Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Botha in Silicon Valley

Roelof Botha is voor die ouderdom van 50 ’n volwaardige koning in die globale sakewêreld, skryf Ebbe Domisse.

Roeloef Botha en Elon Musk. Foto: Sequia Capital

Roelof Botha is die seun van die gelyknamige ekonoom dr. Roelof Botha en kleinseun van Suid-Afrika se langs dienende minister van buitelandse sake, Pik Botha.

Die jong Botha met die familiename Roelof Frederik is in 1973 in Pretoria gebore. Sy ouers is later op vriendskaplike voet geskei en het weer getrou en nog kinders gehad.

Hy was ’n besonder skrander leerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en was in sy matriekjaar in 1990 eerste op die Kaaplandse merietelys, met onderskeidings in al ses sy vakke.

Botha het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer en as student het hy by sy oupa, toe nog ’n kabinetslid, by sy ministeriële ampswoning ingewoon. Op kampus het hy eenkeer gehoor dat iemand sy akademiese welslae aan die invloed van sy oupa Pik toeskryf.

Dit het hom verder gemotiveer om te wys dat hy op sy eie voete kan staan.

Die opbrengste moet gaan vir wat ons as groot en goeie sake beskou.

Hy het in 1996 ’n BSc in aktuariële wetenskap, ekonomie en statistiek verwerf, met die hoogste gemiddelde slaagsyfer in die geskiedenis van die sakeskool. Agttien maande daarna het hy die jongste aktuaris in die geskiedenis van Suid-Afrika geword. Nadat hy ’n ruk as sakeanalis by McKinsey & Company in Johannesburg gewerk het, het hy in 1998 na Kalifornië vertrek om aan die Stanford-Universiteit te studeer.

Botha het die ambisie gehad om in die buiteland te gaan studeer aangesien hy altyd gewonder het of hy op die wêreldtoneel kan meeding.

In die middeljare negentig toe die internet begin ontplof het, het hy ’n gevoel gehad dat iets interessants in Silicon Valley aan die gebeur is. Hy het ’n begeerte gehad om daar uit te kom, en hy was gelukkig om deur Stanford aanvaar te word, die soort geluk wat hy meen ’n groot rol in sy loopbaan gespeel het.

By Stanford, een van Amerika se mees gesiene universiteite, het hy sy MBA verwerf, weer eens as die topstudent in die sakeskool.

                                                                                        ***   

Ná Stanford is hy deur die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr Elon Musk gewerf om vir sy X.com, wat ’n aanlyn betaalstelsel ontwikkel het, te kom werk. In dieselfde gebou in Palo Alto het ’n mededingende maatskappy genaamd Confinity onder leiding van Max Levchin en Peter Thiel hul eie betaalstelsel genaamd PayPal ontwikkel. Die mededingers het miljoene dollars aan bemarking en promosies bestee terwyl nog miljoene dollars weens bedrog verlore gegaan het deurdat krakers die geleentheid vir grootskaalse bedrieglike transaksies uitgebuit het.

Roelof Botha (regs) saam met sy oupa Pik en sy pa, Roelof. Foto: Lisa Hnatowicz

Oplaas het die twee groepe in 1999 besluit om saam te smelt voordat hulle mekaar uitroei.

                                                                                        ***

Botha het hom egter midde-in ’n paleisrevolusie bevind. Die twee groepe se verskillende kulture het nie gemaklik verenig nie. Confinity het die besitreg van die naam PayPal gehad, maar was finansieel nie so sterk soos X.com nie. Musk, buitengewoon kundig met enkodering en ’n harde werker wat soms nagte deur geswoeg het, het waagkapitaalondersteuning ontvang nadat die befaamde Michael Moritz van Sequoia Capital besluit het om hom te steun. Musk het egter die handelsmerk van X.com probeer bevorder terwyl die meeste ander medewerkers PayPal verkies het. Gevegte het ook oor die gebruik van die beste tegnologie ontstaan, sodanig dat Thiel twee maande ná die samesmelting padgegee het.

