foto van Dawie de Villiers in sy dae as rugbyheld het in Die Huisgenoot verskyn. Foto: Argief

Op die rugby- en krieketverwante aanklagte het die jurie besluit dat Hain nie skuldig bevind kon word nie.

Sy verweer was dat die Stop the Seventy Tour-veldtog ’n losse beweging was en geen rigiede organisasie nie, en hy nie aanspreeklik gehou kon word vir amper duisend oortredings wat oor die lengte en breedte van die Britse Eilande begaan is nie.

Hy is toe met £200 beboet.

’n Interessante uitvloeisel van die hofsaak was die verskyning van ’n getuie met die naam Gordon Winter, ’n Londense korrespondent van die Sunday Express wat later erken het dat hy eintlik vir die Suid-Afrikaanse Buro vir Staatsveiligheid gewerk het.

Voor my terugkeer na Johannesburg van Heathrow-lughawe ontvang ek ’n oproep van Louis Luyt. Hy waarsku my dat die media my op die lughawe gaan inwag en met vrae gaan bestook na aanleiding van gerugte dat ek tot die politiek gaan toetree.

Hy adviseer my dat ek nie ja of nee moet antwoord nie. By my aankoms deel Suzaan [De Villiers se vrou] my mee dat die Nasionale Party se kiesafdelingsraad in Johannesburg-Wes eenparig besluit het om my te vra om as kandidaat in die komende tussenverkiesing in Johannesburg-Wes te staan. Dr. Carel de Wet, die sittende lid, is aangestel as ambassadeur in Londen.

Die tussenverkiesing sou later in 1972 plaasvind. Ek moes egter nog dieselfde aand my antwoord aan die NP-bestuur oordra.

Dawie de Villiers het al standpunt teen die Nasionale Party se beleid ingeneem voordat hy nog in 1972 as parlementslid van dié party verkies is. Foto: Argief

Wat sou gebeur het as NP vroeër beweeg het?

Die besluit het soos ’n vurk in die pad voor my gelê. Gaan dit regs wees of links? Ek het net tyd gehad om twee mense in wie ek groot vertroue gehad het, te raadpleeg.

Die eerste was my pa, self op sy dae nege jaar lank parlementslid van die NP. Hy waarsku dat die politiek nie ’n aangename plek is nie.

Sy advies was: “Dawie, gaan voltooi eers jou studie en skool jouself verder – jy sal later weer geleentheid kry om parlement toe te gaan. En,” het hy bygevoeg, “die politiek is rof, en dit gaan rowwer word.”

Die tweede persoon was prof. Gerrit Viljoen, die dinamiese rektor van die RAU. Ek het nooit kon droom dat ek en hy ’n aantal jare later albei lede in dieselfde kabinet sou wees nie.

Ek het standpunte ingeneem wat nie met partybeleid gestrook het nie, en ek is deur die premier, John Vorster, ingeroep en tereggewys.

Sy advies was weer: “Dawie, ek voel sterk dat jy die geleentheid moet benut. Ons politiek het jong, verligte mense soos jy nodig. Ons het vernuwing nodig. Jy kan jou doktoraal later saam met jou politieke loopbaan voltooi, maar nou is dit jou groot geleentheid om ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse toekoms te maak.”

Wel, ek het die politiek gekies en word die NP-kandidaat in die tussenverkiesing wat in November 1972 plaasvind. Ek het sommer gou in die warm water beland, reeds in dieselfde verkiesingsveldtog.

Ek het standpunte ingeneem wat nie met partybeleid gestrook het nie, en ek is deur die premier, John Vorster, ingeroep en tereggewys.

Ek onthou nog ek is deur die konserwatiewe Daan van der Merwe en Jan Hoon by hom verkla en hy het my na sy kantoor ontbied. Hy het die saak waardig en netjies hanteer.

Hy het hulle twee geleentheid gegee om hul kant van die saak te stel, en my toe ’n kans gegee om my kant te stel. Hy het geen uitspraak gegee nie; hy het ons net aangehoor en dit was klaar. Ek dink hy wou nie kant kies nie. Hy het besef my sienings was voortydig, maar daar was ’n proses wat gevolg sou moes word.

