Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die finale erflating van prof. Bongani Mayosi

Die tragiese dood van die topkardioloog prof. Bongani Mayosi moet almal van ons nuut laat dink oor ’n siekte waaroor ons nie eens wil praat nie, skryf Lizette Rabe.

Die voormalige dekaan van die geneeskundefakulteit aan die Universiteit van Kaapstad, prof. Bongani Mayosi. Foto: Nasief Manie

’n Beklemming, ’n walglike afwagting op die dood.

So beskryf ’n depressielyer die paar dae wat hy sonder sy chroniese medikasie moes klaarkom. Hy het per abuis sy laaste paar pille met die verpakking weggegooi. Die apteek wou nie die voorskrif buite die minimum tydperk hernu nie. Die gevolg was ’n paar dae van hel waarvan die somtotaal daardie “walglike gevoel” van ’n vreesaanjaende doodsheid was.

Dis wat depressie aan ’n mens doen.

Maar nog erger: Dit sluit jou in jou eie tronk toe. En gooi die sleutel weg. Só dat jy nie om hulp kan roep nie. Want jy kán nie. Die siekte het jou verlam.

Daar’s nie ’n vrypas teen die siekte van 'kwaadaardige verdriet' nie.

En pas weer, in hoofopskrifte, moes ons lees hoe die mens se wreedste siekte nóg ’n slagoffer geëis het: die briljante prof. Bongani Mayosi, dekaan van die Universiteit van Kaapstad (UK) se fakulteit van gesondheidswetenskap.

Dis soos wat die Amerikaanse psigiatrieprofessor Kay Redfield Jamison in haar memoire van depressie, An Unquiet Mind, geskryf het: “The disease that has, on several occasions, nearly killed me, does kill tens of thousands of people every year: most are young, most die unnecessarily, and many are among the most imaginative and gifted that we as a society have.”

Ja, en dit kan ook die lewe eis van die dekaan van ’n mediese fakulteit. Want daar’s nie ’n vrypas teen die siekte van “kwaadaardige verdriet” nie, soos die Suid-Afrikaans gebore Britse bioloog prof. Lewis Wolpert, depressie beskryf. Wolpert ly self aan erge depressie en het ook al by die dood omgedraai.

As wetenskaplike skryf hy in sy boek Malignant Sadness: An Anatomy of Depression oor sy ervaring op die rand van die dood en hoe hy, toe hy as “veilig” vir homself geag is, byvoorbeeld toegelaat is om soms vir ’n middag uit die kliniek te mag gaan.

’n Parlementêre verklaring sê prof. Mayosi se dood het Suid-Afrika van een van sy voorste intellektuele en ’n passievolle geneeskundige beroof.

Maar soos wat Redfield Jamison skryf: Soms word ook vir van die mees begaafdes in ons samelewing tog nie ’n tweede kans gegee nie.

So ’n begaafde was prof. Bongani Mayosi. Benewens die feit dat hy dekaan van die UK se mediese fakulteit was, was hy ’n voorste kardioloog en pionierhartnavorser, ’n A-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting en houer van ons land se hoogste eerbewys, die Orde van Mapungubwe (silwer), as erkenning vir sy internasionale navorsingstatuur.

Verlede jaar, toe die National Academy of Medicine in die VSA hom as een van sy 80 nuwe lede in Washington verkies het, was hy die enigste Afrikaan op dié gesogte lys. ’n Parlementêre verklaring sê prof. Mayosi se dood het Suid-Afrika van een van sy voorste intellektuele en ’n passievolle geneeskundige beroof. Onder sy mylpaalaktiwiteite tel multinasionale studies in die bestuur van perikarditis (hartvliesontsteking, inflammasie van die perikardium, die twee dun lae rondom die hart) en hy het onder meer die eerste grootskaalse multinasionale studie van rumatiese hartsiektes in die wêreld gelei.

Oorweldigende lewenslus

Boweal was hy egter ’n geliefde eggenoot, ’n pa, ’n seun, ’n broer, ’n oom, ’n neef, ’n kollega, ’n vriend, ’n dosent, ’n mentor. En as jy na foto’s van hom kyk, dan sien jy die mensch wat hy was, een wat met daardie stralende, oorrompelende glimlag van hom ’n oorweldigende lewenslus moes gehad en sy 51 jaar met oorgawe geleef het.

En tog het “this terrible disease” juis vir prof. Mayosi as sy volgende slagoffer gekies.

“This terrible disease” was hoe die Britse skrywer Virginia Woolf in haar laaste brief aan haar man na haar depressie verwys het – voordat sy haar jas se sakke vol klippe gepak en by die rivier Ouse ingestap het.

Volgens sy familie het hy die afgelope twee jaar teen sy siekte gestry.

Mayosi was volgens statistiek een van 23 Suid-Afrikaners wat elke dag hul lewe aan depressie verloor. Met nog 230 mense wat gelukkig ’n tweede kans sal kry, wie se poging om ’n einde te maak aan hul lewende hel nie geslaag het nie en wat met behulp van terapie en medikasie ’n tweede kans kan kry.

Volgens sy familie – sy vrou, prof. Nonhlanhla Khumalo, hoof van dermatologie aan die UK se mediese fakulteit – het hy die afgelope twee jaar teen sy siekte gestry.

En tog uiteindelik aan sy siekte gesterf.

Moet ons dan aanvaar dat sommige depressies eenvoudig ’n fatale uitkoms sal hê? Of kan ons hoop dat bewusmaking tog meer mense van ’n fatale ontwikkeling van die siekte sal red?

