Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die Griek in Madiba en kie se hoek

George Bizos was een van die heel laaste van ’n generasie van eerbare, dapper vryheidsvegters, skryf Johann van der Westhuizen.

George Bizos by Nelson en Winnie Mandela tydens haar hofverskyning op klagte van kinderontvoering en aanranding. Foto: Louise Gubb

"Kô-lô-nel, is u in staat om te erken of om te ontken dat daar op daardie dag, 27 Mei, negentien-honderd-ses-en-tagtig, om ongeveer nege- of tienuur in die voormiddag, op of naby die hoek van Paul Krugerstraat en Pretoriusstraat, tussen twee-honderd-en-vyftig en drie-honderd-en-twintig mense, in of naby ’n protesoptog, teenwoordig was; en kô-lô-nel, is u verder in staat om te erken of om te ontken dat daar op of omtrent dieselfde dag op of omtrent dieselfde tyd op of omtrent op dieselfde plek tussen vyf-en-dertig en sewe-en-veertig polisiebeamptes, gewapen of ongewapen, teenwoordig was . . . Já of néé?”

In die talle anti-apartheidsake waarin George Bizos as advokaat opgetree het, het hy dikwels daarop aangedring om Afrikaanssprekende veiligheidspolisie­offisiere in hul moedertaal te kruisverhoor. Sy juniors moes soms deur die nag vertaal.

Nadat die verwarde, afgematte getuie dan gepoog het om te reageer, het die advokaat se langsame volgende vraag gevolg: “Laat ons nou toets u antwoord . . .”

George se verhouding met Afrikaners was genuanseerd. Ek het hom leer ken toe hy ’n voorstel van my kant af om ’n kongres van Regslui vir Menseregte by die Universiteit van Pretoria te hou, teengestaan het. Sy rede was dat die beeld van die organisasie skade sou ly.

Toe ons mekaar beter ken, het hy my vertel dat hy Afrikaners waardeer omdat hulle beginselvas is; en wanneer hul gewete hulle oortuig dat onreg wel onreg is, hulle voluit daarteen werk. As voorbeeld het hy Bram Fischer genoem, met wie hy my toe vergelyk het, nogal – ’n onverdiende maar kolossale kompliment.

Hy het my eenmaal vertel hoe hy twee lemoene uit sy tuin geneem het vir ’n aangehoudene met wie hy moes konsulteer. Die toesighoudende veiligheidspolisieman het die lemoene in sy groot hande geneem . . . en voor die advokaat flenters gedruk.

Later het hy die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit en veral die Sentrum vir Menseregte heelhartig ondersteun en na een geleentheid het hy die Nobelprys­wenner Nadine Gordimer saamgebring.

Op sy Griekse agtergrond en kultuur was hy trots. Sy outobiografie is inderdaad Odyssey to Freedom genoem. André P. Brink het dit “ ’n hoeksteen in die letterkunde van die nuwe Suid-Afrika” genoem. Daarin beskryf George onder meer hoe hy as kind voor die Nazi’s uit Griekeland gevlug het.

Hy was byna ’n soort antieke Griekse wysgeer. Vir sy groentetuin was hy lief.

Hy het gespog dat hy een van die min mense was wat in sy leeftyd meer kos geproduseer het as wat hy verorber het.

Sy aktivisme vir menseregte was wêreldwyd bekend. In die fliekweergawe van Brink se A Dry White Season, met akteurs soos Donald Sutherland, Susan Sarandon en Zakes Mokae, het Marlon Brando die rol van die menseregteadvokaat gespeel. Dit is algemeen beskou as geïnspireer deur Bizos se rol in verskeie geregtelike ondersoeke rakende vermoorde aktiviste. Die briljante Brando het inderdaad George se styl goed uitgebeeld.

In sy boek No One to Blame? beskryf George verskeie van hierdie sake met die skandalige uitspraak dat niemand vir die dood van die slagoffer te blameer is nie – en huiwer hy nie om hard te slaan en name te noem nie.

Gerugte is oor hom versprei. Dat hy die ondergrondse leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party was “weet almal”, het lede van die Pretoria-balie my verseker. Hoe “ondergronds”, as almal dan kwansuis daarvan geweet het?

