Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die droogte van bruin vroue in die politiek
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, verlede week in ’n onderhoud met Die Burger. Foto: Adrian de Kock

Om ’n voorspelling te waag oor die politieke toekoms van Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, is net so gewaagd soos om te probeer raai wanneer die Wes-Kaapse waterkrisis tot ’n einde sal kom.

In kort word De Lille daarvan beskuldig dat sy onreëlmatige besteding deur ’n senior amptenaar van die Stad Kaapstad “toegesmeer” het en toe die stadsbestuurder opdrag gegee het om dié inligting van die stadsraad te weerhou.

Sonder om op die bewerings te reageer, vermoed sy dat wat agter die DA se druk op haar om te bedank skuil, is dat die party die burgemeesterspos vir sy nuwe Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, beskikbaar wil maak.

Hý is onder twyfelagtige omstandighede verkies nadat De Lille as provinsiale leier bedank het om, het sy aan die publiek voorgehou, op haar burgemeesterstake te fokus. Madikizela se vernaamste teenstander in die leierstryd, adv. Lennit Max, betwis nou die verkiesingsuitslag.

Elders word gegis dat die beweegrede agter die plan om haar te vervang glo is dat die party nie kan bekostig om in die 2019-verkiesing ’n etniese swart leier as die gesig van sy veldtog in die Wes-Kaap te hê nie. Dis nou glo met die party se groot steun onder die bruin kieserskorps in gedagte. En dié kiesers sal glo meer positief daarop reageer as die premierspos, wat tans deur Helen Zille beklee word, vir Alan Winde, provinsiale minister van ekonomiese geleenthede, geoormerk word.

In ’n ander opsig het dit te make met prominente vroue uit die bruin gemeenskap wat nie noodwendig na hulself as bruin verwys nie.

Die doel van hierdie artikel is nie om te probeer bepaal of die veronderstelde wit-bó-swart-voorkeur onder bruin kiesers waar is en of dit bloot bespiegeling is nie.

Die doel is ook nie om De Lille se skuld of onskuld – wat met die beperkte beskikbare inligting in die openbare domein in elk geval ’n onmoontlike taak sou wees – te probeer bewys nie.

Waaroor hierdie skrywer dit het, is die waarneming dat De Lille se verwydering – as gevolg van haar skuldigbevinding óf as die resultaat van ’n politieke veldtog – ’n kommerwekkende politieke droogte sal vererger. En dít is die grootlikse afwesigheid van bruin vroue in vername politieke rolle in die land.

In een opsig is dit ’n historiese verskynsel: Selfs in die onlangs ontslape prof. Richard van der Ross se boek In Our Own Skins – A Political History of the Coloured People, vind jy net die naam van Cissie Gool, dogter van dr. Abdullah Abdurahman en ’n bruin vrou wat ’n belangrike politieke figuur was; en dié van De Lille as deel van die bedankings.

In ’n ander opsig het dit te make met prominente vroue uit die bruin gemeenskap wat nie noodwendig na hulself as bruin verwys nie. Hoe identifiseer Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, byvoorbeeld haarself? Of is dit veilig om aan te neem dat sy bruin is aangesien sy in die bruin Johannesburgse gebied Coronationville gebore is en ook haar skoolloopbaan daar voltooi het? As dié afleiding akkuraat is, maak dit haar seker die mees senior bruin vroulike politieke rolspeler in die land.

Jy sou noodwendig ook die naam van die (nou omstrede) kabinetslid Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, kon byhaal, sowel as premier Sylvia Lucas van die Noord-Kaap, LUR’e soos Wendy Nelson in Noordwes, LP’s in die Nasionale Vergadering, onder wie die Oos-Kapenaar Hope Malgas (ANC) en die voormalige koerantredakteur Zelda Jongbloed (DA).

Dit lyk op die oog af of prominente bruin vroue (selfs al identifiseer hulle hulself nie as sulks nie) in ander hoedanighede as die politiek belangrike rolle vertolk: Die oud-UDF-leier Cheryl Carolus het byvoorbeeld die sakewêreld haar tuiste gemaak. Hier bevind sy haar in die geselskap van onder andere prof. Rachel Jafta, Media24-voorsitter, Venete Klein, voorheen van Absa en Eskom, en Heather Sonn, wat tans in die nuus is oor haar nuwe rol as Steinhoff-direksievoorsitter, maar ook bekend as ’n rolspeler in hernubare energie en dogter van Franklin Sonn, die oudambassadeur.

Wat politieke kommentators betref, kom die name van Rhoda Kadalie en Judith February op (weereens sonder dat hulle hulself bruin noem); in die letterkunde maak die digter Diana Ferrus onder andere naam, asook Valda Jansen en Ronelda Kamfer; in sport het die voormalige Banyana Banyana-kaptein Desiree Ellis ook onlangs as Banyana-afrigter presteer.

Jy sou uit ’n media-oogpunt die naam van Febe Potgieter-Gqubule, ondervoorsitter van die nuwe SAUK-raad, kon noem; in die akademie, onder andere prof. Debra Meyer; in kerkgeledere dr. Mary-Anne Plaatjies van Huffel van die VGK; in die vermaaklikheidswêreld wissel dit van die Idols-wenner Paxton tot die “My African Dream”-sanger Vicky Sampson en die 7de Laan-ster Vinette Ebrahim; en dan in die kunste die uitsonderlike Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap.

Indien De Lille dus van die toneel verdwyn, sal net enkele mans as politieke verteenwoordigers van die bruin gemeenskap oorbly. En hoor jy die magtige dreuning van hul stilte oor die posisie waarin De Lille haar tans bevind, naamlik vasgedruk tussen die politieke ambisies van twee mans – die een swart, die ander wit?

Miskien sal die laaste woord uiteindelik behoort aan die meerderheidstem in die Wes-Kaap, synde bruin werkersklasvroue. Dit is immers – sonder om haar op enige wyse te probeer verontskuldig – húlle “aunty Pat” oor wie dit hier gaan.

Heindrich Wyngaard is ’n aktualiteitsaanbieder en skrywer.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Politiek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.