Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dhlakama se dood kan groot impak op Mosambiek hê

Die onverwagse dood van Afonso Dhlakama, president van Renamo, kan daartoe lei dat die politieke kaarte in Mosambiek betekenisvol geskommel word, skryf Eric Morier-Genoud.

Ondersteuners van Renamo hou ’n plakkaat van Afonso Dhlakama omhoog tydens sy staatsbegrafnis in Beira. Foto: AP

Dhlakama se dood kan die vordering wat gemaak is in die vredesonderhandelings tussen Renamo, Mosambiek se grootste opposisieparty, en die Frelimo-regering beïnvloed. Dit kan ook ’n invloed hê op die uitslae van die munisipale verkiesing wat in Oktober vanjaar gehou word en aanstaande jaar se nasionale verkiesing.

Baie sal afhang van wie Dhlakama opvolg. Daar is geen duidelike gunsteling nie omdat hy mag gesentraliseer het en uit sy pad gegaan het om te voorkom dat ’n opvolger na vore tree.

Sommige ontleders meen dit kan tot probleme met die oorgang in dié party lei. Maar die soomlose manier waarop Ossufo Momade slegs vier dae ná Dhlakama se dood as tussentydse leier aangewys is, kan op die teendeel dui.

Dhlakama se dood behoort nie ’n einde aan die onderhandelings te maak nie, maar kan dit vertraag en die vorm wat dit aangeneem het verander.

Die vredesonderhandelings om die sluimerende oorlog tussen Renamo en die Ferlimo-regering te beëindig, was nog aan die gang toe Dhlakama dood is.

Dit het baie persoonlik geraak met Filipe Nyusi, president van Mosambiek, wat meestal oor die foon gesels het.

Dhlakama se dood behoort nie ’n einde aan die onderhandelings te maak nie, maar kan dit vertraag en die vorm wat dit aangeneem het verander.

Die geheime onderhandelings van die twee leiers is gekritiseer en sedert Dhlakama se dood was daar oproepe dat dit weer oopgegooi moet word sodat ook die burgerlike samelewing daaraan kan deelneem wat ’n uiteindelike ooreenkoms breër en meer blywend kan maak.

Renamo se opvolgstryd

Ossufo Momade, tussentydse leier van Renamo. Foto: AP

Momade se aanstelling as tussentydse leier is slegs tydelik en twee groepe sal meeding vir die toppos in Renamo – die burgerlike en die militêre.

Die burgerlike vleuel van Renamo word oorheers deur sy parlementslede met Ivone Soares, ’n broerskind van Dhlamaka, aan die spits. Sy is die party se leier in die parlement.

As dié groep wen, kan dit Renamo se burgerlike struktuur versterk en sy kanse by die stembus verbeter.

Die militêre vleuel bestaan uit soldate en generaals uit die tyd van die burgeroorlog (1976-1992). Dit sluit ook voormalige vegters in wat weer die wapen opgeneem het in wat as die klein oorlog – of “proto-oorlog” – van 2013-2016 bekendstaan.

’n Militêre leier kan weer tot gevolg hê dat Renamo se verkiesingsmasjien verswak word met moontlike nadelige gevolge vir vreedsame verkiesingspolitiek.

Daar is wedersydse risiko’s. Kommer bestaan dat ’n burgerlike nie die militêre vleuel van die organisasie sal kan beheer nie.

’n Militêre leier kan weer tot gevolg hê dat Renamo se verkiesingsmasjien verswak word met moontlike nadelige gevolge vir vreedsame verkiesingspolitiek.

Momade, ’n parlementslid en onderhandelaar, kan die ideale kompromis as leier wees.

Daar kan ook sprake wees van dubbele leierskap met ’n militêre leier as president en ’n burgerlike, soos Soares of Manuel Bissopo, die waarnemende sekretaris-generaal, as sy adjudant.

Familielede van Afonso Dhlakama, ontslape leier van Renamo, treur by sy kis tydens ’n staatsbegrafnis in Beira. Foto: AP

Sommiges meen selfs dat Renamo se afvallige, soos Raul Domingos en Daviz Simango, ’n kans as buitestaanders kan hê. Domingos, wat in ’n stadium as Dhlakama se opvolger beskou is, is in 2000 te midde van moeilike onderhandelinge met die regering uit die party geskop.

Simango is in 2003 tot burgemeester van Beira verkies, maar is nie in 2008 weer as kandidaat benoem nie omdat hy té onafhanklik en té invloedryk geword het.

Hy het van Renamo weggebreek en sy eie party, Die Demokratiese Beweging van Mosambiek, gestig wat nou die septer in verskeie belangrike stede swaai.

Renamo het tweede geëindig in al die verkiesings sedert die einde van die oorlog in 1992.

