Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die dag toe Paul Kruger dreig om te bedank . . .

Louis Botha het reeds as ’n jong boer by die politiek betrokke geraak. Hy was nie ten gunste van die dominerende Paul Kruger se konserwatiewe beleid nie en het die Transvaalse president op ’n keer trompop in ’n volksraadvergadering aangevat, skryf Richard Steyn in dié uittreksel uit sy biografie oor dié Boeregeneraal.

Genl. Louis Botha was die eerste premier van ’n verenigde Suid-Afrika. Foto: Getty Images

President Paul Kruger het instinktief verstaan dat alhoewel goud die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) van finansiële rampspoed gered het, die gesogte mineraal ook ’n bedreiging vir die republiek se oorlewing was.

Kort voor lank sou die Uitlanders, wat vanoor die hele wêreld na Transvaal gestroom het, talryker wees as die Boere. Met stemreg sou hulle Kruger se Boere kon uitstem. Britse imperialisme, wat toe in ’n strydlustige fase was, was vir hom ’n voortdurende bron van kommer.

Hy het gereken die imperiale mag kan teengestaan word deur die ZAR se ekonomiese onafhanklikheid op te bou. Dit het beteken dat monopolieë en konsessies aan plaaslike maatskappye en individue gegee is om stene, dinamiet, drank en leer- en ander noodsaaklike verbruikersgoedere te vervaardig en te verkoop en alles met hoë invoertariewe te beskerm.

Soos die historikus Hermann Giliomee opmerk, was hierdie proteksionistiese beleid goed en wel vir ’n hoofsaaklik landelike gemeenskap wat sy eie vervaardigingsektor probeer ontwikkel het, maar dit het nie gedeug vir ’n snelgroeiende diepvlak-mynbedryf wat koste wou bespaar en op die wêreldmark wou meeding nie.

Kruger se manier om konsessies en poste aan sy (dikwels onbekwame) familie, vriende en ondersteuners uit te deel het ’n reeds ongesonde stelsel erger gemaak.

Ontevredenheid met die president se diktatoriale neigings, ’n teësin in veral die dinamietmonopolie en ander konsessies en woede oor amptelike korrupsie en wanadministrasie het verskeie jonger en toekomsgerigte volksraadslede in die rigting van kommandant-generaal Piet Joubert se progressiewes laat kyk.

Maar al was hulle ’n liberaler element in die swaarwigtige en verstokte volksraad, was hulle nooit sterk genoeg om ’n bedreiging vir Kruger te wees nie.

Van die progressiewes se helderste ligte was Lucas Meyer, Koos de la Rey en Louis Botha. Volgens dr. FV Engelenburg, redakteur van De Volkstem, het Botha in sy eerste sitting as volksraadslid 50 keer gepraat – oor sake wat gewissel het van die ondersoek na die diamantmono-polie tot die “naturellebeleid”, die omheining van plase en die verhuring van regeringsgrond.

Hy het ’n mosie dat die volksraadslede ’n jaarlikse salaris van £1 200 kry, gesekondeer.

’n Oorsaak van groeiende ontevredenheid onder die Boere – veral die inkomende Kaapse Afrikaners wat werk gesoek het – was Kruger se toenemende afhanklikheid van amptenare wat uit Nederland ingevoer is om die staatsdiens, onderwys en spoorweë te bestuur. Omdat daar nie ’n poel van opgeleide en ervare staatsamptenare was waaruit hy kon put nie, moes die president noodgedwonge die vaardighede wat sy vinnig groeiende administrasie nodig gehad het in Europa gaan soek.

Botha het reeds ’n paar jaar tevore sy beswaar teen die aanstelling van Hollanders pleks van Afrikaners teenoor Joubert geopper.

Maar hierdie inkommers, veral die hoogs bekwame staatsprokureur, dr. W.J. Leyds, en hul aanstelling bo Afrikaners uit eie bodem het tot (polities aangehitste) teësin aanleiding gegee. Koerante soos Land en Volk het hul teenkanting teen die “Hollandse regering” luid verkondig.

