Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dertien gebooie wat Afrikaans kan red

Daar word gewroeg, gekla en aangekla oor die ‘oorlewing’ van Afrikaans, veral op universiteitskampusse, skryf Johann van der Westhuizen, en doen voorstelle daaroor.

Hoe belangrik dit is om te veg dat kernfisika by Tukkies in Afrikaans of Venda aangebied word?Foto: theana breugem

Ek is skuldig. Ek was betrokke by die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels (met uitsonderings) as voertaal te gebruik.

Tesame met ’n proses van raadpleging op die kampus wat vir almal oop was en waaruit die EFF en AfriForum geloop het, was ek voorsitter van ’n paneel wat aan die universiteitsraad verslag moes doen.

Die paneel het drie swart lede ingesluit, naamlik regter Jerry Shongwe van die appèlhof, prof. Sheila Mmusi van die Universiteit van die Noorde en Khanyisile Ngwenyama van Business Union SA, asook dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK, en die digter Adam Small.

Laasgenoemde was in die hospitaal toe ons verslag bespreek is en is twee dae later oorlede. Sy inleiding tot die verslag is waarskynlik die laaste woorde wat hy geskryf het.

My pa het Afrikaanse gedigte en prosa gepubliseer. Ek het met Langenhoven en Van Wyk Louw langs my bed grootgeword.

Oorweeg om die Hertzogprys postuum aan Koos du Plessis toe te ken. Bob Dylan het immers die Nobelprys gewen.

André Brink het my emosioneel deur matriek gehelp in ’n skool waar my Engels-onderwyser my nie wou toelaat om ­
vir die eksamen uit Cry the Beloved Country voor te lees nie, omdat Alan Paton roerend geskryf het dat apartheid nie mooi was nie.

Die aand nadat ons verslag ingedien is, het ek met ’n glas rooiwyn na Mohammad Ali se begrafnis op televisie gekyk.

Ek het gehuil oor hoe die wêreld beter gemaak is toe ’n wit polisieman op die agterstrate van Philadelphia met ’n kwaai swart straatkind gesels het . . . en sommer gelyktydig oor wat met my taal gebeur het.

13 gebooie

As my bydrae tot die “stryd” vir Afrikaans, stel ek nou ’n aantal “gebooie” voor:

1 Laat vaar die obsessie met “oorlewing”.

Laat die taal voluit leef en die lewe saam met sy gebruikers geniet. Oneindig oud soos ons heelal deesdae is, oorleef min dinge vir ewig. Filistyns, Moabities en Amelekieties het nie oorleef nie. Hebreeus het – vir eeue sonder ’n land, regering of beskermende regstelsel, deur onder meer harde werk en volgehoue studie.

2 Wees eerlik met ander en mekaar. Toe dr. Andries Treurnicht oudpres. FW de Klerk se beroemde toespraak op 2 Februarie 1990 kwaai gekritiseer het, het De Klerk hom in die oë gekyk en gesê dat net een ding erger is as waarvan hy beskuldig word.

Dit is om vir jou eie mense te lieg.

Die Hertzogprys vir Koos du Plessis?
Nou word met De Klerk se kallers geploeg wanneer verskeie grondwetlike bepalings aan onkundiges voorgehou word: Artikels 30 en 31 beskerm regte in verband met taal, kultuur en godsdiens. Artikel 29(2) is die gunsteling.

Dit erken die reg om onderwys in die amptelike taal of tale van mens se keuse te ontvang.

Die taalstryders sê egter nie vir die mense van wie hulle geld vir hofsake vra dat in die einste artikels 30 en 31 staan dat die regte nie uitgeoefen mag word op ’n wyse wat ander bepalings in die menseregtehandves skend nie.

Hulle vertel hul gehore ook nie dat die res van artikel 29(2) verwys na die noodsaaklikheid om diskriminasie van die verlede aan te pak nie. Veral verswyg hulle artikel 9, wat gelykheid waarborg en sowel direkte as indirekte diskriminasie verbied.

Is dit nie diskriminasie nie as Kgosi van ’n skool sonder gekwalifiseerde onderwysers diep in Limpopo by Tukkies aankom en op ’n groot, besige kampus in ’n klas vol 300 ander studente in sy vierde taal klas kry by ’n dosent wat self nie juis te vaardig is met Engels nie; terwyl Kosie van die Afrikaanse Hoër Seunskool oorkant die pad saam met 30 ander Boerkinders aan die voete van ’n Afrikaanssprekende professor moedertaalonderrig op universiteitsvlak ontvang?

Is dit goed vir Kosie of Kgosi om in verskillende klasse verwyderd van mekaar byvoorbeeld geskiedenis en grondhervorming te bespreek? En is Kosie se keuse om dit só te doen een vir sy taal of vir afsonderlikheid?

