Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die geheime van ’n graf

Daar is gereeld heelwat omstredenheid oor menslike oorskot wat in Groenpunt in Kaapstad gevind is voor nuwe bouontwikkelinge. Met die boek Grave Encounters is probeer om insig te gee oor die geskiedenis, omstredenheid en komplekse agtergrond. Neil Rusch was betrokke en beskryf hoe die boek sy beslag gekry het.

Die sekelmaan en ster op ’n grafsteen met Kaapstad op die agtergrond. Foto’s: VERSKAF

Ons skuld aan die afgestorwenes van die Moederstad is sekerlik om hulle te onthou en te erken, maar wat is die beste manier om dit te doen?

Om van die Maleierbuurt met Somersetstraat langs te loop en op met Chiappinistraat na die Bo-Kaap en sy Tanu Baru-begraafplaas, is nie ’n maklike staptog nie – maar hy het sy waarde. Soos jy höer beweeg, raak jou uitsig op Tafelberg uitstekend en jou indrukke van die stad verander gedurig terwyl jy heen en weer deur die nou strate op teen die oostelike hang van Vlaeberg beweeg.

Op so ’n staptog het ek op ’n helder dag my bestemming bereik van waar ek oor Groenpunt en die Waterfront kon tuur tot waar die see in die agtergrond geblink het.

’n Klein grafsteen met Arabiese skrif in die Tanu Baru-begraafplaas.

Vyf maande voor my staptog na Tanu Baru is ek gevra en opdrag gegee om ’n boek te produseer. Die titel van die boek was Grave Encounters. Dit sou gaan oor die argeologie van die begraafplekke van Groenpunt.

Alles was reeds geskryf en daar was reeds oor ’n titel besluit, maar dinge was steeds baie vloeibaar. Ek het self baie maande navorsing gedoen oor die onderwerp, maar nou het ek te veel geweet.

Die toneel waarna ek van ’n hoogte gestaar het, het ons met ’n groot vrag materiaal gelaat. Van die foto’s op my staptog na Tanu Baru was ook bruikbaar.

Die groot vraag egter nou was hoe ek saam met die navorsers Antonia Malan, David Halkett, Tim Hart en Liesbet Schietecatte met die boek die lewe van die afgestorwenes van Groenpunt kon huldig – ’n vraag wat ek moes hanteer voor ’n naderende publikasiedatum.

Die lekkerlooproete langs Somersetstraat is die pad na die Groenpunt-sokkerstadion met sy Waarheidsentrum en koffiewinkel regs.

Dit was in hierdie tyd dat ek aan ’n sekere Hannes gedink het – iemand wat ná baie jare se depressie sy eie lewe geneem het. Ná so ’n selfdood ontstaan ook altyd baie vrae en oor Hannes se geval kon ek nooit klaarheid vind nie.

Dinge het egter begin verander toe ek besluit het om ’n klein ritueel uit te voer. Op ’n plattelandse reis na die Noord-Kaap sou ek Hannes se ou tuisdorp, Williston, besoek. Terwyl ek van Kenhardt gery en Williston genader het, het ek van die pad getrek. Met ’n bottel boegoe-olie het ek toe in die veld gaan stap. Die dolerietblokke was vuurwarm en die boegoe-olie wat ek daarop gedrup het, het dadelik verdamp. Die geur van boegoe het in ongesiene lugstrome oor die veld begin dryf.

Hierdie ritueel het al die vrae tot ruste gebring. Op ’n onverklaarbare manier het dit ons verlos van ons vrae oor en om Hannes en is die hinderlike gesprek net daar beëindig.

Met Grave Encounters het ek gehoop om ’n soortgelyke oplossing te vind. Maar hoe moes daar nou opgetree word? Terwyl ek van Seinheuwel na onder gekyk het, kon ek die Waarheidsentrum in Somersetstraat sien. Maar miskien was dit nou naïef om antwoorde vir hierdie komplekse geskiedenis te probeer vind.

Daar was omstredenheid oor die opgrawings. Dit het ek geweet en was ook bewus van die tribunaal wat saamgestel is vir die arbitrasie tussen die verskillende standpunte.

Die media het ook baie aandag aan die kwessies en onenigheid gegee. Wat is ons skuld aan die dooies?

’n Ou kaart (1884) wat die uitleg van grafte en begraafplase toon.

