Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die gif in die DA

Die amptelike opposisie se probleme het lánk voor Meimaand se verkiesing reeds begin, sê Dawie Boonzaaier.

DA-leiers in vroeër, gelukkiger tye: November 2017. Ghaleb Cachalia, Mmusi Maimane en John Moodey in ’n seëvierende luim by die party se provinsiale kongres by Gallagher Estate in Gauteng. Moodey het Cachalia geklop en is vir die derde keer tot Gautengse leier verkies. Foto’s: Elizabeth Sejake en Gallo Images

Wat op dees aarde gaan met die DA aan?

Vanjaar se algemene verkiesing was veronderstel om die jaar te wees waarin die party uit die skadu van die ANC opstaan en uiteindelik wys: “Ons is reg om te regeer.”

Die tafel was reeds gedek. Drie metro’s is in 2016 se munisipale verkiesing afgeneem en die ANC was so te sê uit op sy voete, voosgeslaan ná Jacob Zuma se tien jaar van wanbestuur.

Oor die Wes-Kaap was hulle redelik seker, maar vir die eerste keer was daar ’n werklike moontlikheid dat die inwoners van Gauteng ook die (blou) lig aan die einde van die tonnel sou sien.

Die DA sukkel om die regte pleister vir die wond te kry.

Maar pleks van duisende kruisies langs Mmusi Maimane se naam – die eerste keer dat die party ’n nasionale verkiesing met ’n swart leier kon aandurf – het die DA eerder stemme afgestaan, die eerste keer sedert 1994 dat hul steun afneem.

Dit was ’n bloedbad. Vyf setels en amper ’n halfmiljoen kiesers minder as in 2014.

Bykans die helfte van die kruisies is na Pieter Groenewald se Vryheidsfront Plus toe. Ironies genoeg het Groenewald nie net die DA se Afrikaner-steun afgeneem nie; hy het hulle afgerokkel met presies dieselfde boodskap waarmee Tony Leon hulle in 1999 so suksesvol in die DA-kraal gejaag het: die “Slaan Terug!”-veldtog.

                                                                                ***

In die politiek, soos elders, is dit van kardinale belang om ’n nederlaag op die ken te vat en so vinnig moontlik aan te beweeg, voordat struikel vryval word.

Luyolo Mphithi

Pleks daarvan steier die DA voort van die een binnegeveg na die volgende, faksies wat by die dag nou meer uitgesproke raak en ’n ondersoek na die verkiesingsdebakel wat ná vyf maande se geknie nog steeds nie ’n broodjie kon bak nie.

Net verlede Sondag breek Rapport se susterskoerant City Press die nuus van ’n “koukus binne ’n koukus” wat sommige liberale DA-parlementslede tot stand wil bring.

Die “koukus”, waarvan die ledegeld glo R250 per jaar sal beloop, sal, volgens uitgelapte dokumente, blykbaar bekend staan as die “1959-komitee” van die parlementêre koukus van die Demokratiese Alliansie. Die 1959 in die naam verwys blykbaar na die jaar waarin die Progressiewe Party (die party wat later die PFP, toe die DP en uiteindelik die DA geword het) van die Verenigde Party weggebreek het.

Die man agter die “liberale koukus” is Ghaleb Cachalia. Cachalia kom uit ’n onberispelike struggle-familie en was self aktief in die stryd teen apartheid betrokke. Anders as sy meelopers – mense met Engelse dubbeldoor-vanne wat maklik afgemaak kan word as ’n “wit Engelse kabaal”, het Cachalia self ’n bewese struggle-geskiedenis en ’n vlekkelose en navolgingswaardige parlementêre prestasielys.

Helen Zille

Cachalia het egter op meer as een manier een van die gesigte van die DA se interne struwelinge geword.

Sy openbare woordewisselings met die DA se ander opkomende ster (en knap parlementslid) Phumzile van Damme is reeds die stof vir politieke legende.

En anders as haar naamgenoot, die karateman Jean-Claude wat net een keer praat – om dood te slaan – is Phumzile meer van die vat-en-los-tipe-bakleiers. Sy is ’n Floyd Mayweather-tipe wie se verdediging baie sterker as die aanval is.

Cachalia is einde Mei, kort voor die parlement heropen het, as een van ’n drietal – saam met Helen Zille en dr. Mi­chael Cardo – deur Maimane en die hoofsweep John Steenhuisen uitgesonder as lede teen wie daar dissiplinêr opgetree gaan word weens hul omstrede twiets. Die optrede teen Cardo en Zille is laat vaar, maar Cachalia s’n duur voort.

