Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Insentiewe & dinge
Die evolusie van tradisie
Die honderdjarige bestaan van volkspele word in 2014 in Boshof in die Vrystaat gevier. Foto: Conrad Bornman

Waar kom kultuur vandaan? Hoe verander dit? En hoe help dit ons om ryk te raak (of nie)?

My YouTube-algoritme kies onlangs Jan Jan Jan se nuutste treffer, “Ek bly ’n boer”, vir my om na te luister. En ek wonder by myself: Hoeveel Suid-Afrikaners sou hulle kultureel as “boere” beskou, ten spyte van die feit dat hulle nou in stede woon en werk.

Wat maak van iemand ’n “boer”? Seer sekerlik nie kakie en lang kouse nie? En, belangriker, watter invloed het hierdie kultuurbande steeds op ons?

Antropoloë wat kultuurevolusie bestudeer, help ons om die konsep van kultuur beter te verstaan. Hulle definieer dit as die kennis, tegnologie, waardes en oortuigings wat tussen generasies oorgedra word. Dis ’n breë definisie. Byna als wat ons glo – in God of in die tandemuis – is die gevolg van wat ons ouers of gemeenskappe aan ons oordra. Dieselfde vir wat ons eet en drink (of nie eet en drink nie), wat ons doen vir vakansie, wat ons van ander mense dink en wat ons glo reg en verkeerd is.

Stories is om kampvure oorgedra, mites wat die volgende geslag moes help om die morele waardes en norme van die samelewing te help verstaan.

Wat is die doel van hierdie gewoontes wat ons só van generasie tot generasie oordra? Elke individu is tog uniek.

Daar is twee hoofredes vir kultuurpraktyke. Die eerste is dat kultuur doeltreffend is. Dink aan ’n eenvoudige landbousamelewing, die tipe samelewing waarin al ons voorgeslagte tot onlangs nog geleef het. Die wêreld van hierdie boere was basies jaar ná jaar dieselfde.

Dit was dus sinvol om kinders wys te maak met dieselfde jagtegnieke, veldkennis en sosiale rangorde as dié van hul ouers. Stories is om kampvure oorgedra, mites wat die volgende geslag moes help om die morele waardes en norme van die samelewing te help verstaan. Hierdie stories het oor tientalle generasies ontwikkel om die kernlesse saam te vat; dit was dus nie nodig vir elke generasie om van nuuts af al die inligting self in te win nie.

Dit bring ons by die tweede rede vir kultuur: Dit is kumulatief. Kultuur versamel oor tyd. Dit bou op die verlede, staan op die skouers van reuse. Dit is waar ’n evolusionêre perspektief nuttig is. Die idee is dat net die mees geskikte kulturele praktyke oor tyd oorleef. Net soos diere oor etlike miljoene jare fisiek aangepas het by hul omgewing – dink aan die dodo, wat sy vermoë om te vlieg verloor het omdat daar geen natuurlike vyande op Madagaskar was nie – só het kultuur oor etlike generasies ook aangepas by die spesifieke omgewing waarin mense hulself bevind.

Neem byvoorbeeld die walglike praktyk van vroue se geslagsverminking, ’n praktyk wat nog in talle lande, insluitende Suid-Afrika, beoefen word. Hoekom sou só ’n kulturele tradisie enigsins posvat? Dit help om te begin by ons voortplantingsinstink.

Vroue kan ruweg een baba per jaar hê, terwyl mans talle by etlike vroue kan hê. ’n Vrou is egter doodseker dat haar baba haar genetiese materiaal bevat. Mans is nie noodwendig seker dat hulle die pa van ’n baba is nie. Om seker te maak mans belê hul tyd en energie in kinders wat hul genetika het, het die tradisie in die meeste samelewings ontwikkel dat die vrou wegtrek van haar ouers en by die familie van haar man aansluit – ’n patriargale stelsel. Sy is dus in ’n vreemde omgewing, waar sy nie almal ken nie en haar man kan sekerder wees dat hy die pa van die vrou se kinders is. Maar in sommige samelewings moes mans vir lang tye wegtrek van die huis, veral as hulle veeboere was en die kudde vir die wintermaande na ’n ander gebied moes neem. Om te keer dat hul vroue by ander mans slaap, het die praktyk van geslagsverminking posgevat wat van seks ’n pynlike ervaring vir vroue maak. Só kon mans sekerder wees dat hul vroue nie met ander mans slaap nie.

Ons kultuurtradisies is gevorm oor honderde geslagte en moet nou, weens geweldige tegnologiese vooruitgang wat die konteks die hele tyd verander, binne ’n generasie of twee aanpas.

