Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Donald Trump van Krugersdorp

Die ontslape Bosasa-baas, Gavin Watson, het  geglo dat hy nooit sou doodgaan nie,  skryf Adriaan Basson.

‘Hy praat soos Donald Trump. Hy maak staat op geykte frases soos ‘dit is ongelooflik’ of ‘jy sal dit nie glo nie’.”

Hy is nie vreeslik skerp nie. Hy het nie die woordeskat nie, sê die gedragswetenskaplike Denise Bjorkman, iemand wat al duisende mense en persoonlikhede ontleed het en baie jare saam met Bosasa se Gavin Watson gewerk het.

En die manier van praat is nie al wat Watson met Trump in gemeen gehad het nie.

In al my onderhoude met mense wat hom geken het, het hulle die struggle-broer wat sakeman geword het, beskryf as “narsisties” (hy het obsessief geoefen en het, volgens voormalige kollegas, Botox-inspuitings gekry), ’n boelie en, bowenal, ’n huigelaar wat die evangelie verkondig het terwyl hy sy weg na bo met kontant omgekoop het.

Retief van der Merwe, voormalige uitvoerende hoof van Bosasa, sê: “Gavin het ’n duiwel geword. Lindie Gouws (Watson se beweerde minnares en die redakteur van Bosasa se Christelike tydskrif) het (sweet nothings) in sy oor gefluister en hom vertel hoe goed en mooi hy was en hy het dit geglo.”

Ons was bang vir hom. Hy het vereis dat jy hom vrees.

Getuies voor die Zondo-kommissie sê hy was “onaantasbaar” en het hom beskryf as “intimiderend” en dat hulle hom gevrees het.

Bjorkman sê hoewel Watson homself waarskynlik nooit as ’n kultusleier gesien het nie, het hy die indruk geskep deur die bestanddele wat hy onbewustelik en onwetend ingestel het en wat sy ego en hubris gevoed het . . . saam met die konstante boodskappe wat oral op geelkoperplaatjies (in die kantoor was) en die optrede wat van Bosasa-werknemers verwag is – “die manier waarop ons hom geëer het”.

“Ons het hom Gavin genoem, maar as jy ’n voet verkeerd gesit het, sou hy jou leisels intrek en jy moes hom mnr. Watson noem. Hy het dit gedurig by jou ingeprent.

“Status en dominansie was vir hom baie belangrik,” sê Bjorkman, wat beskryf hoe, as Watson vanaf sy kantoor in die rigting van ander personeellede gestap het, “jy hom kon hoor skel, want hy het nooit sag gepraat nie; jy kon hom van 300 m weg hoor kom” en “almal van ons sou onmiddellik ons plekke inneem . . . So, dit was daardie gehoorsaamheid, daardie bewondering, daardie gedwonge respek wat gegeld het en wat hy gekweek het.”

Watson het homself gesien as ’n “grootman-leier” en het met vrees regeer.

“Hy kon die sjarme aanskakel, die empatie aanskakel, en dit onmiddellik weer afskakel.”

Ek het talle verhale gehoor van hoe personeel in hul broeke sou bewe terwyl Watson in die kantore rondloop en by verskillende kantore inloop.

Hierdie is ’n uittreksel uit Adriaan Basson se boek Blessed by Bosasa: Inside Gavin Watson’s State Capture Cult. Dis uitgegee deur Jonathan Ball.

“Die energie het heeltemal verander as hy na jou kantoor op pad was. Ons was bang vir hom. Hy het vereis dat jy hom vrees,” het ’n voormalige werknemer my vertel.

“Hy ignoreer jou heeltemal oor wie jy is. Daar is geen respek nie,” het Bjorkman gesê.

“Hy sal direk tot die punt kom en dan in die middel van ’n gesprek uitloop asof jy nie bestaan nie . . .Soms sou hy jou groet en soms sou hy net verby jou loop ten spyte daarvan dat jy hom gegroet het. Hy sal jou net ignoreer.”

Op personeelvergaderings sou Watson werknemers verneder wat dit gewaag het om vrae te stel oor die werknemerstrust, wat veronderstel was om 22% van Bosasa te besit, maar wat nooit dividende aan werknemers of vir bonusse betaal het nie.

En hy sou personeel dikwels ook op ander maniere verkleineer.

“Eendag het Gavin in ons kantoor ingeloop en my daar en dan gevra om die Onse Vader op te sê,” vertel ’n voormalige werknemer.

“Ek het nie die Engelse weergawe geken nie en vir Watson gesê dit is nie deel van my pligstaat om die Onse Vader te resiteer nie. Hy was woedend en het my lynbestuurder aangesê om met my ‘af te reken’.”

Soos Donald Trump was Watson bekend daarvoor dat hy wrede en afwysende opmerkings oor werknemers wat oorgewig is, gemaak het om hulle voor kollegas te verkleineer.

“Hy sou na ’n vrou wat oorgewig is, loop en haar voor almal vra: ‘Waarom is jy so vet?’ ”

Die Trump-vergelyking het verder gegaan as Watson se gemeenplase.

“Arbeidswette het weinig vir Watson beteken,” sê Bjorkman. “Hy sou skree, ‘you’re fired’ net om uitgesoekte individue in die verleentheid te stel wat hy geglo het oneerbiedig was of teenstrydig met sy eie etiese kode opgetree het . . .”

