Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die gevaar van radikalisme in SA

Radikale denke aan albei kante van die politieke spektrum is een van grootste uitdagings vir stabiliteit en vooruitgang in ’n politieke stelsel, skryf Pieter Labuschagne.

Betogers by ’n padversperring naby Vereeniging. Gewelddadige diensleweringsbetogings in Suid-Afrika het toegeneem soos die verkiesing nader kom. Foto: Felix Dlangamandla

Genl. Jan Smuts, voormalige eerste minister van Suid-Afrika, het by geleentheid gesê dat die beste of die slegste nooit in Afrika gebeur nie.

In die aanloop tot die verkiesing is die hoop dat Smuts se beskouing waar is, want die groeiende teenwoordigheid van radikalisme of ekstremisme is ’n bron van kommer. Daar bestaan reeds ’n persepsie dat die “slegste” in die vorm van radikalisme reeds ’n stewige vastrapplek in die land gekry het.

Die verregse EFF moedig onwettige grondbesetting aan sonder enige gewetenswroeging oor die gevolge. In die metropolitaanse gebiede van Tshwane en Johannesburg is daar ’n reeks diensleweringsbetogings duidelik gemik teen DA-munisipaliteite.

Die manifestering van radikalisme is ’n aanduiding van frustrasie of innerlike woede teenoor die status quo.

Die manifestering in handeling van hierdie soort radikale denke aan albei kante van die politieke spektrum, is een van die grootste uitdagings vir stabiliteit en vooruitgang in ’n politieke stelsel.

Die manifestering van radikalisme is ’n aanduiding van frustrasie of innerlike woede teenoor die status quo en die aanwending van ekstreme metodes (soos geweld) om uiting daaraan te gee. Die teenwoordigheid van radikalisme in die vorm van diensleweringsbetogings spoel oor in geweld en openlike plundery.

Die gevaar wat dié vorm van radikalisme inhou is dat dié soort denke en handelinge selde deur rasionaliteit of rede gerugsteun word.

Een van die belangrike eienskappe van radikalisme is juis dat dit deur ’n (ekstreme) toepassing of handeling gekenmerk word, wat nie deur ’n beginsel of rasionaliteit gerugsteun word nie. Die klem is dus op die handeling self wat nie op ’n etiese of normatiewe beginsel gegrond is nie.

EFF-ondersteuners betoog voor die landdroshof in Kaapstad waar Marshall Dlamini verskyn het omdat hy ’n polisieman in die parlement geklap het. Foto: Jaco Marais

Die gebrek aan rasionaliteit en dieper denke is duidelik waarneembaar in die radikale uitbarstings van die afgelope tyd. Die plaaslike gemeenskap sal na ’n openbare pad opruk om motoriste met klippe te bestook ten einde hul frustrasie oor swak dienslewering te kenne te gee. In die uitvoer van die handeling bestaan geen kousaliteit tussen die frustrasie van swak dienslewering en die beskadiging van eiendom en die risiko van beserings nie.

Die motor wat getref word, of die bestuurder wat dalk beseer word, kan moontlik ook iemand wees wat self swak dienslewering ervaar. Wanneer Pretoria se stasie afgebrand word omdat die trein laat is, sal die handeling nie die trein vroeër laat opdaag nie. Die irrasionele handeling is soortgelyk aan die strategie om ’n bom op 'n vliegtuig te laat ontplof, sodat die vliegtuig betyds kan land.

In albei voorbeelde word die toepassing en uiting van die ekstreme handeling belangriker as enige beginsel of normatiewe of etiese waarde geag.

Radikalisme is niks nuuts nie

Julis Malema, leier van die EFF, by ’n verkiesingsbyeenkoms van dié party. Foto: Argief

Die teenwoordigheid van radikalisme aan die linker- en regterkant van die politieke spektrum is niks nuuts in politieke stelsels nie. Julius Malema en sy rooi brigade in Suid-Afrika slaag egter die beste van al die partye daarin om radikalisme as voederbron vir populisme te verdiskonteer en daardeur steun vir hul party te verwerf. Daar kan dus in die aanloop tot die verkiesing verwag word dat Malema en kie die negatiewe elemente van radikalisme en populisme al sterker sal laat geld.

