Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Die donker kant van rugby’

’n Gewese provinsiale rugbyspeler praat oor die “eensaamheid en naaktheid” in die professionele arena en vertel van ’n veldtog wat daarop gemik is om na jong sportlui se “breingesondheid” om te sien.

Cameron Peverett juig nadat die Maties in 2009 die Varsity Cup-eindstryd op Stellenbosch teen die Pukke gewen het.Foto: Carl Fourie/Gallo Images

Jy speel in ’n gepakte Danie Craven-stadion voor duisende toeskouers. Daar is oral kameras. Die atmosfeer is absoluut elektries. Die interaksie tussen die spelers en die toeskouers is tasbaar. Jy kan dit sien. Jy kan dit voel. Jy kan die verandering in die momentum van die spel ook voel. Jy kan dit in die gesigte van die mense langs die veld sien. En jý het die vermoë om die momentum te bepaal. ’n Wedstryd word binne oomblikke gewen of verloor. Jy is alomteenwoordig. Al wat saak maak, is wat binne die volgende paar sekondes gebeur. Daardie sensasie; daardie gevoel; daardie energie wat op daardie veld uitgestort word en waarop jy teer . . . Daardie hele skouspel is daar vir jóú.

Cameron Peverett (31) se stem is sag wanneer hy sê niks wat hy al ooit beleef het, kan die ekstase van so ’n ervaring troef nie. Hy sit oorkant my in ’n restaurant in Kaapstad. Wanneer hy mettertyd sy baadjie uittrek, kan ek sien hoe kragtig hy gebou is; hoe sterk die arms is wat by die kortmoue van sy hemp uitsteek.

Sy dae as belowende professionele rugbyspeler is verby. Hy werk deesdae vir Francois Pienaar se maatskappy Varsity Sports en is betrokke by die SpeakUp-veldtog.

Voordat hy aan my die ekstase en enorme druk in ’n professionele en Matie-rugbyspeler se lewe beskryf het, het ons oor dié veldtog gepraat.

Prof. Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting.Foto: Denzil Maregele

“Aan die einde van verlede jaar het prof. Lizette Rabe van die Universiteit Stellenbosch en die Ithemba-stigting ons by Varsity Sports genader en met ons ’n studie gedeel waarin bevind is dat tot 40% van Suid-Afrikaanse studente tydens hul studietyd aan een of ander vorm van sielkundige ongesteldheid ly.

“Aangesien Varsity Sports deel is van die studentelewe op kampusse, het ons gedink dit is sinvol om betrokke te raak by ’n bewusmakingsveldtog hieroor.

“Ons is as maatskappy sterk onder die indruk van die feit dat ons ’n invloed op jong mense se lewe het. In alles wat ons doen, is ons mantra: Ons is besig om mense se lewe te verander.”

En so het die SpeakUp-veldtog die lig gesien. Varsity Sports se sewe sportkodes word nou op kampusse in die Varsity Sports-reeks onder dié vaandel gespeel.

“Ek dink dis ’n fantastiese deurbraak; dat jong mense geleer word dat psigiese welwees die basis is van jou algemene welwees. Eenvoudig: Daar is geen gesondheid sonder mentale gesondheid nie,” sê Rabe.

Sy is ’n hoogleraar in joernalistiek en stigter van die Ithemba-stigting wat sigself daarvoor beywer om bewustheid te skep van depressie as ’n biologiese siekte en geld in te samel vir navorsing oor depressie.

“Daar is soveel druk op jong mense, en nog soveel meer deesdae in ons digisfeer en die 24/7- psigososiale druk in hul ‘altyd-aan-kultuur’. Dit is vir my persoonlik ’n wonderlike deurbraak dat Ithemba dit reggekry het om ’n organisasie soos Francois Pienaar se Varsity Cup/Varsity Sports te oortuig dat vanjaar se Varsity Sports-kodes vir breingesondheid gespeel moet word.”

Sy gebruik die woord breingesondheid omdat dit “konkreet” is “en presies sê waaroor dit gaan”: Jou belangrikste orgaan wat gesond moet wees sodat jy optimaal kan lewe.

Cameron Peverett van Varsity Sports gedurende ’n onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

’n Ondraaglike psigiese pyn

Cameron sê die doel van die SpeakUp-veldtog is onder meer om sielkundige siektes te normaliseer en te vermenslik, veral onder jong sportlui.

“Ons wil hê ons atlete moet sielkundige siektes benader net soos wat hulle fisieke beserings sou benader het. Ons wil die stigma afbreek en hulle aanmoedig om hulp te soek terwyl hulle nog kan.”

