Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe ons buurt in ’n inferno verander het

Watter stukkie van jou lewe en jou geskiedenis pak jy op? Jou ma se as of Krokkie die krokodil? Willemien Brümmer vertel van die dag toe hul buurt byna deur die vlamme uitgewis is.

Omstanders staan op die brug bokant die M3 om te kyk hoe ’n veldbrand eeue se geskiedenis verteer. Foto: Jacques Claassen

Dis asof alles teen ’n vertraagde tempo gebeur – en toe skielik word ons buurt wreed uit sy middagslaap geruk.

Die Saterdagmiddag was dit my seuntjie, Matthias, se (kleinerige) sesde verjaardagpartytjie – een van daardie lui Mowbray-middae met kinders in die swembad en ouers op die stoep – ’n soort teruggryp na ’n tyd voor Covid-19 toe alles nog goed en mooi was.

Die Sondagoggend word ek effe grieperig wakker en ons dra speelgoed in, gooi papierborde en geskenkpapier weg, bewonder presente, was op en vee uit. Dis selfs warmer as die vorige dag in ons buurt, reg onder die Universiteit van Kaapstad, waar ons omring is deur studentewoonplekke en geboue van onskatbare historiese waarde. Agter ons in Cecilweg is die Irma Stern-museum, twee huise vanaf “Huis Brutus”, die “spookhuis” waarop ek en Matthias toe hy jonger was elke skemeraand gaan spioeneer het. Skuins bo dié museum is die Kaaps-Hollandse opstal wat in die 18de eeu opgerig is op die vryburger-plaas Welgelegen, waar karakters soos Paul Kruger indertyd tee gedrink het.

As jy reguit boontoe stap van ons huis in Rhodes-laan, kry jy eers die Van der Sterr-gebou met sy grondeise-sentrum van die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming en dan De Meule, na bewering die ampswoning van die minister van arbeid, Thulas Nxesi. Toe my pa ’n klein seuntjie was, het hy en sy ouers, Engela en Niko Brümmer, soms in dié huis gaan oorbly by die destydse minister van landbou, S.P. le Roux, die pa van die skrywer Etienne Leroux, en ’n boesemvriend van my oupagrootjie C.J. Langenhoven.

Hierdie gewel is al wat van die historiese De Meule langs Mostert se Meul oorgebly het. Foto: Jacques Claassen

Reg langsaan is Mostert se Meul, wat in 1796 opgerig is as die eerste private meul in die Kaap op die plaas Welgelegen, die enigste werkende meul suid van die Sahara wat nog een keer per maand op Saterdae ’n ope dag het.

As jy verder oor die brug bo-oor die M3 stap, is jy in die berg, sowat 20 minute se steil opdraande tot by die Rhodes-gedenkteken en teetuin – ’n paadjie wat ek en ons keffende hondjies, Dam en Sussie, minstens een keer ’n week opstap.

Die bergpaadjie wat oploop vanaf die bopunt van Rhodes-laan tot by die Rhodes-gedenkteken. Foto: Jacques Claassen

Ons eie huis op die hoek van Rhodes-laan en Bollihopesingel is meer as 100 jaar oud en het (heel toevallig) in die 1960’s ’n jaar of wat aan my oupagrootjie se bedonnerde mistress, Sarah Goldblatt, behoort. Dis nou voordat sy stry gekry het met die uitgewerspaartjie met wie sy die huis gedeel het en na Rhodes-laan 12 oorkant die pad verkas het.

‘Ek dink ons moet ry’

Die Sondagoggend begin die helikopters knaend oor die berg dreun, maar ek voel olik en kyk saam met Matthias na ruimtekreature op TV terwyl hy vir my gruwelverhale van hoenders gekruis met vlermuise vertel.

Teen twaalfuur bel my man, Pierre, om te sê die teekamer by die gedenkteken is aan die brand.

Pierre vat Matthias aan die hand en sê: 'Ek dink ons moet ry.'

’n Halfuur later is hy tuis en ons klim op Matthias se klimraam, maar die berg en Rhodes-laan is toe onder ’n digte rookwolk.

Helikopters probeer vergeefs om die wegholveldbrand te blus. Foto: Jacques Claassen

Ons soek skoene en maskers, en Matthias trek sy swart towenaarsmantel aan. Ons stap op met Rhodes-laan, maar ons kan nie verder as die Van der Sterr-gebou nie, want skielik sien ons die gras brand en mense begin in die rigting van die hoofweg hardloop. ’n Woeste bergwind het opgekom wat die vonke soos besete vuurvliegies oor die buurt jaag.

Pierre vat Matthias aan die hand en sê: “Ek dink ons moet ry.”

Neelsie se ‘kindskind’

My verstand begin soos ’n troetelrot in ’n meultjie om hardloop. Matthias gryp Krokkie (sy troetelkrokodil, vanselfsprekend) en ek gryp my medisyne en my skootrekenaar. My maag trek op ’n knop oor my skilderye en my boeke en die geskiedkundige briewe en dokumente in ons garage wat my broer se vrou onlangs by ons huis kom aflaai het. Dis dinge van my grootjie wat onderweg was na ’n museum of ’n biblioteek – soos die eerste uitgawe van Herrie op die ou Tremspoor, wat hy self vir my ouma Engela in leer gebind het. Daarbinne die handgeskrewe brief, in sierskrif, aan sy dogter, “die enigste kind van my liggaam”, oor dié boek wat hy as Engela se “eie seun” beskou het: Sy “kindskind” wat “van die eerste letter tot die laaste voor jou oë geskape (en) in jou teenwoordigheid stap vir stap gebore” is.

