Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die grusame dood van ’n renoster

Niks kon die grusame aard van die renoster-oorloë beter by mense tuisbring as die lot van Geza, wat stropers in 2011 ten prooi geval het nie, skryf Grant Fowlds en Graham Spence in dié geredigeerde uittreksel uit Saving the Last Rhinos.

Dit het op 11 Februarie 2011 gebeur. Die eerste wat ons daarvan gehoor het, was toe William [Fowlds] – Kariega se veearts wat wilde diere behandel – ’n oproep gekry het van Mike Fuller, die bestuurder van dié wildreservaat in die Oos-Kaap.

William het gedink hy gaan ’n nadoodse ondersoek op ’n misdaadtoneel doen. Toe bel Mike terug met woorde wat my broer in sy spore gestuit het. “William, hy lewe nog.”

William het dit aanvanklik nie geglo nie. As ’n veearts wat wilde diere behandel, het hy maar net te goed geweet watter skrikwekkende wonde stropers kan toedien as hulle horings afkap. Hy het getwyfel of enige skepsel sulke barbaarsheid kon oorleef.

“Sy horing is weg. Sy gesig is ’n gemors. Maar hy staan steeds,” het Mike gesê.

Hy het sy geskende bek en neus as ’n kruk gebruik en na my toe gestrompel.

William het in sy Land Rover gespring. ’n Halfuur later het hy gekyk na ’n bloederige gedaante wat hy sê vir altyd in sy “brein afgedruk” sal wees.

William het vermoed dat dié dier dalk Geza mag wees, maar hy was onherkenbaar; ’n mens kon inderdaad skaars sien dat dit ’n renoster was.

“Sy profiel is heeltemal verander deur die afwesigheid van daardie ikoniese horings,” sê William. “Meer walgend as dit was die trauma aan die skedel en sagte weefsel wat van sy gesig oorgebly het. Dit het deur die buitenste beenlaag gestrek en sy nasale kanale daaronder ontbloot.

“Hy het aanvanklik op drie bene gestaan met sy mond op die grond. Toe het hy van my bewus geword en sy kop opgelig met stukke los vleis wat aan sy misvormde en bloederige gesig gehang het. Hy het vorentoe in my rigting gesukkel. Sy linker-voorbeen het geen steun gebied nie en hy kon dit net agter hom aansleep. Om daarvoor te vergoed, het hy sy geskende bek en neus as ’n kruk gebruik en na my toe gestrompel. Sy een oog was beseer en beneweld en dit het net tot sy skrikwekkende voorkoms bygedra.”

’n Desperate begrip van finaliteit

Grant Fowlds saam met die legendariese veldwagter Mdiceni Gumede. Op die agtergrond is die Hluhluwe-Imfolozi Park, die toneel van verskeie wrede slagtings onder renosters. Hoogs doeltreffende perdepatrollies skrik stropers deesdae hier af. Foto: Angela Fowlds

Die verskriklik verminkte dier het folterend na William gewaggel. Dit was ondraaglik om na te kyk – die dier se foltering en angs was veel erger as wat enige lewende wese hom kan indink.

“Was sy pogings om my te nader ’n soort van verswakte aggressie teenoor die bron van sy lyding?” vra William. “Of was daar ’n desperate begrip van finaliteit, ’n gebreekte gees wat uitroep om dood te gaan?”

Die renoster was so naby dat William bloed kon sien borrel in sy skedelholtes. Elke asemteug het tot die dier se lyding bygedra, die koue oggendlug het oor die ontsteekte weefsel en die ontblote senuwees gevloei.

Maar . . . iets het hom laat besef dat hy besig was om te ervaar wat ’n selfvoldane wêreld gedwing moet word om na te kyk. Dat die renoster-oorloë baie leliker, boosaardiger en wreder is as wat enigiemand ooit kan begryp, en dat dit elke dag plaasvind. Dat renosters wat met verdowingspyle geskiet word, nie vreedsaam doodgaan nadat hul horings met grusame houe van pangas of byle afgekap word nie. Hulle lewe nog ure, selfs dae, daarna in ’n skrikwekkende foltering.

William kon net staan en staar. Geskok, woedend en gewalg tot in die diepte van sy siel, het hy ’n verskoning gefluister.

“Ek is jammer, grootman. Ek is so, so jammer.”

