Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die einde van die eens geliefde Tab

Die dieetkoeldrank Tab het in sy bestaan verskeie struikelblokke soos bangmaakstories oor versoeters gesystap, maar dalende verkope het nou sy doodsklok gelui, skryf Jeffrey Miller.

Tab,wat in die 1970’s en 1980’s die gewildste dieetkoeldrank was, verdwyn in Desember van die mark. Foto: Getty Images

Tab, die Coca-Cola-maatskappy se oorspronklike dieetkoeldrank-handelsmerk, is bestem vir die koeldrank-begraafplaas waar dit sal aansluit by ander afgetrede handelsmerke soos Like, Leed en Limette.

Coca-Cola het aangekondig dat hy Tab ná 57 jaar in die mark nie meer gaan vervaardig nie en aanhangers van dié koeldrank het nog tot einde Desember kans om hul laaste blikkie nostalgie te koop.

Die verhaal van Tab was van die begin af een van volharding.

Die handelsmerk het aanvanklike lae verkope oorleef, die versoeter-bangmaakstories van die 1960s en 1970s, louwarm entoesiasme vir die produk op korporatiewe vlak en tye waarin dit nie aan verbruikers beskikbaar was nie om – vir ’n kort tydjie – die gewildste dieetkoeldrank in Amerika te word. Toe het Diet Coke uiteraard sy verskyning gemaak.

Hoewel dit nooit sy verhewe status as die top-dieetkoeldrank herwin het nie, het lojale Tab-aanhangers die handelsmerk lewend gehou.

Bedoel vir diabete, gewild onder dié op dieet

’n Dieetkoeldrank van 1963 toe dit die eerste keer in blikkies beskikbaar gestel is. Foto: Getty Images

Hoewel sommige mense kan dink Tab was die eerste dieetkoeldrank, behoort daardie eer aan ’n drankie genaamd No-Cal, wat in 1952 ontwikkel is deur Hyman Kirsch, die pionier van die drankbedryf.

Kirsch wou ’n koeldrank met siklamaat ontwerp vir diabete en mense met kardiovaskulêre probleme. In 1937 het ’n voorgraadse student by die Universiteit van Illinois se chemie-laboratorium aan siklamaat gelek en agtergekom dit het ’n soet smaak.

Die akteur Kim Novak het suikervrye No-Cal-koeldrank bemark. Foto: Getty Images

Siklamaat is sowat 30 keer soeter as suiker en is nie gemetaboliseer nie wat dit ideaal maak vir mense wat suiker moet vermy.

Maar No-Cal was van die begin af gewild by ’n ander soort verbruiker: mense op dieet. Die akteur Kim Novak het die handelsmerk se skraal en beroemde woordvoerder geword.

Canada Dry het kort daarna gevolg met sy dieetkoeldranke genaamd Glamor, wat gemik was op vroue wat probeer het om gewig te verloor.

Dieetkoeldrank het verbruikers werklik begin gaande maak met die verskyning van Diet-Rite Cola, ’n produk van die Royal Crown Cola-maatskappy, in 1958.

Nes No-Cal, was Diet-Rite aanvanklik gemik op diabete en is dit dikwels in die medisynerakke van kruidenierswinkels ten toon gestel.

Maar dit het gou duidelik geword dat die regte mark mense is wat op dieet was. Teen 1960 was Diet-Rite die koeldrank in die land wat die vierde beste verkoop het en net Coca-Cola, Pepsi en 7 Up het beter gevaar.

Koeldrankreuse onkant betrap

Koeldranke op die rak van ’n groentewinkel in New York in 1998. Foto: Getty Images

Coca-Cola en Pepsi is onkant betrap en het geskarrel om met hul eie dieetkoeldranke vorendag te kom.

Coca-Cola se inval in die dieetkoeldrankmark – bekend as Projek Alfa – was ambisieus. Hulle wou ’n produk in die mark hê wat lekker gesmaak het en goed in die mond voel – suiker verskaf nie net soetigheid nie, maar ook klewerigheid. Dit moes ook aantreklik wees vir vroue, die veronderstelde mark, en ’n opvallende naam hê.

Coke se base het een voorwaarde vir die naam gehad: Hoewel die smaak Coke s’n moes namaak, mag dit nie Diet Coke genoem word nie. Omdat die vroeë dieetkoeldranke nie lekker was nie, het strateë gewaarsku handelsmerke moet nie verbind word met koeldranke wat hulle groot waarde skade kon berokken nie.

Hoe kan net een kalorie so lekker wees?

’n Vroeë hoofraam-rekenaar van IBM het meer as 600 moontlike name gegenereer; daar is bepaal dat dit uit drie of vier letters moet bestaan en dat dit nie aanstoot in enige taal mag gee nie.

Tabb, wat uiteindelik tot Tab verkort is, het die stryd gewen. Gestileer as “TaB,” is dit aan die wêreld bekend gestel in ’n reeks advertensie met die slagspreuk: “Hoe kan net een kalorie so lekker wees?”

Coca-Cola is ’n maatskappy wat gewoonlik uitstekende instinkte het wanneer dit by bemarking kom, maar hy was nie seker hoe Tab by sy portefeulje moes inpas nie.

