Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die blues van Brackenfell

Brackenfell bly ’n voorstad op soek na sy eie Bruce Springsteen, skryf Desmond Painter.

Ouers en EFF-lede raak slaags buite die Hoërskool Brackenfell. Foto: Jaco Marais

In sy bekende liedjie “Helpless” sing Neil Young só oor die dorp waarin hy grootgeword het: There is a town in North Ontario / Dream, comfort, memory to spare / And in my mind I still need a place to go / All my changes were there.

My eie veranderinge, my grootwordjare, was in Brackenfell, destyds ’n stillerige, onmerkwaardige voorstedelike uitbreiding op die noord-oostelike rand van Kaapstad. Daar waar die stad uitrafel en die Boland se wynland begin. Té stedelik om ’n bekoorlike, landelike dorp soos Stellenbosch te wees; té landelik om die wilde hart van die stad te kon voel klop.

Soos baie tienerjariges het my verhouding met my tuisdorp ook gewissel tussen liefde en haat. My veranderinge, het ek dalk gevoel, was te groot en te fundamenteel vir ’n plek soos Brackenfell. Op 15 was ek ontroer toe ek Johannes Kerkorrel die eerste keer hoor sing het: “Ek het jare lank na ’n pad uit die dorp gesoek / Langs die spoor gestaan en gekyk hoe die treine ry.”

Ek kon Tafelberg groot en helder deur ons sitkamervenster sien, maar dit het nooit gevoel of ons deel was van die stad nie. Dit het eerder gevoel of ons vasgevang was in ’n klein dorp, onder die dwingelandy van die dominee en die skoolhoof, en Kaapstad ’n leeftyd ver.

Die verterende begeerte om jou dorp te verlaat is natuurlik een van die seminale emosies van rock ’n roll. En ek was oortuig dat indien Bruce Springsteen ’n Suid-Afrikaner was, hy in Brackenfell sou grootgeword het; en dat Brackenfell hoeka dringend behoefte aan ’n Springsteen gehad het. En siende dat ek ’n kitaar gehad het . . .

Nie ek of Pierre het Brackenfell se Springsteen geword nie, en dit bly ’n voorstad op soek na ’n digter – ’n funksionele, relatief rustige plek waar mense gemaklik woon, maar wat nie juis beskilder of besing word nie.

Ek en my vriend Pierre het dus nie net gewens ons kon Brackenfell se stof van ons voete skud nie, ons het die plek ook skaamteloos verromantiseer in ons liedjies en gedigte. Ek het “Brackenfell Hotel” geskryf, ’n genadiglik verlore bluesliedjie oor ’n verbeelde hotelkroeg waarin Tom Waits met vreugde ’n Bloody Mary of drie sou gedrink het.

Ons het ons verset teen ons afgesonderdheid, teen die doodsheid van voorstedelike strate op ’n Sondagmiddag. Ons het so dikwels moontlik met die trein stad toe gery om langspeelplate en boeke in Langstraat te gaan koop. En om asem te haal, te voel ons loop deur groot, oop deure die wêreld binne.

Nie ek of Pierre het Brackenfell se Springsteen geword nie, en dit bly ’n voorstad op soek na ’n digter – ’n funksionele, relatief rustige plek waar mense gemaklik woon, maar wat nie juis beskilder of besing word nie. ’n Plek wat vir jare eintlik buite die onstuimige geskiedenis van die stad en die land bestaan het.

Ek onthou nie dat daar ooit protesoptogte in Brackenfell was nie, selfs nie tydens die noodtoestande in die 1980’s nie. Een of twee bomdreigemente by die skool, ja, maar die kookpot van die politiek, die vurige gevegte vir die siel van Suid-Afrika, was altyd ’n klipgooi weg, in plekke soos Mitchells Plain, Belhar en Khayelitsha.

Brackenfell was veilig; daardie soort veiligheid wat jou as inwoner met dankbaarheid vervul, maar wat jou ook laat wonder wat die prys is wat daarvoor betaal word. ’n Bietjie soos ’n sekuriteitskompleks, maar een met onsigbare heinings en hekke. Suid-Afrika se magtige dreuning was altyd daar ánderkant.

