Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Boere-Nazi

Robey Leibbrandt was ’n fanatikus wat selfs met sy Duitse kamerade koppe gestamp het, skryf Albert Blake.

Robey Leibbrandt met die roeispane wat hy tydens ’n herbesoek in 1948 uitgegrawe het.

Die Duitsers se oogmerke met Operasie Weissdorn, waarin die Suid-Afrikaanse bokskampioen Robey Leibbrandt ’n leidende rol sou speel, was in ooreenstemming met hul buitelandse beleid.

Dr. Kurt Haller het ná die oorlog die Duitsers se doel met hierdie operasie soos volg aan die Suid-Afrikaanse ondersoekbeampte George Visser beskryf: “Die doel met Operasie Weissdorn was om ’n basis in Suid-Afrika te vestig en die hulp te kry van die Ossewabrandwag, die militante faksie van die Afrikaner-opposisie teen die oorlog, en met sy hulp skepe, hawegeriewe en oorlogsnywerhede te vernietig, asook om oproer in die Unie-Verdedigingsmag te stook.”

Dit het later aan die lig gekom dat Leibbrandt ook ’n sluipmoord op Jan Smuts, eerste minister, beplan het, maar dit was nie deel van die Duitsers se opdrag aan hom nie.

                                                                                       ***

Die opdrag om Leibbrandt, wat militêre opleiding in Duitsland ontvang het, na Suid-Afrika te neem, het geval op ’n bekwame seiljagvaarder en lid van die sogenaamde spookseiljagvaarders van die Abwehr, lt. Christian Nissen.

“So lank hy in die hel en nie aan boord is nie.”

Nissen het ingewillig en hy is beveel om in groot geheimhouding ’n geskikte seiljag te vind en gereed te maak vir die lang seevaart. Hy het van ’n seiljag met die naam Kyloe geweet. Dit het hom tydens die internasionale Fastnet-wedvaart in 1938 besonder beïndruk en hy het gesê dit kon “die duiwel na die Suidpool jaag”.

                                                                              ***

Teen tienuur die oggend van 2 April 1941 het die Kyloe die Paimpol-hawe, sowat 400 km wes van Parys, verlaat.

Tot Nissen en die ander bemanningslede se verligting het Leibbrandt (wat homself uit die staanspoor ongewild gemaak het) ná ’n paar dae erg seesiek geraak en hom na sy kajuit onttrek waar hy tien dae lank buite aksie en uit almal se pad was.

In die beknopte toestande op die Kyloe is menseverhoudinge tot die uiterste beproef. Dit verg reeds ’n spesiale persoon om in sulke omstandighede aanpasbaar en bereid tot samewerking te wees, en Leibbrandt, op land al ’n moeilike mens, se persoonlikheidstipe het niks goeds voorspel vir die lang seereis nie.

Leibbrandt gee die Nazi-saluut, waarskynlik in sy skuilplek in die Soutpansberg.

Nadat hy van sy seesiekte herstel het, was hy weer sy ou self en het hy gou met Nissen begin koppe stamp. Volgens Nissen het die veeleisende Leibbrandt die bemanning uitgeput. Dit kan wees dat Nissen Leibbrandt verkeerd gehanteer het deur hom soms onnodig te konfronteer of te sterk op gesagstrukture aangedring het, maar hy het later aangevoer dat Leibbrandt by tye soos ’n waansinnige opgetree het en hy het hom as ’n “dicksch-diger” (dwars en obstinaat) beskryf.

                                                                                            ***

Nissen was laat die middag van 8 Junie op die dek toe die reuk van land hom tref – daardie kenmerkende droë aroma van Afrika waarvan matrose praat nadat hulle lank op see was. Hoe nader hulle aan die kus gekom het, hoe versigtiger en stadiger het Nissen die Kyloe laat seil. Hy was maar alte bewus van die gevare van die rotsagtige kuslyn van Namakwaland, want hy het die suidpunt van Afrika in 1913 besoek. Dieptesinkers is in die water gelaat om te verhoed dat hulle strand.

Die aand van 14 Junie kon lt. Nissen ’n kort wyle deur ’n misbank land sien. Leibbrandt, weer platgetrek deur seesiekte, is na die dek geroep. Hy het te kenne gegee dat hy aan land wou gaan wanneer hulle naby genoeg was en het weer gaan lê. Teen eenuur is Leibbrandt weer geroep. Hierdie keer kon hy in die maanskyn ’n swart streep in die verte sien en ook die land ruik.

