Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dié Christene glo God het Trump gekies

’n Christelike beweging in die VSA, wat glo dat pres. Donald Trump deur God gekies is, is besig om die godsdiens- én politieke landskap in dié land te verander, skryf Brad Christerson en Richard Flory.

Rick Perry, Amerika se minister van energie, het onlangs gesê Donald Trump is deur God gekies om president te wees. Foto: Getty Images

In ’n onlangse onderhoud met Fox News het Rick Perry, Amerikaanse minister van energie, gesê dat Trump deur God gekies is om president te wees.

Hy het gesê God het deur die geskiedenis “onvolmaakte mense” soos koning Dawid of Salomo gekies om hul mense te lei.

Perry is nie al een met dié siening nie. ’n Groot aantal evangelistiese Christene in die VSA glo dat God Trump gekies het om sy koninkryk op aarde te bevorder. Verskeie godsdienstige leiers met ’n hoë profiel het soortgelyke stellings gemaak en het Trump al dikwels vergelyk met koning Cirus wat deur God gevra is om die volk van Israel uit ballingskap in Babilonië te red.

Baie van hierdie Christene is deel van ’n beweging wat ons in ons boek van 2017 die “Independent Network Charismatic” of “INC Christianity” noem.

INC Christianity is besig is om die godsdienslandskap – en ook die nasie se politiek – betekenisvol te verander.

Leiers soos Perry word met die beweging verbind. Agt jaar gelede – in Augustus 2011 – het meer as 30 000 mense Perry, toe ’n presidentskandidaat en goewerneur van Texas,  toegejuig toe hy in Houston in die Reliant-stadion op ’n byeenkoms, wat as “Die Reaksie: ’n Oproep tot Gebed vir ’n Nasie in Krisis” bekend was, op die verhoog gestap het.

Perry het uit die Bybel aangehaal en oor die noodsaak van verlossing deur Jesus gepreek. Baie van die leiers wat dié geleentheid georganiseer het, is dieselfde leiers wat daarop aanspraak maak dat Trump deur God gekies is om sy koninkryk te bevorder.

Ons standpunt is dat INC Christianity besig is om die godsdienslandskap – en ook die nasie se politiek – in die VSA op ’n betekenisvolle manier te verander.

Ons bevindings oor INC

Aanbidders in die Reliant-stadion in Houston op die byeenkoms wat as “Die Reaksie: ’n Oproep tot Gebed vir ’n Nasie in Krisis” bekend gestaan het. Foto: Getty Images

INC Christianity word gelei deur ’n netwerk van gewilde onafhanklike godsdiens-entrepreneurs na wie hul volgelinge dikwels as “apostels” verwys. Hulle het noue bande met sommige konserwatiewe politici soos Sarah Palin, Newt Gingrich, Bobby Jindal, Perry en meer onlangs Trump.

Charismatiese Christene benadruk bonatuurlike wonderwerke en goddelike ingrypings, maar INC Christianity verskil van ander charismatiese Christene – en ander Christelike denominasies in die algemeen – op die volgende maniere:

Dit fokus nie primêr op die bou van gemeentes nie, maar eerder op die verspreiding van gelowe en praktyke deur die media, konferensies en instellings wat predikers oplei.

Dit gaan nie soseer oor sendingwerk onder ongelowiges nie as wat dit gaan oor die transformasie van die samelewing deur Christene in poste van mag in alle sektore van die samelewing te plaas.

Dit is georganiseer as ’n netwerk van onafhanklike leiers eerder as amptelik georganiseerde denominasies.

Die soeke na volgelinge

’n Man bid op die byeenkoms in 2011 in Houtson wat as “Die Reaksie: ’n Oproep tot Gebed vir ’n Nasie in Krisis” bekend gestaan het. Foto: Getty Images

INC Christianity is die Christelike groep in Amerika, en moontlik in die wêreld, wat die vinnigste groei.

Oor die 40 jaar van 1970 tot 2010 het die aantal mense wat gereeld dienste in Protestantse kerke bywoon, gedaal met ’n gemiddelde van 0,05% per jaar terwyl onafhanklike neo-charismatiese gemeentes, die kategorie wat INC-groepe insluit, met ’n gemiddelde van 3,24% per jaar gegroei het.

Die invloed daarvan is egter baie groter as wat aan kerkbywoning gemeet kan word. Dit is omdat INC Christianity hom nie in die eerste plek juis bemoei met die bou van gemeentes nie, maar eerder met die verspreiding van sy gelowe en praktyke.

Sean Feucht, een van Bethel se gewilde musikante en erediensleiers, is nou ’n kandidaat om tot die Amerikaanse kongres verkies te word.

Die invloed van INC Christianity kan gesien word in die miljoene bladlese op baie van sy webgebaseerde media-webwerwe, die groot opkoms in stadion-byeenkomste en die miljoene dollar wat uit mediaverkope verdien word.

Leiers van Bethel, ’n INC-ministerie wat in Redding in Kalifornië gebaseer is, het in onderhoude daarop aanspraak gemaak dat hy in 2013 ’n inkomste van $8,4 miljoen aan media-verkope gehad het. Dit sluit musiek, boeke, DVD’s en webwerf-gebaseerde inhoud in. Nog $7 miljoen is met klasgeld aan die Bethel School of Supernatural Ministry verdien.

Sean Feucht, een van Bethel se gewilde musikante en erediensleiers, is nou ’n kandidaat om in Kalifornië se derde distrik tot die Amerikaanse kongres verkies te word.