Tot verlede week, toe die EFF uitgevind het van Brackenfell se bestaan en die skool en die gemeenskap skielik die middelpunt geword het van ’n reeks botsings tussen swart protes en wit verontwaardiging en aggressie; ’n verhoog waarop die drama van Suid-Afrika, van rassisme en miskenning, van liefdeloosheid en mislukte kommunikasie, ’n hoeveelste speelvak verkry het.

Nee, dit is nie ’n gemoedelike idille waar gesinswaardes gedy en rassisme nie meer bestaan nie.

Ek besoek Brackenfell nog dikwels. My ouers en ander familie woon steeds daar en ek en my dogtertjie maak ten minste een keer per week ’n draai. Ek is nie die enigste een wat deur die jare verander het nie. Soms, wanneer ek sien hoe geografiese bakens verdwyn en nuwe buurte en malls verrys waar daar gister nog plotte en kleinhoewes was, dink ek die plek het selfs meer verander as ek.

Die groot stukke oop grond rondom Brackenfell het die afgelope 20 jaar van die mees intense ontwikkeling in Kaapstad ondergaan. Behuising, meestal, en winkelsentrums. Wat 30 jaar gelede soos ’n dorp gevoel het, is ingesluk deur die stad, het deel geword van wat die beste in Engels urban sprawl genoem word.

Die woonhuise rondom my ouers se huis word toenemend gebruik as persele vir ondernemings; die strate waarin ons bal geskop en fietsgery het, word besige deurgangsroetes. Ry jy deur die nuwe woonbuurte, merk jy op hoe baie middelklas- bruin en swart gesinne daar woon. Die skole, hoor ek, is ook lankal nie meer oorwegend wit nie. Maklike toegang tot snelweë, tot ander dele van die stad of Stellenbosch, en die beskikbaarheid van skole maak dit waarskynlik ’n aantreklike voorstad vir jonger gesinne.

Dit beteken ? mens moet na Brackenfell (en die noordelike voorstede van Kaapstad) ’n bietjie dieper kyk as wat sommige kommentators bereid is om te doen. Nee, dit is nie ’n gemoedelike idille waar gesinswaardes gedy en rassisme nie meer bestaan nie. Meer as een keer het ek die afgelope week gehoor: “Ek ken die mense van Brackenfell, en hulle is nie rassisties nie.”

Die diversifisering van woonbuurte beteken nie daar is betekenisvolle integrasie nie.

Behalwe dat dit ’n belaglike veralgemening is, is dit boonop ook oneerlik.

Die diversifisering van woonbuurte beteken nie daar is betekenisvolle integrasie nie. Belangriker selfs, dit beteken nie instellings soos skole kry dit reg om diversiteit verbeeldingryk en met ? bewussyn van geregtigheid te bestuur nie.

Ek het aan die Hoërskool Brackenfell gematrikuleer toe daar nog nie één bruin of swart leerling was nie. Ek is voorgestel in ’n kerk wat hulself “Die Gemeente met Oop Deure” genoem het, maar wat geweier het dat inwonende huiswerkers eredienste bywoon. Dit is nie ’n leeftyd gelede nie, en al het baie verander, spook hierdie geskiedenis nog in voormalige wit woonbuurte soos Brackenfell. Om dit te ontken sal net lei tot verdere eskalasie en politieke uitbuiting van die soort konflik wat ons die afgelope twee weke gesien het.

Maar Brackenfell is ook nie ’n voorstedelike Orania, ’n agterlike plek wat as sondebok kan instaan vir wit voorstedelike rassisme in die algemeen nie.

Wat by die Hoërskool Brackenfell gebeur het, en waaroor bruin en swart leerlinge kla, gebeur daagliks by tallose ander skole in Kaapstad en Suid-Afrika, ook in buurte van waar daar beterweterig neergesien word op wat agter “die boereworsgordyn” gebeur.

Hopelik word Brackenfell meer as ’n plek wat ek indertyd wou verlaat. Hopelik word dit ’n plek waar iets gebeur wat ’n toekomstige digter of liedjieskrywer waardig is. 

  • Prof. Desmond Painter is verbonde aan die departement sielkunde van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Desmond Painter  |  Stemme  |  Aktueel  |  Brackenfell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.