Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Afrikaners en die Nazi’s

Afrikaners kon nooit vat kry aan die Nazi-ideologie nie en daarom het bewegings soos dié van Robey Leibbrandt nie juis ’n invloed gehad in die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog nie, het Albert Blake, skrywer van ’n biografie oor dié omstrede rebel aan Gert van der Westhuizen gesê.

Robey Leibbrandt in sy Springbok-frokkie.

Gemoedere het nog selde so hoog geloop in Afrikaner-geledere soos in die tydperk voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Daar was ’n “genadelose stryd om die beheer van die Afrikanersiel,” skryf Albert Blake in Robey Leibbrandt: ’n Lewe van Fanatisme wat onlangs deur Jonathan Ball uitgegee is.

“Afrikaners was meer verdeeld en onderlinge verbittering was groter as ooit tevore in hul geskiedenis.”

Dit was die jare van die Ossewabrandwag, die Stormjaers, die Terreurgroep en ander bewegings wat hul inspirasie uit die nasionaal-sosialisme van Adolf Hitler se Nazi-Duitsland probeer put het. Dit was ’n tyd waarin mense nie skaam vir geweld was nie.

Leibbrandt was hardkoppig, arrogant, weerbarstig en het aan grootheidswaan gely.

Vir Leibbrandt, die dapper Springbok-bokser wat sy laaste geveg op die Olimpiese Spele van 1936 in Berlyn met ’n gebreekte hand aangedurf het, was dit die ideale omstandighede om ’n revolusie van stapel te probeer stuur en ’n einde aan Britse beheer oor Suid-Afrika te maak.

Leibbrandt was ’n fanatiese Nazi. Hy is deur Adolf Hitler se Nazi-Duitsland betower en het opleiding in die Duitse weermag ondergaan as sweeftuigvlieënier, valskermsoldaat en saboteur.

In April 1941 is hy met ’n seiljag van Europa na Suid-Afrika gebring as deel van Operasie Weissdorn waarvan die doel uiteindelik was om genl. Jan Smuts, destydse premier, te vermoor. Daar het egter niks van Leibbrandt se planne gekom nie.

Hy is later in hegtenis geneem en ter dood veroordeel. Dit is tot lewenslange tronkstraf versag en hy is vrygelaat nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het.

Handgranate eerder as ideologie

Die voorblad van Arthur Blake se boek oor Robey Leibbrandt. Dié foto van Leibbrandt is deur die polisie geneem nadat hy aangekeer is.

Leibbrandt was miskien self een van die belangrikste redes vir die mislukking van sy sending. Hy was hardkoppig, arrogant, weerbarstig, het aan grootheidswaan gely en het moeilik met ander saamgewerk – hy was selfs ’n “misdadige boelie” wat onder meer gedreig het om die latere rugbybaas Danie Craven te foeter. Boonop was sy planne maar bra onbekook.

Blake glo daar was ook ’n ander baie belangrike rede vir Leibbrandt se mislukking: Afrikaners se weersin vir nasionaal-sosialisme of Nazisme.

“Hulle was mos baie preuts en Calvinisties en godsdiensvas. Die Nazi’s was baie apaties oor godsdiens, veral teenoor Christus wat ’n Jood was. Hulle het gesê hy was maar net nog ’n wêreldfiguur,” vertel Blake waar ons in die indrukwekkende studeerkamer van sy huis in Roodepoort gesels.

Die rakke dra swaar aan geskiedenisboeke en die mure is versier met afdrukke en skilderye wat tonele uit onder meer die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog uitbeeld. Daar is ook borsbeelde van genls. Christiaan de Wet en Koos de la Rey en Jopie Fourie.

Op die lessenaar lê twee boeke oor Mohandas Gandhi. Daar is ook ’n beeldjie van hom langs dié van Wladimir Lenin en Mao Zedong wat Blake op oorsese reise aangeskaf het.

Blake, ’n praktiserende prokureur en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, het self al genoeg boeke geskryf om ’n biblioteekrak vol te staan: Broedertwis, Boerekryger, Boereverraaier (wat die rolprent Verraaiers geword het), Ontsnap!, Moord en Roof en Wit Terroriste.

Blake se navorsing dui daarop dat destydse teenstanders van die regering pro-Duits was omdat hulle anti-Brits was. Hulle sou ook nie Duitse beheer geduld het nie.

“Daar was ’n paar akademici wat probeer het om die nasionaal-sosialistiese ideologie te verwerk sodat dit kon aanpas by die Afrikaners,” hervat Blake ons gesprek oor Leibbrandt.

In ’n stadium was daar ’n geheime vergadering van die Stormjaers in Krugersdorp waar probeer is om dit aan mense te verduidelik.

“Hulle is met dooie kalfsoë aangekyk. Daar was nie belangstelling nie. Toe hulle praat oor die nuutste manier om ’n handgemaakte handgranaat te vervaardig, tóé babbel dit. So, hulle het nie belang gestel in die intellektuele werking van ideologieë nie. Hulle wou net loskom van die Britse juk en ’n republiek kry,” sê Blake.

“Daarom was die Stormjaers baie sterker. Hulle het net gesê: ‘Weg met die Engelse’ en ‘Kom ons stig ’n Republiek’.”

Blake se navorsing dui daarop dat destydse teenstanders van die regering pro-Duits was omdat hulle anti-Brits was. Hulle sou ook nie Duitse beheer geduld het nie. Blake staaf dié stelling deur te vertel van ’n voorval waar Afrikaners in ’n interneringskamp amper met Duitse aangehoudenes handgemeen geraak het.

