Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Afrikaner-terroriste

Die Ossewabrandwag se Stormjaers was die suksesvolste terreurbeweging wat die land ooit gesien het, skryf Albert Blake.

Verhoorafwagtende Stormjaers doen gimnastiek in die Nelspruit-gevangenis onder leiding van hul leier, Jan Schoeman.

Terwyl die swart vryheidsvegters se pogings om wit heerskappy omver te werp nog vars in die geheue is, weet die huidige geslag weinig van die feit dat militante Afrikaners verantwoordelik is vir die mees suksesvolle sabotasiepogings wat die land ooit gesien het.

Dié terreur, wat die Ossewabrandwag (OB) tydens die Tweede Wêreldoorlog begin het in verset teen die Smuts-regering se toetrede tot die oorlog aan Geallieerde kant (en teen Duitsland), het die land naby aan algehele anargie gebring.

Vir baie Afrikaners was die oorlog onaanvaarbaar – ’n “Britse oorlog” wat met Afrikaanse belange en Afrikaanse bloed geveg sou word. In ’n landwye opstand teen die oorlogsverklaring is plofstof onwettig vervaardig, strategiese instellings opgeblaas en verbindingslyne, asook kragdrade en -stasies op groot skaal vernietig – terwyl gewaagde inbrake en rooftogte uitgevoer is om die terreurveldtog te finansier en vir die gesinne van die geïnterneerdes en politieke gevangenes te sorg.

Daar was selfs skakeling met Nazi-Duitsland, spioenasie-intriges en ’n doelgerigte poging om die Geallieerde skeepvaart te ontwrig. Selfs ’n sluipmoord is op Jan Smuts, die eerste minister, beplan en mense wat as verraaiers beskou is, is inderdaad om die lewe gebring.

Die sabotasie is deur Steve Hofmeyr se oupa gedryf.

Op sy beurt het die Smuts-regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is op verskillende plekke in die land in interneringskampe aangehou en honderde sonder verhoor in tronke opgesluit. Die land is aan verskeie drakoniese noodregulasies onderwerp en daar was opspraakwekkende hoogverraadsake wat die publiek net verder gepolariseer het.

Dié deel van die Afrikanergeskiedenis is sedertdien diep begrawe. Afrikanernasionalisme kon (of wou?) nie daaraan herinner word toe die nuwe aanslag van swart terreur in die 1950’s beslag gekry het nie. Die swart aanslag moes ten alle koste as boos voorgehou word en ooreenkomste tussen Afrikaners se eie opstand teen die regering van die dag en dié van swart terreurgroepe moes verswyg word.

Boonop het die pro-Duitse gesindheid van baie Afrikaners tydens die oorlog ’n ongemaklike nasmaak gelaat namate die omvang van die gruwels van Nazi-Duitsland bekend geword het.

                                                                                               ***

In die nag van 19 Mei 1942 het ’n vlaag kragtige bomontploffings die Oos-Rand getref – drie poskantore is verwoes en twee jong Afrikaners is uiteindelik ter dood veroordeel vir hul aandeel.

OB-vroue aan die marsjeer.

In die voorafgaande twee-en-’n-half jaar is Suid-Afrika gereeld deur sabotasiedade geteister. In die vroeë oggendure van Donderdag 29 Januarie 1942, byvoorbeeld, het militante Afrikaners ’n aanslag op die belangrikste elektrisiteits- en kommunikasielyne in die ou Transvaal, die Noord-Kaap en Vrystaat uitgevoer. Dit word beskou as die bes beplande en grootste sabotasiepoging tot nog toe in die geskiedenis van Suid-Afrika – een wat nie eens in die strugglejare herhaal kon word nie.

Daarna het soortgelyke veldtogte sporadies voortgeduur, al het gebiedende wetgewing van die tyd enige sabotasie waar plofstof gebruik is met die doodstraf probeer ontmoedig.

’n Polisiefoto van ’n bandolier met handgranate wat deur die Terreurgroep of Stormjaers vervaardig is.

