Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Afrikaners van Argentinië

Drie linguiste wil so gou moontlik alles oor dié mense uitvind, voordat hul taal verdwyn, skryf Dawie Boonzaaier.

Thenis “Ty” Dickason by die grafte van sy ouers, sy laaste familielede wat met hom Afrikaans gepraat het.

Die openingstoneel van die dokumentêre rolprent Boere op die aardsdrempel is amper onaards om na te kyk.

’n Ou Argentynse oom, met sy perd, staan en uitkyk oor ’n dorre landskap – wat amper soos die Boesmanland lyk – en praat oor hoe moeilik dit is om hier te boer. Dan vertel hy van hoe sy ma op ’n boot gebore is wat vanaf Afrika oor die Atlantiese Oseaan na Argentinië gevaar het.

Thenis “Ty” Dickason woon in Patagonië, ’n afgesonderde dorre streek in die suide van Argentinië.

Maar hy vertel die storie nie met ’n Argentynse stem nie. Nee, dié stem behoort liewers aan iemand wat jy Saterdae in die Shoprite in Springbok sal raakloop.

Dickason is ’n afstammeling van sowat 600 Afrikaanse Boerefamilies wat tussen 1902 en 1908 na Argentinië vertrek het.

Hy het met die verfilming van die dokumentêr in 2013 nog nie ’n voet in Suid-Afrika gesit nie.

Dickason is gebore en getoë in Argentinië, maar vertel in vlot Afrikaans hoe hy graag eendag sy familie in Suid-Afrika wil ontmoet.

                                                                           ***

Hoekom praat Dickason en sy vriende, wat almal om die dorpies Sarmiento en Comodoro Rivadavia woon, steeds Afrikaans? Hoekom is daar ’n Afrikaanse gemeenskap in die suide van Argentinië wat nog elke jaar volkspele hou en “Sarie Marais” sing?

Vir prof. Andries Coetzee, van die Universiteit van Michigan se departement van linguistiek, is dit ’n enigma: “Ek weet al my hele lewe van hierdie Afrikaanse gemeenskap in Argentinië,” sê Coetzee, wat vanjaar al 20 jaar in die VSA werksaam is.

García-Amaya en Coetzee gee dit nog so 20 jaar?.?.?.

Hy en sy kollegas Nicholas Henriksen en Lorenzo García-Amaya was saam met die regisseur Richard Gregory in Patagonië met die skiet van Boere op die aardsdrempel.

García-Amaya sê die gemeenskap is soos ’n tydkapsule. “Ons sien (hierdie gemeenskap) as ’n soort skat wat ten spyte van amper 120 jaar in ’n ander land steeds Afrikaans praat – en steeds goed.”

Dis verbasend hóé goed.

“Een van die dinge wat my die meeste verras het is hoe soortgelyk die Patagoniese Afrikaans aan Afrikaans is soos hoe dit vandag in Suid-Afrika gepraat word,” sê Coetzee.

“ ’n Taal is veronderstel om baie te verander oor 120 jaar. Dat Patagoniese Afrikaans so soortgelyk aan vandag se Afrikaans is dui aan, dink ek, dat Afrikaans as taal teen die begin van die 20ste eeu reeds redelik gevestig was.”

Die gemeenskap het Suid-Afrika verlaat voordat Afrikaans amptelike status gekry het in 1925.

“Hul Afrikaans is dus nie beïnvloed deur die standaardisering wat gekom het ná 1925 in Suid-Afrika nie,” sê Coetzee.

Coetzee meen dis daarom vreemd dat die Patagoniese Afrikaans nie meer verander het oor die jare nie. Volgens hom is een van die enigste prominente verskille tussen die Patago­niërs se Afrikaans en Suid-Afrikaners se Afrikaans dat die harde g-klank (soos aangetref in die Engelse go) nog gereeld voorkom.

“ ’n Ouer Afrikaans het dié harde g-klank in baie meer plekke gebruik, soos byvoorbeeld in nege.”

Juan Schlebusch skeer ’n skaap op sy plaas in Patagonië. Foto’s: Richard Finn Gregory, Good Work

Dit verduidelik egter nog nie hoe ’n gemeenskap wat oor die 7 000 km van hul geboorteland af woon amper 120 jaar later steeds perfekte Afrikaans praat nie.

Sodra jy ’n klein gemeenskap wat ’n spesifieke taal praat na ’n ander land verplaas, gee taalkundiges dit 40 tot 50 jaar voordat die nuwe gemeenskap heeltemal ophou om die taal te praat.

