Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die aanval

Só kry ’n verkenningspan van 24 man dit reg om ’n teiken van 240 soldate te verras, skryf Alexander Strachan.

Operateurs voer ’n Halo-sprong uit. Let op die suurstofmaskers.

1 Verkenningskommando (1VK) was in die middel 1970’s in ’n ontwikkelingsfase en operasionele blootstelling was broodnodig. Daar is dus hard gewerk aan operasionele gereedheid en om geleenthede te identifiseer waartydens die operateurs sowel as hul uitrusting, prosedures en kommunikasiestelsels getoets kon word. Dit was ook van kardinale belang dat die nuwe operateurs hul vuurdoop moes kry.In hierdie tyd was daar allerhande gerugte oor ’n Swapo-basis met die naam Shatotwa in omloop.

Inligtingsbronne het gedui op ’n sterk opbou van Swapo-magte by twee groot basisse in suidwes-Zambië, ongeveer 120 km noord van die Caprivi-grens. Goed opgeleide Swapo’s het voorbereidings getref om die Caprivi en die Kavango via Suid-Angola te infiltreer.Gedurende Julie 1976 kry kapt. Hannes Venter, bevelvoerder van Bravo-groep 1VK by Fort Doppies, die recces se basis in die Caprivi, ’n sein dat die Swapo-basisse by Shatotwa via lugfoto’s opgespoor is. Hoewel daar leemtes in die inligtingspersoneel se aanbieding was, het Venter dadelik besef dat dit by uitstek die teiken is waarheen die recces graag sou wou ontplooi. Amper al die recces was in elk geval reeds in Fort Doppies saamgetrek en met die teiken “reg op hul voorstoep” kon hulle ’n goed georkestreerde aanval op die Swapo-basisse loods.

                                                                                  ***

In 1 Recce se geskiedenis is die eerste kleinspan-verkenningsoperasie (tweeman­span) reeds in Augustus 1972 deur Dewald de Beer en sy Boesman-spoorsnyer, Kapembe, uitgevoer.Vier jaar ná hierdie suksesvolle poging is die verkenningsoperasie op die Shatotwa-basis uitgevoer. Die Shatotwa-operasie was uniek omdat dit die eerste verkenningsending was wat met ’n vryvalsprong (3 657 m bo grondvlak) geïnfiltreer het.

Dit het boonop ’n nabyverkenning ingesluit, wat behels dat die teiken fisiek binnegedring word om inligting te versamel.Die verkenningspan het ook die afgooistrook vir die aanvalsmag verken en gemerk. Hulle sou ook die aanvalsmag na die twee teikens – Shatotwa 1 en 2 – lei en ook saam met hulle aan die aanval deelneem. Tydens hierdie infiltrasie sou daar boonop vir die eerste keer in die geskiedenis van 1 Recce van Halo- (high altitute, low opening-)spronge in ’n operasie gebruik gemaak word. Hierdie valskermsprong is beplan om teen 22:00 op 8 Julie 1976 uitgevoer te word.

                                                                                  ***

Die verkenningspan en die aanvalsmag was saam 24 man sterk. In konvensionele terme klink dit sekerlik na taamlik min vuurkrag om ’n teiken van sowat 240 soldate aan te val.

Die skote klap in ’n oefening.

Die recces was egter opgelei om altyd teen ’n veel groter oormag te veg en dit het hulle geensins afgeskrik nie.

In daardie stadium het die hele 1VK buitendien nie uit veel meer operasionele lede bestaan nie.

                                                                                  ***

Met die verkenningspan se aankoms op Rundu (vanwaar hulle sou vlieg) het hulle dadelik al hul uitrusting en valskerms in die C-160 gaan plaas, waarna die vliegtuig se deure toegemaak en gesluit is.Laat die middag is daar in die Rundu-basis ’n bord warm kos vir hulle berei. Hierdie ete was ’n ritueel wat tradisioneel by alle recce-operateurs as “die laaste ete” bekend gestaan het.Koos Moorcroft onthou dat daar ’n telefoonhokkie in die lugmagbasis was en hy het ná die ete sy vrou in Durban gebel.

By Fort Doppies was daar nie sulke geriewe nie. Sy wou weet waarom hy so eienaardig en gespanne klink.

Soos menige recce-vrou het sy instinktief aangevoel dat iets nie pluis was nie.Hulle het teen middernag opgestyg, in die rigting van Fort Doppies gevlieg en die Zambiese grens naby die Kwando-rivier oorgesteek.Toe het hulle koers gekry na die afgooistrook waar die vliegtuig ’n hoogte van 3 657 m bo die grond sou handhaaf.Die vlieënier, maj. Errol Carpenter, het op 20 en toe weer 10 minute voor springtyd die teken gegee.Met die minute wat aftik, het hulle hul ore gespits vir die bekende metaalklikgeluid sodra die vlieënier die C-160 se laaiplatform agter onder die stert oopmaak. Dit het beteken dat daar nou geen omdraaikans meer was nie.