3 Die derde gebod, wat hiermee gelykstaan, is dat ons Afrikaans se historiese rol moet erken. Dit het ontstaan as ’n taal van verset teen imperialisme en magsmisbruik, maar toe die taal van apartheidsonderdrukking geword. Sodoende het die grootste koloniale taal van alle tye in ons land die taal van bevryding en gelykmaking geword. (Engels se internasionale status speel darem ook ’n rol, moet ’n mens erken.)

4 Moet nie doelbewus of onbewustelik Afrikaans verder gebruik om mense te benadeel, teen hulle te diskrimineer, of hulle van ons laer af weg te hou nie.

5 Ken jou plek! Nie in die simboliese sin soos kinders wat gesien maar nie gehoor mag word of outas onder apartheid nie.

Ek bedoel letterlik: Ken jou land! Besef dat miljoene mense werkloos is en onder die broodlyn leef; die ekonomie rommelstatus bereik het; ongeveer 50 mense per dag vermoor word; minstens 400 000 vroue en kinders die afgelope dekade verkrag is; tronke so oorvol is dat 96 mense soms in ’n sel vir 20 by Pollsmoor aangehou word; 14 000 gevangenes lewenslange vonnisse uitdien; en studente op ons kampusse in biblioteke en parkeerterreine slaap en berading ontvang vir honger.

Besluit dan hoe belangrik dit is om te veg dat kernfisika by Tukkies in Afrikaans of Venda aangebied word.

Is ons hoofprojek nie die gesondheid van ons jong grondwetlike demokrasie nie?

6 Vermy siniese opportunisme. Los die argument dat ons vir Sepedi dieselfde status gun as wat ons vir Afrikaans wil hê.

Kernfisika kan nie in hierdie stadium in Sepedi aangebied word nie.

Daarom is dit byvoorbeeld Tukkies se beleid om Sepedi te ontwikkel.

Om verder uit te wys dat die meerderheid Afrikaanssprekendes “bruin” is, help vir Kgosi weinig.

En die Soweto-opstand in 1976 was nie om ’n taal te beskerm nie, maar teen apartheid se brutale onderdrukking.

Die afdwing van Afrikaans was die vonk by die kruitvat.

7 Hou op dink aan Afrikaans se “baie vyande”. Wie is hulle? Die Swart, Rooi, Geel, of Roomse Gevaar?

’n Paar afgetrede suur Engelse omies rondom Pietermaritzburg wat geïrriteerd is as die musiekonderwyser by spogskole se musiekaande Afrikaans is?

Enkele pretensieuse Afrikaanse intellektueles?

Die Guptas se hoofdoel is nie om Afrikaans uit te roei nie. As daar geld te swendel is uit die redding van Afrikaans, kaap hulle dalk nog die “stryd”!

9 Probeer mekaar se goeie bedoelings aanvaar, al verskil ons.

Kryt mekaar nie so maklik uit as verraaiers, hanskakies en hensoppers, ANC-lakeie, of slawe van politiese korrektheid nie.

My haatpos het onlangs gesê dat “die Afrikaner” vir ewig my naam sal verag. Van my poging om “die Afrikaner” te ontmoet, het dadels gekom.

10 Praat, skryf en sing Afrikaans – met blye plesier, nie net om ’n stelling te maak of uit te daag nie. Laasgenoemde is net soms nodig.

11 Bevorder gehalte. Dit is dikwels moeilik. Valiant Swart sing: “Die meeste mense is maar zef.”

Maar kan ons nie

Raka op televisie sien, eerder as Boer soek ’n vrou nie?

Luister na David Kramer, Koos Kombuis, Valiant, Laurika Rauch se ewig wonderlike “Mannetjies Roux” en nuwe talent waarvan ek nie weet nie.

12 Oorweeg om die Hertzogprys nadoods aan Koos du Plessis toe te ken. Bob Dylan het immers die Nobelprys gewen.

13 Reël ’n kompetisie om die 10 of 100 beste Afrikaanse gedigte te vind. Letterkundiges kan byvoorbeeld benoem en die publiek stem, of andersom.

Ek dink aan Eybers se “Klein ballade”, Marais se “Diep rivier”, Van Wyk Louw se “Ballade van die bose”, Opperman se “Wildernis”, Jonker se “Bitterbessie dagbreek”, Small se “Kô lat ons sing” en Breytenbach en Krog se werk.

FW Reitz se “Klaas Geswind en zijn paard” verdien ’n ereplek weens die groot waarheid daarin: “Die drank is tog die snaaksste goed, dit gee die bangste kêrel moed.”

Die versoeking is daar om dieselfde vir Afrikaanse liedjies voor te stel, maar . . . wat as Bles of Steve wen? Ag wat, enige Afrikaans is seker beter as “Pretty Belinda” in Amerikaans.

Dalk profeties eindig my “gebooie” nie op ’n Bybelse tien, twaalf, of sewentig maal sewe nie, maar die ongelukkige dertien.

Soos ander gebooie, kan hulle egter saamgevat word in een begrip: Liefde. Vir onse taal, naastes en Maker.

  • Van der Westhuizen was ’n regter in die konstitusionele hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.