Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die A tot Z van die Delta-variant

Watter entstowwe is bestand teen die Delta-variant? Kan jy hierdie variant oordra, al is jy ingeënt? Wat as ek asimptomaties is? Jana Marx steek kers op by die kenners.

Foto: iStock

Kennis oor die Delta-variant van die koronavirus, wat wêreldwyd die oorheersende variant raak, ontwikkel by die dag. Dit blyk uit navorsing dat dit jonger mense sieker maak. Simptome van koors en ’n verlies aan reuk en smaak het oënskynlik plek gemaak vir algemene verkouesimptome soos ’n loopneus en ’n genies.

Omdat daar nog so min definitiewe data oor die verskille tussen Delta en ander variante beskikbaar is, meen kenners ’n mens moet op elke moontlike manier in jou pasoppens wees.

Data word nog ingesamel oor hoe die variant in Suid-Afrika optree. In dié stadium is die enigste bewese feit dat die Delta-variant soos ’n veldbrand versprei.

Omdat daar nog so min definitiewe data oor die verskille tussen Delta en ander variante beskikbaar is, meen kenners ’n mens moet op elke moontlike manier in jou pasoppens wees. Om net jou masker te dra en ’n veilige afstand van ander mense te handhaaf, is volgens hulle nie genoeg nie. Slegs inentings is ook nie genoeg nie. Israel, wat al meer as die helfte van sy bevolking met twee dosisse van die Pfizer-entstof ingeënt het, is een van die lande wat die dra van maskers binneshuis weer verpligtend gemaak het.

The New York Times berig in Amerika het die Los Angeles-distrik vandeesweek in die lig van die snelle verspreiding van die Delta-variant aanbeveel dat “almal, ondanks hul inentingstatus, as ’n voorkomingsmaatreël maskers binnenshuis en in openbare plekke moet dra”.

Wat weet ons en wat vermoed ons?

“Dit is nog heeltemal te vroeg om duidelike verskille tussen Delta en ander variante uit te wys,” sê dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal in die Kaapstad-metro.

• Ons weet wel dis hoogs aansteeklik.

Luidens navorsing is die Delta-variant tot twee keer meer aansteeklik as ander variante. Die aansteeklikheid is ook al waarvan ons in dié stadium heeltemal seker is, sê Taljaard.

Dr. Perry Wilson, ’n epidemioloog van Yale Medicine in New Haven, Connecticut, die Yale- mediese skool se kliniese praktyk, verduidelik dit mooi: Delta versprei 50% vinniger as die Alfa-variant, wat 50% meer aansteeklik is as die oorspronklike koronavirusstam. Dit beteken die nuwe variant is 75% meer aansteeklik as die oorspronklike stam.

“In ’n omgewing waar niemand ingeënt is of maskers dra nie, word geraam dat die deursnee-persoon wat met die oorspronklike koronavirusstam besmet is, 2,5 ander mense sal besmet,” sê Wilson.

“In dieselfde omgewing sal Delta van een persoon na miskien 3,5 of vier ander mense versprei.”

• Maak mense moontlik sieker:

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19. Foto: Verskaf

Hoewel navorsing in Skotland al getoon het dat Delta meer geneig is om mense in die hospitaal te laat beland as ander variante, is daar nog geen ondersteunende navorsing dat dit mense sieker maak as ander variante nie, sê prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, by navraag. Daar is selfs viroloë wat reken dit lyk nié so nie en dat hierdie variant se grootste uitdaging eerder sy vinnige verspreiding is, wat gesondheidstelsels kan verlam.

• Jonger mense raak siek:

Data uit Engeland wys die meeste koronaviruspositiewe gevalle van Februarie tot Junie was onder mense jonger as 50 jaar. Daar was veral ’n hoë voorkoms van die variant onder mense wat nog nie ingeënt is nie, berig CNBC.

Indien hulle wél siek word, is die simptome meestal gering tot matig en hul kans om te sterf is uiters klein.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios) samel plaaslike data oor kinders in wat aan ons ’n beter idee sal gee van hoe die virus jonger kinders in Suid-Afrika raak.

Luidens bestaande navorsing wat nie met die Delta-variant verband hou nie, is kinders biologies minder geneig om siek te word wanneer hulle besmet word. Indien hulle wél siek word, is die simptome meestal gering tot matig en hul kans om te sterf is uiters klein.

• Simptome lyk anders:

Lande waar die Delta-variant nou al vir ’n ruk amok maak, het reeds ’n paar nuwe simptome aangemeld. “Daar is sommige bewyse uit Brittanje dat die simptoomprofiel ietwat anders kan wees as voorheen: Hoofpyn, seer keel, loopneus en ’n niesery is meer algemeen. Koors, reuk- en smaakverlies is weer minder algemeen,” sê Preiser.