Die aantrekkingskrag van INC

Pres. Donald Trump van die VSA, adjunkpresident Mike Pence (regs) en evangelistiese godsdiensleiers bid in 2017 saam in die Withuis. Foto: Getty Images

As deel van ons navorsing, het ons diepgaande onderhoude met senior leiers, personeellede en huidige en voormalige INC-gemeentelede gevoer. Ons het ook aanvullende onderhoude gevoer met Christelike leiers en akademici met kennis van die veranderende godsdienslandskap en het konferensies, talle kerkdienste, opleidingsessies, genesingsessies en uitdrywings bygewoon.

Ons het altesame 41 diepgaande onderhoude gevoer.

Ons primêre gevolgtrekking is dat die groei van hierdie groepe grootliks die gevolg is van die informele manier waarop die netwerk bestuur word.

Wanneer dit vergelyk word met die oorsig en verantwoordbaarheid in amptelike gemeentes en denominasies, blyk dit dat die netwerk meer proefneming toelaat. Dit sluit in “uiterste” ervarings van die bonatuurlike, onortodokse gelowe en praktyke en finansierings- en bemarkingstegnieke wat die mag van die internet gebruik.

Ons het ook die aantrekkingskrag van INC Christianity, veral onder die jeug, gesien. Ons het die opwinding van impromptu bonatuurlike genesingsessies in die ongevallesaal van ’n groot openbare hospitaal gesien, die intrige van opleidingsessies wat handel oor tegnieke vir die uitdryf van bose geeste en die avontuur van jong mense wat na openbare plekke toe gaan en spesiale leiding van God soek oor wie om gesond te maak of om aan wie spesiale goddelike boodskappe oor te dra.

‘Sewe berge van kultuur’

Pres. Donald Trump van die VSA hoop dat hy aanstaande jaar vir ’n tweede termyn van vier jaar herkies sal word. Foto: Reuters

Die meeste Christelike groepe in Amerika beskou die rol van die kerk as ’n instansie wat individue aan God verbind deur die genade van Jesus en die bou van gemeentes wat gemeenskappe deur eredienste sin en ’n gevoel gee dat hulle êrens behoort.

Hulle glo ook daaraan om hul plaaslike gemeenskappe te dien en in hul behoeftes te voorsien. Sulke tradisionele Christelike groepe glo dat die wêreld wel verbeter kan word, maar dat God se oorspronklike plan eers van krag sal word as Jesus terugkom om oor die aarde te heers.

INC-groepe dink anders. Die meeste INC Christian-groepe wat ons bestudeer het, wil die hemel of God se voorgenome perfekte samelewing na die aarde bring deur “koninkryk-gerigte mense” in magtige poste bo-aan alle sektore van die samelewing te plaas.

Dié “sewe berge van kultuur” sluit in die sakesektor, regering, media, kunste en vermaak, onderwys, familie en godsdiens.

Hulle glo as Christene die boonste poste op al sewe dié “berge” beklee, sal die samelewing heeltemal getransformeer word.

Dan sal Bybelse moraliteit in die samelewing geld, mense sal in harmonie leef, daar sal vrede en nie oorlog wees nie en daar sal geen armoede wees nie.

“Die doel van die nuwe beweging is om eenhede van die samelewing soos stede, etniese groepe en nasies eerder as individue te transformeer,” het een INC-leier met wie ons ’n onderhoud gevoer het, verduidelik.

“As Christene tot op die kruin van elke berg kan vorder . . . sal Bybelse moraliteit in die samelewing geld, mense sal in harmonie leef, daar sal vrede en nie oorlog wees nie en daar sal geen armoede wees nie.”

Ons het dié opvattings by herhaling gehoor in die meeste van ons onderhoude, op byeenkomste wat ons bygewoon het en in media-materiaal van INC.

Wat nog meer betekenisvol is, is dat sommige INC-leiers sedert die verkiesing in 2016 verklarings uitgereik het wat daarop aanspraak maak dat die Trump-presidensie ’n deel van God se plan vorm om “hemel na die aarde te bring” deur gelowiges soos Perry, Betsy DeVos (minister van onderwys) en Ben Carson (minister van behuising en stedelike ontwikkeling) in top-poste te plaas.

Die veranderende landskap

INC Christianity is ’n beweging wat dopgehou moet word.

As dit voortaan aanhangers in groot getalle lok soos wat ons voorspel, sal dit lei tot ’n toenemende getal Christene wat dit as hul doel sien om nie net siele te red nie, maar die samelewing te transformeer deur beheer oor die instellings daarvan oor te neem.

Terwyl die skandaal in Oekraïne, die skeiding van gesinne by die grens en bewerings van korrupsie sommige evangelistiese Christene laat twyfel oor hul steun vir Trump, sal geharde aanhangers van INC Christianity nooit hul president verlaat nie.

Vir hulle, soos ons bevind het, is teenkanting teen Donald Trump teenkanting teen God wat die president spesifiek gekies het om Amerika en die wêreld na Hom terug te bring.

* Christerson is ’n professor in sosiologie aan die Biola-universiteit, en Flory is ’n senior direkteur: navorsing en evaluasie aan die universiteit van Suid-Kalifornië. Dié artikel is ’n bygewerkte weergawe van een wat die eerste keer op 15 Maart 2017 verskyn het.

*Lees dit op The Conversation

the conversation
Meer oor:  Ben Carson  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Christene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.