Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Die een goeie ding van apartheid'

Oliver Tambo was ’n natuurlike demokraat wie se grootste nalatenskap die Suid-Afrikaanse Grondwet is, sê oudregter Albie Sachs. Gert van der Westhuizen gee sy indrukke van ’n gedenklesing wat Sachs verlede week in Pretoria oor Tambo gelewer het.

Oudpres. Nelson Mandela en Oliver Tambo sit koppe bymekaar op ’n ANC-konferensie in Desember 1990 in Johannesburg – ’n dag nadat Tambo uit ballingskap na Suid-Afrika teruggekeer het. Foto: Argief

Baie Suid-Afrikaners is nie meer bewus van die belangrike rol wat Oliver Tambo as leier van die ANC in ballingskap in die stryd teen apartheid gespeel het nie. Hy is in 1993, kort voor die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika, dood.

Boonop het hy die belangrikste ongeveer 30 jaar van sy politieke loopbaan in die buiteland deurgebring, waar hy sy diplomatieke vernuf tot die uiterste moes inspan om die ANC in ballingskap bymekaar te hou.

Die nalatenskap van Tambo, wat vanjaar ’n eeu gelede gebore is, kan egter volgens oudregter Albie Sachs steeds in die Suid-Afrikaanse demokrasie gesien word.

Min mense kan met meer gesag oor Tambo se rol in die vryheidstryd gesels as Sachs.

Hy het Tambo al in 1952 ontmoet toe hulle aan die weerstandsveldtog teen apartheidswette (defiance campaign) deelgeneem het.

Sachs, oudregter in die konstitusionele hof, het verlede week die eerste van ’n reeks lesings gelewer om Tambo se geboorte op 27 Oktober 1917 te herdenk. Dit is deur die Sentrum vir Menseregte van die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit in samewerking met die Oliver en Adelaide Tambo-stigting aangebied.

Oliver Tambo het die ANC sowat drie dekades lank in ballingskap gelei. Foto: Argief

Dit was nie die gewone, vervelige gedenklesing waar iemand agter ’n podium gaan staan en ’n lang, vervelige toespraak van ’n klomp velle papier af lees nie.

Sachs het op ’n stoel voor in die lesingsaal gaan sit en sy herinneringe aan Tambo op ’n geselstrant met toehoorders gedeel, sonder om een keer na ’n stuk papier te loer.

Hy het van Tambo ’n mens eerder as net ’n politieke leier gemaak. Jonk en oud het aan Sachs se lippe gehang, soms gelag vir sy kwinkslae, hom ’n staande toejuiging gegee en agterna nie gehuiwer om vrae te vra nie.

Sachs het sy gehoor reg van die begin af geboei toe hy gevra het wat die een goeie ding was wat apartheid gedoen het. “Dit het tot weerstand teen apartheid gelei,” het hy sy eie vraag geantwoord, “en as dit nie daarvoor was nie, het ek nie vandag hier gesit nie.”

‘Kameraad OR’ meer as ’n reus en ikoon

Volgens Sachs kon hy en Tambo nie meer van mekaar verskil het nie. Hy het ’n stedelike agtergrond gehad teenoor Tambo wat in ’n “diep landelike” gebied en in ’n tradisionele, Christelike gemeenskap grootgeword het.

“As dit nie vir apartheid was wat ons uit mekaar probeer hou het nie, sou ons mekaar nie ontmoet het nie,” het Sachs van 1952 se veldtog vertel, waarin hy die “10 834ste vrywilliger” was. “Ons is verenig deur weerstand.”

Hy het as ’n “baie idealistiese, jong regstudent van Kaapstad” elke keer ’n welwillendheidsbesoek gebring aan Tambo by sy en Nelson Mandela se regspraktyk wanneer hy in Johannesburg was. Daar was altyd tyd vir gesels en ’n koppie tee.

“Hy was nie ’n reus nie, hy was nie ’n ikoon nie. Hy was meer as dit. Hy het sag gepraat en stillerig geglimlag. Hy was ’n vriendelike, warm mens wat ander tuis laat voel het en na hulle geluister het.”

