Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die droogte bly, maar tyd en water raak min

Die volgende twee maande gaan deur-slaggewend wees vir baie Oos-Kaapse boere as hulle die huidige droogte die hoof wil bied. Voorspellings wys egter hulle gaan nog langer moet wag op reën, skryf Lourens Schoeman.

Ná minder reën as normaalweg oor die afgelope vier jaar, sal net broodnodige winterreën in Julie en Augustus die Oos-Kaap van ’n katastrofiese droogte kan red. Foto: Zigi EKron

As dit nie binnekort goed en aanhoudend reën in die somerreënvalstreke wat tans onder die droogte gebuk gaan nie, sal dit katastrofiese gevolge vir mens en dier inhou.

In die Oos-Kaap trek veeboere reeds noustrop en dit lyk nie asof daar tekens van verligting op die horison is nie.

Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, sê dis moeilik om te skat wat uiteindelik sal gebeur, veral omdat die provinsie al vir die afgelope vier jaar reeds minder reën gekry het as normaalweg. Dit het veroorsaak dat veral veldweiding tans bitter skaars of swak is.

Hy sê veldweiding sal verder drasties verswak as die droogte veel langer duur en dit sal tot laer lam- en kalfpersentasies lei.

Cobus de Klerk

Cobus de Klerk, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV), sê hierdie twee maande is besonder belangrik, maar as daar voor die lente nog nie ’n keerpunt gekom het nie, stuur die veebedryf op ’n ramp af. “Ons lamseisoen is van Augustus tot September, en dan moet daar kos in die veld wees, en die ooie melk hê vir die lammers. 

“As die ooie nie in goeie kondisie is nie, weens te min kos in die veld, kan hulle baie maklik aborteer, terwyl die lammers kan vrek as die ooi nie genoeg melk het vir die lam nie,” meen hy.

Hy sê voorts die vereniging sal boere wat sukkel om voer vir hulle vee te kry sover moontlik met subsidies bystaan.

“Dit kos in die omgewing van R80 000 om ’n vrag voer (vervoerkoste ingesluit) op jou plaas te kry,” sê hy.

Tans is alle oë gerig op die SA weerdienste in die hoop dat die weermense se voorspellings dat die Oos-Kaap nie voor November goeie reën kan verwag nie verkeerd is. As die voorspellings wel akkuraat is, is dit nie net slegte nuus vir die boere nie. Verbruikers sal die gevolge aan hulle beursies voel namate vleispryse weer die hoogte in skiet.

Douglas Stern

“Die boere het hulle veegetalle tot so ’n mate verminder dat hulle net hulle kernkuddes oor het en geen surplusdiere nie.

“Hulle hoop om die kuddes weer te kan opbou wanneer die reën kom en die veld herstel,” sê Stern.

Omdat die boere nie vee het om te verkoop nie, beteken dit noodwendig ’n gebrek aan inkomste. “Dit sal weer ’n baie groot invloed hê op die kontantvloei van boere en dit is ’n baie groot bekommernis. Die georganiseerde landboubedryf in die Oos-Kaap doen alles in sy vermoë om sagte lenings vir boere te bekom.

“Ons is egter nie seker of dit enigsins suksesvol sal wees nie, veral omdat daar nie veel hulp vir die boere kom vanaf die kant van die staat nie,” sê Stern.

“Ten spyte van die moeilike posisie waarin die boere hulleself bevind, doen hulle alles moontlik om na hulle werkers om te sien,” voeg hy by.

Volgens Guillau du Toit, voorsitter van die nasionale wolkwekersvereniging (NWKV), sê desnieteenstaande die swak vooruitsigte vir reën moet mense hulle nie daarteen blindstaar nie.

Spes Du Preez

“Weervoorspellings is menslik, maar weerpatrone is nie vasgemaak nie. Laat dit ’n aanduiding wees, nie ons fokus nie.”

Francois du Toit, voorsitter van die Oos-Kaapse rooivleisprodusenteorganisasie (OKRPO), beaam wat Guillau du Toit gesê het, maar voeg by dat die droogte nog nie in enige van die gebiede gebreek is nie, ten spyte van die onlangse reën.