Cachalia se oortreding was dat hy op Twitter na die radiokommentator Eusebius McKaiser verwys het as ’n “versmade vrou” (“woman scorned”), ’n opmerking wat deur McKaiser, wat gay is, as ’n homofobiese verwysing vertolk is.

Dit is nie net die ANC wat na ’n ware leier soek nie.

Van Damme het sedertdien nie ’n geleentheid laat verbygaan om Cachalia te kapittel nie.

Tydens die party se eerste koukusvergadering vanjaar, kort ná die insident by die Waterfront, waar sy (volgens haar eie bekentenis) ’n man bygekom het wat glo rassisties teenoor haar was, was sy en Cachalia in mekaar se hare oor dié voorval.

Die relletjie het gou na die openbare terrein oorgespoel met Cachalia wat instemmend gereageer het op ’n twiet van Gwen Ngwenya, voormalige DA-beleidshoof, wat Van Damme se Waterfront-tirade veroordeel het. Van Damme het onmiddellik teruggekap en Cachalia op Twitter van homofobie en seksisme beskuldig.

Intussen het Cachalia in ’n sterk bewoorde brief aan James Selfe, die party se voorsitter van die federale raad, gevra dat Van Damme se optrede by die Waterfront ondersoek moet word.

Maar pleks daarvan dat twee LP’s, wat albei die DA moet help opstaan ná ’n swak verkiesing, die strydbyl begrawe (of minstens hul gevegte agter toe deure voortsit) duur die katterigheid op Twitter net voort.

                                                                                    ***

Asof dinge binne die party nie reeds warm genoeg was nie, maak “Mnr. Slaan Terug!” homself, Tony Leon, toe ook sy opwagting.

Leon, die man wat gevra is om saam met die oud-DA-strateeg Ryan Coetzee die hersieningsproses te lei wat die party moet vernuwe ná Mei se rampspoedige verkiesing, hou toe in Augustus ’n toespraak by ’n geleentheid van die Fried­rich Naumann-stigting en die Instituut vir Rasseverhoudinge.

Phumzile van Damme

Hy draai geen doekies om nie en spreek hom sterk uit teen die onvermoë van sy ou party om hul opponente se foute uit te buit.

“In Suid-Afrika is daar ’n diepe vrees . . . om aan die verkeerde kant te val, nie van ideologie nie, maar van die huidige politieke mode, of om te durf waag om buite die streng riglyne van die denkpolisie te beweeg,” het Leon in sy toespraak gesê, ’n klaarblyklike verwysing na ’n kultuur van “politieke korrektheid” wat die DA verlam.

Leon sê pleks daarvan dat die DA hul opposisie by die horings pak, gaan sit en pik hulle liewers om dieselfde dooie karkas.

Hy skroom ook nie om individuele DA-lede te identifiseer wat, volgens hom, die party se liberale beeld skade aandoen nie. Hy hou twee voorbeelde voor:

* ’n Twiet van Van Damme in Februarie vanjaar dat mense wat regstellende-aksie-aanstellings die skuld gee vir die krisis by Eskom rassiste is; en

* Die DA-LP en die party se jeugleier, Luyolo Mphithi, wat gevra het dat Black First Land First (BLF) se deelname aan die verkiesing gekeer moet word.

Leon kritiseer albei hierdie verklarings as in wese onliberaal.

(Wat Leon nie gesê het nie, is dat Mphithi ook een van die sondaars was in die storm oor die beweerde rasseskeiding in ’n klaskamer in Schweizer-Reneke in Januarie vanjaar, optrede wat die party waarskynlik duisende Afrikanerstemme, veral in Noordwes, gekos het.)

                                                                                    ***

Die twiets wat Leon uitlig, is egter ’n simptoom van die DA se probleem – eerder as die oorsaak.

Die probleem dateer terug na ten minste 2005 toe Mphithi maar 13 jaar oud was en Van Damme nog ’n student aan die Rhodes-Universiteit.

In daardie jaar het die DA se federale raad vir die eerste keer swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as aanvaarbare beleid onder sekere omstandighede aanvaar.

(Dis dieselfde DA wat in 1998, onder Leon, SEB met hand en tand beveg het met die aanvaarding van die Wetsontwerp op Billike Indiensneming.)

“Groepgebaseerde denkwyse soos in die wetsontwerp voorgestel was die hoeksteen van apartheid en ons het ’n morele, indien nie ’n politieke plig nie, om hierdie herinstelling, onder die dekmantel dat dit van apartheid ontslae sal raak, teen te staan,” het Leon destyds oor die wetsontwerp gesê.

tony leon

In ’n stuk getiteld“Hoe ras die DA vergiftig het” verduidelik Ngwenya (wat self intussen bedank het ná ’n openbare bekgeveg met partybase) hoe die federale raad in 2005 dié beginsel by die venster uitgegooi het.