Waarom is hy dan nie aangekla en Robbeneiland toe gestuur nie, wonder mens. Was hy as wit kommunis te slim om soos Nelson Mandela en ander gevang te word? Met ’n gelate glimlag het hy stories soos hierdie geniet, daaroor gesels en die oorsprong daarvan met ’n mate van trots verduidelik.

Bizos en Ahmed Kathrada by die bekendstelling van Zelda la Grange se boek in 2014. Foto: Felix Dlangamandla

As advokaat was George se roem nie noodwendig gegrond op die intellektuele briljantheid en meer-as-deeglike voorbereiding van sy tydgenote soos sir Sydney Kentridge en hoofregters Arthur Chaskalson en Ismail Mahomed nie. Eerder was dit die gevolg van sy groot hart, warm persoonlikheid, passie vir geregtigheid . . . en uithouvermoë.

Normaalweg probeer ek clichés vermy, veral die een wat hier volg. My oorle’ pa het egter gesê dat clichés “waarhede is wat die toets van die tyd deurstaan het”.

So: George was ’n mensch. Hy het die begrip versinnebeeld – meer as talle van diegene wat al só beskryf is.

Hy het my eenmaal vertel hoe hy twee lemoene uit sy tuin geneem het vir ’n aangehoudene met wie hy moes konsulteer. Die toesighoudende veiligheidspolisieman het die lemoene in sy groot hande geneem . . . en voor die advokaat flenters gedruk. Soos David Kramer sing, “doodmaak hanne dié, kan ook bid innie kerk . . .”.

Op gevorderde leeftyd het hy Robert Mugabe se Zimbabwe – waar ANC-aktiviste aan my gewys het hoe regeringsagente op ’n menseregte-skynhof vir studente spioeneer – binnegevaar om die opposisieleier Morgan Tsvangirai te verdedig.

Oudpres. Jacob Zuma moes hom op die Regterlike Dienskommissie – waar hy lank waardevolle diens gedoen het – vervang net toe regter-president John Hlophe se saak momentum begin kry.

In die talle anti-apartheidsake waarin George Bizos as advokaat opgetree het, het hy dikwels daarop aangedring om Afrikaanssprekende veiligheidspolisie­offisiere in hul moedertaal te kruisverhoor. Sy juniors moes soms deur die nag vertaal.

Op 82 het hy stadig, maar hartstogtelik in die saak oor die verlenging van hoofregter Sandile Ngcobo se termyn sy betoog om die regbank te probeer red in die konstitusionele hof voorgedra namens sy destydse kliënt, die National Association of Democratic Lawyers (Nadel).

’n Kollega se snedige, vernederende vrae aan George, wat verby sy beste was, het my nie aangestaan nie.

George Bizos was een van die heel laaste van ’n generasie van eerbare, dapper vryheidsvegters. Sy vriendskap met Nelson Mandela is welbekend. Dit het vir hom oneindig baie beteken.

By Madiba se begrafnis het hy saam met die Mandela-familie geloop. Toe hy my sien het hy geglimlag en toe ek sê, “Ons het goed gedoen, George”, het trane sy groot, sagte Griekse oë gevul en het sy stem gebewe – soos dikwels in sy laaste jare.

“Ja, ons hét,” het hy gesê en my aan die arm geneem.

Die korrupsie in die land het hom in sy laaste jare baie ontstel.

Toe ons saam eet – net voor ’n verkiesing gedurende die Zuma-era – het die getroue ondersteuner van Mandela en Walter Sisulu se ANC vir my gesê dat wanneer hy dié keer stem, iemand oor sy skouer sou kyk om raad te gee.

Ek het aanvaar dat hy na sy oorlede vriend en held, Madiba, verwys, maar is nie seker nie.

Dit sal dalk goed wees as almal van ons voor besluite en dade wat lewens raak ’n oomblik stilstaan en besin oor beginsels en waardes – waar ons hulp ook vandaan mag kom – soos die psalmdigter sê.

Johann van der Westhuizen is ’n voormalige regter van die konstitusionele hof.

Meer oor:  George Bizos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.