Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die DA se vyf foute

Jy moet by die VF Plus kers opsteek as jy wil vasstel waarom die DA stemme gebloei het, skryf Jan-Jan Joubert.

Die Overvaal-onrus

As jy wonder waarom die VF Plus se steun meer as verdubbel het in die 2019-verkiesing – van 165 000 stemme in 2014 tot 414 000 in 2019 – help dit nie om die DA, wat baie van daardie stemme gebloei het, na die redes te vra nie. As die party die redes geken het, sou hy immers die verliese verhoed het.

Jy moet gaan na die mense wat die stemme bygekry het, naamlik die VF Plus self. Dit is ’n belangrike oefening, want baie mense buite Afrikanergeledere, asook sommige minder tradisionalistiese Afrikaners, sukkel om te verstaan hoe enigiemand die VF Plus as ’n opsie vir die toekoms kan sien.

                                                                                   ***

Uit my gesprekke met bronne in die VF Plus het veral ses redes vir die swaai onder Afrikanerkiesers van die DA na die VF Plus geblyk. Interessant genoeg, en dalk nie verrassend nie, het nie een van daardie redes hom aanvanklik voorgedoen toe die DA om die redes vir sy verlies aan steun gepols is nie.

Die Ashwin-angs

Die eerste rede was die Ashwin Willemse-Nick Mallett-voorval. Midde-in ’n regstreekse rugbygesprek tussen Willemse, Mallett en Naas Botha op SuperSport het Willemse hom vervies vir sy mede-paneellede en die stel verlaat. Later het dit geblyk sy irritasie met spesifiek Mallett se ingesteldheid kom ’n lang pad.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het dadelik Willemse se kant gekies en die voorval as rassisties bestempel. ’n Ondersoek deur adv. Vincent Maleka het egter bevind geen rassisme was betrokke nie. Die geleentheid is deur Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en sy party aangegryp om aan te toon dat die DA rassisme beweer het waar daar geen rassisme was nie, en dus vir Mallett en Botha te na gekom het.

Mmusi Maimane het dadelik Willemse se kant gekies.

Groenewald se standpunt sou ongetwyfeld aanklank vind by sommige wit kiesers wat – ten regte of ten onregte – voel dat hulle onregverdig op grond van hul ras geblameer word vir alles wat in die land verkeerd is. Dit kon hulle laat dink dat die DA deel van daardie probleem is, en hulle laat twyfel of hulle die DA se waardes, soos versinnebeeld deur sy leier, deel.

Die tweede kwessie wat die DA-boot onder Afrikaanse kiesers laat lek het, was die Patricia de Lille-sage, wat bykans ’n jaar lank voortgewoed het.

Nadat De Lille in 2011 haar party, die Onafhanklike Demokrate (OD), met die DA laat saamsmelt het, het sy gou die bekendste Afrikaanssprekende leier van die DA geword. Hoewel sy, soos enige politikus, nie om dieselfde vuur met almal in haar nuwe party gesit het nie, was sy baie gewild by die publiek, en spesifiek Afrikaanssprekendes van alle rasse en klasse.

De Lille het as Wes-Kaapse provinsiale leier van die DA en as burgemeester van Kaapstad die munisipale verkiesingsveldtog van 2016 vir die party in sy Wes-Kaapse hartland gelei, wat uitgeloop het op die DA se grootste oorwinning nog: ’n bykans tweederdemeerderheid in Kaapstad en 62% van die stemme in die Wes-Kaap. Die DA het die regering gevorm in 29 van die 30 Wes-Kaapse munisipaliteite, met inbegrip van ’n paar koalisies met ander partye.

Die Pat-penarie

Direk ná die 2016-verkiesing het die media begin berig oor spanning tussen De Lille en ander DA-leiers. Soos dit maar gewoonlik met hierdie soort interne geskille gaan, het die verdeeldheid eers stadig gebeur, en toe vinnig. Deurgaans het die stryery in die openbaar oorgekook, en die DA se beeld as ’n gediversifiseerde maar eensgesinde en professioneel bestuurde maatskappy groot skade berokken.

Verskeie bewerings is vanuit die DA teen De Lille gemaak, en ’n paar van die kwessies het voor die hof beland. De Lille het telkens die hofsake gewen. Daar was by baie DA-kiesers groot verwarring oor wat sy nou eintlik verkeerd gedoen het, of dit hoegenaamd erg genoeg was vir die stappe wat teen haar gedoen is en of sy regverdig behandel is.