Hy was in ekstase en het spontaan sy hakke geklap, die Nazi-saluut gegee en uitgeroep: “Heil my dierbare vaderland! Heil Suid-Afrika!”

Robey Leibbrandt op die Kyloe tydens die epiese vaart na Suid-Afrika.

Nissen het hom gewaarsku dat dit malligheid is om op ’n mistige nag na die gevaarlike kus te roei. Die branders sou hom teen die rotse verpletter. Die rubberbootjie was maar ’n raps meer as ’n meter en ’n half lank en die helfte so breed. Nissen het voorgestel dat hulle ’n beter tyd en plek kies om hom aan land te sit.

Die adrenalien moes egter deur Leibbrandt se are gejaag het. Hy wou niks van Nissen se voorstel weet nie en het aangedring om aan land te gaan. Weer het harde woorde geval en Leibbrandt was volgens sy eie weergawe erg beledigend teenoor Nissen.

Daar was geen keer meer aan hom nie. Hy het sonder omhaal sy liggaam vol Vaseline gesmeer as beskutting teen die koue Benguela-seestroom. Hy was slegs in ’n kortbroekie, ’n onderhemp en seilskoene geklee. Hy het sy Walther-pistool om sy lyf vasgegord en ’n mes in sy sak gesit. ’n Tou wat hom met die rubberbootjie verbind het, is om sy lyf vasgemaak en al sy voorraad, waaronder ’n radiosender in ’n swaar tas, is in die bootjie gelaai.

Hy het gedink hy is ’n diamantsmokkelaar.

Nadat hy elke bemanningslid ’n handdruk gegee het, is hy en die bootjie in die water gelaat. Hy het almal “Sieg Heil! Hoog die Vierkleur!” toegeroep en begin roei. Sy eensame figuur het gou in die mis verdwyn.

Leibbrandt was sowat ses kilometer van die land af. Dit sou feitlik bomenslike inspanning verg om die strand ongeskonde te bereik.

Op die dek van die Kyloe kon die bemanningslede nie hul vreugde beteuel toe hulle besef hulle is van Leibbrandt ontslae nie en het met dié woorde ’n heildronk op sy vertrek ingestel: “So lank hy in die hel en nie aan boord is nie.”

                                                                                         ***

Leibbrandt het uiteindelik aan land gekom in Koringkorrelbaai, sowat 24 km wes van Garies, een van die onherbergsaamste dele van Suid-Afrika.

Robey Leibbrandt, tweede van links, saam met Duitse kamerade in Berlyn.

Leibbrandt wou geen bewyse van sy landing agterlaat nie en het besluit om die beskadigde rubberbootjie in stukke te sny en saam met die roeispane en die tas se rubberomhulsel agter die eerste duin in ’n diep gat te begrawe.

Hy het sy bagasie van meer as 80 kg bymekaar gemaak en moeisaam oor die duine begin strompel. Hy het die radiosender en sy tas se handvatsels met ’n handdoek aan mekaar vasgemaak en dit oor sy skouer gedra sodat die tas voor teen sy bors en die radiosender agter op sy rug was.

Nadat hy ’n ruk gestap het, het Leibbrandt uit vrees dat ’n vliegtuig van die kuswag hom sou raaksien onder ’n bos gekruip en daar gelê totdat dit donker was. Hy het dwarsdeur die nag gestap. In ’n stadium het dit mistig geword en kon hy nie meer sy rigting met die hulp van die sterre bepaal nie. Nadat die son opgekom het, het hy in die sand op vars mensespore afgekom. Groot was sy skok toe hy besef dit is sy eie spore – hy het in sirkels gestap en was nie ver van waar hy sy tog begin het nie.

                                                                               ***

Hy was verdwaal, honger, dors en ylend. Nadat hy gerus het, het hy weer begin stap, met ’n klipplaat in die verte as mikpunt. Die handvatsel van die metaalomhulsel waarin die radiosender verpak was, het uitgeskeur en hy het die radiosender agter hom aangesleep.

By die klipplaat het hy met sy hande ’n gat vir die radiosender gegrawe om dit half daarin weg te steek.

Gedurende die nag het hy van koue en nattigheid wakker geskrik. Dit het liggies begin reën. Hy kon nou water opslurp wat in holtetjies op die klipplaat opgedam het. Later was daar selfs genoeg water om sy stoppelbaard te skeer.