Oliver Tambo op ’n byeenkoms in Mei 1960 in Londen. Foto: Argief

Toe hy in 1967 in ballingskap in Londen was, het Sachs gehoor “kameraad OR” gaan ’n belangrike aankondiging maak. “Hy het ons vertel die Luthuli-brigade van MK (Umkhonto we Sizwe) het die Zambesirivier oorgesteek en in ’n geveg met Rhodesiese troepe betrokke geraak. Ons het gejuig en gejuig: ‘Ons veg terug!’ Toe skree iemand: ‘Dit is moord!’ ”

Niemand het geweet wat om hierna te verwag nie en die situasie was nogal gespanne.

“OR het eenkant toe gestaan en gesê: ‘Miskien is die ergste ding wat apartheid gedoen het om mense wat graag dokters en prokureurs en kokke wou word in moordenaars te verander.’

Jy verwerk ontnugtering nie deur die prestasies van die verlede te misken nie.

“Dit was een van die groot oomblikke in my lewe,” onthou Sachs.

“Soms het ek gewens hy wil meer kragdadig wees en ons oprui, maar die krag van sy woorde het in sy logiese denke en menslikheid gelê.”

Sachs herinner hom ook aan die talle jong lede van die Swartbewussynsbeweging wat ná die Soweto-opstand in 1976 oor die grens gevlug het en in ANC-kampe beland het.

Bedagsame, oopkop leier

“Hulle was mal oor (dr.) Yusuf Dadoo (bekende SAKP-leier) met sy pyp en sy foto van (die bolsjewistiese leier Wladimir) Lenin teen sy muur. Hulle het Oliver Tambo geringgeskat, maar binne drie, vier, vyf jaar was hy die mens wat hulle die meeste bewonder het. Hy het na hulle geluister en aandag aan hul probleme gegee; hy het vir hulle omgegee.

“Sy idealisme en vasbeslotenheid was blywend. Hy het nie op slagspreuke staatgemaak nie. Hy was soekend, bedagsaam en oopkop. Hy het ’n diepgewortelde vorm van Afrika-nasionalisme voorgestaan, wat inklusief van aard was en almal omarm het. Dit was ’n bevrydende Afrika-nasionalisme.”

Sachs het ook verwys na ’n latere ontmoeting toe Tambo hom gevra het om van Mosambiek na Lusaka te kom. “In Lusaka het ek hom in sy klein kantoortjie aangetref waar hy besig was om vlieë dood te slaan. Ek het nog gedink ’n president is nie veronderstel om vlieë dood te slaan nie.”

Met sy vertelling oor Oliver Tambo het oudregter Albie Sachs, hier in die konstitusionele hof, mense by die Universiteit van Pretoria aan sy lippe laat hang. Foto: Verskaf

Tambo het Sachs vertel van “agente van die vyand” wat deur die ANC aangehou en gemartel is. Sachs was geskok. Tambo het hom toe gevra om ’n omvattende gedragskode vir die ANC op te stel. Dit moes allesomvattend wees: van dronkbestuur en diefstal tot seksuele aanranding en die behandeling van “vyandelike agente” moes onder die loep kom.

Die gedragskode moes ook deur lede van die ANC bespreek word. Dit was Tambo se manier, het Sachs gesê, hy wou die organisasie se lede betrokke kry. Die uiteinde van die saak was dat marteling verbied is en dat die behandeling van aangehoudenes verbeter het.

Die kwessie oor die behandeling van gevangenes in ANC-aanhouding is duidelik nog sensitief, en Sachs is uitgevra oor onder meer die dood van die MK-bevelvoerder Thami Zulu wat gesterf het kort nadat hy vrygelaat is.

Sachs was ’n lid van die kommissie wat dit ondersoek het en hy sê dit “verskaf hom steeds baie pyn”. Hy het ook verwys na die Morogoro-konferensie in 1969 toe Chris Hani en ander oor die ANC se militêre leiers gekla het. Tambo het aangedring om die tuig neer te lê omdat hy persoonlik verantwoordelik daarvoor gevoel het.

“Goeie leiers,” het Sachs met verwysing hierna gesê, “probeer nie om onsmaaklike en ongemaklike dinge wat gebeur het te verbloem nie.

