Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Die jag is oop

Die woedevlaag oor koloniale standbeelde verdring haas enige ander oorweging, skryf Melvyn Minnaar.

Die kunstenaar Beezy Bailey het in 1998 as deel van ’n Kaapstadse kunsfees die Louis Botha-beeld in ’n ritueel in ’n “Abakhwetha” omskep.

Vyf jaar nadat #RhodesMustFall die Suid-Afrikaanse jagseisoen op standbeelde ingelui het, is ’n nuwe een op ons – dié keer internasionaal.

#BlackLivesMatter het die aanslag op die VSA se Konfederasie-beelde begin; in Engeland het ’n 17de-eeuse slawehandelaar getuimel en in Antwerpen is ’n beeld van die Belgiese koning Leopold II aan die brand gesteek. Die woede jeens voormalige “helde” kring uit.

Soos in die beeldoproer in België is die Suid-Afrikaanse aanval op die spook-idole ’n kitsmediavriendelike, hoogs visuele vorm van protes teen die neerslag van kolonialisme. In ons geval word dit verder vertroebel deur die Afrikanernasionalistiese nalatenskap.

Daar is reeds weer protespraatjies om die Louis Botha-ruiter-op-’n-perd voor die parlement in Kaapstad – selfs geselsies onder diegene wat beter behoort te weet as om dié dinge aan te moedig.

Verlede naweek het die eens trotse pres. M.T. Steyn op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat stil-stil van sy voetstuk afstand gedoen. Die rektor, prof. Francis Petersen, het gespog dat daar oor twee jaar wyd beraadslaag is. Die Steyn-gesin is glo tevrede, maar ’n mens glo daar word iewers stil-stil geween.

Die spook sal op die leë voetstuk bly loop.

Soos met Botha kan ’n mens net jammerlik die kop skud oor hoe die geskiedenis deur passievolle protes vertroebel word.

Dis net ’n kwessie van tyd, sê die kaders, voordat Jannie Marais, Stellenbosch se weldoener op die universiteit se Rooiplein, se doppie ook geklink word. (dr. Leslie van Rooi, ’n senior direkteur daar, sê die universiteit is besig met ’n “visuele regstellingsprojek op ons kampusse”.)

Intussen is die Walkerbouts Inn in die dorpie Rhodes in die Oos-Kaap steeds gewillig om die Universiteit van Kaapstad se Rhodes-standbeeld – wat die hele ding begin het – in sy tuin te huisves. As iemand net weet waar dié reusebeeld – deur die land se eerste vrouebeeldhouer van statuur, Marion Walgate (1886-1975) – weggesteek is. (Dis glo iewers in een van daai pakskure by die Kaapstad-lughawe.)

Die gevierde Suid-Afrikaanse skrywer Christopher Hope noem hierdie Rhodes-gedoente – nie sonder ’n sweempie hartseer nie – ’n swart komedie.

Hope se boek is ’n merkwaardige en insiggewende reisverhaal waarin hy talle van die omstrede beelde wat nou weer in die kollig is, bekyk en bepeins. Hy begin die tog met ’n toevallige teenwoordigheid op die Ikey-kampus toe die Rhodes-beeld op 9 April 2015 met dans en drama verwyder word en gaan maak draaie by onder andere Shaka en Saartjie Baartman.

Jefferson Davis se beeld slaan sy oë na bo nadat hy in Richmond, Virginië, bygedam is. Foto: Getty Images

Dis ook Hope wat die kernvraag oor hierdie ikonoklasme so raakvat en dit as die hart van die Suid-Afrikaanse tragedie beskryf: “Wie was eerste? Wie het die meeste gesteel of die meeste verloor? Wie se land is dit? Wie word gedenk of wie word afgebreek? En wat gebeur as jy sommige, maar nie ander nie, as simulacra non grata verklaar?”

Brenda Schmahmann, professor en navorsingsvoorsitter van Suid-Afrikaanse kuns en visuele kultuur aan die Universiteit van Johannesburg, is uitgesproke oor die kortsigtige, oppervlakkige denke wat met soveel van die beeldstormery gepaardgaan.

As waarskynlik die voorste kenner van Suid-Afrika se openbare beeldhoukuns en standbeelde en met talle publikasies agter haar naam, het sy al verskeie voorstelle gemaak oor hoe om bestaande koloniale beelde te “verwerk”, aan te pas en te “herinterpreteer”.