Die volgende dag het hy in die motreën aangesukkel. Laat die middag het hy agtergekom dat sy tas van karton van die nattigheid oopgeskeur het. Hy het ook besef dat die sokkie met die Amerikaanse dollars, ’n vulpen en ’n tandeborsel uitgeval het. Leibbrandt moes toe op sy spore terugloop en het gelukkig die sokkie met die geld gekry waar dit aan ’n bossie gehang het.

Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit ’n nuwe biografie van Leibbrandt deur Albert Blake. Dit word uitgegee deur Jonathan Ball.
Nadat hy ’n entjie verder gestap het, het hy die geblêr van skape gehoor. Hy het begin skree en ’n bruin skaapwagter, Hendrik Rietjies, het te voorskyn gekom.

Leibbrandt moes vir hom vreesaanjaend gelyk het met sy nat hare wat plat oor sy voorkop hang en sy vreemde tandeborselsnorretjie waarmee hy sy held Hitler nagedoen het.

Nadat Leibbrandt hom gepaai en ’n paar stukkies druiwesuiker, ’n langbroek en ’n paar bruin skoene gegee het, het Rietjies die rigting na sy werkgewer se opstal ’n paar kilometer daarvandaan aangedui.

Dit was amper agtuur toe hy in die verte ’n liggie van ’n opstal opmerk. Nadat hy ’n paar keer aan die voordeur geklop het, het die forse Joos Engelbrecht (wat onder die Namakwalanders as Joos Koelenberg bekend was) die deur oopgemaak en Leibbrandt onder die lig van ’n lantern aangegluur.

Leibbrandt het homself as Jan Smit voorgestel en ’n storie opgedis dat hy een van twee studente van die Universiteit van Pretoria was wat met ’n motorfiets deur die gebied op reis was. Nadat die motorfiets begin probleme gee het, het sy vriend daarmee aangesukkel, terwyl hy besluit het om eerder hulp te gaan soek.

Hoewel Engelbrecht nie die storie gesluk het nie, is Leibbrandt met opregte Namakwalandse gasvryheid ontvang. Sy voete was vol bloedblase en hy is ’n skottel warm soutwater gegee om hulle te lawe. Hy is daarna genooi om vir aandete aan te sit en is slaapplek gegee.

Die volgende dag het sy buurman Hendrik Auret kom navraag doen oor die vreemdeling wat so uit die niet sy verskyning gemaak het. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy dink Leibbrandt is ’n diamantsmokkelaar nie en het by sy vertrek aangedui dat hy Leibbrandt se teenwoordigheid op Garies gaan aanmeld. Engelbrecht het teenoor hom onderneem om Leibbrandt se spore na te loop om vas te stel waarvandaan hy kom.

Leibbrandt het besef dat die motreën nie sy spore sou kon uitgewis het nie en dat dit Engelbrecht na die plek sou lei waar hy geland en waar hy die radiosender begrawe het. Hy het besluit om Engelbrecht in sy vertroue te neem en hom alles te vertel behalwe dat hy met ’n seiljag na Suid-Afrika gebring is.

Dit het die gewenste uitwerking gehad, want Engelbrecht was gekant teen die oorlog en was nou bereid om Leibbrandt te help. Engelbrecht het op sy eie te perd die spoor gevolg tot waar die radiosender begrawe was. Laat die aand het hy met die radiosender teruggekeer en dit aan ’n verheugde Leibbrandt oorhandig. Leibbrandt het kort daarna alleen uit die huis gesluip en die sender in die donker op ’n plek begrawe waar hy dit later weer sou kon vind.

Die volgende dag het Engelbrecht Leibbrandt met ’n perdewa na Carl Meiring, die skoolhoof op Wallekraal, geneem.

Leibbrandt was nou tussen goedgesindes.

Meiring het gereël dat twee broers Leibbrandt die volgende dag teen betaling met hul motor na Kaapstad neem en by ’n losieshuis aflaai. Hulle het eers laat die aand in Kaapstad aangekom nadat hulle vroeër in ’n drif vasgeval het.

Leibbrandt het dadelik werk daarvan gemaak om met die leier van die Ossewabrandwag in Kaapland, asst.kmdt.genl. Sambok Smith, in verbinding te tree. Dit kon hy deur ’n ou vriendin van Graaff-Reinet, Annekie Grobbelaar, reël.

Wat ook al sy verwagtinge vir die toekoms was, kon Leibbrandt in daardie stadium nie geweet het watter groot dramas nog vir hom voorgelê het nie.

Meer oor:  Boek  |  Biografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.