                                                                                        ***

Teenstand teen Musk se bestuurstyl het só toegeneem dat ’n magsgreep uitgevoer is terwyl hy op wittebrood was. ’n Klein groepie werknemers van X.com het in ’n nagtelike samespanning besluit om die direksie te oorreed om Musk uit te skuif deur Peter Thiel terug te bring. Toe Musk na Palo Alto terugkeer, is hy deur ’n voldonge feit gekonfronteer: Hy is vervang as uitvoerende hoof en in Junie 2001 het Thiel X.com tot PayPal herdoop.

Roelof en sy vrou, Huifen Chan, wat hy by Stanford ontmoet het.

Botha is in September 2001 op 28-jarige ouderdom as die nuwe groep se hoof- finansiële beampte aangestel. Hy meen dat Musk foute gemaak en daaruit geleer het, maar tog kon hy nié as hoofbestuurder bly nie. “Ek dink nie PayPal sou so suksesvol gewees het nie, want Elon moes self nog goed leer as ’n bestuurder.

“Die ding wat my egter verskriklik beïndruk het, is nadat Peter die uitvoerende hoof geword het, het Elon dit só goed hanteer. Hy was so kalm, hy het die nuwe bestuurspan ten volle ondersteun. Jy weet, gewoonlik sien ek mense in so ’n situasie wat geniepsig word en hulle verwyt die besluit en hulle word destruktief . . . hy was so positief. Hy was ’n prins.”

Musk het aanhou belê in die maatskappy en hy het die grootste aandeelhouer in PayPal geword.

Op 29-jarige ouderdom, midde-in die inploffing van die dotcom-borrel teen die laat jare negentig, was Botha aan die hoof van die geldsake van ’n maatskappy met ’n waarde van ’n miljard dollar. “Ek dink nie ek was eintlik gereed daarvoor nie en ek moes hard werk om my kans te verdien, maar mense was bereid om ’n kans op my en my toekoms te waag.”

                                                                                  ***

Botha meen die kombinasie van sy agtergrond as aktuaris – wat hom geleer het om komplekse probleme op te los – en sy MBA, het die deurslag gegee in die welslae wat hy op jeugdige ouderdom behaal het; veral om ’n sakemodel te bou waardeur PayPal ’n maklike en veilige betaalstelsel oor die internet geword het.

Hy erken dat ’n mens maklik geïntimideer voel as jy uit ’n klein land soos Suid-Afrika kom. “In Amerika is daar ’n klomp mense wat na een van die tophoërskole in die wêreld gegaan het en hulle was by een van die topuniversiteite en daar is altyd hierdie vraagteken wat in jou agterkop hang: Kan ek kompeteer met hierdie mense? Maar immigrante het baie om te bewys, en daar is natuurlik die feit dat die immigrante baie dinge te bowe moes kom net om in die eerste plek hier te wees. Hoeveel van die Suid-Afrikaners wat aansoek doen, kom in by Stanford? Dis ’n klein persentasie; so, die mense wat hier kom, is op sigself reeds ’n klein fraksie van die mense van die land waarvandaan hulle kom.

“En, dan, omdat jy reeds nie hierdie netwerk het nie, moet jy hard werk. Dis nie net beskore dat jy suksesvol gaan wees nie, dis nie deur jou familiekonneksies of vriende dat jy ’n werkgeleentheid gaan kry of so iets nie; jy moet jou moue oprol en begin werk.”

                                                                                  ***

Nadat PayPal in 2002 deur die bekende internet-platform vir veilings eBay oorgeneem is, was Botha een van die lede van die sogenaamde “PayPal Mafia” wat dollarmiljoenêrs geword het.

Botha het tydens die oorname ’n aantreklike aanbod gekry om by PayPal aan te bly, maar Michael Moritz het hom geskakel om te vra of hy van begin 2003 by Sequoia wil kom werk.