Toe sy uiteindelik, ná die een stryery op die ander, instem om as burgemeester van Kaapstad te bedank nadat ’n betekenisvolle minderheid van haar koukus telkens geweier het om van haar ontslae te raak, was die DA sy prominentste en mees charismatiese Afrikaanse leier kwyt. Geen ander Afrikaanse leier het sedertdien enige vergelykbare prominensie of gewildheid geniet nie. Dit het baie Afrikaanssprekendes laat voel dat daar nogmaals teen ’n mede-Afrikaanssprekende gediskrimineer is, wat kiesers minder tuis in die DA laat voel het en ander politieke tuistes, soos die VF Plus en Good, laat oorweeg het.

Intussen het die VF Plus rustig voortgegaan om sy verkiesingsveldtog te beplan, met geen aanduiding van vergelykbare interne spanning nie. In vergelyking met die DA het die VF Plus die soort stabiele, eensgesinde en Afrikaansgesinde beeld begin kry wat vir sommige kiesers ’n aantreklike opsie bied.

Die derde voorbeeld uit die VF Plus van ’n deurslaggewende blaps was die DA se besluit om in sy rapport vir die ANC-regering ’n hemelhoë punt van 7,5 uit 10 toe te ken aan Panyaza Lesufi as Gautengse LUR vir onderwys. As daar een mens in die ANC is wat ’n uitgesproke teenstander van Afrikaans as onderrigtaal is, en daarvoor deur die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes verag en verafsku word, is dit Lesufi. Nugter weet hoekom die DA hom so hoog aanslaan.

Die Lesufi-lastigheid

Terloops, die DA het dieselfde persoon wat die dryfveer agter die hoë punt vir Lesufi was, ná die 2019-verkiesing weer aangestel as die party se onderwyswoordvoerder in die provinsie. As daardie persoon, die DA-LPW Khume Ramulifho, meen Lesufi is so wonderlik, moet hy dalk eerder by Lesufi aansluit as om voor te gee dat hy hom opponeer.

Die vierde geval wat deur bronne in die VF Plus uitgelig is, hou ten nouste met die derde voorbeeld hier bo verband. Dit was die gebeure by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging, wat verkeerdelik geteiken is weens die skool se beleid om Afrikaans as taal van onderrig te gebruik – soos die Suid-Afrikaanse Skolewet onteenseglik toelaat.

Die skool het die teiken geword van massa-optrede deur politieke partye soos die EFF, asook deur ander drukgroepe, om sy voertaal te verander. Le-sufi was voor in die koor om die skool te teiken eerder as om die beheerliggaam te ondersteun. Namate die druk oor dae opgebou het, was die seine uit die DA aanduidings van ongemaklikheid eerder as ondersteuning aan die skool.

Die reg op onderrig in Afrikaans is nie pro-aktief en dapper deur die Gautengse onderwyswoordvoerder van die DA – wat tot in daardie stadium basies volstrekte steun onder daardie skoolgemeenskap geniet het – verdedig nie.

Nogmaals het die VF Plus die geleentheid aangegryp. Wat ook al die meriete van die saak, die VF Plus het meer onomwonde as die DA die kant van die tradisionele DA-kiesers, naamlik die skool en sy ouers, gekies. Dit was nie dat die DA spesifiek teen sy kiesers gekies het nie, maar die party was lou, en soos die Bybelboek Openbaring waarsku, word die lou water alte dikwels uitgespoeg.

Die voorbeelde was besig om op te laai, en die gety was besig om te keer.

Wat die VF Plus verwoord het, was ’n soort ongefokusde woede...

Enkele dae later het die gety ’n vloedgolf geword met die vyfde voorbeeld: die Schweizer-Reneke-geval.

In hierdie geval het ’n onderwyseres, Elana Barkhuizen, ’n foto geneem in die skoolbeginnersklas van ’n kollega, waar al die wit kinders bymekaar gesit het en al die swart kinders afsonderlik bymekaar. Die foto is aan ouers van die kinders gestuur en het op sosiale media versprei. Sonder om op ’n verduideliking van die kant van die onderwyser te wag, het die DA se nasionale jeugleier, Luyolo Mphithi, die kwessie as rassisme bestempel. Mphithi is ondersteun deur Maimane. Ook die DA-leier in Noordwes, Joe McGluwa, het Barkhuizen se skorsing verwelkom.

Ná ’n paar dae van groot politieke spanning en dreigende geweld in Schweizer-Reneke, wat nogmaals nasionale hoofnuus was met ’n Afrikaanssprekende in die beskuldigdebank, is bevind dat Barkhuizen nie verkeerd opgetree het nie. Haar skorsing is opgehef.

