Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Demokrate se tameletjie oor Trump

Die druk van die Demokratiese Party se linkervleuel om pres. Donald Trump formeel in ’n staat van beskuldiging te stel, neem steeds verder toe. Dit sorg vir ernstige verdeeldheid in die party, maar maak die Republikeine ook benoud. Leopold Scholtz ontleed die saak.

Pres. Donald Trump van die VSA is ’n meedoënlose politikus wat hom nie aan die demokratiese spelreëls steur nie. Foto: Reuters

Hoe beveg jy ’n meedoënlose politikus soos Trump, wat hom nie aan die demokratiese spelreëls steur nie? Hieroor ryg die Demokrate in die Kongres nou hul derms uit.

Die linkervleuel van die party oefen swaar druk uit op die speaker van die Huis van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, om Trump formeel in ’n staat van beskuldiging te stel, die proses wat op Engels as “impeachment” bekend staan. Pelosi gooi wal daarteen, maar dis ’n ope vraag hoe lank sy nog stand sal kan hou.

Andrew Jackson is in 1868 in die Senaat vrygespreek met een stem minder as die vereiste tweederdemeerderheid nadat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Foto: Getty Images

Maar om die saak behoorlik in perspektief te sien, moet ’n mens eers begryp wat “impeachment” is.

Die skrywers van die Amerikaanse grondwet (wat in 1787 hul werk voltooi het) het geoordeel dat, aangesien die kiesers – sy dit onregstreeks deur ’n kieskollege – die president kies, net húlle hom huis toe kan stuur. En, om die president in staat te stel om sy politieke program behoorlik uit te voer, kan dit net by ’n volgende presidentsverkiesing gebeur – met ander woorde, elke vier jaar.

Die grondwetskrywers het wel voorsien dat onvoorsiene omstandighede ’n vroegtydige afsetting van die president kan noodsaak. Maar om te keer dat dit vir elke bagatel gebeur, is die proses buitengewoon moeilik gemaak.

Artikel 2(4) van die Grondwet noem die volgende as moontlike redes vir ’n formele beskuldiging: “Treason, bribery, or other high crimes and misdemeanors”. Dis met opset baie vaag gestel, veral die verwysing na “other high crimes and misdemeanors”, waaronder ’n mens byna alles onder die son kan verstaan.

Oudpres. Richard Nixon van die VSA het in 1974 bedank nadat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Foto: Getty Images

Maar die prosedure is omslagtig en moeilik.

Dit begin met die huis van verteenwoordigers wat deur ’n gewone meerderheid besluit om die proses in werking te stel. Dan word openbare sittings deur ’n komitee van die huis gehou waar enigiemand kan kom betoog waarom die president wel (of nie) aangekla moet word (nie). Mense kan ook gedagvaar word om te kom getuig.

Vervolgens besluit die komitee of daar genoeg gronde is om die saak na die volle huis te verwys. Die huis hou dan ’n debat oor die saak en besluit met ’n gewone meerderheid om die president aan te kla (of nie).

In 1868 is pres. Andrew Jackson in die Senaat vrygespreek met een stem minder as die vereiste tweederde-meerderheid.

As dit wel gebeur, kom die saak voor die senaat. Die huis tree op as aanklaers en lê alle argumente, dokumente en ander relevante materiaal voor aan die senaat, wat as jurie optree.

Uiteindelik is ’n tweederdemeerderheid vir ’n skuldigbevinding in die senaat nodig. Gebeur dit, is die president afgesit en neem die visepresident oor.

Dis só moeilik en omslagtig dat ’n beskuldiging nog net drie kere gebeur het.

In 1868 is pres. Andrew Jackson in die Senaat vrygespreek met een stem minder as die vereiste tweederde-meerderheid. In 1974 het die saak nie verder as ’n komitee van die huis gevorder nie, aangesien pres. Richard Nixon self bedank het toe hy sien hy gaan in die senaat verloor.

In 1998 is pres. Bill Clinton eweneens onskuldig in die senaat bevind toe slegs 45 senatore hom skuldig aan regsverydeling en 50 aan meineed bevind het, aansienlik minder as die 66 wat nodig was.

Moet hulle of moet hulle nie?

