Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die feniks val

Drie keer het Niki Lauda die wêreld se F1-kroon verwerf. Maar veel meer dikwels het hy uit die as opgestaan. Nou’t hy finaal geval. Egmont Sippel bring hulde.

Niki Lauda in die Ferrari 312T waarmee hy in 1975 kampioen geword het. Foto: Getty Umages

Tydens laasjaar se besprekings om Lewis Hamilton se kontrak met Mercedes F1 te hernu, seg die spanbestuurder Toto Wolff, het hulle wel oor die moontlikheid gepraat dat Hamilton iewers in die toekoms dalk vir Ferrari sou wou jaag.

Dis normaal. Enige jaer sal sy agtertande vir ’n Maranello-kontrak gee en baie wat dit al vermag het, was met karige besoldiging tevrede.

Dit nou weens die ikoniese status van die rensport se mees evokatiewe span. Ferrari word deur swymelende hartstog gedryf. La Passione is juis die naam van ’n ode wat die rock-en-blues-ster Chris Rea twee dekades gelede oor die lokstem van Ferrari se “blood red” F1-motors op film sou lewer.

In einste gees het Fangio vir Ferrari gejaag. So ook Farina en Ascari en Amon, Arnoux en Alboreto en Alesi, Mansell en Massa en Andretti, Regazzoni en Reutemann en Jody, Jacky Ickx en Von Trips en selfs Dan Gurney.

Hy was ’n grote, Koning Rot. Hy’t altyd die breëre prentjie gesien.

En natuurlik Alain Prost. Michael Schumacher. Fernando Alonso.

Groot name, met die grootste nog – Senna – wat vóór Imola 1994 daarvan gedroom het om sy loopbaan in ’n Ferrari af te sluit.

Die grote Gilles Villeneuve se loopbaan is wél in ’n Ferrari beëindig. Op ouderdom 32 het Zolder sy lewe in ’n rooi wa geëis.

Niki Lauda?

Nürburgring 1976: Die inferno

Van 1974-1977 was Andreas Nikolaus Lauda ’n Ferrari-jaer.

Die wrak ná die inferno.

Nie immuun nie; die dood het hóm ook op die renbaan besoek. Vergewe die poëtiese vryheid as ons sê dat Lauda op 1 Augustus 1976 op die ou Nürburgring “verongeluk” het.

Hy’t nog gelewe toe ander hom uit die brandende wrak van sy vuurwa sou red, maar erge brandwonde het die 27-jarige Oostenryker se regteroor, wenkbroue, ooglede en die meeste van sy hare geëis.

Wat hom egter in ’n koma sou dompel, was toksiese gasse wat vir amper ’n minuut lank teen 800 grade Celsius ingeasem is. Die inferno het die lewe uit Lauda se longe geskroei. Ná ’n dag of drie in die hospitaal is ’n priester ingeroep om die deurgangsrites te lewer.

Niki Lauda, is gesê, was so goed soos dood. Hy’t verongeluk.

Ek was in ’n ongeluk. Wat’s jou verskoning?

In sy outobiografiese To Hell and Back beskryf Lauda hierdie ervaring in intense detail, hoe iets in hom geroer het sodat hy, diep in die newels van ’n verlate ewigheid, die versoeking om oor te gee en vaarwel te roep met suiwere wilskrag beveg het.

Hel toe en terug

“Do not go gentle into that good night.

Rage, rage against the dying of the light.”

Dylan Thomas kon dit vir Lauda gedig het. Die Oostenryker het die dood gefnuik. Hy’t oorleef.

En ses weke later was hy terug in sy Ferrari vir die Italiaanse GP op Monza. Lauda se wederopstanding het voor 100 000 dissipels van die Pronkende Perd, die Steierende Hings, geskied. Die gewaarwording van ’n religieuse ervaring, van ’n vergoddeliking, was tasbaar.

Waar F1 voorheen net vir rengeesdriftiges was, het dit nou die ganse Europa en ’n groot deel van die buitewêreld aangegryp en oorrompel. Die taak was enorm. Sou Lauda sy man kon staan? Sou hy die dood wat hom ses weke vantevore in ’n ystergreep had, nogmaals in sy rooi vuurwa kon konfronteer en verslaan?