Dit kan moeilik wees om tussen Covid-19 en gewone griep of verkoue te onderskei.
Dr. Richard Lessells

“Daarom moet mense met verkoue- en griepsimptome hulle laat toets vir die virus,” het dr. Richard Lessells, groepleier van die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform (Krisp), wat die program vir die opsporing van variante in Suid-Afrika lei, aan Christiaan du Plessis gesê.

Lessells waarsku dit kan moeilik wees om tussen Covid-19 en gewone griep of verkoue te onderskei. Genomiese ontledings wys dat daar tans meer virusse van verkoue en griep op tuisbodem in omloop is as tydens die streng inperkings van verlede jaar.

Hoeveel variante is nou al in SA?

Daar is nou al vier variante in Suid-Afrika teenwoordig: Delta, Alfa (B.1.1.7, uit Brittanje), Beta (B.1.351; oorspronklik van Suid-Afrika) en ook Eta (B.1.525, ook uit Brittanje).

Nios het Dinsdag bekend gemaak dat 70% van genome wat in Mei vanjaar ontleed is, nog Beta-variante was. In Junie het hierdie syfer egter afgeneem na 39%, met Delta wat 45% van die getoetse genome landwyd uitgemaak het.

In Gauteng word gemiddeld 65% van nuwe daaglikse gevalle deur die Delta-variant veroorsaak. Die Alfa-variant is vir 7% van gevalle verantwoordelik en die Eta-variant vir 1%.

Foto ter illustrasie: Inentings is belangrik, maar dit alleen kan nie ’n pandemie hokslaan nie. Foto: Reuters

Al die kenners lê klem op die belangrikheid van inentings, maar benadruk dat slegs inentings nie genoeg is om Delta te bestry nie omdat dit so vinnig versprei en omdat ons nog nie genoeg van hom weet nie.

Kan jy die Delta-variant opdoen, al is jy ingeënt?

Beslis. Prof. Gert van Zyl, ’n virologiese patoloog van die departement mediese virologie aan die US, het voorheen die doel van inentings verduidelik: “Entstowwe vrywaar jou nie van ’n koronavirusinfeksie nie. Dit beskerm teen ernstige Covid-19 en dood. Dis minder doeltreffend teen ligte of matige Covid-19.”

’n Britse studie wat Delta-gevalle tot 21 Junie ontleed het, het 117 sterftes aangemeld. Van hulle het 50 reeds twee dosisse van ’n entstof ontvang.

Jy kan dus steeds siek word, al is jy ingeënt, maar die entstof verlaag jou kans om ernstig siek te word en selfs te sterf.

Dit beteken egter nie ingeënte mense sterf nié. ’n Britse studie wat Delta-gevalle tot 21 Junie ontleed het, het 117 sterftes aangemeld. Van hulle het 50 reeds twee dosisse van ’n entstof ontvang. Altesaam 109 sterftes was mense van ouer as 50 jaar en slegs agt was jonger as 50 jaar.

Die 117 was egter uit ’n totaal van 92 029 gevalle wat ontleed is; wat neerkom op ’n sterftekoers van sowat 0,13%.

Kan jy die Delta-variant oordra, al is jy ingeënt?

Ja, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO); en dis waar vir al die variante.

Hoe sieker jy is, hoe langer is die tyd dat jy mense kan aansteek.

Die WGO skryf op sy webblad geïnfekteerde persone kan aansteeklik wees en die virus na ander versprei, of hulle simptome het of nie.

Volgens die WGO dui laboratoriumtoetse daarop dat mense die aansteeklikste is net voordat hulle simptome begin ontwikkel, en vroeg nadat die siekte sy vastrapplek gekry het. Hoe sieker jy is, hoe langer is die tyd dat jy mense kan aansteek.

Watter persentasie van almal wat die virus opdoen, is asimptomaties?

“Asimptomaties” beteken volgens die Pharos-woordeboek om simptoomloos te wees of geen simptome te hê nie. Dis anders as “ligte of matige Covid-19”, waar ’n individu steeds simptome het.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Daily Sun

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê op grond van teenliggaampietoetse is die skatting dat 40% tot 60% van volwassenes en 80% van kinders asimptomaties sal wees. Daar is egter nog nie data oor die persentasie asimptomatiese gevalle by variante nie, hoewel daar volgens Madhi vermoed word dat die persentasie asimptomatiese gevalle by die Delta-variant laer is omdat dit so aansteeklik is.

Preiser sê hy is nie bewus van nuwe inligting dat die Delta-variant meer of minder asimptomatiese gevalle as ander variante het nie.

