Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Aanlyn onderrig: Die begin van ’n nuwe era

Illustrasie: iStock
Aanlyn onderrig en leer is hier om te bly, want dit hou groot voordele vir sowel opvoeders as studente in, skryf Wim de Villiers.

Verlede week het ek ons studente en personeellede toegespreek – nie op ’n massavergadering op kampus soos in die verlede nie, maar deur middel van ’n video wat ek sommer met my selfoon in my studeerkamer tuis opgeneem het.

Dit is net ’n klein voorbeeld van groot omwentelinge wêreldwyd weens die impak van Covid-19 – ’n pandemie wat as’t ware in ’n ommesientjie álles verander het, in vele opsigte onherroeplik.

En universiteite – instellings wat deur die jare al talle uitdagings die hoof gebied het – is nie immuun nie. Om die waarheid te sê, ons doen alles in ons vermoë om aan te pas, want ons voortbestaan is in die weegskaal.

Al ons doelwitte is nou ondergeskik aan slegs twee oorhoofse prioriteite: om te sorg dat ons studente die akademiese jaar kan voltooi en dat hulle ’n toonaangewende universiteit sal hê om na terug te keer wanneer ons anderkant hierdie krisis uitkom.

Ja, daar sal uitdagings wees

Tradisionele kontakonderrig is tans onmoontlik weens die staat van inperking waarin Suid-Afrika – en talle ander lande wêreldwyd – verkeer. En tog kan ons nie bekostig om die akademiese jaar te verloor nie. Daarom het ons by die Universiteit Stellenbosch (US) reeds vroeg in die krisis besluit om so gou moontlik na aanlyn onderrig en leer oor te skakel.

Verlede week het die groot oomblik aangebreek toe ons met die tweede kwartaal van ons eerste semester aanlyn begin het – ’n historiese geleentheid, wat weliswaar nie heeltemal vlot verloop het nie.

Die aanvanklike aanvraag was so groot dat SUNLearn, ons e-leerplatform, die lading nie kon hanteer nie. Gelukkig kon ons dié probleem redelik vinnig uitstryk.

Dat ons volledig na e-leer oorgeskakel het, is ’n tussentydse noodmaatreël. Ons sal kontakonderrig hervat wanneer die nasionale staat van inperking opgehef word.

Dit beteken nie dat alles maar net weer op dieselfde ou trant gaan aangaan wanneer die huidige krisis verby is nie.

E-leer is hier om te bly – in welke gedaante ook al: van alles volledig aanlyn doen, tot ’n kombinasie van aanlyn en kontakonderrig (“hibridiese leer”, in vakterminologie), en die aanwending van e-leer in die klaskamer (“gemengde leer”).

Prof. Wim de Villiers

Die redes is eenvoudig: Enersyds verbreed dit toegang tot kennis en ontwikkeling.

Baie meer mense kan aanlyn geakkommodeer word as in lesinglokale. En andersyds verryk dit die leer-en-onderrigervaring.

Studente kan weer na lesings kyk of luister vir hersiening en moeilike konsepte kan met video’s en animasies verhelder word.

Ek vind die oorgang na e-leer dus baie opwindend, maar moet toegee dis ook ’n bietjie angswekkend (en ek weet, want ek moes self verlede week aanlyn lesings voorberei vir ’n kursus in gastroënterologie wat ek vir tweedejaar-MBChB-studente in ons fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aanbied).

Daar’s nuwe tegnologie om baas te raak en nuwe vaardighede om te bemeester – in baie opsigte ’n hele nuwe denkwyse om aan te leer.

Net meer as ’n maand gelede was ons nog almal saam in die klas, van aangesig tot aangesig besig met onderrig en leer. Ons het saam interessante onderwerpe bespreek, mekaar uitgedaag, saam kennis ontdek en gegroei.

Nou moet ons dít alles virtueel doen, aanlyn van die huis af deur ons rekenaars of slimfone. Ons gaan die persoonlike kontak mis, dít besef ek. En natuurlik sal daar uitdagings wees. Dosente én studente sal probleme ervaar, veral met die wegtrek. Maar ek is oortuig ons kan dit doen.

Toewyding en fokus gevra

Aan die US is daar ’n paar faktore wat in ons guns tel. Eerstens is ons nie nuwelinge wat e-leer betref nie.

Ons is reeds ’n hele paar jaar besig om ons e-leer-aanbod stelselmatig uit te brei. Voor die huidige krisis was dít een van die prioriteite vir my tweede termyn, wat vroeër vandeesmaand begin het.