Die swaar beproefde dier het hom gehoor. Hy het sy verminkte kop opgelig en direk na William gekyk.

“Ek het enige oomblik verwag dat sy lyding sou oorgaan tot volslae woede, maar dit het nooit gebeur nie. Ek het stadig teruggestap en hy het aangehou om in my rigting te waggel sonder om enige aggressie te toon, net die een folterende poging ná die ander.

“Vir ’n oomblik het ek selfs gedink dat hierdie dier, wat ’n onverstaanbare klomp pyn verduur, heeltemal ongewoon optree en dat hy dalk desperaat op soek was na iets, enigiets, wat die pyn kon wegvat.”

William moes toe ’n verskriklike besluit neem, as bewaringsgesinde en as veearts. Hy het geweet die dier kon nie veel langer lewe nie. Hy het geweet die genadigste ding om te doen is om hom so gou as moontlik uit sy onbeskryflike lyding te verlos.

Maar . . . iets het hom laat besef dat hy besig was om te ervaar wat ’n selfvoldane wêreld gedwing moet word om na te kyk. Dat die renoster-oorloë baie leliker, boosaardiger en wreder is as wat enigiemand ooit kan begryp, en dat dit elke dag plaasvind. Dat renosters wat met verdowingspyle geskiet word, nie vreedsaam doodgaan nadat hul horings met grusame houe van pangas of byle afgekap word nie. Hulle lewe nog ure, selfs dae, daarna in ’n skrikwekkende foltering sodra die verdowingsmiddels uitgewerk is.

Dit was die afskuwelike, skreeuende werklikheid van dierelewe-misdaad op die frontlinie. Ons sal net ’n kans staan om die oorlog om die voortbestaan van die planeet te wen as ons die rou waarheid van wat gebeur aan die wêreld kan wys.

’n Verskriklike keuse

Die Rhino Art-projek gee aan vandag se jeug die kans om hul stem dik te maak vir bewaring en sal na raming teen 2021 reeds ’n miljoen kinders betrek het. Foto: Grant Fowlds

Op daai gure oggend in die bos het William diep asemgehaal en ’n metaforiese streep in die sand getrek.

Hy het besluit dat dié manjifieke skepsel se dood nie nutteloos mag wees nie. Dit sal net die oneindige wreedheid van die misdaad vererger.

Die dier se lyding moet ’n letsel wees wat op die kollektiewe gewete van die mensdom ingebrand word. Dan sal die afgryslikheid waarde hê – ’n gebrul van verontwaardiging wat deur die wêreld weergalm.

Of mense sou luister en of hulle die waarheid sou aanvaar, was ’n ander storie.

As hulle op ’n manier oortuig kan word dat hulle deel aan dié slagting het, sal die wrede en sinlose doodmakery dalk ophou.

Dit het egter tot ’n ernstige etiese dilemma vir William gelei. Om dié gru-verhaal tot in die lugverkoelde sitkamers van die wêreld te bring, moes hy dit verfilm. Dit was ’n gedugte logistieke uitdaging. Hy sou moes kontak maak met ’n professionele kameraman van Port Elizabeth, en hom na die mees afgeleë deel van die reservaat bring waar die vernielde renoster besig was om dood te bloei sodat hy die dier se lyding kon verfilm.

Dit sou minstens drie of vier uur geneem het. Was dit die moeite werd om die renoster se onbeskryflike pyn uit te rek in die straks vergeefse hoop dat mense sou luister?

“My verstand het gesê dit was verkeerd om die dier aan die lewe te hou, maar diep binne my was ek seker dat die storie van sy veragtelike lyding selfs die mees geharde mense anders sal laat dink.

“Die mense wat agter die aanvraag na dié bisarre produk sit, wat sê hulle gebruik renosterhoring om goed te voel – selfs hulle kan nie goed voel as hulle weet dat diere só weens hulle moet ly nie? As hulle op ’n manier oortuig kan word dat hulle deel aan dié slagting het, sal die wrede en sinlose doodmakery dalk ophou.”

Woordvoerder vir sy spesies

Grant Fowlds saam met Mangosuthu Buthelezi, voormalige IVP-leier en ’n groot voorstander van bewaring. Foto: Chris Galliers

William het teruggestap na waar Mike Fuller gewag het. Mike was onder die eerstes wat die geskende dier in die veld gesien waggel het. Die skok was so groot dat hy by die Land Rover gebly het. Hy kon dit nie weer aanskou nie. Hy was reeds hel toe en terug.

