Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Deon Meyer oor ‘die Koors’ en 'n nuwe soort moordenaar

Toe ’n viroloog vir hom voorstel hy moet ’n gemuteerde koronavirus in sy distopiese roman Koors gebruik, het hy nooit voorsien hoe profeties dit sou wou wees nie. Willemien Brümmer het met Deon Meyer gepraat oor Skype.

Deon Meyer in kwarantyn in sy studeerkamer in Stellenbosch met ’n masker wat sy vrou Marianne vir hulle gemaak het. Op die masker staan: “Love in the time of Covid-19”, ’n verwysing na die roman Love in the time of Cholera deur Gabriel García Márquez.Foto: Verskaf

Vir Deon Meyer, die gewildste skrywer in Afrikaans, voel die afgelope maande se gebeure ’n bietjie soos déjà vu.

Hy skud sy kop asof hy dit nog steeds nie kan kleinkry nie.

“Maar ek het nie regtig hierdie ene sien kom nie. Die vinnige verspreiding daarvan verstom my.”

In sy postapokaliptiese roman Koors beskryf hy naamlik ’n ongekende koronavirus-tsoenami wat binne ’n paar maande feitlik die hele mensdom uitgewis het. Dit ondanks die frenetiese geskarrel van viroloë en epidemioloë, sentrums vir siektebeheer en regerings en militêre ingryping.

Ek is maar net bly dat my sterftesyfer (in Koors) suiwer fiksie was.

Sy beeld is dof, (soos deur ’n spieël in ’n raaisel) op my rekenaarskerm. Ons praat vir die eerste keer via Skype. Want net soos in ’n distopiese toekoms-riller waar die wêreld soos ons dit ken verkrummel, word menslike interaksie ook hier al hoe moeiliker sonder tegnologie.

’n Mens sien net sy bril en sy geruite hemp op die skerm, en die grys en wit mure met foto’s van onder andere hom en sy vrou, Marianne, en sy dogter, Lida, op haar troudag.

“ ’n Mens verwag mos dat die eerstewêreldlande soos Europa en Kanada en Noord-Amerika . . . dat hulle die beste daartoe in staat sou wees om so iets baie vinnig vas te vat, maar toe ’n mens sien dat dit nie gebeur nie, dat dit daar by húlle stoomroller, toe het ek besef hierdie is baie erger as wat enigiemand kon dink.”

Hy glimlag huiwerig.

“Ek is maar net bly dat my sterftesyfer (in Koors) suiwer fiksie was.”

Die verkope van Deon Meyer se post-apokaliptiese roman Koors het sedert die uitbreking van Covid-19 met rasse skrede toegeneem. Dié roman het in 2016 by Human & Rousseau verskyn.Foto: Verskaf

Wat van ’n koronavirus?

Reeds in die tyd toe hy sy navorsing gedoen het vir Koors (die roman het in 2016 verskyn) was daar “slim mense wat gesê het daar kom ’n pandemie”.

“Hulle het gesê dis ’n kwessie van tyd en ons is nie regtig gerat daarvoor nie. Dit was ná die varkgriep en die voëlgriep, waarvan die aansteeklikheid laer was, maar die sterftesyfer baie hoër (as dié van Covid-19). In Amerika het die Sentrums vir Siektebeheer-en-voorkoming (CDC) ook groot gewag gemaak daarvan dat Amerika nie reg is nie. Ek het die potensiaal van ’n virus gesien om vir my die wêreld te gee waarna ek op soek was vir Koors.”

In sy soeke na ’n pandemie wat ’n groot deel van die wêreld kon uitwis, is hy na prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch se departement patologie.

Wat van ’n koronavirus wat van ’n vlermuis af kom wat kombineer met dié van ’n mens wie se weerstand reeds laag is ...?

“Ek het net gesê ek soek die hoogste moontlike sterftesyfer en die eerste ding wat hy vir my gesê het, was die kanse dat daar so ’n hoë sterftesyfer sal wees, is baie skraal. Daar is geen vorige gevalle waar die sterftesyfer so hoog was nie. ’n Mens kan nie regtig kyk na die builepes van die Middeleeue en al die ander pandemies wat daar al was, soos die 1918-griep en die Middeleeuse swart dood nie, omdat die omstandighede baie anders was.”

Meyer het geantwoord: “Ek gebruik digterlike vryheid, ek soek net ’n wetenskaplike basis. Ek kan maar vergroot soos ek wil, want dis fiksie.”

Preiser roep toe die hulp in van prof. Richard Tedder van University College London in en hul voorstel is: Wat van ’n koronavirus wat van ’n vlermuis af kom wat kombineer met dié van ’n mens wie se weerstand reeds laag is omdat hy MIV-positief is?

Die resultaat was onvoorstelbaar profeties.

Koors, soos dit in Duitsland verskyn het. Foto: Verskaf

’n Kroeg in die Alpe

Gelukkig is die situasie in Koors, waar die beskawing soos ons dit ken iets van die verlede is en selfs mak diere teen hul vorige meesters gedraai het, suiwer fiksie.