“Die gebiede met goeie reënval se veld het ook nog nie voldoende herstel nie en dit is die probleem,” sê hy.

Die weivelde sal oral baie mooi opgepas moet word, veral in die gebiede met meer reënval, want jy is geneig om nou daar meer vee te dra omdat dit vir jou goed lyk.

Intussen vertrou sitrusboere in die Gamtoosvallei dat hulle hul lonendste variëteite aan die lewe sal kan hou met die toekenning van ’n skrale 20% van hulle normale besproeiingswater vir die nuwe waterjaar wat op 1 Julie in werking gekom het.

Volgens Petrus (Spes) du Preez, voorsitter van die Gamtoos landbouvereniging, hoop hulle dat die verwagte reën in Oktober en November welkome verligting sal bring.

“Van ons het reeds ons boorde ingedeel in kategorieë op grond van opbrengspotensiaal en bestandheid. In sommige sal ons voluit boer, in ander net ten dele en in party glad nie. Ons het reeds met die 40%-toekenning van die vorige seisoen nuwe strategieë en praktyke aangeleer en toegepas.

“Daar is nog nie ’n situasie op die horison waar ons geen water sal hê nie. Ons pas dus maar aan soos die natuur ons lei. Omstandighede laat jou ook buite die boks dink.

“Met die 20%-toekenning moet ons ons beskikbare hulpbronne verder rek en ons rieme nog dunner sny,” sê hy. Volgens hom het boere reeds sowat die helfte van hulle oes ingebring.

“Ons word weens die weersomstandighede gedwing om vroeër te oes as normaalweg.

“Die droë noordewinde, min water en warm Julieweer kan vrugval, skildeffekte en swakker interne gehalte veroorsaak. Die bemarkingspatroon verander dus ook en ons hoop net die pryse word nie negatief geraak,” sê Du Preez.

“Tot en met die einde van September, wanneer die meeste sitrus geoes sal wees, voorsien ons nie abnormale afleggings van enige werkers nie. Daarna sal dit afhang van reën en die vooruitsigte vir 2018-’19. Ons is baie bewus van die maatskaplike en sosio-ekonomiese gevolge van afleggings en werkloosheid. 

Nog nooit was die Kougadam so leeg soos nou nie. Nog nooit het ’n beperking oor een jaar gestrek nie. Dit gaan beslis ons benadering tot die gebruik van water dramaties verander.

“Met die onsimpatieke landbou-ondersteuning deur die staat, veral tans, is die wel en wee van die gemeenskappe ons plaaslike verantwoordelikheid. 

“Dit is ’n groot uitdaging om die beskikbare water toe te deel aan die huidige oes, want dit is inkomste op hande, en aan die volgende seisoen om te red wat te redde is totdat omstandighede normaliseer.

“Ons hele gemeenskap moet oor die langtermyn ook kan oorleef. Heelwat produsente se groter inkomste word Julie en Augustus geoes.

Waterverspreiding gaan dus verskil van variëteit tot variëteit. Die huidige sterk winde en warmer weer is ook nie bevorderlik vir die situasie nie.”

Du Preez sê groenteprodusente onder dubbele druk weens laer produksie in die 2018-seisoen vanweë die droogte, groentepryse wat landswyd swak is, en baie beperkte, indien enige, aanplantigs vir die komende kwartaal.

“Groenteboere bly onder druk wat teen groot koste langtermyn leweringskontrakte probeer beskerm deur in die omliggende omgewing grond met beskikbare water te huur. Dink aan die logistieke en infrastruktuur-aanpassings. Die meeste doen vooraf verpakking en verspreiding vanaf die plaas.”

Baie boere wend hulle tot grondwater en sink boorgate, amper as desperate alternatief. Dit is duur en soos altyd onseker, veral met ons geskiedenis van beperkte ondergrondse bronne.

“Nog nooit was die Kougadam so leeg soos nou nie. Nog nooit het ’n beperking oor een jaar gestrek nie. Dit gaan beslis ons benadering tot die gebruik van water dramaties verander,” sê Du Preez.

Meer oor:  Kougadam  |  Oos-Kaap  |  Aktueel  |  Droogte  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.