Die graf van Oliver Tambo en sy vrou, Adelaide.Foto: Lucky Morajane

“Hy was die grootste demokraat, ’n natuurlike demokraat,” het Sachs voorts oor Tambo gesê. “In Lusaka was daar deursigtigheid en debat. Sake is bespreek. Ons het groot demokrate in ballingskap gehad, soos Oliver Tambo.

“Die groot meerderheid van ons leiers het gevoel die stryd gaan nie oor oorlogsbuit nie, maar die vrugte van vryheid. Daar was dié wat anders gedink het. Maar idealiste soos Reggie September, Chris Hani, Yusuf Dadoo, Joe Slovo en Ruth Mompati is geïnspireer deur die ideaal van bevryding. Vir hulle het dit nie gegaan oor hoe om poste, rykdom en karre te bekom nie.”

Volgens Sachs is “eerlike foute” wel gemaak, maar die leierskorps was nie korrup nie. “As die leierskorps korrup is, maak dit dinge vir almal in die organisasie moeilik.”

Tambo se grootste bydrae

Tambo se blywendste erflating is sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse Grondwet.

Dit het al in die middel van die 1980’s begin toe apartheid die wind van voor gekry het. Die bewindhebbers het magsdeling en ’n wit veto voorgestel vir ’n nuwe bestel waarin hulle die bevrydingsbewegings wou betrek.

“Dit sou ras deel van die hart van die Grondwet gemaak het,” het Sachs gesê. “Wat was Tambo se antwoord? In die 8 Januarie-verklaring, ek kan nie onthou of dit in 1986 of 1987 was nie, het hy gesê die ANC staan vir veelparty-demokrasie.

“Vandag klink dit so ooglopend, maar destyds was dit nie.”

Die oorgangstydperk het gewys idealisme is sterker as geweld, terreur en die marteling van die vyand.

Toe was daar eenpartystate in Afrika soos dié in Mosambiek, het Sachs gesê. Daar was ’n absolute monargie in Swaziland en ’n militêre regering in Lesotho. Dit was lank voor die val van die Berlynse Muur.

Die volgende jaar het die ANC ’n verskanste handves van menseregte aanvaar. Dit het nie almal geval nie, want daar was byvoorbeeld ’n groep wat die mag op revolusionêre wyse wou gryp.

Maar Tambo het vasgestaan. “ ’n Meerderheidsregering met ’n handves van menseregte was Tambo se standpunt, geen magsdeling nie. Dit was sy antwoord op groepsregte. Die handves is nie daar omdat ons wit, swart, die minderheid of die meerderheid is nie, maar omdat ons mense is. Ek het gesê ons het ook ’n handves van menseregte nodig teen onsself.”

’n Handves van menseregte was niks vreemd in die ANC nie, het Sachs gesê. Die ANC het sy eerste handves van menseregte al in 1923 aangeneem. Daar was ook een in 1944, en daarna die Vryheidsmanifes van 1955. “Dit is deel van ons tradisie, ons antwoord op rassisme.”

Dit het gewys dat “ons nie net die vyand wantrou het nie, maar ook onsself”.

Magsdeling sou ’n algehele ramp gewees het, het Sachs bygevoeg. “Ons sou drie presidente gehad het: Mandela op ’n Maandag, [FW] De Klerk op ’n Dinsdag en [Mangosuthu] Buthelezi op ’n Woensdag. Dit sou darem nie só erg gewees het nie, maar die president sou elke ses maande verander het.”

Idealisme is sterker

Mense kla deesdae oor die Grondwet omdat hulle meen dit doen nie genoeg vir die sosio-ekonomiese bevryding van swart mense nie en dat dit ’n té groot kniebuiging in die rigting van wit mense gemaak het. Kortom kom hul uitsprake daarop neer dat die ANC te maklik ingegee het.

Sachs stem nie saam nie.

“Die oorgangstydperk het gewys idealisme is sterker as geweld, terreur en die marteling van die vyand. Geweld het hoogty gevier en duisende is dood, maar aan die einde was dit Oliver Tambo se visie wat geseëvier het en ons die nuwe Suid-Afrika gegee het.

“Jy verwerk ontnugtering nie deur die prestasies van die verlede te misken nie. Vir my is die wonderlike Grondwet wat ons vandag het die groot erflating van Oliver Reginald Tambo.”

Meer oor:  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.