Verwoesting in die leeskamer. Foto: Willemien Brümmer

Ek dink eers later ek moes my ma se as op die kaggelrak en die kosbare Covid-19-geskenk wat ek van die kunstenaar Henk Serfontein gekry het in die kar gestop het: ’n Beeldskone kunswerk van my ma waar sy tien dae voor haar dood alwetend soos die Mona Lisa glimlag.

Pierre probeer nog deurkom na die brandweer toe daar ’n boodskap is van ons buurman in Cecilweg, Jacques Claassen: Daar borrel rook by ons dak uit.

Ons vleg deur die verkeer na die huis wat my broer en my pa in Rondebosch deel, maar teen daardie tyd het my broer-hulle reeds suid gevlug omdat sy vrou ’n asmalyer is.

Ek begin histeries rondbel en ek wil met alle geweld terug huis toe. Pierre probeer nog deurkom na die brandweer toe daar ’n boodskap is van ons buurman in Cecilweg, Jacques Claassen: Daar borrel rook by ons dak uit. My gedagtes spat in duisende stukkies.

Pierre ry eerste terug, maar hy moet sowat ’n kilometer van ons huis parkeer by die kwekery omdat Mowbray in ’n aksiefliek vol brandweerwaens, verkeerspolisie en vlugtelinge verander het. Ek volg sowat ’n uur later (Matthias veilig by ’n maatjie gestasioneer) en ek ry verby die taxi-staanplek waar honderde studente wat uit hul koshuise ontruim is, wag op taxi’s na elders.

Ons huis in Rhodes-laan wat op die randjie van verwoesting was en danksy ’n span dapper brandweermanne en -vroue gered is. Foto: Pierre Barkhuizen
Ons 'sterretjiesdak'. Foto: Willemien Brümmer

Ek kry dit reg om in Bollihopesingel te stop, waar ’n brandweerwa ons voorhek versper. Dié hek is uit pootjie geruk waar die brandweermanne dit moes afbreek om toegang te kry nadat ons buurman van Rhodes-laan 12 hulle ontbied het. Die voortuin lê besaai met roet, dakteëls en dakbalke. Die leeskamer lyk soos ’n (relatief besadigde) oorlogsone, maar die boeke en al ons besittings is ongedeerd. Water drup-drup teen die mure af.

As ons vyf minute later hier was, was julle huis gone.

Twee brandweermanne staan op die stoep – lede van die dapper span wat ons huis gered het. Ek probeer ’n foto neem vir die koerant, maar hulle keer “want die baas sal nie daarvan hou nie”.

Een van hulle glimlag breed. “As ons vyf minute later hier was, was julle huis gone.”

Ek sit my hand op syne – die virus se moer.

Ons sterretjiesdak

Cadboll House, die Universiteit van Kaapstad se gebou vir studentebehuising en -dienste, is nou net ’n geraamte. Foto: Pierre Barkhuizen

Op met die straat smeul oral nog klein vuurtjies – in droë bome en in graspolle. Avenue-weg wat regs uit Rhodes-laan loop, is nog afgesper nadat die boonste verdieping van die historiese Cadboll House, die Universiteit van Kaapstad se gebou vir studentebehuising en -dienste, in ’n geraamte verander het.

Op met Rhodes-laan drom bure, joernaliste en nuuskierige agies saam voor De Meule en Mostert se Meul. Dis moeilik om die toneel te beskryf. Net die swart gebrande onderlyf van die meul is oor en al wat oor is van die ministerswoning langsaan, is die nagedagte aan ’n gewel. Die geskiedenis skoongevee en in vlamme verteer.

Mostert se Meul was tot Sondag die enigste werkende meul suid van die Sahara. Nou is net ’n spookagtige geraamte oor. Foto: Jacques Claassen

Vir ’n oomblik wonder ek wat die #RhodesMustFall-betogers van dié verwoesting sou dink.

Ons lees eers later van die 200 jaar oue Jagger-biblioteek en die HM Pearson- en Fuller-gebou op die hoofkampus wat gedeeltelik deur die vlamme verteer is. Twee verdiepings van onvervangbare argief-materiaal en boeke-versamelings net weg.

Ek onthou hoe ek op ’n laerskool-uitstappie na Mostert se Meul is en hoe ek as student in die Jagger-biblioteek gegrawe het. Van nou af sal ons nie meer vir gaste kan sê om net by die meul af te draai nie.

Maar ons staan nog en ons huis – wat nou net soos Liewe Heksie se kombuis ’n sterretjiesdak het – is deur die geskiedenis begenadig.

Die dag word nag (ek en Matthias noem dit die "tooruur") en die son sak soos ’n woedende vuurbol.

“Ek was bang,” sê Matthias. “Maar ons is oukei.”

’n Woedende son sak tydens die tooruur ná ’n dag soos ’n aksieprent. Foto: Jacques Claassen

Dis tóé dat ek aan die aanhaling deur Carl Gustav Jung dink: “Die verskil tussen ’n goeie lewe en ’n slegte lewe is hoe goed jy deur vuur kan loop.”

*Brümmer is ’n senior redaksielid van Netwerk24. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.