Tydens ’n dramatiese en emosionele mediakonferensie aangebied deur Solidariteit, het Barkhuizen op weerlose en geskokte wyse van haar nare ondervinding vertel. Sy het algemeen aanklank gevind as iemand wie se hele bestaan onregverdig en omvattend ontwrig is, en wie se professionele integriteit grof en ongegrond beledig is. Nogmaals was dit veral Afrikaanse mense, en by name Afrikaanse wit mense wat reeds geteiken gevoel het, wat hulle die gebeure aangetrek het.

Die juffrou-jammerte

Waar die DA Barkhuizen kwaai en verkeerdelik veroordeel het, het die VF Plus eers gewag dat al die feite aan die lig kom, en toe vir Barkhuizen ondersteun. Dit was op elke vlak die regte ding om te doen, en die gebeure op Schweizer-Reneke was die oomblik toe die gety behoorlik gekeer het na die VF Plus.

                                                                                 ***

Daar was egter ook dinge wat die VF Plus spesifiek reg gedoen het in die verkiesingsveldtog.

Iets wat my dadelik opgeval het van die VF Plus se strategie was die plasing van hul plakkate. Jy kon nie in die omgewing van enige Afrikaanse skool beweeg nie, of die VF Plus was skielik ’n faktor op die lamppale. Hulle het ook op ander maniere visgevang waar die vis swem, byvoorbeeld deur in Noordwes spesifiek te fokus op plekke van wit bevolkingsametrekking – ankerdorpe, soos Solidariteit dit noem – eerder as om hul plakkate oor yl bevolkte gebiede te versprei. Dit het beteken plekke soos Rustenburg, Potchefstroom en Klerksdorp kry die leeue-aandeel van VF Plus-plakkate.

Die VF Plus het besluit om Steve Hofmeyr as stem van sy radio-advertensies te gebruik, wat baie Afrikaners vurig sou afsit, maar ’n ewe vurige minderheid sou besiel. Hy is by uitstek ’n verdelende figuur oor wie min Afrikaners neutraal voel – sommige meen hy sê wat hulle voel en hy is eintlik ’n lekker ou, terwyl ander hom as platvloers, veragtelik en rassisties ervaar.

Die VF Plus het voorts geleer en skaamteloos gesteel by die DP-veldtog van 1999, soos die “Slaan terug”-slagspreuk aantoon.

Dit was ’n eenvoudige, negatiewe, ietwat kinderlike veldtog. Slaan terug waarmee? Met tien parlementslede? En koop mense regtig nog sulke infantiele slagspreuke soos “Nou of nooit”? Is tien parlementslede “nou” of “nooit”? Maar nou ja, dié strategie het onteenseglik vir die VF Plus gewerk, so geluk aan die party.

Wat die VF Plus verwoord en verword het, was ’n soort ongefokusde woede en keelvolheid by sommige Afrikaners.

Dit is, kortom, die gevoel dat jy geblameer word vir alles wat in Suid-Afrika skeefloop, terwyl jy juis jou bes doen om alles te laat werk deur persoonlik hard te werk. Dis die gevoel dat jou kinders vir ewig verwyt gaan word vir ’n verlede waaraan hulle nie aandadig was nie. En dis die gevoel dat die huidige regering regtig nie die land verbeter nie, want infrastruktuur gaan ten gronde, min nuwe dinge van waarde word geskep, buitelandse beleggers word afgeskrik, binnelandse beleggers word verjaag, produktiwiteit is onbelangrik en weinig ekonomiese groei vind plaas, so wat gaan oorbly nadat alles herverdeel is?

As hierdie frustrasies, wat in ’n mindere of meerdere mate deur enige denkende mens ervaar word, jou politieke denke begin oorheers en jou politieke keuse begin rig, sit dit om in ’n tipe radelose woede wat ’n onverwagse eggo en die skyn van ’n aanvaarbare gesig gekry het in die anti-immigrantepartye van Europa, die Brexit-beweging in Brittanje en die Trump-groepering in Amerika.

Dis krummeltjie wat brood geword het, ’n stem (en dus stemme) gekry het en nou diknek raak – wie weet vir hoe lank? ’n Vreemde eienskap van hierdie groepering is dat hulle soveel uitlaatkleppe het wat hulle so deurgaans gebruik, en tog meen dat hulle nie gehoor word nie. Hulle wil hul woede telkens verwoord, eintlik uitskreeu soos ’n motor sonder ’n knaldemper, en as jy nie met hulle saamstem nie, dink hulle dis omdat jy hulle nie verstaan nie. Maar jy verstaan hulle juis – dis hoekom jy met hulle verskil!