As ek nou terugkyk, wonder ek hoeveel ons nie sou kon gered het deur net vroeër te beweeg het nie. Dit het ’n paar keer gebeur, en ook later met P.W. Botha.

Dawie de Villiers vier jaar gelede met ’n paar stewels uit sy speeldae. Foto: Jaco Marais

Die Afrikaner se morele gewete

In die verkiesing in 1972 het Marais Steyn, toe minister van arbeid, gesê wit en swart sal nooit saam in dieselfde skrum druk in Suid-Afrika nie.

’n Engelse koerant het my daaroor uitgevra en ek het geantwoord ek kan nie die minister teregwys nie, maar “one can never say never”!

In die dae van apartheid is ek al gevra oor die Afrikaner se morele gewete.

My siening was dat die Afrikaner ’n sterk morele gewete het, maar dat dit aan die slaap geraak het. Mense se houding was: Verwoerd dink vir ons, die Nasionale Party dink vir ons en die apartheidsmaatreëls, wat negatief is, word ook maar verdedig in die naam van die “groter goed” – sommige moet ly sodat ander die oorwinning kan behaal.

Namate ons mekaar leer ken het deur onderhandelinge, het ons ontdek hóé aan die slaap ons was.

Algaande begin mense dink oor klein apartheid, goed soos hoekom ons nie aan dieselfde tafels kan sit nie. Die morele gewete moes verder ontwaak; hy moes hom losmaak van hierdie Lasarus-doeke wat hom gebind het. Dit was ’n ontdekkingsproses.

Die skille het van jou oë geval, dit was ’n proses waar jy al hoe beter kon verstaan hoe dit voel om in die ander man se skoene te staan.

Namate ons mekaar leer ken het deur onderhandelinge, het ons ontdek hóé aan die slaap ons was. Dit beteken nie ons het nie morele gevoel gehad nie – dit was net verdoof. Die Afrikaner is oorwegend nie in die demokratiese tradisie grootgemaak nie.

Ons het nie ’n hoë vlak van politieke en religieuse verdraagsaamheid nie.

Mense wat miskien gedink het om vrae te vra, bly maar stil om die vrede te bewaar in hul samelewing. In ’n tyd dat isolasie toenemend sy tol geëis het op ekonomiese en sportgebied en die land die handelsdruk ervaar het, het ’n mens begin dink: Maar die hele wêreld kan mos nie net moedswillig wees nie?

Dok Danie Craven was omgekrap omdat van De Villiers se voormalige Springbok-spanmaats hom in 1972 se tussenverkiesing in Johannesburg-Wes bygestaan het. Foto: Yunus Mohamed

In die parlement het ek my van die begin geskaar by diegene wat Willem de Klerk (F.W. de Klerk se broer) later as “verligtes” teenoor die “verkramptes” beskryf het. Dié verdeling het soos ’n verskuiwingslyn deur die party geloop.

Die interne spanning was hoog en daar is deurentyd geskinder en gekonkel.

Botha het die hoofpilare van apartheid een vir een begin omstoot – iets waarvoor hy nie genoeg erkenning kry nie.

Daar was broedertwis in ons geledere. Uiteindelik is die verkramptes onder leiding van Andries Treurnicht deur pres. P.W. Botha uitgedryf. Die proses van verandering het groter momentum begin kry.

Botha het die hoofpilare van apartheid een vir een begin omstoot – iets waarvoor hy nie genoeg erkenning kry nie. Nadat hy die Wet op Instromingsbeheer en die Wet op Gemengde Huwelike geskrap het en erken het dat Suid-Afrika een onverdeelde land met een burgerskap is, was apartheid morsdood.

Die enigste vraag wat oorgebly het, was: Hoe gaan die toekoms lyk?

Die pad is oopgemaak vir F.W. de Klerk om op 2 Februarie 1990 die tafel vir onderhandelinge gereed te maak. Saam met Roelf Meyer en Leon Wessels was ek as leier van die NP-afvaardiging deurlopend by die veelparty-onderhandelinge in Kempton Park betrokke. Die oorgangsgrondwet is ná lang, taai en moeilike onderhandelinge uiteindelik deur al die politieke partye aanvaar.