Bottelaars wou niks van die produk weet nie omdat hulle bang was dit sou ’n duik maak in hul winste uit koeldranke met suiker as ’n belangrike bestanddeel. Teen die einde van sy eerste jaar het Tab net 10% van die dieetkoeldrank-mark sy eie gemaak, ’n ongewone verknorsing vir ’n handelsmerk wat gerugsteun word deur die grootste koeldrankvervaardiger ter wêreld.

Later in die 1960s het Coca-Cola die eerste pomelo-gegeurde dieetkoeldrank, Fresca, bekend gestel. Dit was veel gewilder by verbruikers en Tab het verder op die agtergrond geskuif.

Tab oorleef die versoeter-bangmaakstories

Mense het deesdae dieetkoeldranke te kus en te keur. Foto: Getty Images

Kunsmatige versoeters was baie gewild in die 1960’s toe Amerikaners soetighede wou geniet sonder om die prys daarvoor in kalorieë te betaal.

Maar die Delany-klousule van die wysigingswetsontwerp oor voedsel-bymiddels wat bymiddels verbied het wat kanker veroorsaak, het probleme ingehou.

In 1969 het die voedselowerhede die versoeter siklamaat verbied nadat laboratoriumstudies aan die lig gebring het dat groot dosisse daarvan tot blaaskanker in diere lei.

Tab het twee kunsmatige versoeters bevat – sakkarien en siklamaat – waarvan siklamaat die belangrikste was.

Sakkarien is 300 tot 400 keer soeter as suiker, maar in hoë konsentrasies gee dit aan produkte ’n bitter, metaalagtige nasmaak.

Dié bitterheid verdwyn egter wanneer dit met siklamaat gekombineer word.

Maar Tab-drinkers het teen dié verandering in die koeldrank se smaak protesteer en die maatskappy het aspartaam uit die resep verwyder.

Ná die verbod op siklamaat is Tab gedwing om sy formule aan te pas en is sakkarien as die primêre versoeter gebruik. Toe volg daar ’n tweede terugslag: nog navorsing oor die potensiële gesondheidsgevare van kunsmatige versoeters het op sakkarien gefokus met die gevolg dat die owerhede vervaardigers verplig het om waarskuwings aan te bring op produkte waarin dit gebruik is.

Ondanks dié struikelblokke het Tab in die 1970’s en 1980’s die dieetkoeldrank geword wat die beste verkoop het. Dit het gelyk asof mense bereid was om die potensiële gesondheidsgevare te ignoreer solank hulle steeds hul gunsteling-dieetkoeldrank kon drink.

En Tab was vir ’n kort tydjie blykbaar die gunsteling in die mark.

In 1982 is daar weer aan Tab se formule verander om Nutrasweet, ook bekend as aspartaam, in te sluit.

Maar Tab-drinkers het teen dié verandering in die koeldrank se smaak protesteer en die maatskappy het aspartaam uit die resep verwyder.

En toe verskyn Diet Coke op die toneel . . .

Die verskyning van Diet Coke het die doodsklok vir Tab gelui. Foto: Getty Images

Pepsi het die mark vir dieetkoeldrank betree met Patio, waarvan die naam binne ’n jaar na “Diet Pepsi” verander is.

Verbruikers was gek oor dié nuwe drankie wat net nog gewilder geword het omdat talle glanspersoonlikhede dit bemark het.

Coca-Cola het dié les nie ter harte geneem nie en eers in 1982 ’n dieetkoeldrank met die Coca-Cola-naam vervaardig toe Diet Coke sy verskyning maak.

Anders as wat die maatskappy aanvanklik gevrees het, was Diet Coke onmiddellik ’n suksesstorie.

Dit was gewild onder gebruikers hoewel dit nie ’n nabootsing van die versuikerde Coke-weergawe was nie. En die belangrikste slagoffer van Diet Coke was nie die oorspronklike Coke nie, maar Tab.

Met die jare het Tab se aandeel in die mark gedaal; teen 2019 het verkope daarvan slegs sowat 1% van Coca-Cola se hele portefeulje uitgemaak.

Tog het dié koeldrank steeds passievolle liefhebbers gehad, selfs terwyl gerugte oor die einde daarvan gereeld deur die jare die ronde gedoen het.

Coca-Cola sê meer as die helfte van die 500 handelsmerke wat hy tans bemark, sal in die nabye toekoms verdwyn.

’n Tekort aan Tab in 2018 het mense wat hulself as Tab-oliste beskryf het, daartoe gedryf om hul gunsteling-koeldrank op te pot en versoekskrifte om dit te behou, is versprei en na die moedermaatskappy gestuur.

Maar hulle kon nie die onvermydelike keer nie.

Coca-Cola probeer ontslae raak van handelsmerke wat nie goed verkoop nie en selfs moderne produkte soos Odwalla-sap en koeldranke wat net in sekere gebiede verkoop word soos Delaware Punch sal waarskynlik nie die valbyl van kostebesparing kan vryspring nie.

Die maatskappy sê meer as die helfte van die 500 handelsmerke wat hy tans bemark, sal in die nabye toekoms verdwyn.

Mense wat hou van Tab, kan dalk minder tyd hê as wat hulle dink om voorrade aan te skaf; ernstige Tab-aanhangers het reeds begin om voorrade op te raap wat dalk nog op winkelrakke skuil.

Dit is nie meer lank nie voordat die enigste blikkies wat sal oorbly dié in die kelders van Tab-oliste sal wees.

* Jeffrey Miller is medeprofessor in gasvryheidsbestuur aan die Colorado State University. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Pepsi  |  Coca-Cola
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.