Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe die All Blacks se twak nat geword het

As ’n mens na die magtige rugbyspan van die All Blacks kyk, is dit moeilik om te glo dat Rhodesië (Zimbabwe) eens op ’n tyd ’n “reeks” teen hulle gewen het, skryf Pieter Labuschagne.

Fred Allen, kaptein van die All Black-toerspan van 1949, skud blad met dr. Eben Dönges, destydse minister van binnelandse sake van die Unie van Suid-Afrika. Foto: Argief

Die All Blacks se oorheersing van wêreldrugby die afgelope paar jaar het die manne in swart se status as die beste span in die wêreld bevestig.

Dit mag egter vir sommige rugbyliefhebbers ’n verrassing wees om te verneem dat Zimbabwe (onder die koloniale naam Rhodesië) dekades gelede ’n reeksoorwinning oor die All Blacks behaal het.

Die Zimbabwiërs is in 2018 maar 37ste op die wêreldranglys en die meeste klubspanne in Nieu-Seeland sal seker nou redelik maklik met hul nasionale span kan afreken.

Mense het van oor die voormalige kolonie heen met treine, motors en motorfietse na Bulawayo gestroom.

Maar in 1949 het die magtige All Blacks hul moses in Rhodesië teëgekom deur die eerste wedstryd met 8-10 te verloor en in die tweede (’n sogenaamde wraakwedstryd) met 3-3 gelykop te speel.

Die All Blacks van 1949 het wel die reeks teen die Springbokke verloor, maar het voor die wedstryd teen die Rhodesiërs met die Westelike Provinsie en die sterk Transvaalse span afgereken. Die All Blacks het ook in agt toerwedstryde voor die wedstryd teen Rhodesië nie ’n enkele drie afgestaan nie.

Daarenteen het Rhodesië hom in verskeie wedstryde ’n pak slae teen Suid-Afrikaanse provinsiale spanne op die lyf geloop en is hy nie ’n kans teen die Kiwi’s gegun nie.

Ongelooflike atmosfeer voor eerste stryd

Vier lede van die All Blacks se toergroep van 1949. Van links is Lester Harvey, Charles Willocks, Jim Kerney en Bob Scott. Foto: Argief

Die atmosfeer in Bulawayo waar die Rhodesiërs die All Blacks in die eerste van twee wedstryde gepak het, was ongelooflik. Mense het van oor die voormalige kolonie heen met treine, motors en motorfietse na Bulawayo gestroom. Net reserwe-kaartjies vir die wedstryd was nog te koop en ’n lang tou mense het reeds ’n week voor die wedstryd by die hekke gevorm om die laaste kaartjies in die hande te kry.

Die hekke het op 15 Junie 1949 om 11:30 oopgemaak en mense het met piekniekmandjies na hul sitplekke gestap en elke hoekie en gaatjie van die stadion gevul. Skoolseuns het rondom die veld in bome geklim en op die dakke van nabygeleë geboue stelling ingeneem om die wedstryd te aanskou.

Die All Blacks se kaptein, Fred Allen, wat in daardie stadium as die beste senter in die wêreld beskou is, het sy span op die veld gelei. Die Rhodesiërs is deur John Morkel aangevoer en latere beroemde Springbokke soos Ryk van Schoor, meester-plettervatter op senter, en groot Salty du Rand op flank het die olyfgroen gestreepte trui oor hul kop getrek.

Die stad het uit sy nate gebars en verblyf was onbekombaar. Mense het nou van selfs buite die grense uit Suid-Afrika na Rhodesië gestroom om die wedstryd te kan sien.

Die wedstryd het onder groot toejuiging begin en tot almal se verbasing het die Rhodesiërs die All Black-skrum van meet af aan onder druk geplaas. Dit is juis van ’n kragskrum deur die Rhodesiese voorspelers dat die bal vorentoe geskop is en Koos Brink, die tabakboer van Inyazura, ’n drie kon druk.

Ná rustyd het Claude Jones, harde mynwerker van Nchanga, om die All Blacks se verdediging gehardloop en onder die pale gaan druk. Die streeptruie van Rhodesië het die onmoontlike vermag om met 10-0 voor te loop.

