Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe Iqbal redakteur afgedank het

Die dag ná die dood van oudpres. Nelson Mandela het ’n storm die Independent-groep getref toe die redakteur van die Cape Times onverwags afgedank is omdat sy glo nie die ontslape oudpresident gerespekteer het nie. Alide Dasnois en Chris Whitfield vertel meer van dié dramatiese dag in ’n uittreksel uit Paper Tiger.

Op Vrydag 6 Desember 2013, ’n dag ná die dood van Nelson Mandela, was ’n klompie van die Cape Times se personeellede by die werk.

Niemand by die koerant werk gewoonlik op Vrydae nie (die werksweek was van Sondag tot Donderdag), maar dit was geen gewone Vrydag nie. Hoewel daar nie ’n koerant die volgende dag sou verskyn nie, was daar heelwat werk om te doen vir die uitgawes van die volgende week.

Die Cape Times, soos koerante regoor die land, het ’n fyn uitgewerkte plan gehad vir die dekking van gebeure ná Mandela se dood, van nuusberigte en “kleurstories” – skryfwerk wat hoofsaaklik fokus op indrukke en beskrywings – tot ontledings, foto-essays en allerhande huldeblyke.

“Ek was nie veronderstel om te werk nie, maar Mandela se dood was iets waarop jong verslaggewers al vir jare voorberei is,” sê die verslaggewer Caryn Dolley.

Michelle Jones, een van die ander jonger verslaggewers, onthou dat die nuusredakteur, A’Eysha Kassiem, haar gebel en gevra het om die burgemeester se huldebyk-nuuskonferensie vir Mandela by te woon.

Ons het by die werk opgedaag sonder dat ons gevra is om dit te doen.

Dolley was reeds daar toe sy by die nuuskantoor aankom.

“A’Eysha het haar nie gevra om daar te wees nie. Caryn het werk toe gegaan omdat sy besef het dit was nodig. Dit is hoe ons in die Cape Times se nuuskantoor gewerk het,” sê Jones. “Ons het op ons afdae gewerk. Ons het by die werk opgedaag sonder dat ons gevra is om dit te doen. Ons het gedoen wat nodig was omdat ons lief was vir die nuus en die koerant.”

Dolley en Jones het die Cape Times se Twitter-voer en Facebook-plasings opdateer en besluit wie oor watter gebeure verslag sal doen.

In die redakteur se kantoor het Alide Dasnois deur die koerant se spesiale Mandela-uitgawe van vier bladsye geblaai wat sy en haar span die vorige aand saamgestel het. Hoewel die ander koerante in die Independent-groep verkies het om eerder hul eerste klompie blaaie te verander en die ander onaangeraak te laat, het die Kaapstadse oggendkoerant Die Burger en die Daily Dispatch in Oos-Londen ook spesiale uitgawes saamgestel wat soos ’n baadjie om die oorspronklike uitgawe gevou is.

Chris Whitfield, die hoofredakteur, het ook by die kantoor aangekom. “Julle ouens het goeie werk gedoen,” het hy gesê. Maar nie almal het so gedink nie.

Die ontmoeting by die hotel

Iqbal Survé, sakeman en uitvoerende vorsitter van Independent Newspapers toe Alide Dasnois as redakteur van die Cape Times afgedank is. Foto: Argief

Sandy Naudé, die hoofbestuurder van die Independent-koerante in Kaapstad, het afsonderlik met Dasnois en Whitfield kontak gemaak van haar kantoor in die vloer bo hulle en hulle gevra om na ’n ontmoeting te kom met Iqbal Survé, die nuwe eienaar, by die Vineyard-hotel. Dié weelderige hotel in Nuweland met sy gemanikuurde grasperke wat tot aan die walle van die Liesbeekrivier strek, was die vorige dag die toneel van Survé se eerste “lekgotla” – strategie-vergadering – met sy senior personeellede waar hy oor sy visie vir die koerante gesels het voor hy oor homself gepraat het.