Die doodstraf wat die twee mans vir die poskantoor-ontploffings opgelê is, het egter die reeds onbestendige toestand in die land op die spits gedryf. Suid-Afrika sou op die rand van ’n bloedbad gebring word as die twee gehang word.

                                                                                           ***

Maar wat het ’n noemenswaardige aantal Afrikaners daartoe gedryf om bomme te plant? Die dryfkrag van antisemitisme en Nazisme was nooit ’n bepalende faktor in die versetbeweging soos linkse historici sedertdien graag voorhou nie. Die oorheersende dryfkrag was om die oorlogspoging teen te staan, die Britse juk eens en vir altyd af te skud en om weer ’n republiek te verkry. Daardie ideaal is aangevuur deur die gevolge van vernedering en armoede.

Steve Hofmeyr, Stormjaers-leier, die oupa en naamgenoot van die sanger en skrywer.

Die Afrikaner het ’n minderwaardigheidsgevoel teenoor Engelssprekendes gehad wat gevoed is deur ’n Engelse houding van meerderwaardigheid en grootskaalse Afrikanerarmoede. Die armblanke-vraagstuk van die 1930’s was ’n direkte gevolg van die Britse verskroeide-aarde-beleid in die Anglo-Boereoorlog, die depressie en die droogte van 1933. Wanneer so ’n gemeenskaplike minderwaardigheidsgevoel te lank in ’n drukpot geplaas word, kan dit tot uitbarsting kom, veral as dit nêrens ’n uitlaatklep kry nie. Suid-Afrika sou in latere dekades ’n soortgelyke verskynsel ervaar met ’n wrokkige swart gemeenskap se gevoel van verontregting oor hul verlaagde status.

Met die aanvang van die 1940’s was daar nog nie genesing by Afrikaners vir die trauma van die konsentrasiekampe en ander gruwels van die Anglo-Boereoorlog nie. Sielkundiges meen die herinnering van ’n latere geslag aan ’n vorige geslag se trauma is ’n voortsetting daarvan.

As ou wonde nie toegelaat word om op te hou sweer nie, veroorsaak dit ’n naakte aggressie wat simptomaties is van onverwerkte versoening en genesing. Die Engelssprekendes het nie die dieper betekenis van daardie trauma begryp nie of was net onsensitief daarvoor. Daarmee het hulle die Afrikaners die moontlikheid van heling ontsê.

Anton Rupert se kontakte sou die goud verkoop.

Al het hulle dit nie self beleef nie, kon ’n jonger geslag ná vier dekades nie aanvaar wat hul voorouers moes deurmaak nie. Die nuwe geslag was in ’n sekere sin radikaler as hul ouers en minder geneë om Engelse oorheersing te aanvaar.

Dit is ook ’n tendens wat aan vandag se jong swart mense herinner – ’n jonger, radikaler geslag wat na vore tree met ’n nuwe en verhoogde vyandigheid teenoor die onderdrukker van ouds.

Die OB-wapen.

Die blote noem van die OB se naam het nog altyd uiteenlopende menings uitgelok. Daar is vele wanopvattings oor die beweging wat meestal uit onkunde en vooroordeel spruit. Hoewel die beweging van meet af aan ’n paramilitêre inslag gehad het, was dit bedoel as ’n kultuurbeweging. Binne die OB was daar deurgaans heftige teenkanting (veral vanuit Kaapse geledere) teen gewelddadige optrede. Die Nasionale Party was nie net teen enige vorm van sabotasie gekant nie, maar het ook ’n aartsvyand van die OB geword.

Dit moet gesien word teen die agtergrond van die destydse stryd om “besit van die Afrikanersiel”. Teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was onderlinge verbittering groter as ooit tevore.

                                                                                              ***

Die skuld vir die sabotasiedade is dikwels verkeerdelik voor die deur van die OB geplaas terwyl die terreurveldtog deur die ondergrondse Stormjaerbeweging onder leiding van die vreeslose Steve Hofmeyr (die oupa van die sanger, skrywer en aktivis) gedryf is – met die charismatiese OB-leier Hans van Rensburg in ’n dualistiese rol as opperbevelhebber.