Al het Botha se agtergrond nie gestrook met die rol waarvoor hulle iemand gesoek het nie, het Moritz in PayPal se raad gedien. Hy was dus bewus daarvan dat Botha PayPal se model uitgebou het en het ingesit in die raadsvergadering waar Botha PayPal kort voor die notering aan die raad kom voorlê het.

Die is ’n verkorte, geredigeerde uittreksel uit Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate deur Ebbe Dommisse. Dit word uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers.

Sequoia Capital is ’n reus onder die waagkapitaalondernemings in Amerika. Dit is in 1972 gestig deur Don Valentine – die man met ’n instink vir aweregse entrepreneurs wat Steve Jobs van Apple in 1978 finansieel ondersteun het, selfs al het hy gedink die stigter van Apple ruik snaaks en “lyk soos Ho Chi Minh”. Valentine het die beheer oor Sequoia in 1999 aan Moritz (die latere sir Michael) en Doug Leone, ’n Italiaanse immigrant, oorgedra.

Die maatskappy spesialiseer daarin om die potensiaal van nuwe maatskappye te identifiseer, asook met die aanvanklike finansiering, stigting en verdere begeleiding met hul ontwikkeling en groei. Sequoia stel dit so: “We help the daring build legendary companies, from idea to IPO and beyond.”

Sequoia het al in meer as 250 maatskappye belê, waaronder Apple, Google, Oracle, YouTube, Instagram, Yahoo!, Airbnb, PayPal, Stripe, Dropbox, FireEye, Square en WhatsApp. In 2017 was die gesamentlike markwaarde van hierdie maatskappye sowat $1,5 duisend miljard.

Teen 2020 was daar sewe tegnologiemaatskappye wat onder die waardevolste tien openbare maatskappye op die planeet gereken is: vyf uit Amerika, Microsoft, Apple, Amazon, Alphabet (met Google) en Facebook, en twee uit China – Alibaba en Tencent. In Augustus 2018 het Apple die eerste maatskappy ter wêreld geword waarvan die markkapitalisasie $1 duisend miljard verbygesteek het.

Botha is in Februarie 2017 as een van Sequoia se drie bestuursvennote (stewards) aangestel.

“Op hierdie raad is daar drie mense wat bestuursvennote is. Hulle het meer verantwoordelikhede vir ons firma wêreldwyd, en daar is ’n senior bestuursvennoot, Doug Leone, wat al 30 jaar by Sequoia werk; Neil Shen, wat ons China-besigheid bestuur; en dan ek, wat meer verantwoordelikheid vir ons Amerikaanse besigheid aanvaar het.

“Ons is ’n vennootskap; so, in ’n daaglikse beleggingsbesluit in ons waagkapitaalbesigheid is ek maar net een van ses vennote. Ek het ’n leierskapsverantwoordelikheid in daardie besigheid. Ek neem meer op my skouers in terme van: Het ons die regte span, kan ons ander mense oorreed om by ons span aan te sluit, is daar sekere mense wat ek dink die span moet verlaat?

“Maar as ons ’n besluit oor ’n belegging neem, is ek een uit ses stemme vir daardie beleggingsbesluit. Dis ’n baie vreemde konsep, jy weet, my mag is sag. Dis soort van jy moet bestuur deur invloed, nie deur mag nie,” sê Botha.

Die drietal bestuursvennote verskyn in 2018 almal op die Midas List, Forbes se lys van die wêreld se beste waagkapitaalbeleggers. Op 44-jarige leeftyd was Botha in daardie stadium nommer 14 op die lys.

Sy vernaamste transaksie is toe aangegee as Square, ’n betalingsdiens met meer as twee miljoen kleinsake in Amerika as kliënte, maar hyself beskou die vroeëre een met YouTube as sy suksesvolste.

