SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Aktueel
Die boer met ’n plan
Danksy ’n skugter boer van die Vrystaat het Suid-Afrika nou ’n beter kans as ooit om die grond­kwessie op te los, skryf Piet Croucamp. 

Ons staan saam . . . Voor: Pitso Sekhoto en Japie Grobler, ondervoorsitter en voorsitter van die Landbousektoreenheidsforum (Asuf); Agter: Dr. Vuyo Mahlati, hoof van die vereniging van swart boere (Afasa), Dan Kriek, president van Agri SA, adj.pres. David Mabuza, Motsepe Matlala, president van die nasionale unie vir swart boere (Nafu), en Louis Meintjes, president van TLU SA. Foto: deaan vivier

Die feit dat die gesprek oor grondhervorming die laaste paar maande skielik vaart gekry het, behoort vir niemand ’n verrassing te wees nie.

Al wat nuut is, is miskien die aandrang op onteiening sonder vergoeding, maar soos pres. Cyril Ramaphosa onlangs tereg opgemerk het, was grond nog altyd ’n septiese sweer wat dreig om die verhouding tussen wit en swart te besmet.

Indien ons egter die geswets op wit grondeienaars in die sosiale media met erns bejeën; of Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge se diep en donker scenario’s oor die rooi gevaar sonder ’n knippie sout sluk; of AfriForum se opportunistiese ledewerwery as ’n politieke werklikheid aanvaar; of Donald Trump se dreigende willewragtag-twiets as potensiële sanksies verstaan, is Armageddon inderdaad ons voorland.

Byna 25 jaar lank het die regering grondhervorming as ’n politieke speelbal gebruik eerder as om daadwerklik en planmatig die ongeregtigheid van die verlede reg te stel. In die proses is boere en landbou in die algemeen geteister deur van die swakste menslike materiaal wat die ANC nog opgelewer het.

Die voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, behoort nie ’n padstal te bestuur nie. Tina Joemat-Pettersson, tot Mei 2014 minister van landbou, bosbou en visserye, was selfs vir die kleptokratiese Zuma-administrasie ’n skande.

Daar is goeie redes waarom haar opvolger, Senzeni Zokwana, nie Ramaphosa se touleier is as hy met Dan Kriek, president van Agri SA, vergader nie.

Soos daar ook goeie redes is waarom die huidige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, die funksie van ’n politieke noodwiel vervul wanneer die gesprekvoering oor onteiening aan die gang kom.

Hulle albei kan nie met enige ingewikkelde saak vertrou word nie.

In die landbou-geledere is leierskap ook maar yl gesaai en was daar tot onlangs ’n werklike moontlikheid dat grondhervorming sonder en ten spyte van die boere sou plaasvind.

Die land se boere het op hul beurt die afgelope 25 jaar kop in die grond voortgeboer asof die grondprobleem geïgnoreer kon word. Hulle het ook tegnologie ingevoer ten koste van arbeid, op mededingende skaal begin boer vir internasionale markte, voedselsekerheid in die proses diep gewortel, en as ’n bedryf met rasse skrede voortgestu – selfs midde-in die sistemiese verval in byna elke ander sektor van die ekonomie.

Om hulle as sondebokke vir al die land se probleme uit te kryt is dus ook nie regverdig nie. Hul ongebreidelde drif vir risiko’s loop en hul byna naatlose aanpasbaarheid by veranderende omstandighede het landbou se waardeketting tot by byna 20% van die ekonomie geneem.

Landbou is een van die werklike suksesverhale van hierdie land en ’n manifestasie van ’n konstruktiewe pioniersgees.

Die foutlyne kan egter nie weggewens word nie. Werkers het min baat gevind by die bloeitydperk.

In die geveg tussen ’n onbeholpe staat en die gedrewe boer, is plaaswerkers dikwels vervreem van hul verblyfreg.

Waar die boer eers ’n maatskaplike ingesteldheid gehad het jeens plaasarbeid, het plaaswerkers se situasie meer gekommodifiseer geraak; die boer het sin gevind daarin om sy bande met plaasarbeid streng volgens die reëlboek te bestuur.

Die salaris was dalk beter, maar die empatie was minder.

Middelklasboere se aandeel in die landbou-ekonomie is verklein deur die onvoorspelbaarheid van die natuur en die wet van Transvaal. Boere op sub-ekonomiese plase het uit die som verdwyn.

Plaasveiligheid was nie meer ’n gegewe nie; die heinings het opgegaan en die alarms se geloei was onheilspellend.

Die swart middelklas en die EFF span saam teen ’n “gemeenskaplike vyand” – en dit is wit boere wat in hul visiere is.

Op georganiseerde vlak is die basiese infrastruktuur wat landbou sou bemagtig het in hul onderhandelings met die staat nooit geskep nie. Georganiseerde landbou het nie die vermoë gehad om die noodsaaklikheid van ’n grondoudit met die regering te onderhandel nie.

Op naïewe wyse het hulle plek-plek hul eie grondoudits gedoen en in die proses geld en tyd gemors; ’n grondoudit wat net die erkenning van die landbougemeenskap het, sou nooit niks vir niemand beteken nie. Nkwinti was openlik neerhalend oor die syfers in hierdie oudits.

25 jaar lank het die regering boere geteister met die leuen dat 87% van die grond deur wit boere “beset” word en al wat hulle gehad het ter verdediging was ’n binnensmondse ontkenning; hulle het nie feite gehad nie, in elk geval nie feite wat ooit aanvaar sou word deur die regering of die swart politieke elite nie.

Georganiseerde landbou weet steeds nie hoeveel boere daar in Suid-Afrika is nie. Dit is eintlik skrikwekkend hoeveel feite oor landbou steeds niks meer is as ruwe skattings nie.