Die All Blacks het daarna teruggeveg met ’n drie en ’n strafdoel, maar toe die eindfluitjie blaas, het die telbord gewys dat hul met twee punte verloor het.

Rugbykoors nog erger met tweede wedstryd

Bob Scott, heelagter van 1949 se All Black-toerspan in Suid-Afrika, stel die bal in ’n oefening. Foto: Argief

Indien rugbykoors die Rhodesiese kolonie gepak het voor die eerste wedstryd was die atmosfeer en opwinding nog meer tasbaar voor die volgende ontmoeting. Die tweede wedstryd is in die koloniale hoofstad Salisbury (nou Harare) gespeel.

Die stad het uit sy nate gebars en verblyf was onbekombaar. Mense het nou van selfs buite die grense uit Suid-Afrika na Rhodesië gestroom om die wedstryd te kan sien.

Die Old Hararians-veld met sy uitsonderlik hoë doelpale van 20 m wat deur hoë bloekombome omring is, het ’n pragtige agtergrond geskep. Meer as 13 000 mense het soos sardyne ingeprop gesit en hoog bo in die bloekombome het mense vasgehou en aan takke gehang in groot afwagting vir die wedstryd.

Die All Blacks wou wraak neem vir die nederlaag in Bulawayo en het van die begin af meedoënloos aangeval. Maar dit was Rhodesië wat eerste punte aangeteken het met ’n strafdoel om met 3-0 voor te loop. Die All Blacks het daarna verbete aangeval en die Rhodesiërs moes aanval ná aanval op hul doellyn stuit.

Allen het in die kleedkamer vir sy spanmaats gevra waarom sy hele lyf so swart en blou is.

Vir 55 van die 70 minute het die Rhodesiërs die All Blacks met rotsvaste verdediging op die klipharde veld gestuit en Allen is telkens deur Van Schoor in die harde veld ingeboor.

Die draaipunt van die wedstryd was in die 55ste minuut toe Bob Scott, heelagter, probeer het om ’n rollende bal op te tel en dit duidelik aangeslaan het. Die Rhodesiërs het gehuiwer en gewag dat die skeidsregter die fluitjie vir ’n skrum blaas.

Dit was 'n groot oordeelsfout, want die huiwering op verdediging is net waarvoor die All Blacks gewag het. Scott het deur ’n gaping geglip en 60 m na die doellyn genael om ’n drie te druk wat die telling gelykop gemaak het.

Die senter Ryk van Schoor het die All Blacks in 1949 laat les opsê met sy plettervatte. Foto: Argief

Dit was ook die eindtelling en die All Blacks het gekneus en moeg van die veld gestap. Allen het in die kleedkamer vir sy spanmaats gevra waarom sy hele lyf so swart en blou is. Dié kneusplekke was die gevolg van die vasbeslote Rhodesiërs se klipharde duikslae.

Op dié wyse het die Rhodesiërs die “reeks” van twee wedstryde teen die magtige All Blacks met 1-0 gewen.

Die storie het natuurlik ’n amusante stertjie. Die All Blacks het die aand per trein terug na Suid-Afrika vertrek en op Salisbury se stasie het 300 mense die span afgesien en lustig “For They Are Jolly Good Fellows” vir die spelers gesing.

Allen het ná die harde wedstryd doodmoeg op sy treinbank aan die slaap geraak, sy lyf baie seer ná die taai wedstryd.

Die trein was egter met sy vertrek in ’n ligte botsing betrokke. Allen is deur die stamp uit sy slaapbank gegooi en het wakkergeskrik met die woorde: “Oh no, not that Van Schoor again.”

* Bronne

J. de L. Thompson: The History of Rhodesian Sport Volumes I and II (1976).

Jonty Winch: Rhodesia Rugby: A History of the National Side 1898-1979 (1980).

* Pieter Labuschagne is ’n emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa van wie verskeie artikels oor sportgeskiedenis al in vakkundige tydskrifte verskyn het.

Meer oor:  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.