Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Akademie dra ’n nuwe jas

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns spog met ’n splinternuwe gebou in Pretoria. Johanna van Eeden het gaan inloer.

’n Lugfoto van die nuwe hoofkantoor van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat aan die geskiedkundige Engelenburghuis-museum (voor) grens. Foto: Herman Brink

Dit woel op dié Dinsdagoggend in Ziervogelstraat 574 in Arcadia, aan die voet van Meintjieskop. Personeel skarrel om die laaste voorbereidsels te tref vir een van die Akademie se twee bekroningsaande waarop toppresteerders in Afrikaans vereer word.

Onder vanjaar se wenners is die skilder Hannetjie van der Wat, die rolprentresensent Leon van Nierop, die radioman Johan van Lill, die kinderboekskrywer Jaco Jacobs, die joernalis Martie Retief Meiring, die skrywer Marlene van Niekerk en Pieter-Dirk Uys, wat die gesogte Hertzogprys ontvang.

Besoekers word by die ontvangs deur ’n Coert Steynberg-borsbeeld van genl. J.B.M. Hertzog begroet. Hertzog was in 1909 een van die stigterslede van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst en die Akademie se prestigeprys is na hom genoem.

Dr. Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof, bel elke individu wat jaarliks deur die Akademie bekroon word self om die nuus oor te dra. “Dis heerlik om vir mense te kan sê hulle word ráákgesien, hul aandeel word waardeer.”

Dis heerlik om vir mense te kan sê hulle word ráákgesien, hul aandeel word waardeer.

Party wenners is in trane oor die nuus. Ander glo haar eenvoudig nie en bel agterna die kantoor om seker te maak dat dit waar is, sê Prinsloo.

Ons gesels in haar splinternuwe kantoor met ’n uitsig op die Uniegebou se tuin. Haar tasse is so te sê gepak vir ’n oorsese vakansie by haar kinders, maar tussendeur gesels sy en Francois van der Merwe, argitek van die Akademie se nuwe hoofkantoor, strykdeur oor die finale afrondingswerk.

Die nuwe gebou is die voltrekking van een van die take wat Prinsloo met haar aanstelling in Junie 2012 gekry het. Die Akademie was vroeër jare in die gebou oorkant die straat, maar moes dit uiteindelik verkoop omdat dit nie ekonomies haalbaar was nie. Die gebou huisves deesdae Zambië se ambassade.

Maar Ziervogelstraat 574 het uiteindelik tot sy reg gekom.

Maar Ziervogelstraat 574 het uiteindelik tot sy reg gekom. Dit was die oorspronklike tuiste van dr. Frans Engelenburg, ’n Nederlander wat na Suid-Afrika verhuis het. Sir Herbert Baker het die huis in 1903 vir hom ontwerp.

Engelenburg, ’n regsgeleerde en later redakteur van Die Volkstem, was twee keer voorsitter van die Akademie. Met sy afsterwe het hy sy huis aan die Suid-Afrikaanse regering bemaak, wat dit in 1940 aan die Akademie oorgedra het. Só het die Engelenburghuis-museum ontstaan, die tuiste van ’n uitgesoekte versameling kunsskatte.

Toe die huis gebou is, het dit buite die stad gestaan en mense het daarna as “De Witte Huis” verwys. Engelenburg is op 60 vir die eerste keer getroud en het die eerste gesonke bad in Pretoria vir sy vrou laat installeer.

Die badkamer is intussen keurig gerestoureer, gesonke bad en al.

Die badkamer is intussen keurig gerestoureer, gesonke bad en al.

As argitek was Van der Merwe se uitdaging om vir die Akademie ’n hoofkantoor náás die Engelenburghuis-museum te bou – modern genoeg om aan die Akademie se behoeftes te voldoen, maar gerieflik in tandem met sy geskiedkundige buurman.

Met die nuwe gebou wou hy ’n toekomsblik gee om die relevansie van die Akademie uit te beeld, maar in sterk kommunikasie met die erfenisgebou op dieselfde terrein. Hy moes ook ’n oplossing vind vir die min parkeerplek, vandaar die besluit om die gebou “in die lug” te laat staan met parkeerplekke tussen die ankerpilare.

Danksy verskeie borge, waaronder ’n ruim erflating deur Elizabeth Steijn, van 1945 tot 1962 hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, is aan die werk gespring.

