Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die ANC word al hoe meer outoritêr

Selfs met pres. Ramaphosa kan die ANC  nie genoegsaam hervorm nie. Die DA  is die oplossing, skryf Mike Moriarty.

Mmusi Maimane en Helen Zille betoog in November 2014 teen pres. Jacob Zuma se weiering om vrae in die parlement te beantwoord. Foto: Mike Cohen

Vaar die DA tans goed?

Ek het sommige in die DA al hoor sê: “Ons is op ’n goeie plek.”

Ja, daar is stabiliteit en ons is grootliks verby die skade van De Lille en ons gestruikel oor swart ekonomiese bemagtiging.

Ja, ons is die beste opposisieparty gemeet aan ons hantering van die Covid-19-pandemie en het groot druk op die regering geplaas om Covid-19-korrupsie te takel.

Maar die vraag in die politiek is altyd – “in vergelyking met wát?”

As politici neem ons aan dat ons deurdring tot kiesers net omdat ons mekaar voortdurend aanmoedig.

Dring ons werklik tot kiesers deur? Of het ons bloot vir onsself ’n eggokamer geskep waarin bestaande sienings bevestig en alternatiewe sienings nooit oorweeg word nie?

Die DA moet Suid-Afrika se party van hoop word.

Dis gevaarlik. Dis soos om in ’n borrel te leef. Dit skep die illusie dat alles piekfyn is en ontken die behoefte aan groei of aanpassings. Dit kan trouens die doodsklok vir enige organisasie laat lui, veral vir ’n politieke party.

Dit is nou belangriker as ooit vantevore dat ons onsself as party eerlik ondersoek en vra of ons regtig op koers is om te bereik wat ons wil en noodsaaklikerwys moet bereik.

Enige opposisie wat versuim om ’n hoopvolle alternatief te bied te midde van soveel hopeloosheid in ons land, en die sigbare onbekwaamheid en selfs korrupsie van sy regering, is ’n uiters onverantwoordelike opposisie.

As die DA is ons visie om teen 2024 aan die kern te wees van ’n herbelynde meerderheid wat ’n samelewing vol geleenthede vir alle Suid-Afrikaners kan bied.

Dit beteken die ANC moet afgestoei word van steun van 57,5% (2019) tot 49,9% en dat die DA van 20,77% tot 26% moet groei.

Maar selfs as ons al 249 000 kiesers terugwen wat verlede jaar hul DA-stem verruil het vir die VF Plus, sal ons steeds sowat 660 000 nuwe swart DA-kiesers benodig om ons mikpunte te haal. Dalk selfs meer as ’n mens emigrasie in ag begin neem.

Dit is ’n tamaai taak. En as ons daar wil uitkom, kan ons nie tevrede wees daarmee om bloot “goed” te wees nie. Ons móét beter vaar. ’n Eggokamer wat ons laat glo ons is goed genoeg sal net tot middelmatigheid lei. Dit is nie die DA waaraan ek glo en wat Suid-Afrika desperaat nodig het nie.

Mike Moriarty Foto: Mike Moriarty Twitter-blad

Ons het geleer uit die suksesvolle munisipale verkiesing in 2016, toe ons die grootste party geword het in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai, dat Suid-Afrikaners ’n organisasie vertrou wat duidelik daarna strewe om alle Suid-Afrikaners se ondersteuning te verkry. Ek het geen twyfel dat die DA moet terugkeer na die pad waarop ons tussen 2014 en 2016 was nie. Ons moet dit doen nie om ons eie onthalwe nie maar vir Suid-Afrika en al sy mense.

Daar was nog nooit ’n groter behoefte as nou aan ’n sterk DA wat spreek tot en vertrou word deur die meeste Suid-Afrikaners nie.

Ons nasie word deur ’n absolute katastrofe in die gesig gestaar. Ten einde ons probleme op te los, moet die ANC verander, maar hulle het bewys hulle is nie in staat daartoe om van koers te verander nie en moet daarom ontsetel word as ons enige hoop vir Suid-Afrika wil hê.

Die dapper hervormings wat die voorwaarde van herstel is, gaan nie onder die ANC gebeur nie, selfs nie met pres. Cyril Ramaphosa nie.

Dit is nodig dat ons ons samelewing mobiliseer om verandering ten goede af te dwing.