                                                                                         ***

Die manier waarop Sequoia werk, is om ter aanvang ’n fonds vir ’n waag­kapitaalbesigheid te begin. Die geld kom grotendeels van wat hulle “beperkte vennote” noem. Die algemene vennote is die mense wat die besigheid bestuur terwyl die beperkte vennote die beleggers is. Hierdie beleggers is grotendeels stigtings (foundations), skenkings (endowments – veral uit private universiteite) en maatskappye sonder winsbejag (nonprofits).

“Iets soos die Wellcome Trust, of die Howard Hughes Medical Institute, belê in ons en gebruik die opbrengste om basiese mediese navorsing te finansier. Of ons het ’n belegger soos ’n stigting wat sê maar help om malarianette te versprei, of wat belê in gelykheid en geregtigheid, en sulke tipe goed. Die Ford Foundation is een van ons langdurige beleggers en hulle belê verskriklik baie in die ontwikkelende wêreld.

“So, ons is kapitaliste, maar wat ons kán doen, is om te besluit wie in ons belê. Ons wil hê dat die opbrengste wat ons lewer, moet gaan vir wat ons as groot en goeie sake beskou, en ons is nie gemotiveerd om te werk om ’n klomp ryk mense nóg ryker te maak nie. As jy vir my sê ek moet môre by Sequoia werk om een of ander Russiese oligarg se geld te belê sodat hy nóg ryker kan word, dan gaan ek bedank.”

‘Jy moet bestuur deur invloed.’

Sequoia kry ’n persentasie van die winste. Wanneer ’n fonds van byvoorbeeld $400 miljoen tot $2 miljard aangroei, kry Se­quoia ’n persentasie van die $1,6 miljard se winste. Daarbenewens kan die firma se vennote ook byvoorbeeld $40 miljoen van hul eie kapitaal belê naas die beperkte vennote, die primêre beleggers.

“My vergoeding kom van daardie winste, en deel van my vergoeding kom omdat ek my eie kapitaal in hierdie maatskappye kan belê.

“Wanneer die maatskappy verkoop of genoteer word, en ons besit dan ’n sekere hoeveelheid aandele danksy ons vorige beleggings, het ons ’n geleentheid om óf kontant te kry óf ons kry aandele in die maatskappy,” sê Botha. Voorbeelde hiervan is Google wat YouTube vir $1,65 miljard gekoop het terwyl WhatsApp in die grootste transaksie in sy soort vir die enorme bedrag van $19 miljard aan Facebook verkoop is.

Behalwe sy verpligtinge in Sequoia Capital dien Botha as deel van die firma se begeleidingsaksie in verwante maatskappye in nog ’n dosyn direksies.

Sequoia het nie in enige van Musk se projekte belê nie. Botha erken geredelik dit was ’n fout. “Ek bedoel, SpaceX is nou $15 miljard werd; Tesla is nou ’n genoteerde maatskappy; so, dis nou te laat vir ons . . . Ons kry nie al die beleggings reg nie; dis deel van wat ’n mens nederig hou in hierdie besigheid.”

Nog een was Twitter. Botha aanvaar self verantwoordelikheid daarvoor, dus het hy al baie oor die fout nagedink.

                                                                                ***

Botha se vrou, Huifen Chan, wat hy by Stanford ontmoet het, kom van Singapoer. Sy praat Chinees en haar tweede taal, soos syne, is Engels; dus is dit moeilik vir hul kinders om Afrikaans te leer.

Die twee, Saskia en Bosman, ken wel ’n paar woorde, waarvan “stoutgat” seker die bekendste is, vertel hy laggend. Sy seun is mal oor rugby – soos sy pa.

Botha se nostalgie word gedeel deur baie ander Suid-Afrikaners in die buiteland wat deel uitmaak van die breinkwyn wat ná die Mandelabewind onder opeenvolgende ANC-regerings toegeneem het. Hy het steeds baie sterk bande met Suid-Afrika, wat hy taamlik gereeld besoek. Maar in die omstandighede is hy nie van plan om na sy geboorteland terug te keer nie.

Meer oor:  Roelof Botha  |  Pik Botha  |  Ebbe Dommisse  |  Paypal  |  Sakeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.