Treurendes by die riviere van Babel in An den Wassern Babylons, ’n skildery deur Gebhard Fugel. Foto: Wikimedia Commons

Soos wat gebeur het met bewusmakingsveldtogte vir byvoorbeeld kanker en MIV/vigs. Dat as die stigma en stilte verbreek kan word, mense vroeër sal kan hulp kry? Dat as simptome betyds herken word, en jy boweal betyds aan jouself erken dat jy moontlik aan depressie ly en hulp moet kry, daar meer “victors” en minder “victims” sal wees?

Dat noodsaaklike professionele hulp deur ’n kliniese sielkundige én ’n psigiater jou kan help om die genadelose swart hond te bestry? Sodat eersgenoemde jou met kognitiewe gedragsterapie uit daardie negatiewe spiraal kan help dink, en laasgenoemde, as mediese spesialis, medikasie kan voorskryf om jou brein se wanfunksionering te herstel?

Hopelik sal ons ná hierdie tragedie effens meer besef ons het ’n nuwe benadering – en ook nuwe taalgebruik – nodig, om ánders oor depressie en verwante psigiese siektes te dink en te praat.

En miskien is dit dan die finale erflating van prof. Mayosi, benewens sy reeds so indrukwekkende pionierswerk en lys van prestasies: dat sy dood daartoe sal bydra dat meer mense anders en nuut sal dink oor depressie. Ook en veral mans, wat so dikwels nie wil erken dat daar iets “fout” is nie. En ook en veral ons swart broers en susters, by wie die struikelblokke nog groter is omdat soveel groter kulturele taboes en stigma heers.

Hopelik sal ons ná hierdie tragedie effens meer besef ons het ’n nuwe benadering – en ook nuwe taalgebruik – nodig, om ánders oor depressie en verwante psigiese siektes te dink en te praat. En dat universiteite meer sal doen om hul gedemoraliseerde dosentekorps, wat knak onder onophoudelike, genadelose druk in ’n tyd van transformasie, te ondersteun. Ook dat die Mediese Vereniging van Suid-Afrika steunstrukture vir gesondheidspraktisyns sal instel om hulle te help met meganismes om die onmenslike stres in hul daaglikse werk te kan hanteer.

Miskien selfs ook dat mediese kurrikulums reeds sulke kursusse vir mediese studente sal insluit, nie net om hulle gedurende hul studies meer weerbaar teen die mens se wreedste siekte te maak nie, maar ook wanneer hulle aan die diepkant ingegooi word gedurende hul internskap.

Hulle het nie verniet gely nie

Prof. Lizette Rabe. Foto: Denzil Maregele

Statistiek wys dat van die hoogste voorkoms van selfdood in die mediese beroep is – en dit begin reeds op mediese kampusse waar studente swaar dra aan die las dat juis hulle, ironies genoeg, nié kan sê “Help my!” nie.

Ons is dit aan die slagoffers van hierdie genadelose siekte verskuldig: dat hulle nie verniet gely en gesterf het nie. Prof. Mayosi het, ironies genoeg, die geen geïdentifiseer wat hartversaking veroorsaak. Mag sy nalatenskap ook inhou dat ons as gemeenskap die geen ontdek wat ’n fatale depressie – ’n totale versaking van die lewe – kan voorkom.

Sodat minder agtergelatenes, soos nou ook Mayosi se geliefdes, vir die res van hul lewe sal treur oor hierdie monstersiekte wat nog ’n lieflike mens van sy lewe beroof het. Sodat minder hoef te sê by die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.

Sodat ons almal, saam, kan vashou aan hoop. Saam kan bly veg, veg, teen die donker van die nag.

*Lizette Rabe is stigter van die Ithemba-stigting met bewusmaking van depressie as doel en wat navorsing oor depressie steun. Sy het ’n seun, ’n briljante mediese student in sy vierde jaar, aan depressie verloor en het die Hoop Hike en Hoop Bike begin as bewusmakingsaksies in Oktober, die WGO se Psigiese Bewusmakingsmaand. Vanjaar se Kaapse Hoop Hike en Hoop Bike is op 14 Oktober by Blaauwklippen, Stellenbosch, en die noordelike een op 28 Oktober by Van Gaalen, Skeerpoort, naby Hartbeespoort (Kry meer inligting hier.)

Kry hier hulp

* Lifeline 24-uur-noodlyn: 0861 322 322

* Sadag-hulplyn: 0800 567 567 of SMS 31393

* WGO

* Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid

* Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep

Herken die simptome

Depressie is nie om teleurgesteld of “af” te voel nie. As jy die volgende simptome vir langer as twee weke ervaar, maak ’n afspraak met jou dokter sodat jy geassesseer kan word en na ’n psigiater en sielkundige verwys kan word:

* ’n permanente hartseer gevoel;

* ’n gevoel van angstigheid of leegheid;

* as jy moeilik konsentreer of sleg onthou;

* besluiteloosheid;

* as jy moeg en sonder energie is;

* ’n gevoel van waardeloosheid, hopeloosheid, negatiwiteit en desperaatheid;

* as jy nie kan slaap nie, of sleg slaap, of te veel slaap;

* irritasie en rusteloosheid;

* wanneer niks meer interessant is nie;

* wanneer jy te veel of te min eet; en/of

* onwillekeurige selfdoodgedagtes

Meer oor:  Bongani Mayosi  |  Lizette Rabe  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.