Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe die Rubicon eindelik oorgesteek is

Het Suid-Afrika ’n ander keuse gehad as om die pad te volg wat op 2 Februarie 1990 met oudpres. FW de Klerk se geskiedkundige toespraak aangedui is? vra Pieter Labuschagne.

Verslaggewers by ’n mediakonferensie ná oudpres. FW de Klerk se geskiedkundige toespraak op 2 Februarie 1990. Foto: Gallo Images

’n Dramatiese polities historiese gebeurtenis het dikwels só ’n emosionele impak dat die plek waar jy was en dít waarmee jy besig was die oomblik toe jy daarvan gehoor het, vir lank daarna herroep kan word.

Die meerderheid van die ouer geslag kan presies die plek en datum onthou in 1963 toe pres. John F. Kennedy in ’n sluipmoordaanval gesterf het – of in 1966 toe dr. H.F. Verwoerd in die parlement vermoor is.

In die moderne politieke era was die sluipmoord op Chris Hani só ’n oomblik van groot impak, met die land wat daarna op die rand van ’n geweldsafgrond gekantel het.

Oudpres. FW de Klerk se kritiek belangrike toespraak van 2 Februarie 1990 was ook so ’n oomblik. Dit word ná drie dekades steeds onthou.

Hy het op dié dag 30 jaar gelede onder meer aangekondig dat die ANC, PAC en ander verbode organisasies ontban word. Dit was ook die begin van ’n onderhandelingsproses en die instelling van ’n inklusiewe veelpartydemokrasie.

De Klerk het op 2 Februarie 1990 die land se politieke tektoniese plate geskuif.

Ek was deel van ’n groep jong dosente in politieke wetenskap wat op dié dag by Unisa se hoofkampus in Pretoria na De Klerk se aardskuddende toespraak oor die radio geluister het. Ek onthou die stilte ná sy aankondiging en hoe een van die ANC ondersteuners gefluister het: “Dit is waarvoor ons nog altyd gestry het.”

De Klerk het op 2 Februarie 1990 die land se politieke tektoniese plate geskuif. Sy voorgangers se inkrementeel kleiner politieke veranderinge was ewe skielik nietig met dié kwantumsprong.

Die verwagtinge was hoog ná oudpres. FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990. Hier ontmoet hy oudpres. Nelson Mandela. By hulle is Pik Botha en dr. Gerrit Viljoen, twee lede van die destydse kabinet. Foto: Gallo Images

Drie denkskole 30 jaar later

In 2020 is daar breedweg drie denkskole oor die politieke, ekonomiese en maatskaplike transformasie wat op die toespraak gevolg het.

Daar is ’n klein minderheidsgroep met ’n konserwatiewe siening, wat steeds glo dat De Klerk, en veral sy hoofonderhandelaar, Roelf Meyer, die land “uitverkoop” het. Dié groep glo dat die huidige politieke en sosio-ekonomiese verval in die land juis daaraan toegeskryf kan word.

Die tweede denkskool is ’n middelgroep met die breë beskouing dat De Klerk se aankondigings wel onvermydelik was en dat die politieke en sosio-ekonomiese verandering die enigste werkbare oplossing en alternatief was in ’n land met stygende sistemiese geweld. Die verandering word dus as noodsaaklik beskou vir Suid-Afrika wat polities, ekonomies, diplomaties en op sportgebied amper heeltemal geïsoleer was.

Dié segmentele selfbestuur in uitgesoekte gebiede kon moontlik as buffer teen die huidige meerderheidstirannie in ’n unitêre staat gedien het.

In dié groep is daar ook ’n subgroep wat glo dat De Klerk en Meyer nie opgewasse teenoor die ANC se onderhandelingspan was nie. Hulle het dit veral oor Meyer se onvermoë om sterker konstitusionele waarborge en groepsregte vir die minderheidsgroepe in ’n federale opset te beding. Dié segmentele selfbestuur in uitgesoekte gebiede kon moontlik as buffer teen die huidige meerderheidstirannie in ’n unitêre staat gedien het.

Die derde stroming is die grootste, naamlik die regse groep, hoofsaaklik in die swart gemeenskappe, wat politieke en ekonomiese stabiliteit in die land bedreig.

