Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dié ‘inperkingsmasker’ gaan ons doodsmoor

Geen outokratiese inperkingsmasker sal keer dat ons Covid-19 opdoen nie. Dit sal eerder ons ekonomie doodsmoor, skryf Rhynie Greeff.

Rhynie Greeff

Die atoomfisikus en Nobelpryswenner Niels Bohr het gesê: “Die teenoorgestelde van ’n korrekte stelling is ’n vals stelling. Maar die teenoorgestelde van ’n diepgaande waarheid mag bes moontlik nog ’n diepgaande waarheid wees.”

Ek klink dalk Covidioties maar ek sien dit in mediese maskers: Een masker kan beskerm; ’n ander kan versmoor.

Ons produkte meesal ’n verlenging van die liggaam

Jou klere is ’n verlenging van jou vel. So ook jou huis, die winkel waarin jy werk en jou kerkgebou. Verlengings van jou bene? Snelweë, sypaadjies, hysbakke, helikopters, fietse en Ferrari’s. Jou tekkies en hoëhakskoene is voetverlengings.

Oogverlengings? Jou bril, verkyker, koerant en TV. Die Duitse woord vir TV is immer Fernsehen (ver sien). Eetgerei is tandverlengings, volumeknoppies verleng jou ore, gewere en tennisrakette is armverlenings en dan is daar ’n magdom kreatiewe produkte soos boeke, films, musiek en skildery wat verlengings van jou brein is.

Wat van mediese maskers? Hulle verleng jou gesig en jou handpalm, of ook jou elmboog as jy akrobaties genoeg is om daarin te kan nies of hoes.

Deur die eeue heen het maskers ons vermom, verberg en veranderde identiteite in rituele of teater gegee.

Die woord masker dateer van die 1500’s. Die oorsprong is debatteerbaar. Miskien Latyn, Frans of Arabies of Spaans.

Ek hou van een teorie dat dit van die Spaanse woorde más que la cara kom wat meer as die gesig beteken en klink soos maskara. Grimering is mos ’n geverfde masker.

Deur die eeue heen het maskers ons vermom, verberg en veranderde identiteite in rituele of teater gegee.

Mediese maskers is anders. Hulle beskerm. Hulle kom uit eeue se pandemies.

Builepes en gemaskerde plaagdokters

Oor drie eeue van die 1300’s af het builepes Europa geteister. ’n Derde van Europa se bevolking is uitgewis. Die Groot Plaag van 1665 het byna ’n kwart van Londen se bevolking uitgewis.

Salig onbewus van kieme, virusse en bakterieë kon niemand droom dat vlooie op rotte die plaag gebring het nie. Medici het geglo die pes is veroorsaak deur slegte lug wat hulle miasma genoem het.

Dorpe en stede het plaagdokters in diens geneem om die siekes te behandel, getuies vir testamente te wees en mense te begrawe. Nostradamus was ’n plaagdokter.

Baie van hulle was pseudo-dokters. Barbiere, begrafnisondernemers, slagters en boere het plaaguniforms gekry en sterwendes besoek.

Hierdie plaagdokters het in die 1600’s vreesaanjaend begin lyk.

Plaagdokter se masker. Foto: Deutsche Historiches Museum (www.dhm.dehttp://www.dhm.de/blog/2020/04/30suddenly-on-point-dr-beak-at-the-dhm/)

Om plaagdokters teen die miasma te beskerm het Charles de l’Orme, die Franse koninklike dokter, in 1630 ’n masker ontwerp wat glasbedekte openings oor die oë gehad het en ’n boosaardige snawel met gaatjies vir lug sodat die draer kon asemhaal.

Die krom voëlsnawel was gevul met aromatiese, gedroogde kruie en blomme. Die welriekende geure was die teenvoeter vir die gevaarlike miasma. Die onheilspellende pelikaanvoorkoms is afgerond met ’n wyerandhoed, handskoene en ’n lang, wasbesmeerde oorjas tot by die enkels asook ’n lang houtstok in die hand.

Die plaagdokter het met sy stok gewys en pasiënte ondersoek of hul klere verwyder sonder om aan hulle te raak en sommer net mense van hulle weggehou. Dit was ’n vroeë vorm van sosiale distansiëring.

Hierdie voëlmanmaskers was omvattende verlengings van plaagdokters se liggame.

Plaagdokter in Marseille in volle mondering. Foto: Wellcome Collection (https://wellcomecollection.org/works/jarnvmfj)

Die eerste maskers teen kieme, virusse en bakterieë

In 1897 gebruik die Franse dokter Paul Berger die eerste chirurgiese masker in ’n operasie om te keer dat sy eie spoeg op die pasiënt val. Maskers bly egter skaars.

In 1910 verander alles.

’n Longontstekingsplaag wat 99,9% van die slagoffers se lewens eis, tref Mantsjoerye in China. Die Britse ministerie van buitelandse sake stuur toe vir Woe Lien-the, ’n Maleisies gebore Chinees wat hom as mediese dokter aan Cambridge gekwalifiseer het, soontoe.

Lykskouings was nie normale praktyk in China nie, maar Woe doen een en bevind dat die siekte in die lug oorgedra word.

Woe pas toe die Westerse maskers aan om beter beskerming te bied deur middel van lae gaas en katoen om die lug te filtreer. Hy het ook alles ontsmet, die oorspronklike plaaghospitaal tot op die grond afgebrand, toestemming verkry om die oorledenes te veras en wis die plaag uit.

Woe Lien-the se masker van 1910. Foto: The Wellcome Collection (https://wellcomecollection.org/works/brsrmh53)

Woe se masker word gedurende die Eerste Wêreldoorlog tot ’n gasmasker verfyn. Vandag se mediese N-95-masker is ’n afstammeling van sy gesigmasker.