Sy personeel was oortuig dat Watson deur Donald Trump beïnvloed is en dat sy diktatoriale optrede geskoei was op die bekende TV-program The Apprentice. Sy liggaamshouding en die manier waarop hy die woorde “You’re fired” uitgespoeg het, het min afgewyk van Trump se eie styl. Watson se summiere afdankings het gelei tot ’n beduidende aantal verhore voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Jy kon sien wanneer hy ge-Botox was. Hy sou plooie kry en dan ’n dag later terugkom met hierdie Helen Zille-gesig.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, sê Watson was “absoluut obsessief” oor sy gesondheid en ’n lang lewe. “Hy sou soggens, ek het getel, 28 vitamienaanvullings neem. Gavin was in ’n geveg met die dood gewikkel. Hy het geglo dat hy vir ewig sal lewe; hy het geglo hy is onsterflik. Hy het saam met my in ’n motor gesit en gesê: ‘Ek sal nie gou sterf nie. Ek sal leef tot oor die 100.’ ”

Bjorkman deel ’n soortgelyke siening.

“Jy kon sien wanneer hy ge-Botox was. Hy sou plooie kry en dan ’n dag later terugkom met hierdie Helen Zille-gesig.”

Watson was geneig tot paranoia, wat veral veroorsaak is deur die berigte wat joernaliste soos ek geskryf het oor die korrupsie by Bosasa. “Nadat jy eers begin skryf het, was daar paranoia in die kantoor,” sê Bjorkman. “Almal was onder verdenking. Ons het ’n idee gehad dat ons kantore afgeluister word. Almal was paranoïes, te bang om met iemand te praat.

“As die direkteure na ons kantore gekom het, het hulle saggies en in gedempte tone gepraat. Die paranoia het die oorhand gekry en almal het gedink dat Armageddon op ons was en (in ’n verwysing na my persoonlik) jy was die verraaier. Jy was die fokuspunt van alles wat sou gebeur. Jy was die almagtige en ek kan onthou dat Gavin gesê het: ‘Find dirt on him, find dirt on Adriaan Basson.’ Ek onthou dat hy dit gesê het.”

Van der Merwe sê geld was die middelpunt van Watson se persoonlikheid en gedrag.

“Geld het vir hom alles geword. Alles draai om geld. Hy sou loop op die O.R. Tambo-lughawe, en tussen sy motor en die gebou veiligheidswagte in Xhosa groet en met ’n rol R100-note stap en vir elkeen R100 gee. Ek dink dit was ’n verleentheid vir daai ouens. Alles in die onderneming het oor geld gegaan.”

Bjorkman stem saam. “Gavin (is) gedryf deur geld . . . status, geld en glorie.”

Van der Merwe het een keer gehoor hoe Watson vir iemand vertel dat hy nie sal skroom om ’n verkeersbeampte om te koop nie. “Hy het gesê as hy vir spoed gevang word, hy maklik R200 sal betaal. Hy weier om vir spoed- of verkeersboetes te betaal.”

Watson, wat nie ’n tersiêre kwalifikasie gehad het nie, het homself as ’n selfgemaakte entrepreneur en sake­ghoeroe gesien. “Hy sou sê dat alhoewel sy broers en sy vrou grade gehad het en hy nie, hy die Bybel gehad het . . . Ja, daar is baie lesse in die Bybel, maar jy kan nie uit die Bybel leer hoe die JSE werk of om ’n balansstaat te lees nie. Daar is ’n groot verskil tussen wysheid en kennis,” sê Van der Merwe.

Op die hoogtepunt van Watson se hubris het hy die “Watson Corporate University” gestig, Bosasa se opleidingsfasiliteit, waar senior personeellede werknemers onderrig het in ’n pseudokwalifikasie. Hy het ook die blogs WATSONline en TRUTHonline begin waar hy sakegemeenplase sou deel.

Van der Merwe glo Watson het homself met swakkelinge en mense uit arm agtergronde omring sodat hy hulle kon “koop”. ’n Paar van Bosasa se senior bestuurders, byvoorbeeld, het geen relevante sakeondervinding of kwalifikasies gehad nie, maar enorme salarisse verdien en kon nie bedank nie. Watson het ervare wit werknemers herinner dat hulle sou sukkel om ander werk in Suid-Afrika te vind.

Ander het probleme met verslawing gehad of was persoonlik gekompromitteer, soos vir ’n seksuele indiskresie, waarvan Watson geweet het.

“Hy sou jou laat voel soos ’n miljoen dollar,” onthou Agrizzi oor die aanvanklike paar ontmoetings met Watson toe hy die eerste keer by Dyambu Operations aangesluit het.

Maar nadat hy vir amper twee dekades nou saam met hom gewerk het, het Agrizzi tot die besef gekom dat Watson se bestuurstyl – as ’n mens dit so kon noem – geskoei was op die skep van verskillende kampe in die organisasie en om mense teen mekaar af te speel.

Agrizzi is self in die maatskappy ingebring en opgestel teen die operasionele bestuurder en een van die oorspronklike stigterslede, Danny Mansell.

Later is Papa Leshabane grootgemaak as ’n toekomstige uitvoerende hoof om by Watson oor te neem terwyl Agrizzi in die skadu gestaan en wag het vir dié pos. Dit het vir enorme polarisasie in die organisasie gesorg en uiteindelik bygedra tot Agrizzi se vertrek.

* Adriaan Basson is die redakteur van News24.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Adriaan Basson  |  Bosasa  |  Boek  |  Blessed By Bosasa  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.