Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dawie Roodt: Dié glas is halfleeg

Tyd is nie aan ons kant om die ekonomiese agteruitgang te stuit nie, reken Dawie Roodt.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Groep.

Ten spyte van ekonome se voorspellingsbravade, is die toekoms vir almal ’n geslote boek. Ons beste kans om ’n blik op die toekoms te kry is om die verlede te verstaan.

Dit is veral van toepassing onder ons huidige omstandighede, waar voorspellings verder bemoeilik word deur faktore soos die grendelstaat en die gevolglike ernstige ontwrigting van onderliggende politieke en ekonomiese patrone.

Teen hierdie komplekse agtergrond sal ek probeer om te verduidelik hoekom ek persoonlik bekommerd is oor die land se politieke en ekonomiese toekoms.

Eerstens moet ons besef dat ons ekonomiese probleme hoofsaaklik voor die deur van ’n destruktiewe ANC-geleide regering geplaas moet word. Tweedens moet ons onsself afvra of die einste regering in die toekoms anders gaan optree. En les bes moet ons die onderliggende ekonomiese groothede (data) verstaan en probeer bepaal of dit herstelbaar is.

Ons ANC- politieke leiers het in feitlik elke denkbare opsig as ’n regering misluk. Alle vlakke van die regering asook staatsbeheerde instellings is operasioneel en finansieel grootliks geruïneer.

Operasioneel is die land se infrastruktuur, rioolnetwerke en water- en elektrisiteitstoevoer besig om in duie te stort.

Op nasionale vlak het die regering eweneens ’n onindrukwekkende prestasielys. Die staat se grootste uitgawe-item is onderwys. Desnieteenstaande, en in vergelyking met die meeste ander lande, is ons onderwysstandaarde uitsonderlik swak, soms die swakste in die wêreld.

Fatalisties! Ons sit met ’n goeie president wat verhoed word om die ‘regte’ ding te doen.

Dieselfde geld vir die departemente van gesondheid, polisie, vervoer, en so meer, terwyl staatsbeheerde instellings soos Eskom, Prasa en die SAL bykans sonder uitsondering tot in die afgrond bestuur is.

Dit bring my by ’n kernvraag: Gaan die regering verander?

Onse Cyril, voorheen bekend as die vergestalting van Ramaforie, was immers Jacob Zuma se adjunk; hy was persoonlik verantwoordelik vir staatsbeheerde instellings en het telkens alle vergrype van die ANC verdedig.

Deesdae praat hy ewe voortvarend en vroom van “nege verspeelde jare”.

Boonop word baie van Ramaphosa se kabinetslede steeds by misdadige bedrywighede betrek, met vrae wat, ironies genoeg, gereeld rondom sy adjunkpresident, David Mabuza, opduik.

Ewe kommerwekkend in hierdie verband is dat ministers soos Pravin Gordhan, wat behulpsaam was by die verval van staatsbeheerde instellings en die ineenstorting van staatsfinansies, nog altyd in die kabinet is en van krag tot krag gaan met sy vernietigende werk – die SAL-sirkus synde ’n uitstekende voorbeeld.

RSG-debat
Talle RSG-luisteraars  het Maandagoggend aan hul oggendkoffie verstik toe die ekonome Roelof Botha en Dawie Roodt mekaar amper aan die keel gegryp het in ’n vurige debat oor ’n  verslag wat reken dat Suid-Afrika teen 2030 ’n mislukte staat gaan wees. Ons het die twee genooi om die debat verder te voer. 

En moet vir geen oomblik dink dinge is besig om te verander nie. Die teendeel blyk duidelik uit die orgie van korrupsie gedurende die grendeltyd en die afgelope week se openbarings rondom ANC-lede se misbruik van die staat se vliegtuie.

Asof dit nie genoeg is dat die regerende party nie die verskil tussen die staat en die party ken nie, verbreek hulle skaamteloos hul belaglike grendelreëls en die beste waarmee hulle vorendag kan kom, is dat hulle “humbled” is!

Ons medeburgers wat vertroue in die regering het, redeneer dat die president ’n “goeie” ou is wat graag die “regte” dinge wil doen. Maar, so reken en verkondig hulle, hy kan nie, want wanneer hy die regte dinge begin doen, loop hy die risiko om gepos te word.