Die politieke manipulasie van die diensleweringsbetogings, wat na glo deur die ANC georkestreer word, laat ook groot vraagtekens oor die moraliteit van dié party se beweerde strategieë.

Die onrusbarende aspek van radikalisme is die irrasionaliteit van die handeling.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê in ’n koerantonderhoud dat ’n PAC-lid, toe lid van die studenteraad by die Universiteit van Pretoria, vertel het dat radikalisme die beste strategie is om reaksie en verandering te weeg te bring. Hy het gesê daar is gewoonlik geen reaksie as die rektor gebel word of ’n e-pos aan hom gestuur word nie. Maar wanneer daar gedreig word om die universiteit af te brand, bel die rektor jou direk.

Die begrip radikalisme

Radikale bewegings se boodskap vink aanklank in gebiede waar armoede hoogty vier. Foto: Mlungisi Louw

Die woord radikalisme is van die Latynse stamwoord radix vir wortel (root) afgelei. In ’n politieke verband is dit die aandrang op ’n radikale of ekstreme verandering aan die wortel (basis of grondslag) van die politieke stelsel.

Die konsep het in die Franse Rewolusie sy beslag gekry.

In Suid-Afrika is die praktiese manifestasie van radikalisme in die vorm van diensleweringsbetogings, wat met die afbrand van geboue en die plundering van winkels, asook klipgooiery by openbare paaie gepaard gaan.

Die irrasionele handeling is bloot die kru ongesofistikeerde artikulasie van politieke eise deur middel van die toepassing van geweld.

Die voorkoms van radikalisme is soortgelyk merkbaar in die parlement in kru “onparlementêre” optrede waar waardigheidsgrense oorskry word, soos die doodskreeu van sprekers en joernaliste wat buite die parlement aangerand word.

Kenmerke van radikalisme of ’n radikale party

Saul Alensky het in sy boek, Rules for radicals, die kerngedagtes van radikalisme baie deeglik uiteengesit. Alensky verduidelik dat die integrale deel van radikalisme die opponerende “anti”-aspek is, wat sterk in die radikaliste se leksikon ingebed is. Die radikales beskou die lewe as ’n voortdurende stryd tussen groepe: die gewone mense teen die elite, dié “wat het” teenoor dié “wat nie het nie” of wit mense teenoor swart mense.

Die lewe word voortdurend in opposisie en teenstrydighede gesien en nooit met verwysing na middelgrond of kompromieë nie. Dit is ’n voortdurende stryd wat gestry moet word, amper soos Don Quichot wat die windmeulens bestorm het.

Die kenmerke van radikalisme kan soos volg opgesom word:

* ’n Gebrek aan respek vir bestaande instellings.

Die EFF se onvermoë om in die parlement binne beskaafde etiese norme en reëls te funksioneer, is ’n voorbeeld van die gebrek aan respek. Die parlement as instelling is in wese ’n mededingende ruimte, wat juis geskep is om onderlinge verskille deur debat en konstruktiewe kritieklewering op ’n dinamiese, maar waardige wyse te hanteer. Die EFF se radikale taktiek wissel van ongesofistikeerde en oningeligte bydraes tot die debat tot die ontwrigting en die uitskreeu van slagspreuke, sonder enige intellektuele inhoud. Die party skroom ook nie om beamptes by die parlement aan te rand of om joernaliste te dreig nie.

* Die neiging om korrupte sameswerings oral te sien.

Daar kan natuurlik nie ontken word dat korrupte sameswerings in Suid-Afrika voorkom nie, maar die EFF identifiseer gereeld sameswerings, in baie gevalle sonder bewyse.

* Die voortdurende eis om drastiese verandering.