Terwyl enigeen begrip kan hê vir sulke kiesers se frustrasies, haak baie mense vas by waar die VF Plus se stemme vandaan kom, en vergeet hulle om te vra waarheen daardie stemme gaan.

Wat is die boodskap wat dit stuur, en wat is die gevolge vir die toekoms?

Ons as Afrikaners was nog altyd goed daarmee om in die spieël te staar en vas te stel wat ons van onsself dink. Maar in die proses vergeet ons alte dikwels dat ons gedrag nie net ’n spieël vir onsself is nie. Dis ook ’n venster vir ander. Wat ander sien, bepaal hul gedrag teenoor ons. Ons woon nie op ’n Afrikaner-eiland nie. Daar is gevolge aan dade. Waar gaan dit heen? Ja, wat sien ander in hierdie Afrikaner-kiesersgedrag?

Een van die stukkies mitologisering waarmee die VF Plus tot hul krediet baie suksesvol was, is dat die party nie aanstoot gee met sy gedrag nie.

Ek wonder dikwels waar mense daaraan kom. Daar is eindelose voorbeelde van gedrag wat wel as aanmatigend ervaar word, maar die VF Plus kry dit reg om dit te verswyg, of dalk is hy in so ’n mate op homself gefokus dat hy dit bloot nie agterkom nie; straks omdat hy dit nie so bedoel nie.

Miskien gee die party eenvoudig nie om wat ander mense dink nie. Maar die kommunikasiekunde leer ons dat ’n boodskap – ’n kodering – se oordrag in drie fases geskied. Daar is die kodering, dit wat jy bedoel. Dan word die boodskap versend (deur jou aan die ander oorgedra) en aan die ander kant deur die ontvanger gedekodeer.

Dekodering is hoe die ontvanger die boodskap verstaan. Dade het gevolge. Waar dit gaan om aanstoot gee, word dit geheel en al deur die ontvanger (dekodeerder) gedefinieer. Vir die stuurder (enkodeerder) van die boodskap om dit te probeer definieer, dui reeds op verwaande onbegrip. So min as wat jy die DA kan vra wat met sy verkiesingsboodskap verkeerd geloop het, so min kan jy die VF Plus vra hoe sy gedrag deur ander ervaar word.

Hier volg een voorbeeld (uit baie) van so ’n werklikheidsbelewing.

Dit was ’n paar dae voor die algemene verkiesing van 2019 toe die VF Plus ’n mediakonferensie in die parlement gehou het oor sy mislukte poging om Black First Land First (BLF) van die stembrief te laat skrap omdat die BLF diskrimineer op grond van ras. In hierdie verband is die VF Plus terloops beslis reg – dis ’n werklik eenvoudige kwessie. Maar wat insiggewend was, was swart joernaliste se belewing van en reaksie op die mediakonferensie.

Hulle het gevoel dat dit wrange ironie, algehele opportunisme en meer as ’n bietjie oneerlikheid verteenwoordig dat die VF Plus skielik opkom vir nierassigheid.

Ek praat hier van die belewing van swart mense wat ek deur die bank as gematig, versoenend en ingelig leer ken het – hul belewing van die VF Plus is gelyk aan hoe baie wit mense die BLF beleef: as rassehaters. Dit is ook hoe die keuse vir die VF Plus deur selfs gematigde swart kiesers en meningsvormers ervaar word – dis hoe dit gedekodeer word, selfs deur iemand soos die leidende denker Mondli Makhanya, wat vir sy moeite om dit aan Rapport se lesers te verduidelik, uitgekryt is in ’n opvolgartikel deur ene Stephanie van Niekerk van Pretoria. Makhanya moet seker wonder hoekom hy die moeite doen.

Maar almal van ons skryf ons eie toekoms. Die VF Plus het nou sy tien lede in die Nasionale Vergadering en sy gedrag sal sy lot, en die lot van sy kiesers in die breër konteks, bepaal. Van die tien is verskeie ongetwyfeld bekwaam en oor twee van die nuwelinge – Wynand Boshoff en Philip van Staden – kan mens selfs opgewonde raak. Miskien lewer hulle wel ’n positiewe bydrae.

Dit sal afhang van hul optrede. Alleen dan sal mens kan bepaal waar die stemme vir die VF Plus heen gaan. Want soos die VF Plus dalk met die tyd saam sal leer, dra die vlamme van selfverheerlikende “ek stem vir my eie mense” alte dikwels die as van wederkerigheid met hom saam. As jy so graag slaan, word jy teruggeslaan wanneer die groter ouens moeg raak vir die kywende kapokhaantjie – daar is gevolge aan dade.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Vf Plus  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.