Globalisering is die groot vyand van sulke gemeenskappe, want sodra jy in ’n nuwe land aankom, is dit net ’n kwessie van tyd voordat jy by die nuwe tuiste se gewoontes aanpas.

García-Amaya sê sy enigste antwoord hierop is die gemeenskap se afsondering.

Die gemeenskap is destyds weg onder die voorwendsel dat hulle gaan boer op lande van “melk en heuning”.

En toe kom hierdie mense, sat ná die Anglo-Boereoorlog, in woestynwêreld aan.

“Hierdie afsondering het die taal se rakleeftyd bene gegee,” sê García-Amaya.

Vir 60 jaar kon die gemeenskappe in redelike afsondering voortleef, maar toe ’n oliestormloop die gebied in die 1960’s tref, het die doodsklokke vir Afrikaans as eerste taal begin lui.

Sedertdien het die families met Spaanse families begin trou, hul kinders na Spaanse skole gestuur, en deesdae is dit net die bejaardes wat nog Afrikaans praat.

García-Amaya en Coetzee gee dit nog so 20 jaar, waarna Afrikaans nie meer vlot daar gepraat sal word nie.

                                                                        ***

Dit is oor hierdie vrese dat die akademici nou so gou moontlik alles moontlik van die Patagoniese Afrikaners wil uitvind.

Vroeër vanjaar het die driestuks na Suid-Afrika gereis om die oorsprong van hierdie Afrikaners te kom navors.

Met hul navorsing kon hulle vasstel dat van die oorspronklike emigrante vanuit Maclear in die Oos-Kaap kom.

“Party van die Maclear-inwoners onthou die vanne van die families wat ons nou in Patagonië ken, vanne soos Schlebusch en Coetzee,” sê Henriksen.

“Die Maclear-inwoners sê hulle is ook bewus van die Patagonië-setlaars wat in die 1930’s teruggekom het na Suid-Afrika.

“Ongelukkig is ons meegedeel dat daardie selfde families na ander dele van Suid-Afrika verhuis het, so ons kon nie met hulle kontak maak nie.”

Die belangrikste inligting wat die drie versamel het, is egter dat die Maclear-inwoners nie al die familiename van Patagonië herken het nie.

“Dit bring ons by die volgende fase van ons projek, en dit is dat ons op pad is na die Noord-Kaap in Maart 2020, om te kyk of ons linguistieke parallelle kan aantref tussen Namakwalandse Afrikaans en Patagoniese Afrikaans.”

Volgens Henriksen en Coetzee is die parallelle tussen hierdie twee Afrikaanse dialekte besonders.

Die Patagoniese Afrikaners spreek die woord ek met ’n plat e-klank uit; soos êk. So ook praat hulle van ’n kind met j-klank in die woord; soos kjind.

“Ons sal graag linguistieke data oor Namakwalandse Afrikaans wil versamel en dit vergelyk met die data wat ons verkry het oor die Patagoniese Afrikaans,” sê Henriksen.

                                                                      ***

Maar selfs al sterf die taal in Argentinië uit, is daar ’n kulturele liggie wat nie geblus wil word nie.

Karina Thomas (42) is ’n Argentyn van Patagonië wie se oupa in die 1920’s van Suid-Afrika na Argentinië getrek het.

Sy leef steeds volgens die Afrikanerkultuur.

“Vir my is een van die belangrikste nalatenskappe my geloof in Christus. Ons lees elke dag die Bybel, dank God voor etes, vra vir sy seën en probeer om ’n lewe te lei met die liefde van Christus vir ons naastes.”

Benewens Afrikaanse musiek en volkspele, sê Thomas is daar ook verskeie delikatesse uit die “Boerekultuur” wat hulle gereeld nuttig. Rooibostee, melktert, maroe­la­likeur en frikkadelle is van die kos en drank wat hulle by hul voorouers gekry het, en steeds gebruik.

“ ’n Belangrike nalatenskap is ook ons liefde om te boer.”

Hoewel Thomas nie self Afrikaans kan praat nie, hoop sy om deur aanlyn klasse die taal aan te leer.

Thomas was 15 jaar gelede in Suid-Afrika, en sê haar liefde vir die pragtige landskappe in Suid-Afrika is net so groot soos haar liefde vir Argentinië.

“Argentinië is die land wat vir ons skuiling gebied het, vir ons ’n plekkie gegee het om te ontwikkel, maar soos ons in Spaans sê: hasta siempre Sudafrica.”

Oftewel: “Vir altyd Suid-Afrika.”

Meer oor:  Andries Coetzee  |  Argentinië  |  Boere  |  Afrikaans  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.