Streng gesproke het ek geen antwoord daarvoor gehad nie, behalwe dat dit moes gaan oor onthou en getuienis wees en vrae. Maar hoe moes daar nou opgetree word?

Onder die baie fotomateriaal het een my aandag baie getrek. Toe die kartonkiste met menslike oorskot na die bewaarplek verskuif is – met die landsvlag daaroor gedrapeer – was daar ook van hulle sonder die vlag, maar met ’n olyftak in sy plek.

By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit nie Olea europaea was nie, maar die inheemse Olea europaeasubspesie africana.

Hierdie fyner besonderhede is belangrik. Die wildeolyfboom oftewel olienhout, soos boegoe, het rituele en medisinale waarde as iets wat oor kulture heen erken word. Op ’n manier moes ons dit kon insluit, maar hoe?

Malan het daarop gewys dat die omgewing van Somersetstraat voorheen as Distrik 1 bekend was: “Dit was ’n kragtige en emotiewe geskiedenis van gemeenskapslewe en onteiening – net soos in die latere Distrik Ses.

“Distrik 1 het gaandeweg verander, maar daar was nog tekens van galge, begraafplase, tronke, hospitale vir armlastiges, huurkamers, trekarbeiders en ’n bruisende sakegebied en rooiligdistrik in ’n hawegebied uit vergange dae.”

’n Mes, skulpe en viswerwels. Die werwels toon nog kleur en sou voorheen as krale gedra word. Hierdie artefakte is in ’n begraafplaas langs Prestwichstraat opgegrawe.

Met my eie navorsing was ek ook deeglik hiervan bewus, maar hoe dra mens dit nou alles oor in ’n boek met sy beperkinge. Iets van die oue en iets van die nuwe moes alles vasgevang word in die publikasie.

Party van die ou fasades het tot vandag behoue gebly. Plekke soos E.K. Green en die Dias Tavern gee ons steeds ’n blik op die hede en die verlede.

As hierdie argitektoniese elemente in die boek ingesluit kon word, kon dit in Malan se woorde “aansluit by die oproep om die verskillende lae van die stad se geskiedenis te help merk en te herwin”.

Deel van die bespreking, veral in Groenpunt, was hoe die stedelike ontwikkeling alles oorspoel het wat daar voorheen was.

As jy foto’s uit die 19de eeu nou vergelyk met my hedendaagse foto’s is die kontraste nog meer opvallend. Straatname soos Coburn, Chiappini, Prestwich en ander het oorleef op ou en huidige kaarte.

J. ’n Janfiskaal sit op ’n ster bokant die kramat van die Tanu Baru-begraafplaas in die Bo-Kaap.

Dit is die name wat die verskillende lae van die geskiedenis verbind – die menslike verplasing en verganklikheid oor ’n tydperk van minstens twee eeue. Die boek moes verskillende fasette insluit: geskiedkundige, sosiopolitiese, antropologiese, grafiese. Daar was uitdagings, maar ook geleenthede. Een hiervan was dat die geskrewe teks ook woorde nodig gehad het, soms ook baie. Maar dieselfde konsep en gedagtes kan ook grafies goed voorgestel word. Hoe kon ons daarin slaag?

In die geskrewe teks het gestaan dat “verskeie ou kerkbegraafplase langs Somersetstraat, Groenpunt, ongewyde geraak en opgegrawe is aan die einde van die 19de eeu, maar nie ongemerkte grafte en begraafplase nie”. Menslike oorskot word steeds onder geboue en sypaadjies gevind.

Ek het ’n punt daarvan gemaak om iets van die oudste opgrawings te vind en het met hulp dit by die Maitland-begraafplaas gevind. Die bewyse van die verskuiwings was die grafstene wat regop al langs die begraafplaas se muur gepak was en nog meer grafstene wat bloot as plaveisel gebruik is tussen die huidige grafte.

Ek het gevoel hierdie verskuiwing moes in die boek erken word. Dit moes die dooies in die blaaie van die boek verenig, al was hulle nou geskei van die liggame wat eens op ’n tyd in Somersetstraat begrawe is.

Fasades gee ’n verbintenis aan die lae geskiedenis van die Cape Quarter en Galgeheuwel (Gallows Hill).

Nog iets van die opgrawing-geskiedenis wat in die boek reggestel kon word, was die beamptes se besluit om grafgoed te verwyder en in ’n aparte rusplek as die menslike oorskot te stoor. Deeglike boekhouding kon verseker dat die twee verbind kon word in ’n akademiese en abstrakte wyse.

