Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die gevaar van e-sigarette

Daar is nog nie bo alle twyfel bewys dat e-sigarette jou kan help om op te hou rook nie. Boonop kan dit ook skadelik vir jou gesondheid wees, skryf Ilona Jaspers.

’n Man blaas die rook van ’n e-sigaret uit in ’n winkel in New York. Dié manier van rook is dalk nie so veilig soos wat mense gedink het nie. Foto: AP

Die toename in gevalle van andersins gesonde jong volwassenes wat in die hospitaal opgeneem word of selfs doodgaan weens longskade wat met die rook van e-sigarette verbind word, is kommerwekkend.

Baie mense weet nie waaruit die chemiese mengsels in e-sigarette (of sogenaamde “vaping devices”) bestaan nie, wat die invloed op mense se gesondheid is nie, en hoekom alles in verband hiermee so vinnig ontwikkel as ’n mens in ag neem dat e-sigarette maar net vir minder as tien jaar groot aanhang geniet nie.

“Vaping” beskryf die proses waarmee aërosols (chemiese mengsels) deur e-sigarette ingeasem word.

Toe e-sigarette die eerste keer in 2006 hul verskyning in Amerika gemaak het, was baie kenners wat mense gehelp het om op te hou rook optimisties.

Hulle het gedink die inname van nikotien deur e-sigarette was ’n nuttige alternatief vir tradisionele sigarette omdat elektroniese sigarette nie al die skadelike verbrandingsmiddels van sigaretrook bevat nie.

Waarom het wetenskaplikes so gou aangeneem dat e-sigarette nie ook verskuilde gevare mag inhou nie?

Omdat daar geen twyfel was dat die rook van tradisionele sigarette skadelik vir jou gesondheid is nie – en die vernaamste oorsaak van voorkombare sterftes in Amerika – is e-sigarette bemark as ’n “veiliger” alternatief.

As ’n toksikoloog wat in inaseming spesialiseer, bestudeer ek chemikalieë, partikels en ander stowwe wat mense se gesondheid beïnvloed.

Sedert die verskyning van e-sigarette, was ek bekommerd oor hoe wetenskaplikes enigsins kan weet wat die volle spektrum is van die gevare wat dit inhou.

Dit het epidemioloë op stuk van sake dekades geneem om uit te vind dat longkanker veroorsaak word deur die rook van ’n brandende plantmateriaal, tabak, in te asem.

Waarom het wetenskaplikes so gou aangeneem dat e-sigarette nie ook verskuilde gevare mag inhou wat jare sal neem om ontdek te word nie?

Help e-sigarette mense om op te hou rook?

E-sigarette en bybehore wat in ’n winkel in New York te koop is. Foto: Reuters

Dit is welbekend dat dit moeilik is om op te hou rook en tabakmaatskappye het die gevare daarvan harteloos verswyg.

Baie rokers het gesê dat hulle beter gevoel het nadat hulle sigarette vir e-sigarette verruil het. Hulle het onder meer minder gehoes.

Maar ’n klompie ewekansige kliniese proefnemings waarin gekyk is na die gebruik van e-sigarette as ’n middel om op te hou rook, het gemengde uitslae opgelewer.

'Veiliger' beteken nie dieselfde as 'veilig' nie, en die boodskap van 'veiliger' was gegrond op vergelykings met sigarette.

Terwyl sommige ondersoeke ’n beduidende toename aangedui het in mense wat opgehou het met rook (van 9,9% tot 18%), was gebruikers van e-sigarette baie meer geneig om afhanklik te bly van nikotien vergeleke met diegene wat meer tradisionele plaasvervangers soos nikotien-plakkers, nikotien-kougom en neussproei op die proef gestel het. Óf hulle was meer geneig om weer te begin rook.

Om dit in ’n neutedop saam te vat: Daar kon nog nie bepaal word of, hoe en in watter mate e-sigarette die potensiaal het om mense te laat ophou rook nie. Hier moet ’n mens veral in gedagte hou dat meer as 80% van rokers wat ewekansig e-sigarette gebruik het om te probeer om op te hou rook, weer begin rook het.

Veiliger as ’n spoegkobra

E-sigarette kan ook jou gesondheid benadeel. Foto: Reuters

Ongeag aansprake dat dit help om rook te laat vaar, het die boodskap dat e-sigarette ’n “veiliger” alternatief is, dalk daartoe gelei dat baie van die 3,6 miljoen tieners in Amerika wat deesdae e-sigarette gebruik glo dat dié apparate “veilig” is.

“Veiliger” beteken nie dieselfde as “veilig” nie, en die boodskap van “veiliger” was gegrond op vergelykings met sigarette.

Die openbare gesondheidsowerhede in Brittanje het in 2015 gesê hoewel “vaping” nie “100% veilig is nie, dit nie die meeste van die chemikalieë bevat wat rookverwante siektes veroorsaak nie en die chemikalieë wat wel aanwesig is, beperkte gevaar inhou”.