Dié meer radikale groep, veral die EFF en die valke in die ANC, glo dat die onderhandelde skikking “te min en te laat” was en dat die wit minderheidsgroep se bevoorregte ekonomiese posisie onnodig konstitusioneel verskans is.

Die eerste treë op die pad na demokrasie. Oudpress. FW de Klerk en Nelson Mandela saam met hul onderhandelingspanne met die ondertekening van die Groote Schuur-minuut in 1990. Foto: Gallo Images

Die oorsteek van die Rubicon ’n brug te ver?

Die destydse staatspresident, PW Botha, het in 1985 die konsep “die oorsteek van die Rubicon” deel van die politieke jargon gemaak.

Botha en sy kabinet het onder toenemende druk die verwagting geskep dat dramatiese politieke veranderinge sterk oorweeg word en dat hulle reg was vir ’n polities aardskuddende skuif na ’n inklusiewe veelparty- demokratiese bestel.

Die term “oorsteek van die Rubicon” het oorspronklik sy beslag in 49 v.C. gekry toe Julius Caesar die Rubicon-rivier oorgesteek het. Dit was die begin van ’n Romeinse burgeroorlog wat uiteindelik sy era as diktator van Imperiale Rome ingelui het.

Dit is geskiedenis dat Botha in sy toespraak van 15 Augustus 1985, wat wye internasionale dekking geniet het, voor die Rubicon-rivier vasgesteek het. Die internasionale reaksie daarna het die land dieper in die donker moeras van konflik en onderdrukking laat insak.

Die voormalige goewerneur van die reserwebank, Gerhard de Kock, het bereken dat Botha se toespraak die land ’n paar miljard rand gekos het – sowat een miljoen rand per woord.

Die internasionale ekonomiese reaksie op die toespraak was katastrofies. Tussen 1 Julie en 1 September 1985 het die rand se waarde van R1,97 teenoor die Amerikaanse dollar tot R2,48 teruggesak. Die voormalige goewerneur van die reserwebank, Gerhard de Kock, het bereken dat Botha se toespraak die land ’n paar miljard rand gekos het – sowat een miljoen rand per woord.

Ekonomiese syfers toon die hoë prys wat betaal is met maatskappye en internasionale beleggers wat uit Suid-Afrika onttrek is. Vanaf 1985 tot 1990 het 200 Amerikaanse maatskappye hul bedrywighede in die land opgeskort, wat ’n verlies van sowat $1 miljard vir die land beteken het.

In die laaste kwartaal van 1986 tot aan die einde van die eerste kwartaal in 1991, het die kapitale uitvloei R16,2 miljard beloop. Die syfer het sowat 2% van die bruto buitelandse produk verteenwoordig en die ekonomie het gedurende 1984 en 1985 amptelik in ’n resessie verval.

In 1986 het die VSA omvattende anti-apartheidswetgewing aanvaar wat die geldkraan verder toegedraai het. Die gebrek aan buitelandse beleggings, die onttrekking van maatskappye en die ekonomiese agteruitgang het die inflasiekoers bokant 10% laat styg, terwyl die rentekoers hoog in die 20% ’n draai gemaak het.

In 1989 in Natal is 124 mense dood weens politieke geweld, maar die volgende jaar het dié syfer tot 1 888 opgeskiet.

Op militêre gebied het die prys al hoe hoër geraak om die land teen sy vyande en plaaslik teen die ANC se lae-intensiteit- insurgensie-veldtog te bewapen. Die aankope van wapentuig, wat nie plaaslik vervaardig kon word nie, het van 1980 tot 1989 vervierdubbel van R1,7 miljard na R4,8 miljard.

Die binnelandse geweld het toegeneem en kenmerke van ’n lae-intensiteit-burgeroorlog gehad. In 1989 in Natal is 124 mense dood weens politieke geweld, maar die volgende jaar het dié syfer tot 1 888 opgeskiet. Tussen Maart en Junie 1986 het 284 swart mense in die geweldspiraal gesterf – 172 deur middel van die gevreesde halssnoermetode. Daar is in dié tydperk ook 1 400 huise en ondernemings afgebrand.