Hoewel kenners dit eens is dat asimptomatiese gevalle kan bydra tot ’n virus se verspreiding, is data daaroor baie beperk, deels omdat dit so moeilik is om te bekom.

Iemand wat geen simptome toon nie, sal nie noodwendig in ’n posisie beland waar hulle getoets word nie.

Foto ter illustrasie: ’n Gesondheidswerker trek entstof uit ’n ampule. Foto: Reuters

Die departement van wiskunde en toegepaste wiskunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) het bevind dat meer navorsing buiten die aangemelde gevalle (dus benewens positiewe gevalle wat meestal simptomaties was) nodig is omdat dit ’n impak het op hoe die pandemie bestuur word en watter voorkomingsmaatreëls nodig is.

Meer uitgebreide toetsing vir die koronavirus is dus nodig. Volgens dié UP-studie maak asimptomatiese gevalle, hoewel meestal nie aangemeld nie, waarskynlik die meerderheid van positiewe gevalle uit.

... met ’n tweede toets kon die wetenskaplikes vasstel dat 36,6% asimptomaties gebly het.

’n Ander studie oor asimptomatiese gevalle in die werksplek waarby Madhi betrokke was, het data van verlede jaar se streng inperking (27 Maart tot 31 Mei) ontleed.

Toe mense aanvanklik getoets is, het 45% van gevalle geen simptome gehad nie. Van hierdie mense het egter later wél simptome ontwikkel en met ’n tweede toets kon die wetenskaplikes vasstel dat 36,6% asimptomaties gebly het.

Hierdie studie beklemtoon ook die belangrikheid van maatreëls soos om positiewe gevalle te isoleer en moontlike kontakte onder kwarantyn te plaas – veral waar mense nog nie ingeënt is nie.

Die grafiek is 'n voorstelling van die Pfizer- en
Die grafiek is 'n voorstelling van die Pfizer- en AstraZeneca-entstowwe se doeltreffendheid om teen simptomatiese Covid-19 te beskerm.

Waarom kry sommige simptome en ander nie?

Daar is allerlei teorieë hieroor.

The Washington Post berig een teorie is “T-sel-geheue”. T-selle is die witbloedselle wat die immuunstelsel aan die gang hou en “indringers” (soos die koronavirus) bespeur. Navorsers het bloedmonsters van mense met Covid-19 vergelyk met ou bloedmonsters wat om welke rede ook al tussen 2015 en 2018 van hierdie mense geneem is.

Interessant genoeg, het die T-selle in 40% tot 60% van die ou bloedmonsters die nuwe koronavirus “herken”.

Sommige mense is biologies net meer bestand teen ’n ernstige siekte wat deur ’n virus veroorsaak word.

Dit is moontlik omdat Sars-Cov-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, deel van ’n groter groep koronavirusse is wat selfs ’n gewone verkoue kan veroorsaak.

Dan is daar natuurlik die biologiese faktor. Sommige mense is biologies net meer bestand teen ’n ernstige siekte wat deur ’n virus veroorsaak word, berig die Post.

’n Mens word gevra om minstens twee weke te wag nadat jy Covid-19 gehad het voordat jy jou laat inent. Gestel ek was asimptomaties en laat myself “te vroeg” inent?

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal in die Kaapstad-metro. Foto: Jaco Marais

Taljaard sê: “Asimptomatiese infeksie se natuurlike immuniteit duur korter as wanneer ’n mens erger siek was. Ons weet ook entstowwe en natuurlike infeksies veroorsaak beter immuunresponse hoe meer dit gebeur. Om jou asimptomatiese infeksie op te volg met ’n inenting, kan jou dus meer beskerming gee as iemand wat nog nooit die infeksie gehad het nie. Mense wat newe-effekte (van ’n entstof) ervaar, kla gewoonlik van ’n seer arm en koors wat 24 tot 48 uur duur. Dis regtig gering en almal vind dit aanvaarbaar.”

Kan jy die virus oordra as jy geen simptome toon nie?

Ongelukkig ja. Preiser sê: “Baie sal nie weet hulle het dit nie, maar sal steeds aansteeklik wees. Dis die waarheid.”

Die WGO beklemtoon daarom die belangrikheid van basiese voorkomingsmaatreëls: Bly minstens 1 m van mekaar af, bedek jou mond met ’n gebuigde elmboog of sneesdoekie as jy hoes of nies, was jou hande gereeld en bly tuis as jy sleg voel. En dra ’n masker.

Hoe goed werk die verskillende entstowwe teen Delta?