Met sy groot teenstander en vriend James Hunt.

In sy eie woorde het Niki van vrees gebewe toe hy die eerste keer tweede rat moes haak. Bietjie vir bietjie het hy sy spoed van ouds herwin. In die ren self het hy ’n heroïese vierde plek behaal.

En toe nog ’n skok: die bloed in die verbande om sy hoof het so gekoek dat hy dit van sy kop af moes losskeur, losruk.

Lauda het hel beleef.

Maar in werklikheid het hy by die poorte van die hemel omgedraai. Want hoekom sou hy ooit in ’n vagevuur eindig? Daarvoor het Andreas Nikolaus ’n veels te goeie en kliniese lewe gelei.

Asketies was hy nie. Hy’t die sinlike verstaan. Die goeie oomblikke is op normale maniere gevier. Niki het sy whisky geniet, en Marlene, met wie hy maande voor die ongeluk getrou het, was ’n mooi vrou.

Maar jou tipiese grootdoenerige sportster was Niki nie. Met ’n skerp verstand en koue logika het hy telkens die groter prentjie gesien, iets wat hom gehelp het om soos ’n feniks uit 1976 se as te verrys.

Die jong man.

Só het Niki Lauda se tweede lewe dan begin, een waarin hy feitlik mitiese status beskore was.

Japan 1976 en Ferrari

As jongeling had Lauda, met min belangstelling in formele studie en met ’n passie vir motors, ’n lening teen sy lewenspolis bekom om resies te jaag. Dít in weerwil van ’n skatryk sakefamilie wat hom wou dwing om in sy vader se nywerheidspore te volg.

Later, in F1, was dit eers March, toe BRM en in 1974 Ferrari, met wie hy die wêreldtitel in 1975 sou wen.

Die Nürburgring-ongeluk volg in Augustus 1976 en minder as drie maande later tree Lauda en sy vriend en titelteenstander, James Hunt, op ’n sopnat Fuji-baan in Japan aan vir die laaste Grand Prix van die jaar. Ná Niki se ongeluk het Hunt die Oostenryker se eens onaantasbare puntevoorsprong van 23 tot 3 verminder.

Op die oggend van die ren, spottend teenoor die oorkorrekte formaliteite van Germaanse gemeenskappe, marsjeer Niki met ’n ganse-steekpas by James (en James se meisie) se hotelkamer in.

“Today I vin the Vorld Championship,” kondig hy aan en gegee dat Hunt uiteindelik derde geëindig het, sou ’n vyfde plek genoeg wees om die kroon aan Lauda te besorg.

Lauda het erge brandwonde in die ongeluk opgedoen.

Ná ’n enkele rondte in stortreën het die Oostenryker egter gekuip.

“My lewe is meer as ’n titel werd,” was sy verklaring terwyl Ferrari aapstuipe gekry het.

Maar Lauda het bes moontlik ook teruggedink aan die Monza-ren ses weke vantevore, die verbande om sy steeds nerf-roue kop, die pyn om dit agterna af te pluk en dit alles omdat hy, onder meer, aan Enzo Ferrari wou bewys “dat hy dit nog het”.

Ferrari, sien, het klaar ’n tussentydse kontrak met Reutemann geteken – ’n koue, onsmaaklike karakter, volgens Lauda – om Niki te vervang as dit nodig sou wees.

Met Lauda se vertoning van moed, durf en deursettingsvermoë het Maranello hom egter vir 1977 behou en nogmaals het Die Rot, of Koning Rot, of Superrot – soos Lauda weens sy uitstaan-tande bekend was – die jaerstitel vir die Scuderia gewen.

Die giftige mengsel van ’n gebrek aan Ferrari-ondersteuning ná sy gruwelongeluk plus die aanstelling van Reutemann as spanmaat vir 1977 het die Oostenryker egter in 1978 na Brabham gedryf.