Dit het die weg gebaan vir die eerste volledige demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Dit het ook die weg voorberei vir die finale Grondwet wat op 8 Mei 1996 deur die grondwetskrywende vergadering goedgekeur is. Dit was vir my die hoogtepunt van my politieke loopbaan.

Dawie de Villiers en sy vrou, Suzaan, met sy 70ste verjaarsdag in 2010. Foto: Yunus Mohamed

Dok omgekrap oor Bokke in verkiesing help

Een van die tussenverkiesings in 1972 was in Vereeniging, waar F.W. de Klerk die kandidaat was. F.W. nooi my om saam met hom by ’n verkiesingsvergadering in Vereeniging op te tree. Die hoofspreker die aand is Pietie du Plessis (later ons buurman in Akasiapark en kabinetsminister).

Hy verdedig die insluiting van die gekleurde Franse vleuel Roger Bourgarel in die Franse rugbytoerspan na Suid-Afrika die vorige jaar op grond van die feit dat die Franse Mirage-vegvliegtuie aan ons verkoop, en die insluiting van een gekleurde speler ’n klein opoffering van ons kant is vir die steun wat ons van hulle ontvang!

In Johannesburg-Wes spreek ek baie huisvergaderings toe. By ons eerste openbare vergadering was dr. Piet Koornhof ons hoofspreker. Ek stoei om myself in dié nuwe wêreld te vind.

Johannesburg-Wes is ’n grenssetel en vir die NP baie belangrik om te wen. My teenstanders in die verkiesing is Pierre du Toit van die Verenigde Party en die Prog Ray Barrell.

Barrell het nogal gesê hy dink ek sal baie uit plek wees in die “ou en uitgediende geledere” van die NP in die parlement.

Ek het gereken dat ek veral onder die jongmense goed steun kon werf, want die RAU sowel as die Goudstadse Onderwyskollege het in my kiesafdeling geval.

Hy het gesê dit is jammer dat rugby gebruik word vir politieke gewin; daar is ’n morele kode dat rugby nie vir hierdie doeleindes gebruik moet word nie.

Van my ou Springbok-spanmaats soos Sakkie de Klerk, Piet Goosen, Albie de Waal, Piet Botha en Gert Muller het my ook bygestaan tydens die verkiesing.

Hieroor was Dok [Danie] Craven omgekrap.

Hy het gesê dit is jammer dat rugby gebruik word vir politieke gewin; daar is ’n morele kode dat rugby nie vir hierdie doeleindes gebruik moet word nie.

My siening was dat my ou spanmaats my in hul persoonlike hoedanigheid gehelp het. Dok Craven was op daardie stadium president van die SA Rugbyraad, maar hy het geen gesag oor die politieke aktiwiteite van Springbokke gehad nie, was my verweer.

Ek wen die tussenverkiesing met ’n goeie meerderheid van 1 442 stemme. In die tussenverkiesing in Vereeniging wen F.W. met ’n meerderheid van meer as 2 000 stemme.

Rapport het berig dat my en F.W. se verkiesing tot volksraadslede ’n bonus vir die NP was en van groot betekenis kan wees vir die vernuwings- en verjongingsproses.

Die koerant het verder geskryf: “Maar veral word albei beskou as verteenwoordigend van ’n nuwe, verligte denke wat nog maar sukkel om tot sy reg te kom in ’n politieke opset wat ongelukkig nog in ’n groot mate deur ou opvattinge oorheers word . . . Ons hoop hy (die Nasionale Party) sal hulle die nodige bewegingsvryheid gee om nuwe denke te bring in die politiek, wat dreig om taamlik stroef te word.

“Van hulle sou ons graag dít wou vra: moet nooit idees ondergeskik stel aan politieke gedienstigheid nie. Ons ken heelwat ander manne vir wie dié versoeking te groot was.”

Dit is dan in hierdie tydsgees dat ek my in die politiek begewe het.

* My Lewensreis: Springbok, politikus en diplomaat deur Dawie de Villiers en Chris Schoeman word deur Zebra Press uitgegee en kos R300.

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Pw Botha  |  Fw De Klerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.