Ons wil hê ons atlete moet sielkundige siektes benader net soos wat hulle fisieke beserings sou benader het.

Hy verwys na die onlangse geval van die Wallaby-stut James Slipper wat vir twee maande uit rugby geskors is nadat hy twee keer positief vir kokaïen getoets het. Dit het tydens ’n ondersoek aan die lig gekom Slipper ly aan depressie.

“Raelene Castle, die hoof van die Australiese rugbyunie, het gesê hulle hoop om voortaan hierdie soort dinge te ondervang voordat dit sulke afmetings aanneem.”

Sy het aan The Guardian gesê mense probeer hard om enige uitdagings rondom breingesondheid of depressie so lank as moontlik weg te steek voordat hulle bereid is om dit bekend te maak.

“As ’n sportsoort behoort ons mense aan te moedig om vroeër daarmee vorendag te kom, want hoe vroeër hulle dit bekend maak, hoe meer hulp kan ons aan hulle bied.”

Volgens Rabe is dít ook SpeakUp se oogmerk.

“Dis presies wat ons wil doen met die veldtog. Dat jy nie wag en dink dit sal weggaan, of begin met ‘selfmedikasie’ in ’n poging om te ontsnap van jou psigiese pyn nie.”

Die soort psigiese pyn wat byvoorbeeld verlede jaar vir die Australiese slot Dan Vickerman, ’n gebore Suid-Afrikaner, ondraaglik geraak en tot sy selfdood gelei het.

Rantso Mokopane van die Noordwes-Universiteit vroeër vanjaar gedurende ’n Varsity Sports-atletiekbyeenkoms in Pretoria. Atlete neem as deel van die SpeakUp-veldtog deel in uitrustings wat groen of deels groen is aangesien dit die internasionale kleur is waardeur geestesgesondheid uitgebeeld word. Foto: Henry Marsh

Studente onder druk

Cameron sê Amerikaanse studies het bevind daar is ’n hoër voorkoms van sielkundige ongesteldhede onder studente-atlete as onder ander studente, want hulle verkeer onder baie groter druk.

“Hulle is onder groot druk om in hul sport te presteer en dan is daar nog die druk van hul studies. In Suid-Afrika is daar ongelukkig nog nie sulke navorsing gedoen nie. Daar is egter nou planne om so ’n peiling onder ons atlete te doen.”

Ek vra hom uit oor sy eie belewenisse as rugbyspeler.

Ek was 12 toe ek die droom om ’n Springbok te word aktief begin koester het.

“Ek was nie ’n slegte rugbyspeler nie. Ek het van o.13 af tot en met die Cravenweek vir Westelike Provinsie gespeel. In matriek het ek my eerste kontrak met WP geteken en só het my loopbaan as professionele rugbyspeler begin.

“Ek was 12 toe ek die droom om ’n Springbok te word aktief begin koester het. Ek het met my pa gepraat en ons het besluit ek moet Kaap toe kom vir hoërskool. My pa het toe besluit ons hele gesin moet uit Queenstown Kaap toe trek. Deur daardie besluit het die droom in ’n werklikheid begin verander. My pa het besef ek is ernstig daaroor en dat ek die talent het.”

Cameron is na Paul Roos op Stellenbosch, waar hy in 2005 die skool se eerste swart hoofseun geword het.

“In standerd ses was daar ’n gesprek oor ras en Paul Roos en die feit dat daar nog nooit ’n hoofseun van kleur by die skool was nie. Ek het toe gesê ek sal die eerste een wees. Party ouens het gelag.”

Hy is daarna na die Universiteit Stellenbosch met rugby as die groot trekpleister.

“Maar toe besluit ek op 19 in my eerste jaar as professionele speler (benewens Maties ook WP o.19), hierdie is nie vir my nie. Hoekom? Omdat ek ’n bietjie van ’n puris is. Wat ek in die gange van professionele rugby beleef het, het my ontnugter. Dit het meer gegaan oor die vooruitgang van die individu as oor die span se prestasie.

“Daar word vir jou gesê jy móét wen. Ek was ’n agtsteman en is aangesê om 10 kg gewig aan te sit toe ek uit matriek kom. Ek het dit binne drie maande gedoen. Ek het in die proses ’n ernstige bekkenbesering opgedoen.

“Ek het ook gevoel daar is geen ruimte vir kreatiewe uitdrukking nie. Die inhoud van my droom het nie ooreengestem met die omgewing waarin ek my bevind het nie.”

