Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die (Grens)oorlog wat nog in ons koppe woed

Die dae van die “Totale Aanslag” en diensplig is een van die redes waarom baie mense van sy geslag sukkel om die probleme van die nuwe Suid-Afrika te hanteer, het Hans Pienaar, skrywer van Die Generaal, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Hans Pienaar se roman, Die Generaal, het verskyn te midde van ’n hernude oplewing in sogenaamde grensliteratuur. Foto’s: Simon Sonnekus

Die Generaal (Tafelberg) het kritici einde verlede jaar gaande gehad toe dit verskyn het in ’n tyd waarin daar – te oordeel na talle boeke en selfs rolprente – hernude belangstelling in die Grensoorlog is; ’n konflik wat nou al meer as drie dekades gelede tot ’n einde gekom het, maar een wat skynbaar steeds in die psige van baie mans van daardie tyd vassteek.

Dié boek, op 63-jarige ouderdom Pienaar se eerste wat deur ’n hoofstroom-uitgewer gepubliseer is, is deur Karin Brynard as ’n “anderster grensverhaal” beskryf. Deborah Steinmair het in haar resensie op LitNet geskryf Die Generaal “is nie ’n litanie van onregte nie” en dat Pienaar nie kerm en kla oor die weermag nie.

Een van daai boeke oor die Grensoorlog wat so graag in onkritiese nostalgie verval, is dit ook allesbehalwe.

Die komplekse en onvoorspelbare aard van rebellie is een van die twee belangrikste “boodskappe” in die boek wat Pienaar beklemtoon.

En, miskien heel ironies, is die tweede “boodskap” die rol wat die generaals van destyds in die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika gespeel het deur van die Totale Aanslag-ideologie af te sien. Pienaar wou nie hê die uitgewer moes Die Generaal ’n grensroman noem nie. Die “grens” waarvan so baie gepraat word, is volgens hom dikwels ’n abstrakte begrip. Vandaar die eenvoudige “ ’n Roman” onder die titel op die voorblad.

Ja, ek is uitgeskop by omtrent elke plek waar ek gewerk het of ek het uit protes bedank.

Maar hy gee toe dat dit nietemin as deel van die steeds groeiende grensliteratuur-genre beskou sal word.

Pienaar sê hy kan net bespiegel oor die toename in sogenaamde grensliteratuur. Dalk is dit net heel toevallig, merk hy op waar ons op die stoep van sy huis in Aucklandpark sit en gesels. Hy herstel nog van die verwydering van sy galblaas einde verlede jaar wat op ’n septiese galsteen gevolg het en hom 25 dae in die hospitaal laat lê het.

Hy klink nie soos die rebel wat hy nog altyd was nie. (“Ja, ek is uitgeskop by omtrent elke plek waar ek gewerk het of ek het uit protes bedank.”) Pienaar gesels bedaard en in ’n sagte stem oor die verlede wat hy op soms aangrypende en, volgens Steinmair, poëtiese wyse in Die Generaal herskep het. En hoe daardie verlede vandag nog nie vergeet kan word nie.

Nostalgie en die Grensoorlog

Die toename in grensliteratuur kan ook wees omdat daar “ ’n bietjie van ’n nostalgie vir daai dae is”, sê Pienaar.

Ek dink daar’s ook die besef dat dienspligtiges net soveel die slagoffers van daai hele militaristiese tyd as swart mense was.

“Ek dink die hele nuwe Suid-Afrika-reënbooggevoel is nou verby, jy weet. So ’n mens kry baie mense wat dit miskien in die agterkop dink: Moes ons nie maar bly voortveg het nie? En ek dink vanuit daai oogpunt kyk mense nou anders na die destydse Grensoorlog. Ek dink daar’s ook die besef dat dienspligtiges net soveel die slagoffers van daai hele militaristiese tyd as swart mense was.”

Goeie tye was dit nie, sê Pienaar. Allermins. Nostalgie is soos wense wat waar word nadat die tyd lankal verby is, meen hy.

“Dit was ’n erg militaristiese tyd en ek dink ons as Suid-Afrikaanse mense, Afrikaners (beklemtoon hy), het nog nie heeltemal afgereken met wat presies daai hele Totale Aanslag-ideologie, daai hele etos, aan ons gedoen het nie. Ek dink een van die dinge wat dit aan ons gedoen het, is dat dit ons ontmagtig het om die probleme van die nuwe Suid-Afrika regtig te hanteer en regtig na waarde te skat.”

Wat is nou eerbaar daaraan om arm mense in die buiteland te gaan binneval . . . die hele ding met townships natuurlik, dis ons eie mense teen wie ons geveg het.

Nostalgie help nie juis as ’n mens die verlede krities in die oë wil kyk nie.

“Veral met die nostalgie is daar die gevoel dat ons darem eerbaar geveg het . . . darem manne van staal was en so aan. Maar dis juis daai opvatting van eerbaarheid wat outyds is en wat binne eintlik maar vrot was. Wat is nou eerbaar daaraan om arm mense in die buiteland te gaan binneval . . . die hele ding met townships natuurlik, dis ons eie mense teen wie ons geveg het.”

Hy weet hy sal deur sommige gekap word oor ’n stelling soos dié, sê Pienaar. Maar aan hulle steur hy hom nie veel nie. Dis gewoonlik mense met regse politieke oortuigings, juis die mense wat nie in staat is om die uitdagings van ons tyd behoorlik na waarde te skat nie.

“Dit is as gevolg van hierdie jabroer-mentaliteit wat nou ontwikkel het. Wat sê ons leiers van daai tyd is eintlik nou nog reg terwyl hulle so duidelik verkeerd was.”

Want “daai tyd” het “groot skade aan die psiges van ons generasie gedoen”, sê Pienaar.