Wat ’n fatalistiese argument; ons sit met ’n goeie president wat verhoed word om die “regte” ding te doen. Die waarheid is meer banaal, en kompleks. Die ANC se fel faksiebinnegevegte onder die waan van “beleidsbesprekings” het gelei tot onsekerheid oor wie nou eintlik in beheer is. Hou ook in gedagte dat Ramaphosa en trawante nie meer werklik ’n “beleid” het nie; die party bestaan om op die staat te teer. En vir ’n verandering is hy reg: Die ANC is “aangeklaagde nommer een”.

Dan is daar die vraagstukke rondom vakbonde soos Cosatu. Indien georganiseerde arbeid nie in die bek geruk word nie, sal moeilike ekonomiese besluite, soos om staatsbesteding in te kort, eenvoudig onmoontlik wees.

* Lees Roelof Botha se artikel hier

Gegewe hierdie donker wolke, is die winde van regeringsverandering onwaarskynlik.

Nog ’n waterskeidingsvraag is of ons nog die trajek van ons ekonomiese agteruitgang kan verander. Die antwoord is ons kan. Maar hoe langer ons wag, hoe moeiliker raak die pad vorentoe.

My goeie vriend en mede-ekonoom Mike Schüssler het onlangs vir my ’n paar syfers gestuur. In 1994 was Suid-Afrika se per capita-BBP (bruto nasionale produk) gelykstaande aan die wêreldgemiddeld. Dit is tans minder as 75%. Vanjaar gaan ons per capita-BBP vir die eerste keer laer wees as dié van ontwikkelende lande, wat beteken Suid-Afrika is besig om te beweeg van ’n hoë-inkomste- ontwikkelende land na ’n lae-inkomste- ontwikkelende land. Sedert 1994 het ons werkloosheidskoers verdubbel tot meer as 30% vandag, wat onder die hoogstes ter wêreld tel.

Om ’n lang storie kort te maak, op bykans elke ander indeks waar Suid-Afrika teen ander lande vergelyk word op grond van veranderlikes soos mededingendheid, ontwikkeling en vertroue, het ons teruggesak.

’n Stel syfers wat ek self goed ken en gereeld ontleed, is die staat se finansiële syfers. Die staat se finansies is nou in ’n krisis weens die wanbestuur daarvan in die verlede en die huidig grendelstaat het sake verder versleg.

Tito Mboweni, wat na my mening ’n goeie minister van finansies is, probeer sy bes om sy kollegas te oorreed om staatsuitgawes te besnoei, maar desnieteenstaande bly Gordhan aandring op sotlikhede soos om die SAL te red. Boon­op sal die regering se alliansievennoot Cosatu elke asblik in die land omkeer as staatsamptenare se salarisse besnoei word.

Ten spyte van hierdie komplekse situasie en ons uiteenlopende uitgangspunte kon ek en Roelof op ’n staatsradiostasie oor ’n korrupte en wanfunksionele regering debatteer. Dit demonstreer dat die reg op spraakvryheid steeds beskerm en toegelaat word; beslis nie tekenend van ’n mislukte staat nie.

Dit is nie die enigste lig aan die einde van die tonnel nie. Daar is heelwat ander instellings wat te midde en ten spyte van ’n kultuur van korrupsie uitstekend funksioneer. Een van die beste voorbeelde is ons finansiële markte wat finansiële instellings soos die Reserwebank insluit. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het sy hande vol om die onafhanklikheid van die instelling te beskerm teen aanvalle van ekonomiese analfabete soos die sekretaris-generaal van die ANC.

En hoewel die rand een van die swakste geldeenhede in die wêreld is, het dit darem nog waarde en word dit oor Suid-Afrika heen en ook in omliggende lande algemeen aanvaar – sekerlik nie ’n teken van ’n mislukte staat nie.

Uiteindelik, reken ek, is die burgerlike samelewing die werklike helde wat die land nog aanmekaar hou. Hulle organiseer, maak planne en vind oplossings waar en wanneer die staat misluk.

So ja, as daar iets is wat Suid-Afrika se toekoms kan verseker, is dit ons vindingryke samelewing wat keer op keer uit-die-boks-oplossings vir ons ingat regering se versuim en mislukkings vind.

Om te eindig waar ek begin het, en in finale antwoord op Roelof en baie landsburgers se kommer: Ons dilemma is ’n mislukte ANC-geleide regering wat ons op die pad van ’n mislukte staat geplaas het. Daar is nog tyd vir omdraai, maar nie baie nie . . .

* Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient-groep.

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Mislukte Staat  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.