Soos Hope en talle ander verstaan sy dat om iets te verwyder of uit die oog te haal, nie die geskiedenis verander nie, maar juis die debat daaroor versmoor. Soos Hope sê, die koloniale spook sal immer op daardie leë voetstuk bly loop.

Jy kan vir Louis, Marthinus, Jannie of wie ook al van die voetstuk stamp, maar hulle sal ’n afwesigheid bly totdat jy dít besweer.

Die standbeeld van Jannie Marais, Stellenbosch se weldoener.

Vir kunsteoretici en -filosowe is dit ’n wonderlik uitdagende paradigma van die nuwe era. Die konsep dat dié openbare beelde kunswerke is en dus met sekere estetiese en ander faktore te make het, vra priemende vrae van kuns self – hoe dit in die gemeenskap funksioneer, wat dit kan en moet wees.

Geskiedenis was nog altyd ’n kulturele speler in die produksie van kunswerke. Waar ons in ’n tyd leef waar talle kommentators van ’n “ná-kuns”-era (kuns wat nou deur neokapitalisme gekoöpteer en/of gekorrupteer is) praat, is dít juis ’n dinamiese veld van ondersoek.

In die boek Troubled Images (Wits Press) oor Afrikanernasionalistiese visuele kultuur, beelding en simbole en waarvan Schmahmann ook as redakteur opgetree het, skryf sy hoe die Universiteit Stellenbosch se kunsdepartement projekte om die Rooiplein-beeld aangepak het.

Sy gebruik die konsep van “verbygaande” of “tydelike kuns” as manier om dit te hanteer.

’n Skitterende voorbeeld dateer van 1998, toe die kunstenaar Beezy Bailey die Louis Botha-beeld tydens ’n Kaapstadse kunsfees in ’n ritueel in ’n “Abakhwetha” omskep het. Die ironie van die “Boer, vegter, staatsman” (op die voetstuk) wat as ’n Xhosa-seun tydens sy inisiasieproses geklee is, is wyd goed en met humor ontvang.

Die kunstenaar John Nankin het tydens dieselfde fees die 1908-beeld van Rhodes in die Kompanjiestuin met tydelike toevoegsels tot ’n effens lawwe “Mister Rhodes” aangepas.

Interessant genoeg het die stadsowerheid hierdie “ingrypings” in die openbare ruimte gesteun. Vir talle was dit kuns as demokrasie in aksie.

Anders as die Universiteit van Kaapstad se ivoortoring-owerheid, wat bloot die groot Rhodes-beeld sonder stamp of stoot of enige gesprek verwyder het (toe die studente ook sommer ander kunswerke verbrand het), het die destydse universiteitsrektor van die Vrystaat, Jonathan Jansen, kundiges genader en ’n ope debat oor die Steyn-standbeeld aangevra.

In Troubled Images vertel hy van dié deeglike gesprekke en van verbeeldingryke voorstelle wat gemaak is. Helaas, dit lyk of Marthinus uiteindelik tog maar na die Oorlogsmuseum verskuif gaan word.

Vir kultuurkenners en kunsteoretici soos Schmahmann is dit die verkeerde kortpad. Sy is bra moedeloos.

“Met die huidige aanslag lyk dit of die moontlikheid daarvan om die plek en rol van monumente in die erfenislandskap opnuut te verwerk en te heroorweeg aan’t verdamp is.”

Sy sê hoewel monumente in die nuutste protesvlaag op die voorgrond geskuif word, lyk dit inderwaarheid of dít gesprekke oor kreatiewe en opvoedkundige moontlikhede vir daardie strukture kortwiek weens die huidige woedevlak en gelade emosies.

“Daar is eenvoudig nou nie ’n behoefte daaraan om oorweging te skenk aan die gedagte dat om standbeelde af te breek soms regse belange bevorder nie – sonder enige voordeel vir diegene wat maatskaplike verandering bepleit.”

Hope sê die afgelope week uit Frank-ryk hy is geboei deur die uiters onbetroubare narratief en valse vertellings agter so baie van die Suid-Afrikaanse beelde, beeltenisse en helde.

In sy boek vertel hy hoe die voorstelling van Jan van Riebeeck ’n vervalsing is en hoe die Saartjie Baartman-graf sedert die aanvanklike ophef daarom verwaarloos is.

“As ek een ding kan sê, is dit dat alle legendes vals is,” sê hy.

Oor die opnuut omstrede Louis Botha: “Hy was op talle maniere ’n bewonderenswaardige kêrel, en my Ierse oupa se groot held.”

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Mt Steyn  |  Cecil John Rhodes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.