Die meer realistiese scenario is eerder dat Renamo probeer om dié afvalliges terug te lok of om ’n breër front saam met hulle te vorm.

Dit kan die party help om die meerderheid by die stembus te kry – iets wat hom al sedert 1994 ontwyk.

Renamo het tweede geëindig in al die verkiesings sedert die einde van die oorlog in 1992. Hy het amper in 1999 gewen en vermoedelik het net bedrog Renamo uit die eerste plek gehou.

Waarheen nou met vredesonderhandelinge?

Soldate dra die kis van Afonso Dhlakama, leier van Renamo, tydens sy staatsbegrafnis in Beira. Foto: AP

Dhlakama se dood kan albei partye in die versoeking bring om anders te dink oor onderhandelinge of om hulle daaraan te onttrek.

Op 5 Mei, twee dae ná sy dood, het Frelimo se politieke kommissie, die belangrikste besluitnemende struktuur in die party, in ’n verklaring gesê al wat nou oorbly is die “ontwapening en demilitarisering” van Renamo.

Hy het nagelaat om melding te maak van die desentralisasie-ooreenkoms wat sal lei tot verkiesings vir provinsiale goewerneurs en distriksrade. Dié ooreenkoms is nog nie deur die parlement goedgekeur nie waar Frelimo vra dat dit gewysig word voordat die mense van Mosambiek daaroor in ’n referendum besluit.

Dhlakama se dood kan ’n geleentheid vir vrede wees.

Momade het in reaksie gesê sy party sal niks anders doen nie as om die ooreenkoms oor desentralisasie te finaliseer, so asof die integrasie van Renamo-soldate in die Mosambiekse weermag nie meer ’n kwessie is nie.

Sulke uitsprake kan die onderhandelinge ondermyn en selfs tot die beëindiging daarvan lei.

Die politieke ontleder Alex Vines meen dat Dhlakama se dood ’n geleentheid vir vrede kan wees. Die twee partye was op die punt om ’n ooreenkoms te bereik toe hy dood is.

Hy het ’n beroep gedoen op die welwillendheid van Renamo en Frelimo en gevra vir groter betrokkenheid van die internasionale gemeenskap en beleggers.

Implikasies vir Frelimo

Pres. Filipe Nyusi van Mosambiek wil graag blywende vrede met Renamo bewerkstellig. Hier is hy aan die woord op Afonso Dhlakama, vorige leier van Renamo, se staatsbegrafnis in Beira. Foto: AP

Dhlakama se dood het die potensiaal om Nyusi se posisie te verswak en gevolglik probleme vir Frelimo te skep.

Die party het geskeur onder Nyusi se voorganger, oudpres. Armando Guebuza. Nyusi het boonop oorgeneem ten tye van ekonomiese sowel as politieke krisisse in die land.

Die ekonomiese krisis hou verband met die massiewe geheime skuldlas, skuld wat glo aangegaan is om teen Renamo te veg.

Nyusi het onderneem om die konflik met Renamo tot ’n einde te bring – ’n standpunt wat destyds ongewild in Frelimo was.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Weste het samewerking opgeskort en sommige beleggers het hulle aan Mosambiek onttrek.

Nyusi het onderneem om die konflik met Renamo tot ’n einde te bring – ’n standpunt wat destyds ongewild in Frelimo was. Onderhandelinge is daarom baie belangrik vir hom.

In ’n sterk presidensiële stelsel kan ’n verswakking van die president se posisie tot meer interne verskille lei.

Dit kan weer Nyusi, die party en die regering se hand in onderhandelinge met die IMF, die internasionale gemeenskap en Renamo verswak.

’n Soldaat hou sake dop tydens die staatsbegrafnis van Afonso Dhlakama in Beira. Foto: AP

Niemand is seker wat in die verkiesings van vanjaar en 2019 gaan gebeur nie. Renamo kan met ander opposisiepartye saamwerk en Frelimo kan probeer om die oorgangstydperk in Renamo te gebruik om sy vernaamste teenstander te ondermyn. Niemand weet ook wat dan kan gebeur nie.

Daar bestaan ook vrese dat Frelimo hardhandige taktiek in die verkiesings kan gebruik in ’n poging om aan bewind te bly. Aan die ander kant kan Dhlakama se opvolger ’n sterker bondgenoot van Nyusi word en hom help om sy vredesagenda te bevorder.

Hulle kan saamwerk om ’n vreedsame en konstruktiewe omgewing te skep vir verkiesings en onderhandelinge verbreed om ’n meer inklusiewe ooreenkoms te bereik wat blywende vrede moontlik sal maak.

* Morier-Genoud is ’n lektor in Afrika-geskiedenis aan die Queens-universiteit in Belfast. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Filipe Nyusi  |  Ossufo Momade  |  Afonso Dhlakama  |  Renamo  |  Frelimo  |  Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.