Joubert het aan een van sy ondersteuners geskryf: “Ek sal doen wat my hand vind om te doen vir ons geliefde land – nie net vir onafhanklikheid van Engeland nie, maar ook van die ongesonde buitelandse invloed wat ons bestaan as volk en ons nasionale karakter ondermyn.”

Botha het reeds ’n paar jaar tevore sy beswaar teen die aanstelling van Hollanders pleks van Afrikaners teenoor Joubert geopper.

Dansery en korrupsie

Louis Botha: ‘met ’n snorretjie en bokbaardjie te midde van die woud van volbaarde’. Foto: Getty Images

Anders as die meeste ander lede van die volksraad, het die gemoedelike en gesellige volksraadslid vir Vryheid dikwels sy vrou, Annie, en hul vyf kinders – Helen, Frances, Louis, Jantje en Philip – saamgeneem Pretoria toe om die blink liggies van die hoofstad te geniet.

Hy was een van die ZAR se jongste openbare verteenwoordigers “met ’n snorretjie en bokbaardjie te midde van die woud van volbaarde” en het hom nie aan die swart geklede Calvinistiese element gesteur wanneer hulle langs die neus afkyk op sy dansery en konsertinaspelery nie. In Pretoria se stemmige wetgewende kringe, merk Engelenburg op, is sulke gedrag as onaanvaarbaar beskou.

Botha het nie omgegee nie; wat regtig vir hom saakgemaak het, was om teenstand te bied teen wanadministrasie, die ontoereikendheid van die onderwysstelsel en verregaande korrupsie.

Hy was altyd eerbiedig teenoor die president, maar het goed geweet wat Kruger se beperkings is en het die selfvertroue gehad om soms in debat swaarde met die ouer man te kruis. Hy was veral uitgesproke in sy kritiek op die betalende en ongewilde dinamietkonsessie.

Pres. Paul Kruger was daaraan gewoond om in debatte van die volksraad te doen net wat hy wou. Foto: Getty Images

Kruger het die alleenreg om dinamiet vir die myne te vervaardig aan ’n private maatskappy in Modderfontein gegee en dié fabriek het vinnig die grootste in die wêreld geword. Botha het met die mynbase saamgestem dat die monopolie hoogs ongewens is en dat plofstof vrylik ingevoer moet word om koste laag te hou.

In die gespanne dae van 1899, met oorlog met die imperiale mag ’n moontlikheid, het die volksraad die lid vir Vryheid in ’n kommissie wat die dinamietkonsessie moes ondersoek, aangestel. Botha het die wenkbroue laat lig met sy bevinding dat die regering homself só nou met die konsessiehouers verbind het, dat dit in dié ongunstige tyd onwys sou wees om die monopolie te beëindig. Dele van die pers wat die mynbase gesteun het, het hom heftig oor sy ommeswaai gekritiseer.

As hy nie sy sin kon kry nie, was Kruger se gewone taktiek om te dreig om te bedank.

Die dominerende Kruger was gewoond om in volksraadsdebatte te doen net wat hy wil. Sy modus operandi was om sy planne in ’n bulderende stem aan te kondig en enigeen wat teenstand bied woedend te kapittel. Hy het gepraat so dikwels as wat hy wou, totdat ’n maatreël ter tafel gelê is waarvolgens hy net een toespraak per debat kon hou. Nadat hy laat blyk het dat hy, as president, hom nie daaraan gaan steur nie, is die wetsontwerp stilweg opsy geskuif.

As hy nie sy sin kon kry nie, was Kruger se gewone taktiek om te dreig om te bedank. Toe hy dit weer ’n keer doen, het die ondeunde Botha opgestaan en voorgestel dat sy bedanking aanvaar word. In die lewendige debat wat daarna gevolg het, moes die president noodgedwonge sy dreigement terugtrek.

Hy het nie weer sy bedanking so ligtelik aangebied nie.

Louis Botha: Krygsman, generaal, staatsman word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R270.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Louis Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.