’n Beleid is toe aanvaar wat melding maak van onderverteenwoordigde groepe wat “pluspunte” verdien (as dit by aanstellings en ander beleid kom).

Ngwenya skets dan die prentjie van hoe hierdie pluspunt-saadjie eindelik gelei het tot die DA wat SEB in 2013 volwaardig ondersteun het, ten spyte van groot opposisie vanuit eie geledere.

Sy beskryf Maimane se verkiesing tot leier in 2015 as die oomblik toe die DA finaal hul ondersteuning van SEB bevestig het.

Maimane se teenstander was Wilmot James.

“En ek wil dit vandag absoluut duidelik maak dat nierassigheid nie beteken ’n mens moet kleurblind wees.

“Ons kan nie maak asof apartheid nooit gebeur het nie.

“Ons kan nie die feit ignoreer dat apartheid as ’n stelsel ons volgens ons velkleur gekenmerk het nie,” het Maimane in sy eerste toespraak as leier gesê.

                                                                                       ***

Maar laat ons nie vir Maimane goedsmoeds onregverdig oordeel nie.

Sy onmiddellike voorganger as partyleier, Helen Zille, het in ’n rubriek in Rapport op 26 Mei vanjaar erken dat sy deel was van ’n wanhopige poging om die party te “suiwer”.

Dit het ten doel gehad om die party aantrekliker te maak vir “aanhangers van identiteitspolitiek”, wat, erken Zille nou, “in elk geval nooit vir ons (die DA) sou stem nie”.

Sy skryf verder dat een van haar grootste foute as partyleier was om toe te laat dat die ANC en die EFF se “rasse-narratief” ook in die DA vaardig word.

Pleks daarvan om die rubriek te sien vir wat dit is – kritiek teen DA-beleid – het talle in die DA egter geargumenteer dat Zille nou teen die party uitvaar bloot omdat sy steeds bitter is oor hoe die party haar behandel het ná haar omstrede twiets dat kolonialisme se nalatenskap nie net sleg was nie.

Die “anti-Zille-brigade” kan boonop staatmaak daarop dat die politieke momentum hulle bevoordeel.

In ’n era van identiteitspolitiek en “radikale transformasie” het die narratief op sosiale media al so teen Zille versuur dat sy as verregse uitgekryt word.

Ja, die anti-apartheidsaktivis wat gehelp het om Steve Biko se moord aan die groot klok te hang, word nou geëtiketteer saam met diegene teen wie sy baklei het.

Maar, soos die Amerikaanse diplomaat Jeane Kirkpatrick graag gesê het: “Politieke etikettering is soos pietersielie op ’n bord, dekoratief, maar nie voedsaam nie.”

                                                                                  ***

Tog kan Maimane nie net sy hande in onskuld was nie.

Die DA se probleme het dalk reeds onder Zille begin, maar hy het, sedert hy in 2015 leier geword het, nie daarin geslaag om dit te stuit nie.

En soms kry ’n mens selfs die indruk dat hy nie eens die erns van die probleme besef nie: Terwyl die DA verlede maand vier setels in munisipale tussenverkiesings verloor het, was Maimane by ’n Christelike musiekfees en saamtrek van die internasionale charismatiese kerkgroep Planetshakers in Mel­bourne in Australië.

Die wond bloei steeds en die DA sukkel om die regte pleister te kry.

As deel van die party se hersieningsproses is daar spesifiek gekyk na die party se verlies aan wit en Afrikaanse stemme in die verkiesing.

En hoewel die DA se standpunt jeens SEB nooit in die dokument genoem word nie, is Maimane duidelik bereid om selfs dié tameletjie te herondersoek.

Hoekom anders sou hy in Julie in ’n parlementêre debat pres. Cyril Ramaphosa uitgedaag het om breëbasis-SEB te skrap? Sy mede- (liberale) LP’s was uit die veld geslaan oor dié aankondiging.

Hy het selfs so ver gegaan as om ’n kommissie oor groei en regstelling aan te stel wat ’n nuwe beleidsvoorstel hieroor moet formuleer wat by die party se federale raadsvergadering in Oktober moet dien.

Maar van sit en staan kom niks gedaan. Moet ’n mens iets oor die dringendheid waarmee dié probleem in die party hanteer word lees in die feit dat hierdie kommissie nog nie eens een keer vergader het nie?

En steeds is Cachalia en Van Damme aan mekaar se kele terwyl nie genoeg gedoen word om die skade te beperk nie.

Dit is duidelik nie net die ANC wat soekend is na ’n leier wat bereid is om te lei nie.

* Dawie Boonzaaier is ’n lid van Rapport se redaksie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.