Dit sal uiters roekeloos wees om dinge te aanvaar soos dit nou is; ons land was reeds voor die inperking in ’n krisis en die pandemie het die situasie net vererger. Reeds voor Covid-19 was 10 miljoen Suid-Afrikaners werkloos en dit sal ongetwyfeld verswak. Suid-Afrika het nodig om sy hoop op die DA te vestig.

Dit wat bloot “goed” is, is die vyand van dit wat “uitstekend” is. Stabiliteit is nie ’n doelwit nie. Dis bloot ’n beginpunt in die wedloop tot by die volgende verkiesing en die realisering van ons visie. Ons moet soveel meer wees as net “stabiel”. Ons moet ’n party wees wat die hoop en aspirasies van miljoene Suid-Afrikaners weerspieël. Om dít te bereik, moet ons uit ons “borrel” tree om werklik moeilike gesprekke en debatte te voer.

Ons visie vir Suid-Afrika is dat dit ’n land moet word wat werk, waar mense hul drome kan verwerklik in ’n florerende ekonomie wat nie meer gerem word deur die korrupsie en onbevoegdheid van die ANC-regering nie.

Maar selfs ’n oortuigende visie is nie genoeg nie. Dit moet vergesel word van ’n implementeerbare plan; en dít is wat die DA van die ANC onderskei.

Sukses, reken ek, word gemeet aan die grootte van die impak wat jy het, nie bloot aan die geloof dat ’n boodskap uitgestuur is wat vir sommige goed kan lyk nie.

Suksesvolle kommunikasie gaan veel verder as die uitstuur van mediaverklarings: Ons moet ’n positiewe storie aan ons kiesers vertel.

Mense moet ’n positiewe beeld vorm van wat die DA sê en doen. Is die DA se huidige narratief ’n goeie een? Kry dit ons waar ons moet wees?

Ons sal slegs waarlik vordering maak wanneer dit nie meer net ons is wat praat oor wat ons doen nie, maar wanneer kiesers daaroor praat. Die gesprek oor die DA moet ’n positiewe gesprek wees. Ons moet Suid-Afrika se party van hoop word. Ons moet die party wees wat praat vir, en gesien word as die party wat praat namens, alle Suid-Afrikaners. Ons moet ’n party vir almal wees.

Maar voor jy hoop bou, moet jy vertroue bou: By mekaar en by kiesers. Daar kan geen visie wees te midde van soveel verdeeldheid nie. Ons sal nie kiesers se vertroue wen sonder beter rasseverhoudinge nie en dit gaan tyd neem. Ons sal egter ook nie die doelwit van nierassigheid realiseer deur te preek en moeilike gesprekke oor ras te vermy nie. Ons moet diversiteit aktief bevorder.

Suid-Afrika is diep verdeeld oor ras en dit veroorsaak nie net vrese en vyandigheid nie, maar keer ook dat ons ernstige gesprekke het oor wat die land en sy mense werklik nodig het. Die enigstes wat voordeel trek uit rassepolarisasie is die regering. Dit is omdat die regering ras misbruik om eerlike gesprekke oor sy eie mislukkings vry te spring.

Asof dit nie erg genoeg is nie gebruik die regering Covid-19 om al hoe meer magte vir homself toe te eien. Ons sien toenemende gekke outoritarisme.

Die land smeek om ’n oplossing. Ons mense is desperaat om weer te hoop. Die oplossings is beskikbaar sodra gewone Suid-Afrikaners die vryheid kry om hul rol te speel. Maar dit sal slegs gebeur wanneer ons almal mekaar se uiteenlopende bydraes verwelkom.

Dit is die voordeel van diversiteit. Die party wat die beste regeer, wat al hierdie diverse insette inspan, is die DA. Die DA is immers Suid-Afrika se mees diverse party.

Maar ons sal die hoop van Suid-Afrika word nie omdat ons so sê nie, maar wanneer kiesers so sê. Suid-Afrika moet dringend verander en dit gaan harde werk verg, maar dit is ons plig om ons land vir die volgende generasie reg te maak.

’n Lang pad lê vir ons voor.

* Moriarty is hoofsweep van die DA in die Gautengse wetgewer en het in Junie aangekondig hy sal Helen Zille by die party se leiersberaad later vanjaar uitdaag om die pos van voorsitter van die party se federale raad.

Meer oor:  Mike Moriarty  |  Politiek  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.