“Ek was hoofseun van Paul Roos, kaptein van die eerste rugbyspan en kaptein van die WP se Cravenweekspan . . . maar onder die akkolades was ’n leegte.

Hy bly ’n ruk stil en sê dan sy ma het gesterf toe hy agt was.

“As gesin het ons dit nooit regtig verwerk nie. Ek dink nie my pa het geweet hoe om dit te doen nie. Ons het nooit oor haar dood gepraat nie. My ma het oor ’n naweek gesterf (weens komplikasies wat ingetree het nadat sy in ’n taxi-ongeluk beseer is) en toe ek die Maandag nie wou skool toe gaan nie, het my pa gesê ek moet; die lewe gaan aan.

“My pa was toe ’n enkelouer van drie kinders en hy het in die konstruksiebedryf gewerk, wat beteken het ons moes gereeld trek.”

Die dood van sy ma het ’n leegte gelaat; ’n gat.

“Dinge soos om hoofseun van Paul Roos te wees en om uit te blink in sport . . . Die strewe na applous. Die gevoel wanneer jy in die middel van ’n veld staan en daar is duisende juigende toeskouers. Maar niks kan daardie leegte vul nie.

“Ek was hoofseun van Paul Roos, kaptein van die eerste rugbyspan en kaptein van die WP se Cravenweekspan . . . maar onder die akkolades was ’n leegte. En toe het alles ineengestort. Ek onthou toe ek van Paul Roos af weggestap het, het ek gesê ek wil nooit weer ’n leiersrol hê nie. Daar is niks erger as om eensaam te wees in ’n vertrek vol mense nie; om die hartseerste gewilde kind in die skool te wees nie.”

“Wat ek in die gange van professionele rugby beleef het, het my ontnugter.” Foto: Jaco Marais

Lewe ná rugby

Ná ’n aanbod van UJ-rugby het Cameron aan die Universiteit van Johannesburg gaan studeer waar hy vir twee seisoene rugby gespeel en ’n LLB-graad behaal het. In 2013 het hy ophou rugby speel.

“Wat het jy as jy ophou speel? As dit die fokus van jou lewe was? Die meeste rugbyspelers raak depressief wanneer hul rugbyloopbane verby is, want alles wat jou lewe was, jou wêreld, verander in daardie oomblik. En indien jy nie in voeling was met die lewe buite rugby nie, wat het jy dan oor?”

Toe hy op 19 ontnugter geraak het met professionele rugby het hy daardie leegte met die kerk probeer vul. Hy was vyf jaar lank intens by die Sjofar-kerk betrokke tot so ’n mate dat hy geloofsgenesing uitgevoer het. Maar uiteindelik het hy dit te beperkend gevind, sê Cameron.

Jy word nie op die volwasse lewe voorberei wanneer jy ’n professionele rugbyspeler is nie, want jy hoef vir niks te sorg nie.

Hy voel toegerus om betrokke te wees by die SpeakUp-veldtog omdat hy hom kan vereenselwig met wat jong mense beleef wat studeer en aan sport deelneem. Ook professionele sportlui.

“Jy word nie op die volwasse lewe voorberei wanneer jy ’n professionele rugbyspeler is nie, want jy hoef vir niks te sorg nie. Jy is altyd in die teenwoordigheid van spanmaats. Alles word vir jou gedoen en aan jou voorsien. Al wat van jou verwag word, is dat jy dít lewer waarvoor jy betaal word.”

As gevolg hiervan vind hy dat hy soms sukkel om in ’n normale werk met kantoorure aan te pas.

“Ek betrap myself elke nou en dan dat ek by die venster sit en uitstaar en dan moet ek myself terugdwing na my rekenaar toe. Daar is ’n saaiheid aan dié lewe wat jy nie as rugbyspeler beleef nie.

“Wanneer jy op die veld is, beïnvloed jou optrede die optrede en gevoelens en gedagtes van duisende mense. En jy is bewus daarvan. Dán en van die veld af. Dit spreek uit hoe mense teenoor jou optree. Jy loop in die straat af en jy is nie net Cameron Peverett nie. Jy is Cameron Peverett wat vir Paul Roos gespeel het of wat vir WP gespeel het of wat vir Maties gespeel het. Mense sal na jou toe kom en herinneringe met jou kom deel: ‘Ek sal nooit die dag vergeet toe jy dit of dat gedoen het nie.’ ”

‘Is ek nog hy?’