Die ontmoetings op die Vrydag met sommige van die senior uitvoerende beamptes wat ook by die lekgotla was, is gehou in ’n klein vertrek op die grondvloer van die hotel – Tony Howard, uitvoerende hoof, Naudé en Whitfield.

Survé wou eers die sekondering van Whitfield na ’n projek in die Oos-Kaap waar hy die verantwoordelikheid sou hê om nuwe titels te begin, bespreek.

’n Verbaasde Dasnois het gesê sy het nie genoeg personeel gehad om die hele koerant oor te maak nie.

Die ontmoeting met Whitfield was steeds aan die gang toe Dasnois opdaag en sy is gevra om oor ’n paar minute weer terug te kom.

Met Dasnois se terugkeer, het Survé gevra waarom sy nie die voorblad van die eerste uitgawe van die Cape Times verander het om verslag van Mandela se dood te doen nie eerder as om ’n baadjie te laat druk. ’n Verbaasde Dasnois het gesê sy het nie genoeg personeel gehad om die hele koerant oor te maak nie en sy het haar bes gedoen met die spesiale uitgawe van vier bladsye.

“Die eintlike probleem,” het Howard gesê, “is dat jy weer hiermee gelei het.” Hy het die eerste uitgawe van die koerant omhoog gehou met die voorblad-hoofberig oor die openbare beskermer, (Thuli) Madonsela, se verslag oor die departement van visserye se kontrak waarby van Survé se maatskappye betrokke was. Voordat Dasnois kon reageer, het Howard gesê dit was in elke geval “alles in die verlede” en die vergadering was veronderstel om op die toekoms te fokus, onder meer op ’n nuwe projek vir Dasnois.

‘Ek kan dit doen’

Survé het verduidelik dat hy besluit het Dasnois se standpunte was nie geskik vir die Cape Times nie omdat dit ideologies te links en nie “besigheidsvriendelik” genoeg was nie. Hy het gesê hy hou persoonlik daarvan om artikels oor alternatiewe ekonomieë te lees, maar dat daai soort ding nie goed vir die Cape Times was nie en dat die koerant ’n nuwe redakteur nodig het. Hy het gesê hy wil hê Dasnois moet werk aan ’n “Arbeid Bulletin” wat sakenuus, iets oor ekonomie en stories oor arbeid sal insluit wat dalk advertensies van vakbonde sal lok.

Die nuwe “bulletin” sou of sou dalk ook nie ’n deel wees van die groep se daaglikse sakeblad, Business Report (waarvan sy voorheen die redakteur was), en kon dalk weekliks of maandeliks uitgegee word.

Dasnois sou direk aan hom verslag doen.

’n Verbaasde Dasnois het Survé gevra wanneer hy wil hê sy met die nuwe projek moet begin. “Van Maandag af,” het hy gesê.

Ek is die uitvoerende voorsitter en jy is van nou af nie meer langer die redakteur van die Cape Times nie. Jy sal nie soontoe teruggaan nie en Maandagoggend om 08:30 sal jy by my kantoor aanmeld.

“Jy kan dit nie aan die Cape Times doen in die middel van die Mandela-storie nie!” het Dasnois gesê, wel wetende hoe ontwrigtend ’n skielike verandering van redakteur sal wees vir joernaliste wat die grootste storie van hul lewens probeer dek.

’n Geagiteerde Survé het teruggekap: “Het jy Mandela respekteer toe jy dit gedoen het (het hy gewys na daai oggend se Cape Times)?”

“Is dit waarom jy my afdank?” het Dasnois gevra.

“Dis nie wat ek gesê het nie,” het Survé geantwoord.

“Jy word nie afgedank nie, ons bied jou net ’n ander werk aan,” het Howard gesê.

Survé het voortgegaan: “Ek is die uitvoerende voorsitter en jy is van nou af nie meer langer die redakteur van die Cape Times nie. Jy sal nie soontoe teruggaan nie en Maandagoggend om 08:30 sal jy by my kantoor aanmeld. Wag – jy begin jou week op Sondag, doen jy nie? Wel, jy kan Sondag om 08:30 by my kantoor rapporteer en as jy dit nie doen nie sal jy gedissiplineer word. As uitvoerende voorsitter kan ek dit doen.”

