Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die gevaar van identiteits-politiek

Identiteitspolitiek is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit het ’n positiewe kant, maar Suid-Afrikaners moet veral bedag wees op die negatiewe aspek daarvan, skryf Theo Venter.

Goodwill Zwelethini, koning van die Zoeloes, het sy stem begin dikmaak in die debat oor die onteiening van grond sonder vergoeding. Foto: Jabulani Langa

Die debat oor grondhervorming, aangevuur deur die ANC se beleidsbesluit van 2017 om onteiening sonder vergoeding deel van sy beleid te maak, het ’n baie interessante sosiaal-politieke dinamika veroorsaak.

Een voorbeeld hiervan was die imbizo wat Goodwill Zwelethini, Zoeloekoning, op 5 Julie in Ulundi gehou het. Dit was ’n ware Zoeloe-volksvergadering in tradisionele gewaad en vol veglustige stemme en dreigemente. Openlike etniese mobilisasie en identiteitspolitiek op sy duidelikste vir die eerste keer in baie jare.

Die tradisionele leierskap van die Khoi en San het op eiesoortige manier hul kleim afgesteek in die debatte, nes ander groeperinge soos die Griekwa, Khwe en Nama.

Identiteitspolitiek, etniese mobilisering en nasionalisme lê langs mekaar.

Het die grondhervormingsdebat, benewens ekonomiese en grondwetlike vraagstukke, dus ook ’n nuwe fase van identiteitspolitiek in Suid-Afrika ingelui?

Of is Brexit en pres. Donald Trump van Amerika se eiesoortige ekonomiese nasionalisme ’n globale voorbeeld van identiteitspolitiek?

Identiteitspolitiek, etniese mobilisering en nasionalisme lê langs mekaar. Die handel in wese oor die vraag wie ons is, hoe ons onsself definieer en wat in ons belang is. Hierdie verskynsels wil ook nasionale brûe bou en nasionale integrasie bevorder, maar fokus eerder na binne en eie belang.

Feitlik alle lande met komplekse en diverse samelewings waarin bevolkings in verskillende verhoudings tot mekaar staan, ervaar die een of ander vorm van identiteitspolitiek. Dit is meer algemeen as wat ’n mens dink.

Meerderhede soek ook erkenning

Die mees onlangse ontledings wys daar is net ongeveer 18 lande uit 193 met homogene bevolkings. ’n Mosaïek van tale, etnisiteit, godsdiens, geskiedenis en klas is dus meer die norm as die uitsondering.

Benewens Suid-Afrika, is goeie voorbeelde van dié verskille te vinde in lande soos Sri Lanka, Maleisië, Burundi, Indië, België en Ierland.

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord by die eeufeesvierings van die Afrikanerbond. Foto: Edrea du Toit

Identiteitspolitiek sluit egter meer in as die geykte voorbeelde wat reeds genoem is. Dit het in die laaste twee dekades ’n betekenisverruiming ondergaan en sluit ook die soeke na erkenning in van LGBT-gemeenskappe en ander soortgelyke groepe asook genderbewegings.

Meerderhede en minderhede in diverse samelewings het interessante verhoudings met mekaar.

Dit is nie net minderhede wat sterk na identiteit of erkenning soek nie, meerderhede het ook soms so ’n behoefte.

’n Merkwaardige voorbeeld is Sri Lanka. Die Singalese maak 75% van die bevolking van 20 miljoen op dié eiland langs Indië uit teenoor die 15% van Tamils.

Maleisië het ’n soortgelyke geskiedenis waar die etniese Maleisiërs ontsteld was oor die Chinese minderheid se oorheersing van die ekonomie.

Tog bestaan daar ’n vrees vir oorheersing by die Singalese wat tot ’n lang politieke konflik gelei het.

Die rede daarvoor is onder meer dat die Singalese die oorweldigende Tamil-meerderheid op die Indiese subkontinent as ’n bedreiging sien. Volgens hulle is dit ’n verlenging van die Tamil-minderheid in Sri Lanka.