“Ek is nie soseer anti-militaristies nie. As jy ’n soldaat wil word en jy wil jou lewe daaraan wy, nou ja, dan weet jy wat jy doen. Dis jou saak en jy aanvaar daai etos. Maar wat gebeur het, is dat daai etos afgedwing is op 18- en 19-jariges wat glad nie daarop voorberei was nie, wat skaars op die lewe voorbereid was.”

Hy is net nie so windgat soos Johan (sy hoofkarakter in Die Generaal) nie, sê Pienaar laggend.

Die weermag was ook ’n groot avontuur

As hy oor die tyd van die “Totale Aanslag”, diensplig, die Grensoorlog en die oorlog in die townships uitgevra word, dink Pienaar altyd aan ’n vriend van hom. ’n Baie goeie skrywer, sê hy, wat aan die weermag se berugte sielkundige programme van destyds onderwerp is omdat hy gevang is toe hy dagga gerook het.

“Ek het hom gevra: ‘Maar hoekom skryf jy nie daaroor nie?’ Toe sy hy vir my: ‘Ek kan nie. Ek kan nog nie. Dit is te erg.’

“Ek kan nie regtig onthou dat iemand al ooit in diepte oor daai sielkundige programme van die weermag geskryf het nie. Dit sal ’n embleem wees van die sielkundige terreur wat toegepas is op ander dienspligtiges . . . op alle dienspligtiges, op verskillende maniere.”

Die ongeluk vir ons was dat die sensuur so sterk was dat jy as 18- of 19-jarige nie altyd jou vinger kon lê op wat verkeerd was nie.

Baie dienspligtiges se ervaring van die weermag was egter nie altyd nét goed of nét sleg nie. Dié tweespalt kry ook gestalte in die outobiografiese hoofkarakter in Die Generaal, Johan.

“Vandag sal ’n mens die begrip cognitive dissonance gebruik. Aan die een kant geniet hy die weermag. Dit was ’n groot avontuur. Dit was lekker gewees om met Land Rovers oor rotse rond te jaag en so aan. En dit was ook my gevoel. Aan die een kant was ek toe reeds ’n politieke rebel en het ek besef daar’s iets fout met die politiek van die dag, maar op ander vlakke het ek die weermag geweldig geniet.

“Daai tweespalt, dink ek, is amper nog erger as wanneer jy glad nie van die weermag gehou het nie. Aan die een kant is jy ingetrek in die ding en jy speel die speletjie saam: Jy’t jou boots ge-bone, jy’t jou knope skoongemaak en gesorg dat jou uniform spic-and-span is, want jy het daarin geglo.

“Hulle het jou daaraan laat glo, maar dan terselfdertyd as jy enige brains gehad het, het jy besef: Maar hier’s iets aan die hele groter opset wat nie lekker is nie.

“Die ongeluk vir ons was dat die sensuur so sterk was dat jy as 18- of 19-jarige nie altyd jou vinger kon lê op wat verkeerd was nie. Nou broei jy maar . . . en hulle sê ook vir jou jy is ’n swak soldaat as jy twyfel aan die saak; daai ding is ook iets wat baie mense skade aangedoen het.”

Die tyd van die Grensoorlog en die Totale Aanslag-ideologie het “groot skade aan die psiges van ons generasie gedoen,” sê Hans Pienaar.

Skryf as terapie

Pienaar sê die skryfproses was vir hom terapeuties. Hy het al in sy eerste kortverhaalbundel (Die lewe ondergronds) oor die weermag geskryf en in die roman Chaos of op soek na Superman het hy met die weermag gespot. “Ek sou sê dat skryf die beste manier is om met hierdie goed te werk.”

Die Generaal is gegrond op Pienaar se ervarings toe hy in 1974 en 1975 in die weermag was en as jong student. Nes Johan was hy byvoorbeeld op ’n geheime sending en nes Johan was hy ook ’n opstandige offisier omdat hy teen sy sin ’n offisier gemaak is. Al verskil is dat hy net nie so windgat soos Johan is nie, sê Pienaar laggend.

Die eerste weergawe van Die Generaal is in die 90’s geskryf toe hy nog sy ervarings goed kon onthou. Hy het sedertdien gesukkel om dit uitgegee te kry en het in 2016 ’n paar drastiese veranderings gemaak in ’n laaste poging om dit gepubliseer te kry.

“En toe hou Tafelberg daarvan.”

Ek het nou die dag ’n gesprek gehad met twee jong mense en hulle het nie geweet van die Grensoorlog nie.

Pienaar het sy boeke voorheen self uitgegee en bestempel die publikasie van Die Generaal as ’n mylpaal. “Dit is ’n bietjie laat in die lewe, maar dis definitief ’n deurbraak vir my. Dis skielik asof mense jou ernstig opneem.”

Pienaar sê hy werk nou aan ’n boek oor rugby. “Die held is ’n rugbyspeler, maar ek probeer dit vanuit ’n heel filosofiese hoek benader. So ek sal nou maar moet sien of uitgewers gaan hou van daardie hoek. As hulle dit nie wil uitgee nie, dan sal ek dit weer self uitgee, want ek geniet die proses. Dis vir my lekker.”

Intussen het hy ’n Engelse weergawe van Die Generaal gereed. Hy dink dit is nodig dat sulke boeke ook in Engels verskyn en hoop dat ’n uitgewer aan ’n Engelse weergawe van Die Generaal sal byt.

“Ek het nou die dag ’n gesprek gehad met twee jong mense en hulle het nie geweet van die Grensoorlog nie. Hulle het nie geweet dat jong wit outjies van daai ouderdom gaan veg het nie en in die townships geveg het nie.

“Ek het dit nogal verbasend gevind.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.