Dié stelling het nie die feit oorweeg dat die invloed op jou gesondheid as jy gegeurde chemikalieë in e-sigarette inasem heeltemal onbekend is nie. Ook nie dat die verwarmingsvloeistowwe wat in dié apparate gebruik word termiese ontbinding veroorsaak van daardie e-sigaret-chemikalieë wat “beperkte gevaar inhou” en dit in bekende gifstowwe verander nie.

Dit het ook nie die feit in ag geneem dat ’n vinnig groeiende verbruikersproduk met voortdurende veranderende apparate en chemikalieë mengsels kan skep waarvan die gevolge op mense se gesondheid nog onbekend is nie.

Daar is nog nie bo alle twyfel bewys dat e-sigarette jou kan help om op te hou rook nie. Foto: AP

Dié fout is vererger omdat die nadelige gevolge van e-sigarette vir jare vergelyk is met dié van sigarette.

Dit is wel bekend dat die rook van sigarette siektes soos chroniese obstruktiewe longsiektes, chroniese brongitis, emfiseem en kanker veroorsaak. Baie van dié siektes manifesteer eers klinies jare nadat die eerste sigaret gerook is.

Geen beheerde studies is nog ooit gedoen om vas te stel of die gebruik van e-sigarette enige gesondheidsprobleme veroorsaak vir mense wat nooit tabak gerook het nie. Tot vandag toe weet wetenskaplikes nie wat die potensiële gesondheidsgevolge op lang termyn is vir mense wat vir dekades lank e-sigarette gebruik nie.

E-sigarette se invloed op gesondheid heeltemal anders

Die gebruik van e-sigarette het skerp toegeneem. Foto: Reuters

Siektes wat met rook verband hou, soos longkanker en emfiseem, ontwikkel oor jare.

Ek dink die wetenskaplikes en beleidsmakers moet heeltemal ophou om die gesondheidsgevolge van e-sigarette en sigarette met mekaar te vergelyk. Die meer as 450 tipes longtoestande wat met “vaping” verbind kan word, bewys dié punt. Die kliniese manifestasies in dié pasiënte is nie iets wat ’n geneesheer sal raaksien in iemand wat nog net vir ’n paar maande sigarette rook nie.

Niemand sal dink dit is redelik om die gesondheidsgevolge van die rook van sigarette met dié van die rook van “crack” te vergelyk nie.

Dié kliniese gevolge is ook nie by gebruikers van dagga opgemerk nie hoewel THC, die psigoaktiewe bestanddeel in dagga, nou verbind word met ’n groot persentasie van dié gevalle.

Boonop is die aanvang van beduidende gesondheidsprobleme vinniger as wat ’n mens sal verwag van rookverwante siektes. Is “vaping” skadeliker as sigarette omdat dokters ernstige siektes waarneem by mense wat e-sigarette vir ’n relatief kort tydperk gebruik het?

As ’n mens in ag neem dat die chemiese verbindings wat jy deur sigaretrook inasem heeltemal verskillend is van dié wat jy deur die ontelbare aantal gegeurde e-sigarette en “vaping”-apparate inasem, is dit nie soos om appels met lemoene te vergelyk nie?

Niemand sal dink dit is redelik om die gesondheidsgevolge van die rook van sigarette met dié van die rook van “crack” te vergelyk nie.

Vloeibare nikotien word in ’n e-sigaret gegooi. Foto: AP

Heelwat aandag word nou daaraan bestee om die “booswig” op te spoor wat die longskade veroorsaak by die meer as 450 mense wat e-sigarette gebruik het.

Bymiddels wat in THC-vloeistowwe voorkom, is dalk ’n potensiële oorsaak, maar almal het nie THC met e-sigarette gerook nie en sommiges het net nikotienprodukte gebruik.

Mense met longskade en geen geskiedenis van THC-inname nie, is ook al gedokumenteer wat daarop dui dat longskade wat deur “vaping” veroorsaak is, voor die onlangse toename van gevalle al opgespoor is.

Dit is te vroeg om te sê tot watter mate e-sigarette gebruik kan word om mense te help om op te hou rook.

Boonop is ander “vaping”-verwante probleme aangemeld wat wys dat die nadelige gevolge kan verskil.

Daarom is dit te vroeg om gevolgtrekkings te maak oor watter chemiese verbindings – en daar is straks verskeie – met die “vaping” van nikotien of produkte wat THC bevat, spesifieke longskade aanrig.

Terwyl dit te vroeg is om te sê tot watter mate e-sigarette gebruik kan word om mense te help om op te hou rook, kan een gevolgtrekking reeds gemaak word: Die gebruik van e-sigratte het ’n invloed op jou gesondheid.

* Jaspers is professor van pediatrie, mikrobiologie en immunologie, en omgewingswetenskap en -ingenieurswese aan die Universiteit van Noord-Carolina, Chapel Hill. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Chemikalieë  |  Rook  |  Sigarette  |  Tabak  |  E-Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.