Niki op die aanloopbaan

Ná twee onsuksesvolle jare vir Bernie Ecclestone se span het Lauda, tydens ’n oefensessie vir 1979 se derde laaste ren, in Kanada, sy motor nogmaals in’t kuipe gaan parkeer met ’n boodskap dat hy “moeg daarvan was om in sirkels rond te jaag”.

Lauda Air was reeds op dreef en Niki is summier terug Oostenryk toe om sy lugredery te bedryf; hy was self ’n goeie vlieënier.

Met dié het hy ook in 1977 in die geheim na Maranello gevlieg, of so word vertel, om vir Enzo oor sy Brabham-besluit vir die daaropvolgende jaar in te lig.

Ure later, met Lauda op die aanloopbaan, gereed vir sy terugvlug na Oostenryk, vra hy verlof om op te styg.

Niks. Net daardie soniese gekraak oor die radio, sonder ’n stem. Grrrrrrr.

“Niki Lauda hier. Ek vra verlof om op te styg.”

Grrrrrr.

“Niki hier . . .”

Grrrrrr. Vir ’n halfuur lank.

En uiteindelik ’n stem: “You leave-a Ferrari? You wait-a, you bastard!”

Hartstog. Italië ly daaraan. Sophia Loren had hope daarvan teenoor hartdokter Chris uitgestort. En miskien was Niki deurgaans net te klinies en serebraal vir Enzo en Maranello. Il Commendatori het dit buitendien gehaat om te hoor dat sy motors onvolmaak was, en Lauda het nooit ’n kans verspeel om verbeteringe voor te stel nie.

Dis dikwels ook hoekom hy gewen het, oor ’n diepe meganiese kennis en ’n akkurate dinamiese ontleding. Van enjins en ratkaste en stuurgevoel het Lauda geken; van veerstelsels, motorbalans, baantaktiek en renstrategieë.

“Hy was ’n intelligente mens,” seg sy eertydse Brabham-spanmaat John Watson. “En ’n goeie jaer. Vinnig. Slim. Uitgeslape. Hy’t sy motor verstaan en geweet hoe om met die ingenieurs en die span te kommunikeer.”

Die verwerping van sentimentaliteit

Mens kan dink hoe Lauda laasgenoemde gedoen het, in kort, duidelike sinne of selfs net frases.

Hoe voel jy vandag, Niki? “Goed.” Wie’s die grootste jaer nog? “Senna.” Wat dink jy van jou motor? “Puik.” Of “vrot”. Of wat die geval ook al mogge wees, behalwe dat Niki ’n swak motor deurgaans met ’n vierletter-sh-woord in Engels of ’n seweletter-sch-woord in Duits beskryf het.

Stomp. Kort. Kragtig. Eerlik. Ongefilterd. En direk tot op die been oopgevlek, sonder om homself te spaar. Lauda het nie met woorde of emosies of die waarheid gemors nie. Hy’t ook vinnig aanbeweeg, iets wat noodsaaklik was om 1976 te oorleef.

Gevoelens en emosie had hy wel. Maar dit was júis om sy sensitiwiteite te onderdruk dat hy die “Lauda-stelsel” ontwikkel het; ’n kil noukeurige berekendheid wat die koring van kaf moes onderskei.

En tog was sy gees vol humor, heelwat daarvan teen homself gerig. Toe Koning Rot sy bynaam sou word, het hy ’n rot op sy helm laat verf. Lauda Air se gelukbringer was Niki the Rat.

Lauda het ook geweier om plastiese chirurgie aan sy gesig te laat doen. Dinge gebeur en basta. En as mense hom oor sy geskendheid sou por, het hy geantwoord: “Ek was in ’n ongeluk. Wat’s jou verskoning?”

Narsisme, selfbejammering en sentimentaliteit was nie sy ding nie.

Sy rentrofeë – “merendeels lelik en nutteloos” – het hy aan sy plaaslike ga­rage-eienaar gegee, in ruil vir lewenslange vrye motorwasgerief.

Dít nou Niki met sy vormlose tweedbaadjies en oortrektruie asook goedkoop jeans plus ’n bofbalkep met ’n borg se naam daarop. Onverstoord, dag ná dag.