In dié roman oorleef net sowat 5% van die mensdom omdat hulle die genetiese gelukskoot van natuurlike weerstand teen die virus het. Die katastrofe laat egter ook stelsels in duie stort wat ander ellendes loslaat: nywerheidsontploffings, brande, chemiese besoedeling, radio-aktiewe bestraling, hepatitis en cholera.

“Die navorsing wat ek destyds gedoen het, het ook vir my ’n baie sterk indikasie gegee dat as daar so iets gebeur, gaan daar in baie lande nie sterk genoeg stelsels wees om so ’n pandemie regtig te keer nie, weens die internasionale reise en internasionale sportbyeenkomste wat almal deesdae doen. Daar is nou die afgelope paar dae al hoe meer artikels oor hoe ’n enkele kroeg en restaurant in die Alpe (Kitzloch in die ski-oord Ischgl in Oostenryk) aanleiding gegee het tot die infeksie in Europa. Dis sulke klein swart swane wat so ’n groot verskil kan maak. Dis een van die dinge waarop ek gesteun het in Koors – dat die stelsels nie gerat sou wees om so iets te kan keer nie, wat dan ook nou die geval is.”

Die gevolge gaan nog ’n hele paar jaar met ons wees, en niemand kan regtig sê hoe erg dit gaan wees nie – maar dit gaan erg wees, dit gaan sleg wees . . .

Maar nee, hy het geen twyfel daarin dat ons Covid-19 sal kan klop nie. Die vraag is hoe groot die skade gaan wees ná ons winter van ellende. “Ons het nog nie regtig gesien wat die gevolge daarvan gaan wees in die derde wêreld nie. Ek sien Jair Bolsonaro (Brasilië se president) praat daarvan dat hy geen maatreëls gaan tref nie . . .”

'n Legio nuwe misdade

Vir misdaadskrywers (en misdadigers!) is Covid-19 nie net ’n straf nie. Dit het skielik ’n legio potensiële misdade ontsluit.
“Ek dink daar is baie geleenthede om innoverend misdaad te pleeg en ’n mens sien dit ook al," sê Meyer. "Daar is kuberkrakers wat die geleentheid gebruik, daar is mense wat van deur tot deur kom en sê die staat het hulle gestuur om jou te kom toets. Ek dink geweldig baie daaraan. Dit is een van die voordele van misdaadskrywer wees dat so iets vir ’n mens geleenthede bied, wat so half ironies is.”

Hy skud sy kop. “Ons het nog nie regtig gesien wat die gevolge gaan wees byvoorbeeld in Zimbabwe waar die stelsels baie swak is en waar daar nie sterk leierskap of goeie mediese infrastruktuur is nie. Die sosiaal- maatskaplike gevolge van so iets . . . soos mense wat dan nou hiernatoe vlug, of net Zimbabwe wat nog verder ekonomies verwoes gaan word. Die gevolge gaan nog ’n hele paar jaar met ons wees, en niemand kan regtig sê hoe erg dit gaan wees nie – maar dit gaan erg wees, dit gaan sleg wees . . .”

Dis daarom dat hy so dankbaar is vir pres. Cyril Ramaphosa en ander “wat so vinnig en so sterk opgetree het”.

“Ek dink die regering het goeie werk gedoen en nou is die onus op ons.”

Deon Meyer: “Ek is maar net bly dat die sterftesyfer in Koors suiwer fiksie was”. Foto: Wil Punt, Peartree.co.za

’n Pofadder versus ’n virus

Maar die paniek, o die paniek! “Ek dink daar is drie soorte mense wat ’n mens nou sien. Dié wat dit nie ernstig opneem nie, en wat ’n groot gevaar is, en veral jongmense wat sê omdat die sterftesyfer onder hulle so laag is gaan hulle nie nou bekommerd raak oor sosiale distansiëring en dié soort van ding nie.”

Die tweede groep is dié wat hopeloos oorreageer en al die toiletpapier opkoop. “En die derde groep mense – en ek dink dis die oorgrote meerderheid – is dié wat kalm bly en wat die regte besluite neem en wat wetsgehoorsaam is.”

Deon en sy vrou Marianne met hul maskers.Foto: Verskaf

Die probleem is dat dié pandemie gesorg het vir ’n nuwe soort moordenaar onder die eerste groep, wat natuurlik ’n legio moontlikhede bied vir ’n misdaadskrywer.

“Ek en Marianne het twee dae gelede in Jonkershoek gaan bergfiets ry en toe kom ons op ’n pofadder af wat in die single track lê en ons het lekker geskrik en toe ons wegry het ons gesels oor as ’n bedreiging so sigbaar en tasbaar is, dan is dit meer werklik. Die probleem is ’n virus is ’n onsigbare ding, en veral as jy jonk is hou hy nie regtig vir jou ’n gevaar in nie – totdat jou pa of jou oupa of iemand doodgaan as gevolg van jou stommiteite.”