Maleisië het ’n soortgelyke geskiedenis waar die etniese Maleisiërs (sogenaamde Bumiputras of “seuns van die aarde”) ontsteld was oor die Chinese minderheid se oorheersing van die ekonomie.

Die Chinese was ’n klein minderheidsgroep in Maleisië. Die probleem is eers oorkom met die totstandkoming van Singapoer as ’n onafhanklike staat in 1965.

Die voorbeeld van Afrikaner-nasionalisme

Identiteitspolitiek het egter ’n ingeboude teenstrydigheid.

Is dit die soeke na identiteit in die politiek of na die politiek van identiteite?

Vir genl. Jan Smuts was daar geen oorlewing in minderheidspolitiek nie. Foto: Argief

Die Afrikaner en die opkoms van Afrikanernasionalisme kan hier as goeie voorbeeld dien. In die soeke na Afrikaneridentiteit is sommige mense ingesluit en sommige uitgesluit, want ’n etniese gemeenskap vorm ’n soort van psigosomatiese kompleks.

Gemeenskappe visualiseer en romantiseer hul bestaan (’n persepsie van hulself) en ontwikkel dan ’n politieke tradisie en kultuur wat daarop gegrond is.

Hierdie proses is kompleks, want dit vind plaas in ’n konteks waarin ander gemeenskappe, groepe en gelowe ook ’n invloed het en ’n rol speel. Die proses is veral kompleks omdat dit middelpuntsoekend en middelpuntvliedend is.

Vir meer as ’n eeu soek die Afrikaner al na homself: deur sy geskiedenis, deur organisasies (soos die Afrikaner Broederbond later die Afrikanerbond), deur letterkunde, deur universiteite, kerke en skole.

Dit was die middelpuntsoekende kragte.

Gelyktydig is daar egter ook die middelpuntvliedende kragte en strome binne dieselfde groep.

Daar is die stemme wat meen dat daar geen oorlewing in minderheidspolitiek is nie (soos genl. Jan Smuts), daar is stemme wat vra vir groter deelname as net binnepolitiek (soos dr. Frederik van Zyl Slabbert), om maar enkeles te noem.

Die ‘ons’ en die ‘hulle’

Dit is die paradoks van identiteitspolitiek, naamlik dat verskille binne groepe dikwels groter en meer intens is as dié tussen groepe.

Theo Venter

Omdat die politiek van identiteite in wese gaan oor selfdefinisie, is daar ’n noodwendige “ons” en “hulle” en word dit in die politieke debatte en gesprekke op baie verskuilde maniere verwoord en toegepas.

Dit lei weer tot politieke diskriminasie, antagonisme, chauvinisme en polarisasie in die politieke gemeenskap.

Identiteitspolitiek het beslis positiewe en negatiewe gevolge.

Die positiewe gevolge is die mobilisering van kragte en bronne om byvoorbeeld taal en opleiding te bevorder. Dit help daarmee om bepaalde regte te verseker en om diskriminasie en vooroordele af te breek.

Die gevare is egter ook groot.

Die Zoeloe-imbizo het gewys hoe maklik dit is om ’n diverse politieke bestel te polariseer en, gevaarliker nog, hoe maklik dit word om “vyande” te identifiseer en dan na binne te migreer.

Identiteitspolitiek het betrekking op hoe ons onsself definieer. Die oomblik as ons dit doen, betree ons die wêreld van persepsie en die politiek van “ons” en “hulle”. Die “ons” is ’n verfynde en fyngevoelige definisie van hoe ons onsself eintlik wil sien. Dit is amper ’n soort politieke ideaal, terwyl die “hulle” ongenuanseerd en in vyandige terme gedefinieer word.

Identiteitspolitiek is ’n werklikheid in Suid-Afrika, maar ons moet bedag wees op die nadele wat dit kan inhou vir ontwikkeling van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap.

* Theo Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.