En op 26 Mei 1991 word hy nogmaals tot in die hel geruk toe Lauda Air Vlug 004 in Thailand neerstort.

Lauda en Boeing

“Mense dink altyd dat Nürburgring die slegste oomblik van my lewe was. Maar dit was my eie keuse om te jaag. Dis iets anders as 213 mense ’n kaartjie by jou koop om veilig van A na B te vlieg en dit gebeur nie, en jy gaan kyk na die wrak van jou vliegtuig en daar lê 223 lyke in ’n Thaise woud rondgesaai, bemanning ingesluit.”

Dis sielsverwoestend.

Maar wanneer dit saakgemaak het, was Niki Lauda ’n tier, ’n straatvegter. Een van die 767 se enjins het trustu ontwikkel en in antwoord op Boeing se mening dat dit steeds moontlik was om die vliegtuig uit sy penarie te red, het die Oostenryker versoek om die ongeluk op nabootsers te ondersoek.

Boeing het geweier, maar Lauda het soos ’n rot geknaag. In 15 latere nagebootste vlugte kon hy nie ’n enkele keer daarin slaag om die “vliegtuig” in gevalle van trustu te red nie.

Lauda het op ’n verklaring aangedring en toe Boeing talm, op ’n onmiddellike perskonferensie. Hy was bereid, het hy gesê, om saam met twee vlieëniers in ’n 767 te vlieg en trustu te aktiveer as Boeing so oortuig was dat die vliegtuig steeds gered kon word.

Die maatskappy het geweier om dit te waarborg en Lauda het, nogmaals, sy punt met koue logika en knaende vasbyt bewys.

Die feniks val

Toentertyd is Koning Rot se ooglede met vel van agter sy ore geherkonstrueer. In 1997 en in 2005 het hy nieroorplantings ondergaan.

En net laasjaar, presies 42 somers ná sy ongeluk, het ’n suksesvolle longoorplanting gevolg. Of so het ons gedink.

Deur die jare heen het Lauda ook as F1-kenner op Duitse TV en in raadgewende F1-hoedanighede opgetree. In 1993 was dit by Ferrari, in 2001-’02 by Jaguar F1 en in 2012 is hy as Mercedes-AMG F1 se nie-uitvoerende voorsitter aangestel, waar Niki deurslaggewend daarin was om Hamilton se dienste vir die span te bekom.

Maar dis vir sy intelligensie, bot eerlikheid en vegtersinstink wat Lauda bowen­al onthou sal word; die wederkoms ná sy gru-ongeluk; die terugkeer in 1982, nadat hy sy rug in 1979 op F1 gekeer het; sy derde wêreldtitel in 1984, toe hy sy McLaren-spanmaat Prost met slim taktiek geklop het wat juis later ’n kenmerk van Prost se benadering sou word; die verkoop van Lauda Air in 1999 en die begin van ’n nuwe redery, genaamd Niki, in 2003; die oorname van ’n huurvlugredery in 2016 wat LaudaMotion gedoop is; en die terugkoop, net laasjaar, van die Niki-handelsmerk, vir nóg ’n nuwe begin . . .

Die feniks het telkens verrys.

Maar op 20 Mei 2019, 70 jaar nadat hy in Zürich gebore is en 43 jaar ná sy eerste besoek aan die hemelpoorte, het die feniks finaal geval. Die nuwe longe wat Lauda se verskroeides moes vervang, het ingegee.

Hy was ’n grote, Koning Rot. Hy’t altyd die breëre prentjie gesien. In die proses het hy ook ’n hoër teiken vir ons almal gestel.

Om soos ’n feniks te verrys?

Spaar ons dit. Dis moeilik genoeg net om op te staan.

Net die waarlike grotes, die reuse soos Andreas Nikolaus Lauda, kan dit nog uit die as ook doen.

* Niki Lauda: 22 Februarie 1949 – 20 Mei 2019

Meer oor:  Niki Lauda  |  Sterfgeval  |  Grand Prix  |  Formule 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.