Dit was goed tot op ’n punt, maar ek het ook gevoel dat die boek uit respek verder kon gaan en ook ’n klein aksie van vergoeding kon toon deur die twee visueel by mekaar te bring.

Vir my was daar een goeie voorbeeld van goed wat hierdie moontlikheid duideliker gemaak het. ’n Halssnoer van gekleurde en gevlegte snoekwerwels is begrawe langs ’n liggaam met twee skulpe en ’n mes wat nou erg verroes was.

Wie was hierdie mens? Dan was daar ook knope, munte, tonteldose, kleipype, krale, slypstene, vingerhoede en naalde wat ook vrae gestel het. Wie was hierdie mense?

As ons in die boek ook hierdie grafgoed kon toon, sou dit baie meer as net menslike oorblyfsels toon – dit kon dan ’n boek van die lewende dooies wees – Kaapstad se voorvaders. Hoekom is mense begrawe met slawekentekens en boeie aan hul bene? Die vrou met die koperarmband aan haar arm. Wie was sy?

Nog ’n merkwaardige ding wat deur die fotografiese materiaal vasgevang is, maar wat nie so duidelik sigbaar was nie, was die toestande waarin die argeoloë hul werk moes doen.

Was dit moontlik om dit ook te toon? Daar moes gewerk word terwyl swaar vragmotors langs die oop grafte verby gedreun het. Die enigste manier wat dit getoon kon word, was met foto’s.

Dan was daar ook oomblikke van noukeurige opnames wat nodig was. Dan ook ’n foto wat lyk na ’n oomblik van verwysing.

Terwyl hy opgrawings doen, rus ’n argeoloog op sy knieë langs twee geraamtes. Die skaduwees dui dat in die laatmiddag moes wees en dit lyk of dit grasie aan die oomblik gee. Sulke foto’s vang baie vas in een skoot.

Ander wat weer byvoorbeeld toon hoe menslike oorskot vervoer word, in hul kiste, van hul houer na die wagtende vragmotor, vang ook iets vas van die respek, maar dit sou minstens ’n dosyn foto’s benodig om hierdie getuienis te wys. Was dit moontlik om dit alles in ’n boek van 128 bladsye te prop?

Ek het in die Bo-Kaap in die gras tussen grafstene gaan lê en na die Sondaggeluide geluister wat van die stad se kant aangespoel het.

Die geluide was van ver en nie indringend soos die vrae wat deur my kop gemaal het nie. As die sonlig uit die regte hoek geval het, kon ek die foto geneem het wat ek wou – die sekelmaan op ’n grafsteen met rooi malvas, en in die agtergrond ’n klomp groot geboue van die stadskern.

Later sou die lig skaduwees maak en die Arabiese skrif op ’n leiklipgrafsteen ontbloot en ek sou op die foto dit ook vasvang.

Dit sou die moeite werd wees om te wag. Ek het drie tot vier uur gewag. ’n Janfiskaal het saam my gekuier. Hy het in die gras geduik en goggas gevang en terug op ’n ster gaan sit bokant die kramat.

Daar is geen antwoord op wat hierna gebeur het nie. Miskien was dit die luisterryke samekoms van die son, maan en sterre wat alles nou bymekaar getrek het. Was dit die sameloop van ’n kenmerkende kreatiewe proses?

Ek glo dit was nog meer as dit. Ná maande se gewag, was alles skielik reg vir die boek. Ek is daarvan oortuig dat die ervaring deel was van my onderhandeling van my verhouding met die dooies en ek vra nou erkenning.

Ek is baie seker dat die boek in sy finale vorm hierdie elemente van verwantskap omsluit – hoewel die wyse waarop jy met dooies verbind, altyd subjektief en persoonlik sal wees.

Die fyner besonderhede van die boek moes hierna nog uitgewerk word, maar die algemene indruk is by Tanu Baru gevorm.

Vir my was dit wat daar in die Bo-Kaapse begraafplaas gebeur het ook baie soortgelyk aan my ervaring by Williston. Albei ervarings onthou en vereenselwig ek met die geur van boegoe wat in die lug dryf.

  • Grave Encounters het in 2017 verskyn en is pas herdruk.
Meer oor:  Kaapstad  |  Groenpunt  |  Gevind  |  Geskiedenis  |  Boek  |  Omstredenheid  |  Begraafplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.