“Die Duitsers was ver van die Afrikaner af. Soos een ou geskryf het: die Duitsers dra langbroeke met sandale en kouse . . . ”

Dié deel van die Afrikaner-geskiedenis en figure soos Leibbrandt is vandag grootliks vergete. Daar is veral twee redes daarvoor, glo Blake. Ná die Tweede Wêreldooroog moes versoening tussen Afrikaans- en Engelssprekendes bewerkstellig word en was dit nie juis bevorderlik vir eenwording om daarna te verwys nie. Niemand wou ook daaraan herinner word toe die Nazi’s se gruweldade aan die lig gekom het nie.

Ons moet verlede probeer verstaan

Leibbrandt, tweede van links, saam met mede-Nazi’s in Berlyn.

Maar die verlede kan nie ongedaan gemaak word nie, sê Blake. Ons moet dit eerder probeer verduidelik en probeer verstaan – al is daar aspekte waarvan ons vandag nie hou nie.

Die boek oor Leibbrandt is in ’n mate ’n natuurlike uitvloeisel van Wit terroriste waar Blake die geskiedenis van Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare vertel het. Tog is Leibbrandt so ’n fassinerende karakter dat sy verhaal ’n boek op sy eie regverdig.

“Ek kan hom onthou van kleins af, weet jy,” vertel Blake oor sy grootwordjare in Bloemfontein. “Ek kan nou nog onthou hoe ons aan die noordekant van Maitlandstraat na die stasie se kant toe geloop het, ek was ’n tjokkertjie in die laerskool saam met my pa, en hy (Leibbrandt) het voor ons geloop en jy kon sien hoe mense na hom kyk. My pa het my van hom probeer vertel, maar ek dink ek was nog te klein en kan dit nie mooi onthou nie.”

Blake was later nes Leibbrandt op Grey-kollege op skool. “Op skool het ons nog gehoor van hom, van die dinge wat hy gedoen het.”

Blake was ook ’n klasmaat van een van Leibbrandt se seuns, Izan (Nazi agteruit gespel).

Robey Leibbrandt poseer vir die kamera in 1934.

“Hy was ’n ekstremis in alle opsigte. Ek weet nie of ons nog so ’n ou in ons Afrikaner-geskiedenis het nie – aan die ou Oosgrens miskien. Ek weet nie waar gaan jy nog so ’n ou kry nie. Hierdie ou was iets vreesliks,” sê Blake oor Leibbrandt.

“Op die regte tyd sou hy Jan Smuts doodgemaak het en dit sou groot reperkussies gehad het.”

Benewens sy fanatieke Nazisme wat mense afgeskrik het, het Leibbrandt homself “in die voet geskiet met sy gebrek aan menseverhoudinge”.

“Hy was bombasties en obsternaat par excellence. Ek sluit die boek af met ’n Duitse joernalis wat gesê het: ‘My God, I thought, what a lunatic.’ Maar hy sê ook: ‘But what a man.’

“Daar is elemente van Roby Leibbrandt wat my gefassineer het. Een daarvan is dat hy sy woord gehou het. Hy sou ook niemand verraai nie. Hy het dinge nie vir eie gewin gedoen nie en was ook vrygewig. Dis ’n mooi eienskap, vrygewigheid.”

Geskiedkundige trauma

Albert Blake

Dit is volgens Blake belangrik om die omstandighede in ag te neem wat mense soos Leibbrandt en ander soos hy destyds gevorm het.

“Ná die Anglo-Boereoorlog het die Engelse darem wragtag verkeerd te werk gegaan en sout in ons wonde gevryf. “Daar was die beleid van verengelsing van (Alfred) Milner en dan nog die Rebellie (van 1914). Die goed hou net nie op nie. In die jare 20, 30 en selfs 40 kon jy nie in ’n winkel in Johannesburg instap en probeer Afrikaans praat nie. Dan sê hulle net: ‘We don’t speak that language.’

“Daar is op die Afrikaner neergekyk. Jy tel daai ding op in die transkripsies van onderhoude met Stormjaers in die OB-argief. Dit is iets wat nog nooit werklik in ons geskiedskrywing ontgin is nie.”

Dié geskiedkundige trauma is van een geslag na die volgende oorgedra en was teen die tyd van die Tweede Wêreldoorlog nog nie verwerk nie.

Kyk nou maar na die Anglo-Boereoorlog. Ek dink die trauma daarvan is al verwerk.
Albert Blake

Suid-Afrika beleef nou weer iets soortgelyk, want apartheid is steeds nie verwerk in die psige van baie jong swart mense nie.

“Hoewel daar ’n herhaling is van die onverwerkte trauma is die situasie heeltemal anders as ons s’n ná die Anglo-Boereoorlog. Daar was ’n armblanke-vraagstuk, maar hulle het nog steeds stemreg gehad. Swart mense het ’n struggle gehad om stemreg te kry, maar hul drome is deur korrupsie vernietig.”

Hoe word dié soort trauma verwerk?

“Deur tyd. Kyk nou maar na die Anglo-Boereoorlog. Ek dink die trauma daarvan is al verwerk. My kinders sal byvoorbeeld saam met my na slagvelde gaan, maar van die oorlog self het hulle nie meer baie kennis nie,” sê hy.

“Ek dink dit kan net deur tyd genees word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.