Argitektoniese ontmoeting

Die resultaat is ’n argitektoniese ontmoeting tussen die verlede en die toekoms. Groot vensters laat lig in en skep ’n oop, deursigtige gevoel. Die wit mure en aardse afwerkings staan trots langs die statige, tradisionele boustyl van die buurhuis.

Prinsloo wys detail uit, soos die herhaling van die Hollandse gewels in die nuwe gebou om by die Hollandse boustyl van langsaan aan te sluit. Die tydlose ontwerp word benadruk wanneer Prinsloo oor haar houtlessenaar stryk en sê: “Dit moet vir minstens nog 100 jaar hou!”

Wanneer sy oor die gebou praat, is sy veral trots op één beskrywing: “Afbetaal.”
Dr. Dioné Prinsloo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in die nuwe uitstalruimte waar ’n deel van die Akademie se kunsversameling te sien is. Foto: Johanna van Eeden

Wanneer sy oor die gebou praat, is sy veral trots op één beskrywing: “Afbetaal.”

‘Daar is léwe!’

Daar is ruimte vir die Akademie se kunsversameling, wat eers deur die Universiteit Stellenbosch en later deur die Universiteit van Pretoria gehuisves is, asook plek vir die hárt van die Akademie – die uitruil van gedagtes.

Prinsloo bars van trots oor dít wat bereik is. “Daar is léwe! Dit is vir my so lekker.”

Sy en haar span het twee jaar lank in ’n huurkantoor in Soutpansbergweg gewerk. Die nuwe kantoor is nog nie heeltemal ingerig nie, maar die simposiumkamer is reeds ingewy.

Van der Merwe sê dit was vir hom belangrik om iets te ontwerp wat gepas is vir sy “statige kliënt”. Dié “statige kliënt” is volgende jaar 110 jaar oud en spog met ’n uitgesoekte ledetal van omtrent 1 000. Lidmaatskap word beperk tot diegene wat minstens vyf jaar se akademiese studie agter die blad het. Om lid te word moet ’n bestaande lid jou benoem.

Die Akademie beywer hom “vir die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans”. Die hoogtepunt op die organisasie se kalender is die jaarlikse toekennings vir uitnemendheid. Verskillende kommissies besluit wie dié eer te beurt moet val voordat dit op die raadsvergadering bespreek word.

“Die raad is baie gesteld daarop om nie net ’n rubberstempel te wees nie,” sê Prinsloo. Maar sy herinner haarself ook graag aan ’n belangrike les wat sy geleer het: Jy koop nie ’n hond en dan blaf jy self nie. Die kommissies se aanbevelings word dus “met groot respek” hanteer.

Etienne Leroux vs. Karel Schoeman

Een van die grootste relletjies in die Akademie se bestaan is juis deur so ’n geblaf veroorsaak . . . Die keurkomitee wat oor 1970 se Hertzogprys moes beslis, het aanbeveel dat Etienne Leroux (weer) dié prys kry. Ná ’n marathonvergadering besluit die Akademieraad egter om die meerderheidsaanbeveling te verwerp en die prys aan Karel Schoeman toe te ken. Dit het gelei tot die bedanking van A.P. Grové, Elize Botha en T.T. Cloete uit die keurkomitee – bedankings wat later teruggetrek is.

Leroux is in 1964 met die Hertzogprys bekroon vir Sewe dae by die Silbersteins te midde van groot beswaar in Afrikanerkringe oor dié boek wat as “immoreel” beskryf is.

Leroux is die eerste keer in 1964 met die Hertzogprys bekroon vir Sewe dae by die Silbersteins te midde van groot beswaar in Afrikanerkringe oor dié boek wat deur sedebewakers as “immoreel” beskryf is. Talle beswaarmakers het in hul ontsteltenis erken hulle het die boek nie gelees nie en die NG Kerk het gemor omdat die Akademie ’n “normlose” boek bekroon het.

Met die aankondiging van vanjaar se pryse was daar weer ’n ligte opstootjie oor die toekenning van die Deleen Bekker-prys vir die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans aan die skrywer Christiaan Olwagen.

‘Moenie vuurtjie aanblaas’

Prinsloo sê haar pa, Piet Meyer, het haar ’n groot les oor “die kopstamp van mense” geleer. Meyer was vroegjare betrokke by die SAUK en het erg deurgeloop onder kritiek toe daar sprake was dat televisie na Suid-Afrika gebring gaan word. “Ek het hom gesien, as Sunday Times sulke vieslike spotprente van hom teken . . . My pa het my geleer dat as jy nie ’n vuurtjie aanblaas nie, gebeur niks verder nie. Laat die gras daaroor groei.”