Robey Leibbrandt is as deel van Operasie Weissdorn deur die Nazi’s vanaf Duitsland na Suid-Afrika gestuur om ontwrigting te veroorsaak. Sy veldtog het egter geen aanhang by die OB en Stormjaers gevind nie.

Die Stormjaers het dus uit die OB se meer militante geledere gegroei tot ’n organisasie wat ongetwyfeld – in vandag se terme – terroristiese doelstellings gehad het. Op sy hoogtepunt het dit meer as 8 000 lede gehad. Binne die Stormjaers was daar egter ’n kleiner, meer fanatiese groepie, die Terreurgroep, wat vir die skouspelagtigste en suksesvolle terreuraanvalle verantwoordelik was.

Die Terreurgroep het nooit meer as 30 lede gehad nie en dit bly merkwaardig dat die Smuts-regering nooit van hul bestaan bewus geword het nie.

Onder die lede was mense met universiteitsgrade, manne met genoeg kennis en vernuf dat hulle in tuisfabriekies in hul huise in Pretoria handgranate en bomme kon vervaardig wat selfs kragtiger was as dié van die Britse weermag.

’n Offisier in die Terreurgroep het later die onderskeid tussen die OB, Stormjaers en Terreurgroep soos volg verduidelik: “Die OB was meer bepaald ’n soort kultuurbeweging, ’n doodonskuldige organisasie, die volksfront of tuisfront. Die Stormjaer-beweging was bedoel om die aksiefront van die Afrikaner te wees – die soldaat, as ek dit so mag stel. Die Terreurgroep se taak sou wees om, indien omstandighede so ontwikkel, die chaos te skep en toe te sien dat die middele beskikbaar is wat die Stormjaers in staat sou stel om tot aksie oor te gaan. Uiteindelik sou die OB oorneem en konsolideer.”

                                                                                      ***

Die Ossewabrandwagargief op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit bewaar bandopnames van onderhoude wat in die 1970’s met voormalige lede van die OB, Stormjaers en Terreurgroep gevoer is. Dit is ’n skatkis van verrassende inligting en bevat brokkies wat nooit in boeke oor dié era verskyn het nie. Om slegs enkeles te noem:

  • Ds. Koot Vorster, die latere moderator van die NG Kerk en broer van John Vorster (die latere premier en self ’n geïnterneerde tydens die oorlog), vertel dat hy ten tyde van sy tronkstraf in die Pretoria-Sentraal-gevangenis (nadat hy op aanklagte van spioenasie skuldig bevind is) nou betrokke was by ’n ontsnappingspoging vir die twee ter dood veroordeelde bomgooiers waarna vroeër verwys is. Indien hierdie ontsnappingspoging sou misluk, sou ’n desperate en makabere plan uitgevoer word om die twee in hul tronksel om die lewe te bring “om hulle die vernedering van ’n galgdood te spaar”.
  • Nog ’n lid van die Terreurgroep vertel dat hy en ’n voortvlugtige kameraad deur die latere miljardêr-sakeman Anton Rupert in sy huis in Johannesburg versteek is. Dáár is beplan om ’n trein wat goud vervoer te beroof – om geld te bekom vir die OB se Noodhulpfonds, wat vir die gesinne van geïnterneerdes en politieke gevangenes gesorg het. Hoewel Rupert nooit self ’n Stormjaer of Terreurgroeplid was nie, sou hy vir ’n afsetgebied van die goud reël: “Anton Rupert het kontakte opgebou wat die betrokke goud sou verkoop en toe was alles gereël,” vertel die man. Die rooftog is egter nooit uitgevoer nie.

Rupert het in latere jare bekend geword vir sy gematigde en ewewigtige politieke uitkyk.

  • In die OB-argief is ook talle bandopnames waarin vroue vertel van hul aktivisme – vertellinge wat korte mette maak met die stereotipe beeld van die lydende volksmoeder.
Die OB-leier, Hans van Rensburg.