Dis daarom dat mense soos hy nou wil en moet kompenseer vir die swakker skakels in die ketting. Hy is in elk geval in ’n hoër risikogroep, want hy’s 62 en hy het baie jare gerook. Hy was ook betreklik onlangs in kontak met die Franse konsul-generaal Laurent Amar, wat positief getoets het vir die nuwe koronavirus. Gelukkig het nie hy of Marianne enige simptome nie en hulle is “in elk geval gewoond daaraan om 24 uur per dag in mekaar se geselskap te wees.”

Koors, soos dit in Kanada verskyn het.Foto: Verskaf

Geen rebelle nie, asseblief!

Wat is sy raad dat ’n hele samelewing nie handuit ruk soos in Koors nie?

“Dis baie duidelik: Wat ’n mens nodig het is om die kurwe van infeksie te verplat en die enigste manier om dit te doen is om jouself sosiaal te isoleer en hierdie lockdown regtig na te volg. Op die ou end gaan 60 tot 70% van die wêreldbevolking in elk geval die infeksie kry. Die vraag is kan die ondersteuningstelsels tred hou? As ons ’n infeksiekoers het wat laer is as ons vermoë om mense met ernstige simptome te kan help – dís wanneer die sterftes plaasvind.”

Sy sonore basstem is streng. “Dis nou die tyd om ’n verantwoordelike en gehoorsame burger te wees. Dis nie nou die tyd om ’n rebel of ’n held of aweregs te wees nie.”

Net soos vir die res van die mensdom, is hy nie onaangeraak deur die ekonomiese gevolge van die afsondering nie.

Al het Koors se verkope hier en in die buiteland die afgelope paar maande met rasse skrede gestyg, sou die fliek Griekwastad, waarvan hy een van die vervaardigers is, eersdaags by rolprentteaters geopen het.

“Ons het ’n klomp geld daarin belê en die kanse is dat ons die grootste gedeelte van die geld gaan verloor.”

'n Mens moet nooit die mens se vermoë om goeie dinge te doen onderskat nie

Gelukkig is daar kreatiewe oplossings vir sommige kunstenaars soos virtuele boekefeeste en die Atterbury-teater wat begin het met aanlyn uitsendings soos van Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite 2: Karoonagte.

“Ek dink daar is baie innovering, baie kreatiwiteit van hoe kan ons in hierdie moeilike tye maak dat sekere goed aan die gang bly? En hoe kan ons mense help om wanneer hulle tuis is die tyd steeds sinvol te benut? Ek het gister begin om op Twitter skryfwenke te deel. Hierdie is die tyd vir almal wat nog altyd daai boek wou geskryf het en ek probeer elke dag so tien wenke gee van hoe om so iets te begin en te doen.”

Hy glimlag. “ ’n Mens moet nooit die mens se vermoë om goeie dinge te doen onderskat nie. Uit hierdie nood, uit hierdie swaarkry kan dalk meer positiewe dinge kom, soos dat ons meer saamstaan, dat ons meer sal besef hoe aangewese ons op mekaar is, dat ons in ’n groter mate sal hande vat.

“En ek praat nie net van ons in Suid-Afrika nie, maar internasionaal. En hopelik gee dit ook vir ons rigtingwysers oor hoe om klimaatsverandering te hanteer en ’n klomp ander internasionale probleme op te los.”

Want net soos in Koors is hier potensiaal vir nuwe leiers om die wêreld te lei van chaos na orde, van donker na lig en van honger na oorvloed.

Hy knik. “Dit kan ook wees dat die positiewe wat hier uitkom uiteindelik baie beter gaan wees as die negatiewe en die swaarkry wat nog voorlê.”

'n Spesie wat te veel geword het vir die ekostelsel

Deon Meyer se roman Koors open met ’n skermutseling tussen die hoofkarakters en ’n trop wilde honde. Die implikasie word gou duidelik dat “Die Koors” self ’n soort ekologiese regstelling was.

Dink hy Covid-19 is die aarde se manier om te herstel?

Hy knik. “Daar is heelwat in die nuus gewees oor Venesië waar die dierelewe terugkom en waar die water skielik helder is. In Stellenbosch kon ons die afgelope week baie duidelik sien hoeveel minder lugbesoedeling daar is.”

Maar 'n mens moet versigtig wees om aan die natuur die een of ander wraak te gaan toedig. "Die feit van die saak is egter, in enige ekosisteem waar een spesie te veel word vir die ekosisteem om die spesie te onderhou gaan daar regstelling plaasvind. Dit is die een ding wat baie van die wetenskaplikes gesê het toe ek Koors nagevors het – ons as spesie het klaar te veel geword vir die ekostelsel, so iewers moet iets meegee. Dis hoekom die koronading gebeur het.

“Met aardverwarming gaan daar ook ’n regstelling plaasvind en daar gaan ook geweldige gevolge wees. Die natuur is absoluut net kousaal: Dis oorsaak en gevolg.”


Meer oor:  Deon Meyer  |  Willemien Brümmer  |  Koors  |  Koronavirus Covid19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.