My pa het my geleer dat as jy nie ’n vuurtjie aanblaas nie, gebeur niks verder nie. Laat die gras daaroor groei.

Sy en haar man, prof. Karel Prinsloo, het vyf kinders. Drie van hulle bly oorsee – in Dallas, Londen en Nederland. Hulle het agt kleinkinders. Die oudste (18) het voor haar kuier laat weet: “Ouma, bring asseblief vir my Kringe in ’n bos!”

Die Akademie se rol in die stimulering van Afrikaanse kreatiewe skryfkuns by hoërskoolleerlinge is een van die dinge waarop Prinsloo erg trots is. Poort 2018 – ’n bundel met die beste skryfwerk – is pas gepubliseer, onder andere met wyle dr. Tom Gouws op die keurkomitee.

In samewerking met die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gee die Akademie jaarliks beurse aan M- en D-studente vir studies in Afrikaans. “Baie mense besluit om hul navorsing in Engels te doen, maar die R120 000 wat ons toeken, laat hulle van besluit verander. Daar is soms vrae oor die beskikbaarheid van studieleiers in Afrikaans, maar die wêreld is oop – daar is toppromotors wêreldwyd wat gemaklik in Afrikaans kan werk,” sê Prinsloo.

Toe sy destyds by Unisa as lektor in geskiedenis afgetree het, het sy gedink: “Dis die einde van my lewe, wat nou?”

Die Akademie publiseer jaarliks verskeie boeke, waarvan Wynand Harmse, voormalige direkteur-generaal van die SAUK, se boek oor dié instelling en prof. Jacques van der Elst se boek oor Adam Small van die nuutste uitreikings is. Dis juis onder Van der Elst se aanmoediging dat Prinsloo vandag aan die stuur van die Akademie staan. Toe sy destyds by Unisa as lektor in geskiedenis afgetree het, het sy gedink: “Dis die einde van my lewe, wat nou?”

Die Afrikaanse Taalraad het ’n koördineerder gesoek en sy het op aanbeveling van Van der Elst betrokke geraak. Toe Van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie, se pos vakant raak, het hy haar aangemoedig om aansoek te doen. “Toe skater ek, maar doen tog aansoek.”

Terugskouend meen sy haar tyd by die Taalraad was “indiensopleiding op sy beste” omdat dit haar ’n blik op die binnewerking van die Akademie gegee het.

“Ons bou baie goed op en as dit op dreef is, staan ons terug. Byvoorbeeld die Afrikaanse Taalraad en Viva (die Virtuele Instituut vir Afrikaans).”

Die Akademie se grootste bate, sê sy, is sy lede – mense wat hulle eenvoudig aanmeld vir diens. Die komitees en kommissies het “geoliede wiele” en die personeel is staatmakers. “Hier is ’n heerlike gees van samewerking. Menseverhoudinge is waaroor dit gaan.”

Taalstryd

Uitdagings is daar wel. Prinsloo is byvoorbeeld baie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans aan universiteite.

Johanna van Eeden

“In onderwys lê die toekoms van Afrikaans,” sê sy. Om as onderrigtaal te oorleef moet die werk op kleuterskoolvlak begin. Sy vertel van ’n projek van prof. Oppel Greeff wat hom vir die gebruik van kerksale vir Afrikaanse kleuterskole beywer. “Die oplossing gaan wees om saam te staan en – vir Afrikaans se behoud – skole te laat saamsmelt, maar elke hoof klou aan sy skool . . .”

Sy voel sterk daaroor dat die Akademie by die taalstryd betrokke moet wees. “Dit help nie ons sit in ’n ivoortoring en daal net neer uit die hoogte met beurse nie.”

Sy meen ook die Akademie moet vir gewone mense toeganklik wees. Die Engelenburghuis-museum is oop vir die publiek en as mense by haar vir ’n koppie koffie wil inloer, is hulle welkom om ’n afspraak te maak.

“Kom kuier!” nooi sy. Soos ’n vrou wat nie kan wag om haar gaste te trakteer in haar nuwe (afbetaalde) huis nie.

  • Van Eeden is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Pretoria  |  Akademie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.