In die 1920’s het vroue medisinale rubbermaskers gebruik om hul vel te versorg.

Vroue dra medisinale rubbermaskers om plooie en vlekke te verwyder, circa 1921. Foto: The Wellcome Collection (https://wellcomecollection.org/works/w6rh8afx)

In die 1950’s en 1960’s was die rookbesoedeling (smog) in Britse stede só erg dat dit dikwels stikdonker in die dag was.

Die Beatles op 7 Desember 1965 met hul smog-maskers aan voor hul vertoning in die Ardwick-teater in Engeland. Foto: Getty Images

Die Beatles het in 1965 by ’n konsert in Manchester opgedaag met smog-maskers op. George Harrison met ’n sigaret wat uitsteek by sy oopgesnyde masker, sou vandag sekerlik ’n gesamentlike bevelsraadstuipe by Bheki Cele en Nkosazana Dlamini-Zuma ontketen het.

Maskers op die individu én die bevolking se liggaam

Wat is die verlenging van ’n bevolking se liggaam? Vrye wil.

Die nasieliggaam word sosiaal, kultureel, polities en veral ekonomies verleng.

Individueel dra ons nou mediese maskers.

As bevolking dra ons egter ’n mediese inperkingsmasker – as deel van een van die wêreld se mees drakoniese nasionale inperkings.

Dis ’n irrasionele masker, ’n nuwe bevelsekonomie-tipe “ystergordyn” wat sigarette en drank van jou mond weghou en selfs arbitrêr lisensies voorskryf om kos in armes se monde te sit.

Ons bevolkingsliggaam se mees lewensbelangrike verlengstuk, die ekonomie, roggel sonder suurstof onder die irrasionele bevele wat soos individuele leiersvoorkeure lyk.

Bohr se een diepgaande waarheid is dat ons inperkingsmasker baie suksesvol was.

Byna 59 miljoen mense is só suksesvol in hibernasie gedruk dat, met die skryf van hierdie stuk, gemiddeld slegs sowat 4,2 mense per dag aan Covid-19 in 46 dae gesterf het.

Miskien het hibernasie na self-hipnose oorgeslaan, want meningspeilings het in April hoë punte gegee vir pres. Cyril Ramaphosa en sy Sowjet-klinkende bevelsraad – kompleet met een minister in modieuse paramilitêre uniform gekamoefleer. Hoe rasionele mense hoë punte kan gee vir ’n bestaan onder ’n bevelstaat, weet nugter.

Die teenoorgestelde van Bohr se diepgaande waarheid van die hibernasiesukses is ongelukkig dat die bevelsraad se masker ons nou ekonomies doodsmoor.

Ons bevolkingsliggaam se mees lewensbelangrike verlengstuk, die ekonomie, roggel sonder suurstof onder die irrasionele bevele wat soos individuele leiersvoorkeure lyk. Die waarheid van ekonomiese asfiksiasie is in die syfers.

Onlangs is die inperkingsmasker effens gelug, maar die ekonomie snak steeds na sy asem terwyl dele afsterf. Ons bevelsraad paai met finansiële bystand aan werklose mense, hongeres en mense in nood, maar die staat het ’n geldtekort en die staat kry sy inkomste uit belasting. Daardie belasting kom van die bevolking se produksie af – wat die bevelsraad snuit.

Margaret Thatcher het in 1976 oor sosialistiese vermorsing iets gesê wat ek vir outokrasie wil aanpas.

Outokratiese regerings is finansiële droogmakers. By húlle raak ander mense se geld altyd op.

Daar is twee diepgaande waarhede oor mediese maskers – die een masker beskerm; die ander versmoor.

’n Land se ekonomie werk op miljoene atomistiese besluite, maar ons ekonomie werk nou op die bevele van ’n paar individue en dit is iets waarvoor die EFF hande klap.

Dit is onverstaanbaar. Hoe langer die drakoniese inperkingsmasker geld, hoe meer herstruktureer die ekonomie verder weg van arbeid na ’n meer kapitaalintensiewe aanlyn ekonomie.

Die bevelsraad vernietig daagliks meer werkersposte.

Prof. Shabir Mahdi, ministeriële adviseur oor aansteeklike siektes, voorspel dat sowat 60% van die mense in Suid-Afrika besmet gaan word, al doen ons wat. Tot 2022 sal 35 miljoen van ons hierdie virussiekte opdoen, maar dit sal net vir ’n baie klein persentasie gevaarlik wees (waarvan ek een is weens my ouderdom). Geen outokratiese inperkingsmasker kan dit voorkom nie.

Die staat moet eerder gesamentlike verantwoordelikheid via vrye wil aanmoedig en koördineer sodat individue, sosiale groepe en ondernemings korrek optree.

’n Entstof sal help, maar die virus sal uiteindelik deur ons immuniteit oorwin word.

Om terug te keer na die diepgaande waarhede: Daar is twee diepgaande waarhede oor mediese maskers – die een masker beskerm; die ander versmoor.

Pres. Ramaphosa, ek is bly ek hoef nie jou besluite te neem nie. Dit gaan moeiliker word, maar outokrasie is die vinnigste manier om mense se steun te verloor. Deelnemende leiding sal almal saamvat.

Meneer die president, die tyd het gekom om prosesse te versnel om die inperkingsmasker te laat afskuif na ’n situasie waar ons ekonomies interaktief asem kan skep; anders gaan ons versmoor.

Boonop gaan ander mense se geld by die regering opraak en die ekonomie gaan aanlyn herstruktureer met minder werk vir die armstes.

Só kan dit nie aanhou nie.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Hy het ’n doktorsgraad in handel, gespesialiseerd in mededinging. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.