In die dowwe rooi ligte van die binneruim was die spanning op die springers se gesigte merkbaar.Die onmiskenbare klikgeluid het presies ses minute voor springtyd gekom.

Die laaiplatform het stadig oopgegaan en die ysige nagwind met ’n geweldige geraas in die vliegtuig se romp ingelaat.Almal het instinktief geweet toe die vliegtuig kort daarna sy finale aanloop na die afgooistrook begin.

Voor hulle begin die slapende Swapo-basis nou wakker word . . .

Dit het nou nie meer van rigting verander nie, die motore het egalig geloop en die snelheid het gaandeweg verminder. Drie minute voor uitspringtyd het die recces nader aan die laaibrug beweeg.

Hulle het in die donker gat voor hulle afgekyk terwyl die wind aan hul kamoefleeruniforms pluk. Hulle hoogtemeters het 3 657 m bo die grond gewys, die beplande springhoogte.Johnny Ackhurst en Koos Moorcroft het die basis van die formasie gevorm. Hulle het mekaar stewig vasgevat en op die punt van die laaibrug gaan staan. Die res het hul posisies ingeneem en met stewige grepe aan Johnny en Koos vasgehou.

Toe die groen lig aangaan, het Koos hardop getel: “Ready, set, go!” Die span het soos een man in die nag uitgespring.Dit was ’n helder maanligaand en ver onder hulle kon hulle nou die omuramba se oop grasvlakte uitmaak.

Hulle het geweet dat hulle op die regte plek afgegooi is.

Op sowat 1 220 m bo die grond het die formasie uitmekaar gespat en hul valskerms oopgemaak. Charl Naudé was heel onder en die res het hom na die afgooistrook gevolg.

Die span kon sy valskerm duidelik in die maanlig sien terwyl hulle daal. Die UT15-valskerms kon goed beheer en gestuur word en dit het die taak vergemaklik om bymekaar te land.Met impak het hulle die afgooistrook sanderig en taamlik sag gevind. Ná landing het die span hul wapens so stil as moontlik losgemaak, dit gespan en toe gelê en luister of hulle iets kon hoor.

Eers nadat ’n hele paar minute verloop het, het Charl die teken gegee dat hulle twee-twee (in buddy-pare) hul valskerms moet oprol en gereed moet maak om die afgooistrook te verlaat.

Hulle het eers baie seker gemaak dat hulle niks agterlaat nie en toe met die valskerms in die rigting van die oplêplek gestap waar hulle die nag sou deurbring.

                                                                     ***

Met eerste lig het hulle weer seker gemaak dat die valskerms behoorlik weggesteek was. Hierna het die senutergende lang wag in die helder daglig begin.

'n Operateur in ’n vyandelike basis.

Eers ná laaste lig het die span vir die eerste keer uit hul skuilplek opgestaan en gereed gemaak om die Swapo-basis vir die verkenning te nader. Charl het genavigeer en die span het die basisgebied baie versigtig genader. Hoewel hulle min of meer geweet het waar die basis was, was dit donker en hulle moes seker maak dat hulle nie onverwags daarin vasloop nie.

In die vroeë oggendure, terwyl dit nog donker was, het hulle in ’n tweede skuilplek inbeweeg om weer gedurende die dag op te lê.

Charl het gesê dat hulle nou baie naby aan die basis behoort te wees.

Toe dit begin lig word, het hulle stemme en beweging reg rondom hulle gehoor. Hulle kom toe agter dat hul skuilplek reg tussen die twee Shatotwa-basisse was.Die recces was nou sowat 15 km van die afgooistrook af. Hul teenspoorsnytegnieke moes baie goed gewerk het, want anders sou Swapo hulle teen hierdie tyd lankal reeds opgespoor het. Die span het angstig gewag dat dit nag word sodat hulle die nabyverkenning kon uitvoer. Uiteindelik was dit heeltemal donker. Charl en Koos het hul rugsakke agtergelaat en net met borsuitrusting, ’n waterbottel en ’n AK47 hul verkenning begin. Die res van die span het onder bevel van Jimmy Oberholzer in die skuiling agtergebly.

Die twee het die eerste Swapo-basis behoedsaam genader. In die kamp het die soldate ontspanne om die vure sit en gesels, party het gesing en ander het doelloos rondgedrentel, totaal onbewus van die twee recces wat die basis binnesluip.

Charl was voor en Koos het hom gevolg in hierdie gevaarlike deel van die verkenning. Hulle het die basis al hoe dieper binnegedring, die heeltyd fyn waargeneem en alles gememoriseer. Charl wou die presiese ligging van die bevelvoerder se hut vasstel, maar het daarteen besluit omdat alles in elk geval met die aanval in die slag sou bly. Uiteindelik het hy vir Koos gefluister dat hulle genoeg gesien het.Die tweede basis was sowat 300 m weg en hul eerste taak was om die presiese ligging daarvan te bevestig. Om die risiko te verminder om in hierdie laat stadium betrap te word, het Charl besluit om nie ’n nabyverkenning van die tweede basis te doen nie. Hulle het tot 10 m van die basis beweeg en dit ’n geruime tyd sit en dophou. Toe hulle alles gesien het wat hulle wou sien, het hulle versigtig teruggetrek.