Hy borduur voort op die uitdagings wat professionele spelers in die gesig staar wanneer hul sportloopbane tot ’n einde kom.

“Jy is dan nie meer seker wie jy is nie, want jy het jou identiteit rondom jou sportmanskap gebou. Die toename in druk . . . Dit word net al meer hoe verder jy as speler vorder. En skielik begin mense oor jou praat en oor jou skryf en jou spel beoordeel terwyl hulle geen benul het van wat in jou lewe aangaan en ook nie eintlik omgee nie. Jy is nou maklike prooi.

“So dit is nie ’n omgewing wat bevorderlik is vir jou welstand nie. Jy is op jouself aangewese. Dis amper soos ’n saketransaksie: Jy word ’n sekere bedrag betaal in ruil vir sekere uitkomste en dit is jou verantwoordelikheid om na jou eie welstand om te sien.

Jy beleef ’n naaktheid wanneer jy in die kollig is en indien jy enige onsekerhede het, gaan hulle beslis in daardie fel lig blootgestel word.

“Dit is beslis besig om te verander as ’n mens kyk na hoe federasies begin besef dit is deel van hul morele verantwoordelikheid om te verseker dat die omgewing wat hulle vir spelers skep, bevorderlik is vir hul welstand.

“Jy beleef ’n naaktheid wanneer jy in die kollig is en indien jy enige onsekerhede het, gaan hulle beslis in daardie fel lig blootgestel word.

“En as dit nie op die regte wyse hanteer word nie, gaan jy die probleme beleef wat nou eers in lande soos Australië, Engeland en die VSA aan die lig kom. Snaaks genoeg praat niemand in Suid-Afrika eintlik oor hierdie (sielkundige) probleme nie.”

“Snaaks genoeg het ek op 19 besluit ek wil nie meer ’n Springbok word nie.” Foto: Jaco Marais

‘Práát daaroor’

Cameron sê sy pa kon nooit verstaan hoe hy sy rugbydroom kon “versaak” nie.

“Dit is omdat hy nie geweet het watse soort omgewing dit is nie. Niemand buite professionele rugby weet eintlik nie, want dit is ’n baie geslote omgewing. Jy praat nie uit nie. En ek dink dít is die deel van daardie kultuur wat bydra tot die (sielkundige) probleme wat spelers begin ervaar. Ons het ambassadeurs gesoek vir hierdie veldtog, maar ons kon nie enigiemand kry nie, want niemand wil praat nie. Dít is hoekom die veldtog se naam heel gepas SpeakUp is. As jy dit nie doen nie moet jy uiteindelik alleen daarmee leef.”

Dit is ook weens vrees dat spelers nie wil praat nie, sê hy.

“Jy moet onthou: Jy word gekiés om te speel; iemand neem daardie besluit, en as jy nie in jou spoor trap nie, is jy uit. Die volgende persoon in die ry sal jou plek neem en sal konformeer, want dít is wat jy doen om jou voet in die deur te kry.

Nie baie mense maak geld uit rugby nie. Hulle is dikwels aan die einde van ’n loopbaan platsak.

“Die afrigter het altyd ’n verwagting van wat hy wil hê en as jy dit nie doen soos hy dit gedoen wil hê nie, is jy uit. Dis ’n baie onveilige beroep. Nie baie mense maak geld uit rugby nie. Hulle is dikwels aan die einde van ’n loopbaan platsak.

“Jy het ’n beperkte venstertydperk en baie van die spelers het nie veel opsies as hul rugbyloopbane verby is nie. So dis ’n hoogs gelaaide omgewing en jy moenie oor probleme praat nie, want sodra jy dit doen, gaan die afrigter dalk aan jou begin twyfel en bestaan daar die kans dat jy nie gekies word om te speel nie. Uiteindelik gaan almal te hore kom hoekom jy nie meer speel nie en kort voor lank is jy nie meer ’n professionele rugbyspeler nie.”

Ons praat oor depressie.

“Ek is nooit as depressief gediagnoseer nie, maar ek dink dit is moontlik dat ek op verskeie tydstippe van my lewe wel een of ander vorm van depressie beleef het. Maar ek was nog nooit sonder hoop nie. Ek is ’n optimis.

“Ek dink die moeilike dinge wat ek in my lewe beleef het, is uitgekanselleer deur die feit dat ek nog nooit vir een oomblik daaraan getwyfel het dat my ma vir my lief was nie. En my pa het ook nog altyd vir my gesê hy is lief vir my,” sê Cameron.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Francois Pienaar  |  Lizette Rabe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.