Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die boelies van Pleinstraat

Kamer V227 op die tweede vloer van die Volksraadsgebou in die parlementêre kompleks het ’n pragtige uitsig op Tuynhuys. Tien dae gelede het dit ook ’n blik gegee op hoe ons demokrasie ondermyn kan word deur diegene wat belowe het om dit te beskerm, skryf Jan-Jan Joubert.

Onbedoelde ironie is darem maar een van die lekkerste dinge ter wêreld, is dit nie?

Neem nou byvoorbeeld verlede week se verklaring van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) dat die regering opgewonde is om Mediavryheidsdag saam met die pers te vier.

Mediavryheidsdag in Suid-Afrika herdenk jaarliks daardie goor dag 41 jaar gelede toe die apartheidsregering van adv. John Vorster verskeie mediaplatforms, insluitend die progressiewe koerant The World, verban het. Mediavryheidsdag is veronderstel om ’n viering te wees daarvan dat dit nooit weer sal gebeur nie – ’n viering van ons pryswaardige grondwetlike bestel.

Voeg daad by woord

Dis ’n mooi gedagte, maar dink ’n bietjie hieroor: In dieselfde week dat die land Mediavryheidsdag vier, duur die onnodige geheimhouding in en militarisering van ons land se demokratiese parlement voort op algaande meer drakoniese wyse.

Op Woensdagmiddag, 17 Oktober, kort ná twee-uur in vergaderkamer V227 van die Volksraadsgebou het dit ’n laagtepunt bereik tydens ’n vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor water en sanitasie.

Die komitee moes deur die nasionale vervolgingsgesag, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid voorgelig word oor die ondersoeke na beweerde korrupsie en wanbestuur in die departement van water en sanitasie – wat tegnies bankrot is – tydens die ministerskap van Nomvula Mokonyane.

Daar is baie belangstelling in die vordering met die ondersoek, veral om te sien of Mokonyane – ’n oudpremier van Gauteng en een van die ministers uit die Zuma-dampkring wat in die Ramaphosa-kabinet oorleef het as minister van kommunikasie, en gedoriewaar nog kabinetswoordvoerder ook – by die ondersoek betrek gaan word en aan die pen kan ry.

Gelukkig is ons parlement (mos) ’n people’s parliament, ’n volksparlement. Toegang word gewaarborg, behalwe in uitsonderlike gevalle. Die uitsonderlikheid van die gevalle word bepaal deur die tersaaklike portefeuljekomitee, maar daaroor later meer.

Op hierdie onverwags veelbewoë Woensdagmiddag is daar dus heelwat belangstelling in die sitting van die portefeuljekomitee, onder voorsitterskap van die ervare ANC-LP Lulu Johnson – ’n man met ’n aanhang wat deur sommiges beskou word as ’n moontlike toekomstige minister van landbou.

Die parlementêre omgewing is die saamtrek van die meeste kompeterende joernaliste vir verskillende nuusplatforms in die land, en sestien joernaliste het opgedaag vir hierdie vergadering.

Deel van die belangstelling is juis ’n nare gerug dat Johnson die vergadering geslote wil verklaar.

Die gerug het soos ’n veldbrand versprei en toe al die joernaliste so kwart voor twee by vergaderkamer V227 opdaag, beleef ons die jongste hoofstuk in die jammerlike verhaal van ons demokratiese volksparlement se huidige, ietwat onbeholpe en daarom redelik gevaarlike militarisering.

Gaan lees gerus die eerste vyfde van Jacques Pauw se The President’s Keepers, en vra jouself af – waarom mog die publiek nie geweet het van die PAN nie, hoeveel geld sou gespaar gewees het as die staande komitee oor intelligensie deursigtig was en les bes, waar is Arthur Fraser nou?

Swak gedrag en gesag

Net gou ietsie daaroor voor ons terugkeer na lokaal V227.

Sedert die onlangse selfdood van ’n senior parlementsamptenaar wat ’n vuurwapen in sy kantoor ingesmokkel het, is die parlementêre veiligheidsmaat­reëls veel strenger, veral soms. En soms dan weer nie.

Waar te veel van die polisielede wat ons parlement bewaak die bal laat val, sien hulle terselfdertyd hul taak as om gesag en kragdadigheid uit te oefen ter onderskraging van die eie ego – lukraak en soos die lus hul beetpak.

Wat hulle mis, is dat dit effektief is as hulle dit konsekwent en professioneel doen. Met ander woorde, as hulle nie rondstaan, rondbondel en praatjies maak, vir mekaar staan en skree, rolprente op skootrekenaars kyk, of hul vriende en kollegas anders as die publiek behandel, net om dan, as die nuk hulle beetpak of iemand hulle uitgetrap het, hulle skielik op te ruk en soos bot boelies tekere te gaan nie.

