Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Deon Wiggett: Maak rassiste se lewe hel
Deon Wiggett

Dis nog nie eens twee weke nie, maar dit voel al klaar soos ’n lang jaar in Suid-Afrika. In minder as twee weke het rasseverhoudings in ons land nóg verder verswak.

Wit Suid-Afrika se “voorspoedige nuwe jaar” aan die res van die land – so het dit gelyk – is behartig deur Penny Sparrow, wat swart mense op die strand as onhigiëniese ape afgemaak het.

Nie net het Penny geen benul oor die ontberings waardeur baie swart mense moes gaan om dit tot op daardie strand te maak nie. Sy blyk ook nie te verstaan hoe bevoorreg wit mense steeds is te danke aan die opvoeding wat apartheid ons gegee het nie, of die magdom kapitaal wat ons deur apartheid bymekaar kon hark nie.

Ek is nie Penny nie. My vriende is nie Penny nie. Maar hier en daar in my familie is ’n Penny – ek is Afrikaans, en Penny skuil êrens in die meeste Afrikaanse families. En elke keer dat ’n Penny haar mond oopmaak, dink meer en meer swart Suid-Afrikaners ons is almal Penny. Ons stilswye spreek boekdele.

Hoekom bly die nierassistiese Afrikaanse mense stil wanneer ’n tannie oor Kersete die walglikste rassistiese goed sê en sommer die k-woord vir effek bylas? Want ons is te ordentlik.

Ons bloed is dalk besig om te kook, maar Afrikaanse mense is ordentlik. Niemand wil die ou wees wat Kersfees bederf deur ’n groot uitval met tannie Hannie te hê nie. So, ’n mens laat haar maar dink wat sy wil en skuif haar uit jou gedagtes tot volgende Kersfees.

En kyk nou waar het ordentlikheid ons gebring. Omdat ons niks sê nie, dink die rassiste steeds alle wit mense stem met hulle saam. Solank daar geen swart mense by is nie (en watter wit Kersfees het swart mense by?) kan ons almal lekker saamlag vir die swart mense.

Dit hou nóú op.

As jy regtig glo in ’n nierassige Suid-Afrika, en as jy graag vir ewig hier wil bly, kan ons nie meer ordentlik wees met die rassiste nie. Ons moet hul lewe hel maak – of ons almal se lewe gaan hel word.

Ons moet rassistiese aanmerkings – en aanmerkings wat duidelik op rassistiese beginsels berus – so taboe maak dat niemand dit sal waag om dit te uiter nie.

Hoekom? Hoekom is dit belangrik, anders as die blote feit dat rassisme verkeerd is? Want meer en meer Suid-Afrikaners skryf wit mense as rassiste af.

Twee soorte wit mense praat vandag die hardste in ons land. Daar is die Pennys met hul ongebreidelde rassisme. En daar is die wit mense wat “net so moeg daarvoor is om oor ras te praat”.

So wanneer presies hét jy oor ras gepraat? Wat het jy persoonlik gedoen om rassisme te verminder? Of is jy net “moeg gepraat oor ras” omdat dit jou illusie van Suid-Afrika bedreig?

Te veel wit mense gaan steeds aan asof apartheid nie geëindig het nie. Te veel van ons dink steeds dat ons Europese denkwyse logies en natuurlik en onaantasbaar is – en dat apartheid só ver in die verlede is dat die gevolge daarvan teen dié tyd geneutraliseer is. Ons dink nog ons het die reg om te beskik oor norme en almal anders se gedrag.

Op Facebook nou die dag plaas iemand ’n stokou foto van minister Tina Joemat-Pettersson wat ’n teekoppie aflek. Hoe lekker lag die wit mense daarvoor.

“Klas kan nie gekoop word nie,” skryf Freda van Zyl Fourie uit George – want as jy nie optree volgens wit mense se reëls nie, het jy nie klas nie.

“Dit is wanneer daardie dun lagie beskawingsvernis onverwags afkom,” snou Johan van der Merwe, ’n boorling van Evander, wat nou in Pretoria woon.

’n Mens “sal nooit die bos uit hulle uit kry nie,” laat Alta Wienand Sadler uit Empangeni weet. En dan vra mense waarom ek daarop aandring om rassisme hier te sien. Swart mense kom uit die bos uit, reken Alta. (Sy’t hulle darem nie heeltemal ape genoem nie, maar duidelik is sy ’n alumnus van die Penny Sparrow Skool vir Rasseverhoudings en Soölogie.)

Ek besef ek het nie ’n groot invloed op ware rassiste nie. Maar indien jy regtig dink jy is beter as swart mense (jy is nie), mag ek my beroep op Afrikaanse mense se befaamde pragmatisme?

Ons bly in ’n land waarin die meeste mense swart is. As jy jou dae in Suid-Afrika wil uitleef, hou jou rassisme vir jouself. Ons speel op dun ys.

Meer as die helfte van wit Suid-Afrikaners is rassiste, sê ek nou die dag op Facebook. (Dit was reeds ’n lang dag nadat ek skielik ’n onwaarskynlike ondersteuner van minister Joemat-Pettersson geword het.)

Heelwat mense het van my verskil omdat daar glo ’n stille meerderheid van nierassistiese wit mense is. Ek hoop dis die waarheid. As daar werklik ’n stille meerderheid is, is hierdie die jaar waarin ons moet ophou stilbly.

As jy nie Penny is nie, kan jy geen Penny verdra nie – al bring dit ’n element van katastrofe na die Kersete. Ander Suid-Afrikaners is besig om tot die slotsom te kom dat ons almal Penny is. As hierdie opvatting eers wyd begin posvat, is ons almal in ons moer.

Penny mag nie meer uit ordentlikheid geduld word nie. Wit mense kla graag oor hulle “niks in die land kan verander nie”. Wel, hier’s jou kans. Kom ons raak ontslae van wit rassisme. Dán sal ons sien hoe die land om ons verander.

* Deon Wiggett is ’n kopieskrywer en besit ’n reklame-agentskap in Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.