Toe Agri SA onlangs ’n verslag oor die stand van plaasgeweld uitgereik het, was dit ’n treurmare van statistiese onbeholpenheid. Nog ’n geldmors-oefening.

Toe die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) in 2012 gepubliseer is, wou boere om die dood nie inkoop by die sogenaamde Karaan-model nie; vandag sou daardie plan ’n agterdeur gewees het in die konteks van die vreesaanjaende vooruitsig van onteiening sonder vergoeding.

Ja, dis seker waar dat dit makliker is om ’n trop katte in gelid te kry as om die land se boere sover te kry om oor iets saam te stem, maar georganiseerde landbou kon ’n beter poging aangewend het as die voetslepery van die afgelope 25 jaar.

Nou, uiteindelik, het ons by die kruispad gekom en die noodwendige kan nie meer onder die mat gevee word nie. Die ANC het ’n politieke komplot teen werkloses en armlastiges geword. Ramaphosa is in ’n bloedstryd gewikkel om die ANC van homself te red. ’n Beduidende deel van die ANC se uitvoerende komitee werk by die ANC, maar hulle romantiseer oor die EFF. Die sluimerende sweer van immorele grondbesit is inderdaad die nalatenskap van ’n massiewe ongeregtigheid, maar dit word nou opgedis as ’n oplossing vir absolute armoede.

Die swart middelklas en die EFF span saam teen ’n “gemeenskaplike vyand” – en dit is wit boere wat in hul visiere is.

Ten einde laaste sou die ANC daarin slaag om Agri SA te verdeel. Omri van Zyl, uitvoerende hoof, vergader met een van die ANC se mees omstrede karakters, adj.pres. David Mabuza. TLU SA is nie sonder rede skepties nie; hulle sal liewer met die duiwel as met Mabuza om ’n tafel sit en hulle dink Van Zyl sit gans te naby aan Mabuza. Ek dink hulle is reg.

Daar moet nog baie water in die see loop, maar Ramaphosa sou uiteindelik in ander gesprekke na Kriek verwys as die tipe man met wie jy kan besigheid praat.

Kriek moes op sy beurt inderhaas vertrek vir ’n gesprek met Ramaphosa en – van alle mense – Nkosazana Dlamini-Zuma.

Dlamini-Zuma het intussen ’n Damaskus-ervaring gehad. Voorheen was sy ’n voorvegter in die stryd teen witmonopoliekapitaal, nou is sy bekeer tot Ramaphosa-gesant. Haar verlede ten spyt praat sy ten minste ’n taal wat Kriek beter verstaan as dié van Nkoana-Mashabane en Zokwana.

Maar, belangriker, Kriek kom uit ’n akademiese huishouding en hy het ’n sin vir die geskiedenis. Hy weet dat swart Suid-Afrikaners die afgelope eeu ’n ontsaglike prys betaal het op politieke en ekonomiese gebied.

Hy besef dat as daar nie ’n kompromis kom nie gaan iemand uit hierdie stryd oor grond wegstap as ’n wenner van niks en die ander as die verloorder van alles.

’n Dag of wat later doen Ramaphosa iets in die Nasionale Vergadering wat hy nog nooit bereid was om voorheen in die openbaar te doen nie.

Op ’n vraag oor grondbesit deur Julius Malema, neem hy onomwonde standpunt in teen nasionalisering en hy volg dit op met ’n relaas wat nie net redelik klink nie, maar ook ’n gewilligheid openbaar om ’n kompromis te vind.

Daar moet nog baie water in die see loop, maar Ramaphosa sou uiteindelik in ander gesprekke na Kriek verwys as die tipe man met wie jy kan besigheid praat.

’n Jaar gelede kon jy nie die private eienaarskap van grond vir swart boere en stedelinge in informele nedersettings aan die ANC verkoop met ’n skeepsvrag banknote nie. Vandag is Leon Louw van die Vryemarkstigting se kapitalistiese mantra oor titelaktes ANC-beleid. Dit is ’n massiewe ideologiese kopskuif wat niemand sou kon voorsien nie.

Die ANC is ernstig bekwaald, dalk selfs terminaal. Sonder Ramaphosa is dié party op pad na die politieke ashoop.

In die landbou-geledere is leierskap ook maar yl gesaai en was daar tot onlangs ’n werklike moontlikheid dat grondhervorming sonder en ten spyte van die boere sou plaasvind.

As ons egter hierdie stryd om grond afhandel tot voordeel van alle Suid-Afrikaners – en daar is ’n goeie kans dat ons kan – het ’n skugter boer uit die Vrystaat dalk net – vir eers – vir Julius Malema ’n das aangesit.

  • Dr. Piet Croucamp is ’n politieke wetenskaplike verbonde aan Noordwes-Universiteit.
Om op te som:
  • Byna 25 jaar lank het die regering grondhervorming as ’n politieke speelbal gebruik eerder as om die ongeregtigheid van die verlede reg te stel.
  • Boere het die afgelope 25 jaar kop in die grond voortgeboer asof die probleem geïgnoreer kon word.
  • Maar: Om boere as sondebokke vir al die land se probleme uit te kryt, is nie regverdig nie.
  • En: Landbou is een van Suid-Afrika se werklike suksesverhale en ’n manifestasie van ’n konstruktiewe pioniersgees.
  • TLU SA is nie sonder rede skepties nie; hulle sal liewer met die duiwel as met Mabuza om ’n tafel sit. Hulle dink Omri van Zyl sit gans te naby aan Mabuza. Ek dink hulle is reg.
  • Dan Kriek besef: As daar nie ’n kompromis kom nie gaan iemand uit hierdie stryd oor grond wegstap as ’n wenner van niks en die ander as die verloorder van alles. 

Meer oor:  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.