William het gevra of die reservaat dit sou toelaat dat die afgryslike toneel wat voor hulle ontvou, verfilm word.

Mike het geknik.

Terwyl hulle vir die kameraman gewag het en by ander veeartse probeer vasstel het of daar enige kans is om die dier te red, het William die nuus gekry wat hy gevrees het. Die renoster was inderdaad Geza.

Ons almal het Geza goed geken. Sy ma, Nomabongo (“die trotse dame”), het in 2003 daar aangekom en haar teenwoordigheid het meer as dié van enige ander dier gedoen om die hele gevoel van die Amakhala-landskap van ’n plaas na reservaat te verander.

Sy pa was ’n renoster van die Phinda-reservaat wat ek en dr. Dave Cooper gevang en byna ’n dekade gelede na Amakhala gebring het.

Geza is die “stout ene” in Xhosa gedoop omdat hy selfs as ’n klein kalfie so parmantig soos aap was. Hy het ouer renosters geterg en dan teruggehardloop na die veiligheid van sy beskermende ma. Hy was so speels dat ons soms gedink het hy was ietwat van ’n dierbare windmaker.

Sal dié renoster, wie se lyding ek uitgerek het sodat die wêreld ’n vlugtige visuele blik op die tragedie kon kry, net nóg ’n stukkie statistiek word in ’n oorlog wat voortwoed? Of sal dié renoster se beproewing ons aangryp op ’n manier wat ons verplig om iets daaraan te doen?

Die kameraman het uiteindelik opgedaag en begin verfilm.

Toe hy klaar was, kon William uiteindelik die nagmerrie beëindig. Die genadigste manier om dit te doen was om ’n oordosis van opioïediese pynstiller toe te dien. Die metode sou dieselfde wees as dié van die stropers – met ’n verdowingspyl. Dit sal gevolg word met ’n swaarkaliber koeël deur die brein. Die ewige verlossing.

William het die geweer gelaai.

“ ’n Gevoel van verligting gemeng met hartseer, afsku en skaamte het oor daardie klein stukkie van Afrika neergedaal,” het hy geskryf in ’n verslag genaamd Poached wat wêreldwyd gelees is.

“Sal dié renoster, wie se lyding ek uitgerek het sodat die wêreld ’n vlugtige visuele blik op die tragedie kon kry, net nóg ’n stukkie statistiek word in ’n oorlog wat voortwoed? Of sal dié renoster se beproewing ons aangryp op ’n manier wat ons verplig om iets daaraan te doen?

“Wat ek gesien het, het verseker dat ek nooit sal rus totdat die slagting ophou nie.”

William se woorde weerspieël presies my gevoel. Die stryd om die Afrika-renoster sou spoedig emblematies van my lewe word. Nes William kan ek nie rus terwyl hierdie oorlog voortwoed nie.

Die video van Geza se hartverskeurende einde het YouTube laat gons, maar dit is glad nie kykstof vir sensitiewe mense nie. Dit is ook op Suid-Afrika se voorste ondersoekende televisie-program Carte Blanche uitgesaai. Geza het een van die eerste stemme vir renosters op die internet geword. Hy het ’n “spreekbuis” vir sy spesies geword, hy het in grafiese, uitsaai-gehalte-volkleur gewys wat ons besig is om aan ons mede-wesens op die planeet te doen.

William, hoewel dit nie sy bedoeling was nie, het wye erkenning gekry. Ek ken my broer goed. Hy het geen begeerte om enigsins ’n glanspersoonlikheid te word nie.

Veral nie vanweë só ’n aaklige tragedie nie.

* Saving the Last Rhinos: The Life of a Frontline Conservationist word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R295. Die boek word aanstaande Dinsdag (10 Desember) om 18:00 in Exclusive Books in die V&A Waterfront bekend gestel. Belangstellendes moet hul bywoning by events@exclusivebooks.co.za bevestig.

Meer oor:  William Fowlds  |  Grant Fowlds  |  Mike Fuller  |  Kariega  |  Renosters  |  Renosterstropery  |  Renosterhorings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.