Een van hulle, Greta Wolf, was bedags ’n toegewyde onderwyseres by ’n skool in Pretoria en snags as Terreurgroeplid doenig met gevaarlike sabotasiewerk. In gewaagde operasies was sy onder meer die bestuurder van ’n kragtige Graham Supercharger wat as ontsnapmotor gedien het.

’n Ander, Erika Hartmann, is maande lank sonder verhoor aangehou. Sy het met ’n eetstaking begin en nadat dit gelyk het of sy dit tot die dood toe gaan deurvoer, is sy op die 19de dag van haar eetstaking vrygelaat.

’n Onderleier van die Terreurgroep het die bekende aktrise Anna Neethling-Pohl ’n “bobaasspioen” genoem wat aan ondergrondse optrede deelgeneem het wat sy self as “angswekkend” beskryf het. Toe sy hoor dat haar eggenoot van hoogverraad aangekla is, het Neethling-Pohl geantwoord: “Dankie Vader dis nie vir laagverraad nie.” Dit het daarna die slagspreuk van die versetbeweging geword.

  • In die argief is ’n opname van ’n aangrypende onderhoud wat dekades later met ’n gebroke ma gevoer is. Maria Erasmus het twee seuns aan die dood afgestaan. Een is deur ’n politieke speurder doodgeskiet en sy broer is in ’n ontploffing dood toe hy ’n ploftoestel op ’n spoorlyn wou plaas. Maria druk haar smart uit met die woorde: “Ek het met niks uit die oorlog gekom nie.”

                                                                                          ***

Wat soos ’n paal bo water staan, is dat die terreurveldtogte van die Stormjaers en die Terreurgroep die land tot op die rand van ’n bloedbad gebring het – ’n feit wat meestal deur historici misken word.

En was dit nie vir onder meer die optrede van Jan Smuts én Hans van Rensburg nie, kon dinge heeltemal anders verloop het. Ondanks hul radikaal uiteenlopende beskouinge sou dié twee leiers ’n beheersdheid aan die dag lê en nie toelaat dat anargie die oorhand kry nie.

Albei is deur pragmatiese redes daartoe beweeg. Die teregstelling van Jopie Fourie in die Rebellie van 1914 het vir die duur van die terreurveldtog soos ’n donker wolk daaroor gehang. Smuts kon polities nie nóg ’n martelaar bekostig nie en het daarom die doodvonnis van die twee poskantoor-bomgooiers, asook dié van Robey Leibbrandt, tersyde laat stel.

Die boek oor Afrikaner-saboteurs gedurende die Tweede Wêreldoorlog word uitgegee deur Tafelberg en kos R285.

Van Rensburg het besef dat sy kanse om ’n staatsgreep uit te voer nie goed was solank as wat die Duitsers aan die verloorkant was nie. Hy het gevolglik, dikwels met die grootste inspanning en vernuf, die Stormjaers en Terreurgroep teruggehou om te keer dat hulle nie met hul sabotasiepogings op loop gaan nie. Die leier van die Terreurgroep het jare later opgemerk: “As ’n mens nou daarop terugkyk, dan kan mens eintlik die Here dank vir ’n wonderlike genade, want . . . as ons moes oorgeneem het . . . dan was hier die grootste uitwissing van mense gewees.”

Soos tyd wonde kan heel, behoort die verloop van tyd nugterheid en perspektief oor omstrede gebeure van die verlede by die betrokkenes self en ook by latere geslagte te bring. As dit maar altyd só was, sou die mensdom se foute dalk nie so maklik herhaal word nie. Die geskiedenis is nou eenmaal nie ’n ononderbroke, opwaartse lyn nie, maar eerder ’n stygende én dalende tydlyn. Of die militante Afrikaners van destyds ware patriotte of landsverraaiers was, sal seker na gelang van bepaalde sentimente beantwoord word.

Die tyd is egter lank reeds daar om die verlede sonder morele vooroordele te verklaar. Dit is al hoe ons ’n gebalanseerde begrip van die hede kan vorm.

  • Albert Blake is ’n prokureur. Sy boek, Wit terroriste – Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare, is die eerste omvattende werk oor die sabotasieoptredes van dié militante groep.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.