In dié stadium het Naudé en Howard voorgestel dat hulle almal oor haar afdanking praat waarop Dasnois geantwoord het: “Julle sal waarskynlik daaroor moet praat sonder my. Ek dink ek moet nou gaan.”

Survé het sy hand uitgesteek, maar sy het dit geïgnoreer en by die vertrek uitgestap.

Nuus en dalende sirkulasie

Alide Dasnois nadat sy en die Independent-groep in 2016 buite die hof geskik het. Foto: Edrea du Toit

Chris Whitfield wat steeds by die vergadering was, was verstom.

As Dasnois se lynbestuurder het hy geen idee gehad dat sy afgedank gaan word nie.

As die hoofredakteur in Kaapstad het hy soms met Dasnois koppe gestamp oor nuusbesluite by die Cape Times.

Hy was onder druk van die bestuur oor die dalende sirkulasiesyfers van die Cape Times en Cape Argus en die haglike finansiële posisie van laasgenoemde. Die Cape Times was besig om lesers in sy tradisionele mark te verloor, veral in die voormalige wit woonbuurte (destyds was meer as 50% van sy lesers bruin en 30% wit), en Whitfield was bang dat Dasnois te aggressief na ’n nuwe mark gesoek het deur die klem in die koerant te skuif na stories uit die townships. Dasnois was weer van mening dat dié stories in belang van al die koerant se lesers was, waar hulle ook al gebly het.

As ’n suksesvolle voormalige redakteur van die Cape Times was dit moeilik vir Whitfield om terug te sit en te kyk hoe die koerant gevaar loop om van sy bestaande lesers te vervreem. Woordewisselings tussen hulle was soms skerp en een keer het ’n ergerlike Whitfield aan haar gesê: “Hulle sê die meeste bestuurders lek boontoe en pis ondertoe. Jy is die enigste een wat ek ken wat die teenoorgestelde doen.”

Hy het iets gesê soos ‘dit was my prokureur en hy sê ek was reg om dit te doen omdat sy net sou aangaan om strooi oor my te skryf.’

’n Paar dae voor die Vineyard-konfrontasie het Survé Whitfield vir ’n ontbyt saam met Howard en Naudé by dieselfde hotel genooi waar hy die gesprek begin het om die hoofredakteur elders te ontplooi.

In ’n stadium is die Cape Times bespreek en Survé het ’n lys van potensiële redakteurs wat Dasnois kon opvolg, afgerammel. Whitfield was onder die indruk dat Survé ’n aanstelling bespreek het wat êrens in die toekoms gemaak sou word – moontlik ná Dasnois se beplande aftrede oor ses maande – maar hy het nie geglo dat enigeen van hulle geskik vir die koerant sou wees nie.

Die lys het die naam van Gasant Abarder ingesluit, die man wat te midde van groot omstredenheid sou oorneem. Whitfield het nie vir ’n oomblik gedink dat Dasnois nog dieselfde week afgedank sou word nie.

Toe sy op daardie somersoggend die vertrek verlaat ná die botsing met Survé, het Whitfield na Howard gedraai: “Is dit hoe ons mense in die maatskappy nou behandel?” Howard, ’n veteraan uit die dae toe die maatskappy nog as Argus Newspapers bekend was, het nie geantwoord nie.

Survé, wat die vertrek verlaat het om ’n oproep op sy selfoon te maak, het weer sy verskyning gemaak.

Whitfield sê: “Hy het iets gesê soos ‘dit was my prokureur en hy sê ek was reg om dit te doen omdat sy net sou aangaan om strooi oor my te skryf.’ ”

Intussen het ’n geskokte Dasnois na haar motor gestap: “Ek is nou net afgedank. Ek is regtig afgedank,” het sy gedink.

* Paper Tiger: Iqbal Survé and the downfall of Independent Newspapers word deur Tafelberg uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.