Miskien sal hulle dit eendag verstaan, maar vandag in kamer V227 is nie daardie dag van verstaan nie. Nee, want in ’n klugtige oorreaksie – wag hiervoor – is die parlement se withemp-uitsmyters ontplooi teen enige joernalis wat hom- of haarself dalk net fisies wil teensit teen die dreigende opdrag om die lokaal te verlaat sodat die feite van die publiek – wat die gelag betaal – versteek kan word.

So word die joernaliste toe uitgeboender, al moet die treurige withemde nogmaals hul geweldsbelustigheid beteuel.

Nou nie dat enige van die joernaliste teenwoordig veel sal beteken in ’n fisiese geveg nie, maar wanneer het dit al ooit hierdie teneerdrukkende en oorbetaalde toevoegings tot die parlementêre personeel teruggehou?

Die hoogtepunt van hul bestaan was mos toe hulle die 63-jarige EFF-LP mev. Reneilwe Mashabela se kakebeen gebreek het. Geweld teen vroue is vir hulle opwindend.

Hulle kan duidelik nie wag om ’n paar van hierdie joernaliste aan te rand nie.

Die muilband en die blinddoek

Maar eers voel Johnson hom geroepe om ’n preek af te steek. O, hy het al die wysheid waaroor hy beskik (geen kommentaar), aangewend en dit spyt hom vreeslik, maar die veiligheidsinstellings teenwoordig sal baie gemakliker voel om die LPs in die geheim in te lig oor die vordering met hul korrupsie-ondersoeke. Stroopsoet bevestig die sekerheidsinstellings dit. Geen wonder hulle al drie is in die toestand waarin hulle is nie.

Geen wonder nie, want so ’n geheime gesprek oor wie verdink maar nog nie aangekla is nie, baar net moeilikheid. Gaan kyk ’n bietjie wat het vyftien jaar gelede met Bulelani Ngcuka as nasionale direkteur van openbare vervolging gebeur toe hy dit oor ’n sekere Jacob Zuma probeer het. Indien die onwaarskynlike gebeur en hulle behoorlike vordering gemaak het (die noodwendige lekkasies sedertdien dui daarop dat dit nie so is nie), wat is die doel daarvan dat hulle die land se openbare verteenwoordigers inlig daaroor as die verteenwoordigers niemand daarvan mag vertel nie?

Dit is terloops nie ’n retoriese vraag nie, maar die meeste LPs (die DA uitgesluit – hulle het beswaar aangeteken teen hierdie dom en ondemokratiese optrede) is o, so opgepof omdat hulle nou met feite vertrou gaan word wat net hulle gaan weet, dat hulle skoon vergeet wat hul werk is, om nie eens te praat van enige vermoë tot denkende selfkritiek nie. So word die joernaliste toe uitgeboender, al moet die treurige withemde nogmaals hul geweldsbelustigheid beteuel.

Waarom maak dit saak?

Wat het hier gebeur? Waarom is dit belangrik en waarom moet enigeen omgee? Wel, dit sny na die kern van staatskaping en korrupsie, want waarmee ons hier sit is toesmeerdery op die hoogste vlak, deur politici wat nie vir hul taak opgewasse is nie.

Parlementêre komitees wat in die geheim vergader, is die antitese van ’n oop demokrasie en skoon regering, en elkeen van hierdie lae-oktaan LPs wat hieraan deel gehad het, is so erg soos die steler. Hulle is ook wetlik verkeerd. Die laaste keer dat ’n geslote komitee in die hof getoets is was in 2005 toe die portefeuljekomitee oor kommunikasie probeer het om die gekonkel in die SAUK vir ons weg te steek. Toe het die media hof toe gegaan, en die parlement het soos enige boelie die aftog geblaas.

Jy het die reg om te weet

Ek dink ons kort ’n behoorlike toetssaak hieroor. Hoe lyk dit, Freedom Under Law? Ons weet mos almal wat gebeur met geheime portefeuljekomiteevergaderings – aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid is daarmee heen.

Gaan lees gerus die eerste vyfde van Jacques Pauw se The President’s Keepers, en vra jouself af – waarom mog die publiek nie geweet het van die PAN nie, hoeveel geld sou gespaar gewees het as die staande komitee oor intelligensie deursigtig was en les bes, waar is Arthur Fraser nou?

Dit gaan hier om aanspreeklikheid en dienslewering. Al het die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, sedertdien verskoning gevra vir Johnson se gedrag, soos ook die gewoonlik voortreflike voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, wat werklik sterker moes optree, kom spyt altyd te laat.

  • Die beste plek om skuiling te vind gedurende donker tye is in die lig. Dis ons almal se verantwoordelikheid om te verseker dat die lig van verantwoordbaarheid nie uitgedoof word nie, want donkerwerk is konkelwerk.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Oos-Kaap Naweek  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.