Oudpres. Bill Clinton van die VSA is in 1998 in ’n staat van beskuldiging geplaas, maar onskuldig bevind. Foto: Argief

In die huidige geval gaan dit oor die vraag of Trump met die Russe saamgespan het om die verkiesing van 2016 in sy guns te swaai, en of hy hom daarna aan regsverydeling skuldig gemaak het deur die saak toe te smeer.

In sy verslag het die spesiale ondersoeker Robert Mueller bevind dat die Trump-verkiesingspan “ontvanklik” was vir Russiese aanbiedings, maar dat dit uiteindelik op niks uitgeloop het. Dus was daar “onvoldoende getuienis”.

Oor regsverydeling het Mueller tien verskillende gebeurtenisse in detail ontleed wat volgens alle rasionele standaarde op regsverydeling neerkom. Hy kon egter nie aanbeveel dat Trump vervolg word nie omdat die beleid van die departement van justisie bepaal dat ’n sittende president nie van strafregtelike oortredings aangekla kan word nie.

Dus het Mueller in bedekte bewoording te kenne gegee dat die kongres liewer die saak ooreenkomstig die grondwet moet oorneem en dat die politici oor “impeachment” moet besluit.

Dié tameletjie lê nou – veral – by die Demokrate. Hulle het die meerderheid in die huis van verteenwoordigers en het die mag om die proses in werking te stel.

Nancy Pelosi, speaker van die Huis van Verteenwoordigers, wil nie graag hê Trump moet in ’n staat van beskuldiging geplaas word nie. Foto: AP

Die linkervleuel druk dus met alle mag om dit wel te doen. Hulle sê Mueller se verslag maak dit duidelik dat Trump skuldig is aan soveel oortredings dat dit hul grondwetlike plíg is om hom aan te kla.

Pelosi is egter ’n ou politieke rot met dekades se ervaring. Sy gooi wal.

Pelosi gee toe dat Trump hom aan heelparty oortredings skuldig gemaak het wat in beginsel klagte regverdig. Maar sy voer veral twee rasionele redes daarteen aan.

Die eerste is dat die Republikeine steeds die meerderheid setels in die senaat het. Die kans dat die vereiste tweederdemeerderheid vir ’n skuldigbevinding bereik word, is tans baie na aan nul (al kan dit vorentoe verander).

Die tweede sluit nou by die eerste aan.

Sommige waarnemers meen Trump se gewildheid kan toeneem as hy in ’n staat van beskuldiging geplaas word. Foto: Reuters

Die ervaring met die mislukte klagte teen Bill Clinton het gewys dat hy baie kiesers se simpatie gewen het. Clinton was al in sy tweede termyn en kon nie herkies word nie, maar Pelosi se vrees is dat ’n mislukte klag teen Trump sodanig kan boemerang dat hy aanstaande jaar se presidentsverkiesing kan wen.

Sy het gesê daar moet gewag word totdat die president die verkiesing verloor, wanneer hy sy onaantasbaarheid as staatshoof kwyt sal wees en hy aangekla kan word. Sy wil hom nie “impeach” nie, het sy gesê; “ek wil hom in die tronk sien”.

Daarteenoor staan ’n interessante pleidooi van twee professore, Allan Lichtman (historikus) en Laurence Tribe (regsgeleerde) albei van Harvard-universiteit.

Peilings wys dat Trump taamlik ongewild is.

Hulle meen as die Demokrate wil keer dat Trump herkies word, moet hy júís aangekla word, want die hele proses gaan soveel wandade van hom aan die lig bring dat hy die verkiesing gaan verloor, al misluk die klagte teen hom ook.

Dis ’n feit dat verreweg die meeste politici – links of regs – se heel eerste prioriteit is om herkies te word. Beginsels kom tweede.

Dus, as die gevoel onder die kiesers (mede deur alles wat in die klagteproses bo kom dryf) dramaties teen Trump swaai, is die kans goed dat Republikeinse senatore saam met die wind sal waai. Werklik beginselvaste politici – daar ís uitsonderings – is skaarser as hoendertande.

Peilings wys dat Trump taamlik ongewild is. Maar daar is nog anderhalf jaar oor voor die volgende verkiesing, en in dié tyd kan baie gebeur – ook ’n Trump-oorwinning.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.