Nou het Covid-19 die “vinnig-vorentoe”-knoppie gedruk. Gelukkig kan ons staatmaak op die stelsels en interne kundigheid wat ons die laaste paar jaar opgebou het.

Ek is baie dankbaar teenoor ons personeellede wat gedurende die reses onverpoosd gewerk het om so goed moontlik voor te berei in ’n poging om te verseker dat nie ’n enkele student uitsak en agterbly nie.

Daar is onder meer spesiale webblaaie vir aanlyn leer- en onderrigsteun op die universiteit se webwerf geskep, vol nuttige inligting en goeie wenke. En kommunikasiekanale is tot stand gebring sodat dosente en studente die nodige bystand kan kry.

Aanlyn leer gaan toewyding, fokus en onafhanklike werk van ons studente vra. Ons moedig hulle aan om hulp te vra as hulle ondersteuning benodig.

Die tweede faktor tot ons voordeel aan die US is dat ons alles in die stryd werp om soveel moontlik studente in staat te stel om die akademiese jaar suksesvol te voltooi.

Ons het peilings gedoen oor personeellede en studente se gereedheid vir aanlyn leer en onderrig. Om toegang moontlik te maak vir studente sonder die nodige tegnologie het ons 1 500 skootrekenaars aangeskaf wat beskikbaar gestel word aan diegene wat dit benodig.

Ons het ook toestemming gekry om dit by studente te laat aflewer ten tyde van die inperking. Die groot selfoonnetwerke het ingestem om studente gratis toegang tot ons aanlyn platform, SUNLearn, te gee.

En ons gaan ook 30 GB se data aan elke student verskaf vir die volgende maand, om mee te begin. Dit sal hersien word soos benodig.

Voorts het ons ons akademiese kalender vir die res van vanjaar aangepas. Vakansies gaan korter wees, klasse gaan tot later in die jaar aanhou, daar gaan geleenthede vir studente wees om verlore tyd in te haal wanneer kontakonderrig hervat word en daar gaan ook in Januarie ’n eksamengeleentheid wees.

Ek noem ’n laaste faktor wat tot ons voordeel strek en dit is die grondslag van akademiese uitnemendheid. Die US se programaanbod is van ’n hoë gehalte en word gereeld aan streng eksterne akkreditasie onderwerp.

Ons spog ook lank reeds met hoë studentedeursetsyfers. En ons het talentvolle en toegewyde personeel wat trots waak oor ons reputasie as ’n hoog aangeskrewe navorsingsintensiewe universiteit, wat nou in die kuberruimte funksioneer.

Potensiaal is nié ingeperk nie

Ek is mateloos beïndruk met hoe die US-gemeenskap tot dusver skouer aan die wiel sit.

Vanuit ’n navorsingsoogpunt is ons eintlik baie goed gerat om te kyk na die pandemie omdat ons heelwat ondervinding het met MIV/vigs en tuberkulose (TB).

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise, wat aan die US gebaseer is, is byvoorbeeld baie nou betrokke by die hantering van die koronavirussiekte in ons land danksy die kundigheid wat hulle opgebou het met navorsing oor onder meer MIV/vigs, TB en malaria.

Daar is ook baie ruimte vir navorsing oor die maatskaplike impak van Covid-19 – politieke kwessies, etiese vraagstukke, ensovoorts.

Ek dink ons gaan baie jare nog ’n goeie klomp navorsing en tesisse oor die gevolge van hierdie pandemie sien – veral toegepaste, relevante navorsing om ons deur die krisis te help.

Ek is opgewonde oor aanlyn onderrig en leer, want dit is ’n goeie geleentheid vir ons om die vliegtuig genaamd die toekoms te haal.

Die besef dat die bouwerk voortduur terwyl ons reeds in die lug is, laat ’n mens se maag wel ’n bietjie draai. Maar as jy by die venster uitkyk en sien waarheen ons op pad is, laat dit jou moed skep.

Ek besef ons bevind ons in uitsonderlike omstandighede, wat aanpassings vereis wat nie aldag maklik is nie. Ons het nog nooit so iets beleef nie, maar ons weet uit ervaring dat ons tot baie in staat is as ons saamwerk.

Ons is dalk ingeperk, maar ons potensiaal is beslis nié. Trouens, die huidige krisis het belangrike geleenthede vir ons almal ontsluit. Al wat ons moet doen, is om dit aan te gryp.

  • Prof. De Villiers is die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch en ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika, die liggaam wat die land se 26 openbare universiteite verteenwoordig.
Meer oor:  Wim De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.