Na berig word, is die Pfizer-, AstraZeneca- én Johnson & Johnson-entstof (J&J) baie doeltreffend teen die Delta-variant. Daar was aanvanklik onsekerheid oor die doeltreffendheid van J&J omdat dié entstof uit net een dosis bestaan, terwyl Pfizer en AstraZeneca in twee dosisse toegedien word. Prof. Glenda Gray, wat die J&J-proeflopie in Suid-Afrika gelei het, het egter verlede week gesê die J&J-entstof is 85%-effektief om hospitalisasie en sterfte te voorkom.

Volg voorkomingsmaatreëls soos om ’n gesonde afstand te handhaaf, jou masker te dra en jou hande te ontsmet. Foto: Unsplash

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee vir Covid-19-entstof, het voorheen verduidelik hoe hierdie drie entstowwe vervaardig word:

• Boodskapper-RNS-entstowwe

Die Pfizer-entstof maak gebruik van boodskapper-RNS (bRNS). Die virus se genetiese kode is ’n RNS-string.

Die deel van die kode wat spesifiek vir die proteïenuitstulpings is wat die virus gebruik om aan selle te heg, word as’t ware uit die res van die virus “gesny”.

Hierdie bRNS-deeltjie is maar effentjies. Dit kan nie net so gebruik word nie. Dit is waarom die Pfizer-entstof so sensitief vir hitte is. Die bRNS-deeltjie sal sommer tot niet gaan as dit te warm kry.

Om hierdie string te beskerm, word dit in ’n vetpartikel of vetomhulsel gegiet, wat by die arm ingespuit word.

Die hele partikel word deur spierselle opgeneem en die bRNS dring die liggaam binne.

Sodra dit binne is, kan die proteïenuitstulpingskode die immuunstelsel aanwakker soos die liggaam gereed maak om die ware Jakob te beveg wanneer dit oor sy pad kom. Die entstof fnuik dus die liggaam om te dink hy kry die virus en hy maak homself gereed daarvoor. Sodra die bRNS sy werk gedoen het, gaan hy dood.

• Adenovirusse

Die AstraZeneca-entstof gebruik ’n draervirus wat tussen sjimpansees (nie mense nie) oorgedra word. Die relevante stukkie RNS (met die proteïenuitstulpings) word weer losgesny, maar in dié geval word dit aan ’n adenovirus geheg. Adenovirusse is gewone verkouevirusse. Hierdie adenovirus “dra” as’t ware die RNS in die selle in wanneer ’n persoon ingespuit word, maar vermeerder nie soos ’n verkouevirus sou nie. Sodra die string in die spierselle is, kan die kode vir proteïenuitstulpings die immuunstelsel aanwakker.

J&J gebruik ook ’n adenovirus, maar dit is een wat tussen mense oorgedra kan word. Dit is egter aangepas om nie te vermeerder en mense siek te maak nie.

Die grafiek is 'n voorstelling van die Pfizer- en
Die grafiek is 'n voorstelling van die Pfizer- en AstraZeneca-entstowwe se doeltreffendheid om teen ernstige Covid-19, wat tot hospitalisasie kan lei, te beskerm.

Baie mense met die virus rus nie behoorlik nie. Wat is die impak daarvan?

Die reël met enige virusinfeksie (en dit sluit die koronavirus in) is om nie enige oefening te doen wat jou uitasem gaan maak of jou hart vinniger gaan laat klop nie – veral as jy koorsig is. ’n Mens kan gewoonlik weer lig begin oefen as jy beter voel en 48 tot 72 uur koorsvry is. Die gevaar is dat die virus na jou hartspier kan versprei (miokarditis) en permanente skade kan veroorsaak (kardiomiopatie), sê Taljaard.

Daar is ’n stemboodskap wat die ronde doen dat die entstof ná twee jaar dodelik kan wees. Is daar enige gronde hiervoor?

“Dis moeilik om fopnuus te beveg. Mense wat reeds vaste idees het teen inenting volg en versprei hierdie boodskappe omdat dit hul idees versterk,” sê Taljaard.

“Ongelukkig het ons nog nie data oor die langtermyneffek van die entstowwe nie. Hierdie stelling tref dus ’n sagte teiken. As ons kyk na alle ander entstowwe op die mark, bestaan daar nie newe-effekte wat eers twee jaar later manifesteer nie. Die waarskynlikheid dat dit nou skielik ’n probleem gaan wees met Covid-19-entstowwe, is dus weglaatbaar klein.

“As ’n mens dus die bewese positiewe effekte van entstowwe op sterftesyfers en hospitalisasies moet opweeg teen die onwaarskynlike langtermyneffekte, is dit maklik vir enige openbaregesondheidspesialis om sonder huiwering die entstof aan te beveel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.