Op diplomatieke vlak is Suid-Afrika tot die buitenste duisternis verban, met feitlik geen vriendskaplike betrekkinge met ander lande nie. Die land is op sportgebied heeltemal geïsoleer en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) en die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) het Suid-Afrika uitgeskop.

Oudpres. FW de Klerksaam met Neil Tovey, Bafana-kaptein, en oudpres. Nelson Mandela nadat Suid-Afrika die Afrikabeker in 1996 gewen het. Foto: Gallo Images

Die einde van die pad van isolasie

Dit is moontlik om nog ekonomiese syfers aan te haal as bewys dat die apartheidstaat nie baie langer in stand gehou sou kon word nie.

Die morele humanitêre impak van die vernederende apartheidsbeleid wat mense van hul waardigheid en menslikheid gestroop het, kon moreel net eenvoudig nie langer verduur of geregverdig word nie.

Dit is seker ook waar dat die apartheidstaat seker vir nog ’n dekade of twee kon volhard het, selfs te midde van die politieke, militêre en ekonomiese storms. Die weermag en polisie sou egter hul optrede met nog meer institusionele geweld moes verskerp in wat reeds ’n hoogs onstabiele situasie was. Geweld sou net toeneem en onderdrukking en teenoptrede sou groot dele van die land onveilig maak.

Die belangrikste dwangrede en noodsaak vir verandering was egter op ’n baie dieper morele vlak as buitelandse druk geleë. Die morele humanitêre impak van die vernederende apartheidsbeleid wat mense van hul waardigheid en menslikheid gestroop het, kon moreel net eenvoudig nie langer verduur of geregverdig word nie.

In ’n samelewing is dit belangrik om te lewe op grond van wat reg is en nie wie reg is nie. In die geval van Suid-Afrika was dít wat moreel reg was, ’n politieke stelsel waar al die inwoners van die land se menswaardigheid en demokratiese regte gerespekteer sou word.

Is daar wel foute gemaak en kon veral die konstitusioneel politieke veranderinge anders hanteer word?

Die meerderheid in die minderheidsgroep wit mense besef steeds dat dié politieke en sosio-ekonomiese omwenteling wel noodsaaklik was. Daar is egter ook ’n sterk gevoel in die genoemde subgroep dat De Klerk en veral Meyer oënskynlik nie sterk genoeg teen die ANC en hul hoofonderhandelaar, Cyril Rampahosa, gestaan het nie.

Nelson Mandela het in sy heel eerste ontmoeting met De Klerk aangedring op ’n meerderheidsregering in ’n unitêre staat. Die Nasionale Party (NP) het daarenteen op sterk konstitusionele waarborge vir minderheidsgroepe aangedring, verkieslik in ’n geografies federale vorm.

Die NP het in die onderhandelinge die staatsmag beheer, maar die ANC het die morele gesagsposisie beklee. Die ANC het gevolglik uiteindelik staatkundig volledig sy sin gekry.

In ’n gedesentraliseerde federasie met segmentele outonomie, met interne selfbeskikking oor eie sake (paaie, onderwys, taal, hospitale ens.) sou minderheidsregte beter beskerm kon word.

Die huidige meerderheidstirannie in wat de facto’n mislukte eenpartystaat is, die miskenning van minderheidsregte en grootskaalse emigrasie van veral wit mense wys dat hulle bedreig voel en as ’n minderheidsgroep in die onderhandeling versaak is.

In ’n gedesentraliseerde federasie met segmentele outonomie, met interne selfbeskikking oor eie sake (paaie, onderwys, taal, hospitale ens.) sou minderheidsregte beter beskerm kon word.

Dié selfbeskikking sou kon werk in sogenaamde “volkstaatgebiede” soos in die Wes-Kaap, Zoeloeland en kleiner geografiese eenhede, met beheer oor beperkte eie sake as buffer teen meerderheidsoorheersing.

Dit is egter water wat onder die brug deurgevloei het.

In die groter werklikheidsprentjie en op ’n morele vlak was die verandering wel die korrekte keuse.

Nou moet ons net die land laat werk!

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.