Die EFF se politieke en ekonomiese eise is radikaal en word gewoonlik net in ekstreme terme gestel. Die aandrang dat die staat grond moet nasionaliseer, is byvoorbeeld ’n radikale eis wat teen alle ekonomiese werklikhede indruis. Dié soort eise is nog ’n voorbeeld van waar die toepassing van die (simboliese) handeling belangriker as die beginsel of rasionaliteit beskou word. Die ekonomiese ineenploffing wat sal volg as grond onbepland en op ’n irrasionele wyse genasionaliseer word, sal katastrofies wees. Radikale persepsies en handelinge is die enigste oogmerk sonder enige begrip of insig in rasionaliteit.

* Die huidige regering is korrup.

In die geval van Suid-Afrika is daar natuurlik ’n element van waarheid in dié siening, maar rasionaliteit vereis dat daar meer genuanseerd na die teenwoordigheid en voorkoms van korrupsie gekyk word. Daar is immers ministers en amptenare in die regering wat hulle nie aan korrupsie skuldig gemaak het nie.

* Die radikales praat namens die “verontregtes” of diegene by wie besit weggeneem is.

Die EFF beskou homself van die begin af as die self-aangestelde tromslaners van die “verontregtes” en diegene wat van hul grond en besittings ontneem is. Daar word ook op ongenuanseerde wyse na die probleem gekyk, sonder enige rasionele ontleding of ’n werklike soeke na ’n oplossing.

* Die fokus is op die mense wat hulle “haat” en nie die oplos van die probleem nie.

Die EFF as morele tromslaners, wat praat namens die verontregtes en diegene wat besit ontneem is, word net op die sogenaamde skuldiges (wit mense) geprojekteer. Daar bestaan geen kontekstuele begrip of rasionele beskouing van die probleem nie. Die uitdaging in dié geval is om die al hoe groter wordende kloof tussen ryk en arm te hanteer. Die oplossings is in hoër groter ekonomiese groei en die verdeling van dié groei gesetel.

Die fokus van die radikales bly egter steeds op die groep (wit mense) wat volgens hulle daarvoor verantwoordelik was. Dit is nie ’n rasionele soeke na ’n oplossing van die probleem nie.

Radikalisme in Suid-Afrika

Ondersteuners van die EFF met ’n plakkaat waarop die gesig van Julius Malema, hul leier, pryk. Die EFF is volgens meningspeilings die enigste partye wat groei van 2 tot 4% by die stembus kan toon. Foto: Argief

In Suid-Afrika is die teenwoordigheid van radikalisme, en die toepassing van geweld om politieke aspirasies te verwesenlik, natuurlik niks nuuts nie. In die laaste paar dekades van die apartheidsera, het die ANC en PAC dieselfde destruktiewe strategie toegepas om politieke mag te verkry.

Winnie Mandela wou byvoorbeeld vuurhoutjies en buitebande in die swart woonbuurte gebruik om die land te bevry. Die bevrydingspyskaart van dié era was ’n makabere lys van halssnoermoorde, brandstigting en geweld in die naam van bevryding.

Dit is waarom oudpres. FW de Klerk die proses van politieke normalisering begin het, sodat opponerende politieke partye op soek na ’n middelgrond oplossings kon vind. Die inklusiewe parlement is juis ’n instelling wat konflik kan hanteer en vir die oplossing van verskille geskep is – dit behoort vir dié doel aangewend te word.

Dit lyk of die EFF se radikale handelinge en retoriek inslag vind.

Die probleme en verskille moet deur debat en kompromieë hanteer word. In ’n omgewing van dié akkommoderende aard is daar min plek vir radikalisme.

Die ongelukkige werklikheid is dat sowel die ANC as die DA, wat grootliks afsydig teenoor radikalisme staan, se steun in die meeste peilings voor die verkiesing ’n afwaartse kurwe toon. Die enigste party wat met tussen 2 en 4% kan groei, is die EFF en dit blyk dat sy radikale handelinge en retoriek inslag vind.

Die hoop en verwagting bly maar dat Smuts se stelling dat “die beste en die slegste nie in Afrika gebeur nie”, bewaarheid sal word.

* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Pieter Labuschagne  |  Ekonomie  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.