Hierdie praktyke het oor geslagte ontwikkel in ’n wêreld waar baie min dinge verander het. Vroue in sulke gemeenskappe het baie min regte gehad. Hulle is polities en ekonomies ontmagtig. Wat natuurlik die laaste ruweg 500 jaar gebeur het is dat die konteks baie verander het.

Globalisering het grense tussen kultuurgroepe afgebreek. Miljoene Euro­peërs het op skippies geklim en na die uithoeke van die wêreld gegaan op soek na ’n beter lewe. Die Nywerheidsomwenteling het gemaak dat mense op groot skaal na stede trek, weg van hul plattelandse lewenstyl. Uitvindings soos elektrisiteit, die rekenaar en sosiale media het ons manier van doen radikaal verander. Die vraag is dus in watter mate kulture by hierdie geweldige veranderinge van konteks en tegnologie aangepas het. Is die lesse van ons voorvaders steeds relevant vir die hier en nou? Is daar tradisies wat ons terughou?

Een gróót verandering is die toename in formele onderwys. Ontwikkelingsekonome vertel ons dat ’n belegging in die onderrig van vroue beduidend groter opbrengste lewer as ’n soortgelyke belegging in mans. Die probleem is: In talle patriargale samelewings, weens die kulturele praktyke wat in ’n spesifieke konteks gevorm is, is vroue se posisie van só ’n aard dat hulle nie die onderwysgeleenthede kry wat goed vir die samelewing sal wees nie. Dit is ’n voorbeeld waar kulturele praktyke wat in ’n sekere konteks geskep is vandag in die pad staan van vooruitgang.

Wat ons dalk vandag beskou as nepotisme of korrupsie kon in ’n vroeëre tyd ’n baie doeltreffende manier gewees het om jou familie te ondersteun en die oorlewing van jou groep te verseker.

In ’n onlangse artikel, “History as Evolution”, skryf die Harvard-professor Nathan Nunn dat ekonome ál hoe meer bewus word van hoe ons kulturele doen- en denkwyses ons ekonomiese vooruitgang bepaal. Ons kultuurtradisies is gevorm oor honderde geslagte en moet nou, weens geweldige tegnologiese vooruitgang wat die konteks die hele tyd verander, binne ’n generasie of twee aanpas. Sommige kultuurpraktyke pas maklik aan – dit was praktyke wat saamhang met die huidige konteks (en was dalk selfs verantwoordelik vir die tegnologiese vooruitgang). Vir ander praktyke is dit moeiliker. Die vroeë omgewing waarbinne hierdie praktyke gevorm is, is nou strydig met ekonomiese ontwikkeling.

Wat ons dalk vandag beskou as nepotisme of korrupsie kon in ’n vroeëre tyd ’n baie doeltreffende manier gewees het om jou familie te ondersteun en die oorlewing van jou groep te verseker. Sulke kultuurpraktyke het samelewings help oorleef in ’n spesifieke konteks, maar nou hou dit hulle terug.

Terwyl geslagsmishandeling ’n ekstreme voorbeeld van ’n slegte kultuurpraktyk is, is ons almal maar, op die een of ander manier, die produk van ons verledes. Hier is een vir Jan Jan Jan se boere: Studies toon dat die nageslagte van veeboere meer geneig is om aggressief te wees en mense te wantrou as byvoorbeeld die nageslagte van saaiboere. Dit maak sin: Veeboere moes (en moet steeds!) voortdurend hul kudde beskerm teen wilde diere en veediewe en het daarom waardes en norme ontwikkel wat hulle vyandig en agterdogtig maak.

Wat egter ’n rasionele praktyk tóé was is ongelukkig nie ’n bate vir hul nageslagte wat vandag in stede woon nie: In ’n diverse marksamelewing is vertroue, selfs in iemand wat nie soos jy lyk of praat nie, ’n belangrike faktor vir sukses.

Die goeie nuus is dat, anders as fisieke evolusie wat oor duisende jare plaasvind, kultuurpraktyke binne ’n generasie kan verander. Daar is baie voorbeelde van waar tradisies verander om ’n nuwe konteks te weerspieël. ’n Meer geïntegreerde wêreld, groter en digter stede en ’n markstelsel wat ons meer afhanklik van mekaar maak, dwing ons almal om ons gelowe en gewoontes wat in die verlede gevestig is, te herevalueer.

En dit gee ook die kulturele entrepreneurs onder ons die geleentheid om nuwe gelowe en gewoontes te kweek wat ons toelaat om ’n vooruitstrewender samelewing te bou. Selfs ’n veeboer kan soms ’n gawe ou wees as hy wil.

Prof. Johan Fourie doseer ekonomie en geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Johan Fourie  |  Tradisies  |  Kultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.