Die twee is terug na die skuilplek waar hul ander makkers met groot oë gewag het. Met die uitrusting bymekaar het die hele span nou in die rigting van die afgooistrook beweeg. Naby die afgooistrook het die span weer in ’n skuilplek inbeweeg om daar vir die dag op te lê. Dit was nou dag drie van die verkenning. Vroeg die oggend het hulle in radiokommunikasie met Fort Doppies bevestig dat hulle die Swapo-basisse opgespoor en verken het en dat dit vol Swapo’s was. Hulle het versoek dat die aanvalsmag moet inkom soos beplan.Ná laaste lig het Charl en Koos hul rugsakke by die span in die skuilplek gelos en na die afgooistrook beweeg. Hulle het nou voorberei om die strook later die aand met flitsligte te merk vir die aanvalsgroep se valskerminfiltrasie.

                                                                        ***

Nadat die aanvalsgroep per valskerm neergelaat is en hulle by die verkenners aangesluit het, het Koos Moorcroft die aanvalsgroep onder bevel van Hannes Venter na Shatotwa 1 gelei, terwyl Charl Naudé met ’n tweede groep Shatotwa 2 genader het. Al die wapens was gespan en die veiligheidsknippe op vuur gestel.Die span het vinnig hul posisies ingeneem. Elkeen het agter ’n bossie of langs ’n boom gehurk en in doodse stilte gewag, presies soos hulle alles ingeoefen het. Frans van Dyk het sy twee 60 mm-kommandomortiere sowat 5 m agter hulle opgestel. Hulle het die mortiersakke saggies oopgemaak, die bomme uitgehaal en die neusbuise geaktiveer. Sodra die eerste skoot klap sou die twee mortieriste hul bomme in die Swapo-kamp begin gooi. Ná die eerste hewige bombardement sou hulle die mortierbomme al hoe verder na links en regs versprei om die vyand se ontsnaproetes af te sny.

Hierdie artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit 1 Recce: Die nag behoort aan ons, uitgegee deur Tafelberg.

Kenaas Conradie en sy sappeur het Claymore- en gewone teenpersoneelmyne aan die suidekant van die omuramba en die oostekant van die watergat opgestel. Nou wag die groep angstig vir eerste lig. Dis ’n heerlike wintersnag en soos te wagte wel effens koelerig. Soos die oggend naderkom, raak dit al hoe kouer.Voor hulle begin die slapende Swapo-basis nou wakker word. In die stilte is daar meteens roeringe, manne wat hoes en steun as hulle opstaan en hul lywe ná die nag se slaap uitrek. ’n Onderlangse gemompel en kuggies is oral hoorbaar. Die wagte by die basis se ingang – skaars 40 m weg van die aanvalsmag – steek sigarette op en begin gesels. Daar is altyd die risiko dat iets hulle kan waarsku dat die recces op hul voorstoep is.Sowat 300 m daarvandaan lê Charl Naudé se groep en wag.

Hulle is sowat 20 m van die Shatotwa 2-basis opgestel en wag dat Hannes met eerste lig die aanval by Shatotwa 1 “spring”. Sodra Hannes-hulle begin skiet, sal Charl se groep onmiddellik tot die aanval oorgaan. Die twee Swapo-basisse huisves elk sowat 120 soldate.Terwyl hulle vir Hannes wag om die aanval te begin, stap iemand uit ’n hut reg voor hulle. Dis ’n Swapo-vegter wat sonder sy geweer reguit na die recces toe aangestap kom.

Hy stap op LC Odendal af wat langs ’n meter hoë bossie sy posisie ingeneem het. Die res van die span verskuif effens en toe is hulle weer doodstil. Maar elke AK47 is nou roerloos op die man gerig wat aangestap kom. Adrenalien jaag deur die operateurs se are; hulle hou terselfdertyd asem op en hoor hul harte hard in hul ore klop.Die man gaan staan reg voor LC. Hy was duidelik nog erg deur die slaap, want die volgende oomblik urineer hy bo-op hom sonder om hom te sien. Dit was een te veel vir LC en hy skiet die man net daar in sy spore dood.

Toe die skoot klap, brand die hele aanvalsmag gelyktydig met AK47’s en RPG7’s op die basis los. Terselfdertyd breek alle hel 300 m verder los, waar Hannes se span Shatotwa 1 met AK47’s, RPG7’s en mortiere bestook.) Die aanval op Shatotwa, Operation Curry, was uiteindelik ’n groot sukses. Na raming is tussen 40 en 60 Swapo’s in die aanval dood terwyl een recce, Neil Robertson, sy been verloor het toe sy groep per ongeluk in ’n mynveld beland het wat die recces self gelê het om die vlugtendevyand te stuit.

Meer oor:  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.